Читать книгу Die respektabele meneer Hartslief - Chris Karsten - Страница 7

Оглавление

Maandagmiddag in sy kantoor in Sandton lui Elie se sel. Hy is verbaas om Rasmus se stem te hoor. Sy inkennige broer bel hom nooit nie.

“Elie … die polisie is nou net hier weg. Dis oor Basie … hy was in ’n ongeluk, met sy motorfiets.”

Elie skrik. “Hoe ernstig, in watter hospitaal?”

“Hy’s nie in ’n hospitaal nie. Kom huis toe,” sê Rasmus, sy stem nog sagter as gewoonlik.

Elie voel die gefladder in sy maag. Dis altyd die eerste teken; hy het nie ’n sterk maag vir stres en skokke nie. “Wat soek die polisie daar?”

“Antie is nie lekker nie, die dokter is ook hier. Niemand is lekker nie. Kom net, Elie.”

Daar is ’n aanloop van simpatiseerders wat met somber gesigte al die suurstof in die huis opgebruik tot Elie se kop wil bars. Hy moet uitkom. Hy wil ook die ondersoekbeampte bel.

Hy sluip kombuis toe, glip by die agterdeur uit, en teug diep aan die vars aandlug. By die kweekhuis luister hy aandagtig na luitenant Kosile se opsomming van die ongeluk.

“Is die polisie se ondersoek op die toneel nou afgehandel, luitenant? Ons wil môre daarheen gaan, blomme gaan neersit … maar net die familie, niemand anders nie.” Hy soek beslis nie polisiemanne wat daar rondstaan en rook en oor die weer klets nie.

Luitenant Kosile sê hy verstaan, hulle kan gaan. En hy sal dit waardeer as hulle twee so gou moontlik daarna ’n persoonlike gesprek kan hê. Hy soek meer inligting oor die slagoffer, soos name van vriende en veral name van moontlike vyande. Want dit lyk nie na ’n gewone padongeluk nie.

Hoe anders? dink Elie. Met net ’n liggaam sonder kop.

* * *

Die loodgieter sit op sy stoep, agteroor in ’n diep rottangstoel. Hy staar oor die lae stoepmuur die nag in, verby die groot ou akkerboom, oor die perskeboord en veld in die rigting van die populierbos waar die tarentale nog nesskrop en kwetter. By sy voete lê vyf groot honde op vuil komberse, en deur die oop voordeur kom jazzklanke diep uit die keel van ’n saksofoon, hees en trillend en ryk.

Een van die honde lig sy kop op en bekyk hom met geel oë toe hy na die teepot langs hom reik. Hy drink sy tee en lê met sy kop agteroor en luister na die saks, soms klaend, soms kwellend, maar altyd ritmies soos die klop van ’n hart. Sy regtervoet hou tyd met die maatslag en hy brom diep saam.

Dan vervaag die musiek en word stil. Teleurgesteld staan hy op, voel die tee in sy blaas. Ook die honde spring op. Hy gesels sag met hulle, vryf elke groot kop. Hulle lek sy hande en kwyl oor sy skoene en maal met sagte gromgeluide om sy bene. Volg hom teen die trappies af na waar hy sy nood teen die akker se stam gaan verlig.

Terug in die huis haal hy die viniel-langspeelplaat van die ou Philips-draaitafel af en skuif dit in die omslag terug: Coleman Hawkins – Body & Soul, met opnames van tussen 1939 en 1956. Hy druk die plaatomslag tussen die sowat honderd ou LP’s in die rak in, almal opnames van jazz-saksofoonspelers en alfabeties gerangskik, beginnend by Cannonball Adderley.

Die respektabele meneer Hartslief

Подняться наверх