Читать книгу Die ontwaking - Chris Karsten - Страница 13

7

Оглавление

Teen ’n helling van vyf grade bereik adjudant Ella Neser ’n drafspoed van agt kilometer per uur toe haar selfoon op die handdoek begin vibreer. Sy sweet, haar asem hyg. Sy sien die naam van die beller en verstel die trapmeul vir afkoeling. Sy is fiks, elke oggend sesuur in die gimnasium vir kardio-oefeninge, dep met die handdoek die sweet aan haar gesig en nek en arms. Sy skakel die nommer terug. Wanneer hy jou bel, selfs douvoordag in jou vrye tyd in die gim, is dit raadsaam om Silas Sauls nie te lank te laat wag nie.

“Kolonel?” vra Ella Neser, haar asem nog effe gejaagd van spiere wat na suurstof smag, hartklop af tot honderd en twintig.

“Waar’s jy? Hoekom is jou sel af as ek bel?” Knorrig, hy moes wag.

“Ek oefen …”

“Ek tel jou oor tien minute op. Moenie my wéér laat wag nie.”

Sy reken sy het tyd vir ’n stort. Maar toe sy by die glasdeure uitstap, in haar sweetpak met die klam handdoek vergeefs aan’t afdroë aan haar hare, wag hy al, trek weg met die deur skaars toe. Sy smyt haar sportsak op die agterste sitplek, die handdoek bo-op.

“Wat’s die haas, kolonel?”

“Die haas is moord, adjudant. ’n Dooie liggaam in ons jurisdiksie. Dís die haas. Hoekom het jy nie ordentlike klere aan nie?”

“Jy moet ook ’n slag gim toe kom. Jy sal beter voel.”

En beter lyk, wil sy byvoeg, maar sy ken hom, ken sy drempels.

“Ek was besig met brekfis toe hulle bel,” sê hy, en wag, asof hy haar uitdaag tot nóg ’n onbesonne opmerking. “’n Vrou. Alberts Farm.”

“Haweloos?”

Die Alberts Farm-bewaringsgebied, naasgrootste groen long in die Johannesburgse metropool, negentig hektaar van natuurlike grasveld. En langs Montgomeryspruit aan Albertskroon se kant maak skunnige karakters nes. Beskonke bloedlatings hier nie ongewoon nie, maar vereis gewoonlik nie die vroegoggendse teenwoordigheid van ’n takbevelvoerder van die eenheid vir ernstige en geweldsmisdade nie, steeds bloot bekend as “moord-en-roof”.

“Haweloses, of die slagoffers van haweloses, word selde met ’n diamantring aan ’n vinger gekry. Of met oorringe. Haweloses het selde naellak aan hulle vingers en tone.”

“Wie’t haar gekry?” vra Ella Neser, hande gevou op die skoot van haar sweetpakbroek. Aan háár vingers geen diamante nie, net ’n goue seëlring van agtien karaat, en aan haar naels, kortgeknip, deurskynende lak, vir hulle beskerming, nie optooiing nie.

“’n Stapper. Hy’t douvoordag om die dam gaan stap, soos elke oggend.”

By Northcliff Corner vat Silas Sauls die draai af in Langstraat, regs in Sesde Weg, weer regs in Agste Straat by die park in, op met die lang plaveipad na die parkeerplek toe. Hier, in die middel van Alberts Farm, hou hy stil tussen voertuie van Misdaadtoneelbestuur, Forensiese Dienste, Eenheid vir Ernstige Geweldsmisdade, K9-honde-eenheid, ’n ambulans, en ’n bakkie met ’n toegeboude bak, op ’n sypaneel ’n opening waar ’n suigwaaier draai, onder die waaier geskilder: Gautengse Patologie-dienste; bloot ’n staatslykwa.

Sy klim uit en beskou die vista. Die vista is belangrik, het sy geleer; die eerste geheelindruk van die misdaadtoneel, om die bos te sien, as’t ware, nie net die bome nie. Regs tussen die bome deur die oop veld tot doer onder by Montgomeryspruit. Links die omheinde historiese grafte met drie obeliske van die Geldenhuys- en Albertsfamilie. Verder agter die grafte die beboste kliprantjie met die artesiese fontein. Reg voor haar, ’n paar honderd meter verder, die dam. Van die parkeerterrein na die dam is die gras gesny, maar Alberts Farm word ter wille van biodiversiteit as natuurlike fauna en flora bewaar, nie gemanikuur nie.

Dit is onder die groot wilgers op die oewer van die dam waar die polisiemanne bedrywig is. Die geel plastiekbaniere klaar gespan om die toneel af te sper, die forensiese ondersoekers in hulle oorpakke met kappies om hulle hare, latekshandskoene en skoenhulsels om nie die toneel met hulle eie spoorweefsel, hare en skoensole te kontamineer nie. Om die liggaam is die veld in ’n ruitestelsel uitgemerk sodat dit sistematies bespeur, geïnspekteer en uitgepluis kan word, elke graspol, elke soolafdruk, elke spoorelement. Met gereelde tussenposes flits die lig van die polisiefotograaf se kamera. Ella Neser staan op die periferie langs die kolonel. Hulle wag dat die forensiese ondersoekers hulle taak by die liggaam afhandel, ongelukkige hoofkarakter in hierdie vroeg-oggendse drama.

Sy is op haar rug uitgestrek, selfs haar arms teen haar sye aangedruk, asof sy met sorg so uitgelê is. Haar oë oop, uit ooghoeke ’n bloederigheid soos trane, of sy daar lê en huil, starende na die hemel. Haar voete kaal, die lak aan die toonnaels donkerrooi. Die jeans oënskynlik onversteur. Wit bloes uitgetrek en weer los oor haar bolyf gedrapeer om haar naaktheid te bedek. Sy het nie ’n bra aan nie.

Dit is hierdie gesig wat Ella Neser telkens nog onkant betrap, hierdie onwaardigheid waaraan ’n slagoffer uitgelewer is, hierdie weerlose blootstelling aan die elemente en nuuskierige oë.

Kolonel Silas Sauls moet die los bloes ook opgemerk het: “Het iemand aan haar geraak? Aan haar klere?” Hy wys na die bloes. “Luitenant Julies?”

Jimmy Julies van forensies kom orent. “Dis soos ons haar gekry het. Niemand het aan die liggaam of klere geraak nie. Haar aanvaller moes haar met die bloes bedek het.”

“Het julle haar skoene gekry; sandale, tekkies, wat ook al? ’n Bra?”

“Hierdie is nie die moordtoneel nie,” sê luitenant Julies. “Sy’s elders dood en hier kom los.”

“Waar’s die patoloog?” vra Silas Sauls. “Hoe lank lê sy al hier?”

“Op pad. Eet eers sy brekfis klaar.”

Brekfis, dink Ella Neser, almal tog so gesteld op hulle kos, en stryk met haar vingers deur haar hare, voel die klammigheid. Nat hare in die oggendlug, die resep vir ’n goeie verkoue. Vir haar, so het sy gehoop, muesli met vetvrye jogurt ná die gim. Deesdae alleen, nie meer soggens spek en eiers nie.

“Verkragting wat in moord eindig?” wonder sy hardop langs haar kolonel.

“Hoekom weer die jeans aantrek en nie die bloes nie?” sê hy. “Maar dit sal dokter Koster kan bepaal, of sy verkrag is … wanneer hy klaar is met sy brekfis.”

“En die oorsaak van dood.”

Sy sien geen sigbare wonde en bloed nie. Om die nek van die jong vrou ’n hangertjie, goue kruis in die kuiltjie van haar keel. Onder rooi hare steek ’n goue oorring uit, om die tenger pols van haar linkerarm ’n horlosie, aan die middelvinger van haar regterhand ’n ring met klein steentjies, gerangskik in die vorm van ’n madeliefie, vermoedelik die diamante waarna Silas Sauls verwys het. Die lak aan die vingernaels dieselfde kleur as aan die tone.

Vermoor, maar nie van haar juwele beroof nie?

Luitenant Julies se selfoon lui. Hy kyk om in die rigting van die parkeerplek waar die blou dakligte van die polisievoertuie flits, druk die sel in sy sak en staan opsy.

“Die patoloog is hier. Sy’s julle s’n.”

Ella Neser gaan hurk by die liggaam en vat die rubberhandskoene by kolonel Sauls. Die bloes, merk Ella, is van sy, nie prêt-à-porter uit ’n winkelrak van Woolies of Stuttafords nie. Silas Sauls lig ’n punt van die bloes op, delikaat soos haar ma ’n kantdoilie van ’n suikerpot sou oplig. Hy hou dit tussen sy duim en wysvinger, brom iets wat sy nie kan uitmaak nie, laat sak die sagte materiaal op haar vel terug.

“Geen merke aan haar bolyf nie.”

Ella reik na die etiket: Gucci. “Ook nie aan haar hande nie. Geen naels afgebreek nie, geen teken dat sy weerstand gebied het nie.”

Silas steun orent, met ’n sug en hoë fluitklank deur sy neus, en kyk hoe die patoloog onder die polisiebanier deurbuk. Dié plaas ’n swart instrumentetassie langs sy voete, haal handskoene uit sy baadjiesak, wriemel sy hande in, sy oë op die liggaam van die vrou.

“Nog vars.”

Strek sy vingers in die elastiese handskoene, gee hulle skiet.

“Ja, en ’n spoedige bepaling van tyd van dood, en oorsaak van dood, sal waardeer word,” sê Silas Sauls.

“Sy’s goed versorg,” sê Ella. “En nie ’n toevallige slagoffer nie.”

Dokter Koster loer vlugtig na haar.

“O, en dit kan jy vasstel deur bloot na haar te kyk?”

Met sy mond na haar gedraai, bereik ’n aardige aromamengsel haar neus. Gebraaide uie vir brekfis? Sigaar saam met sy oggendkoffie?

“’n Aanvaller sal nie ’n toevallige slagoffer se juweliersware los nie,” sê sy. “Sal nie respek vir haar naaktheid betoon nie. En verkragtings en onsedelike aanrandings is gewelddadig, laat merke aan die vel.”

Sy het dit al agtergekom, sélf ervaar: hulle trap op jou, in hierdie domein van mans, as jy nie diknek is nie. Verdra jou bloot as vroulike kwota, sluit jou uit van die kring van tjomme, van die kroeg-en-toilet-obseniteite. Daarom bly sy fiks, daarom kan sy haar skote op die skietbaan se kolskyf net so goed groepeer as enige skerpskutter van die reaksie-eenheid, woon sy kursusse in misdaadtoneelbestuur en forensiese tegnieke by, daarom is haar slaaptydleesstof handleidings van die vier Gedragsanalise-eenhede van die FBI se akademie in Quantico, Virginië; teenterrorisme, misdade teen volwassenes, misdade teen kinders en ViCAP, Violent Criminal Apprehension Programme. Sy het moord-en-roof gekies, twee jaar gewag vir ’n vakature, en is nie van plan dat op haar getrap word nie, al is vroulike moord-en-roof-speurders yl, nie alte welkom sonder hare op die bors nie.

Dáárom is sy parmantig, vra geen spesiale behandeling nie, en is tevrede toe dokter Koster swyg. Sy knieë kraak toe hy by die liggaam hurk en sy tassie oopvou. Die eerste strale van die son val nou deur die bome se takke, flikkerend en glimmerend op die vlekvrye staal van die instrumente. Hy plaas sy handpalms weerskante van haar kop, toets die stramheid van haar nek, lig met ’n penflits eers in die een oog, dan die ander een, bestudeer haar keel, tas met sy vingers aan die nekspier, verwyder die bloes, bestudeer haar bolyf, af na die jeans, en ontblote enkels en voete, waar hy weer, soos met haar kop, drukking toepas om die proses van lykstyfheid te bepaal.

Ná hierdie eerste kursoriese in situ-ondersoek is sy aandag terug by haar gesig. Hy dwing haar kake oop en ondersoek die mondholte met ’n spatula en penlig, ook die neus en ore, soos ’n huisdokter doen voordat hy ’n diagnose vir verkoue waag. Hy bring sy lig na die vel van haar keel en nou kan Ella, toe sy vooroor leun, die merke sien.

“Sy’s verwurg,” sê dokter Koster. “Kneusings aan die vel van haar keel en nek. In die sklera van haar oë petegiale bloeding, die blouerige voorkoms van haar lippe en vingerpunte toon sianose. Ek sal dit in die outopsie kan bevestig, maar ek sal geld sit op verwurging of versmoring.”

“Tyd van dood?” vra kolonel Sauls.

Ook hý, weet Ella, sit graag ’n geldjie op iets; eers die ponies, maar nie meer nie. Het ’n nuwe stokperdjie ontdek, en glo heel winsgewend.

“Rigor mortis is volkome,” sê dokter Koster. “Dit versprei van die kop laer af. Ook haar enkels en voete al ten volle verstyf.” Sy gedagtes en kommentaar hardop, ’n gewoonte van baie dekades oor outopsietafels. “Volledige rigor mortis vat twaalf, dertien uur. Op agt en dertig uur begin die styfheid omkeer weens ontbinding. By haar, is ek oortuig, is al geringe inwendige ontbinding van sagte weefsel, en bakteriese gasse. Werk dit tru uit van die tyd toe die liggaam ontdek is. My skatting: sy’s langer as twaalf ure dood, minder as dertig. ’n Meer spesifieke tyd sal ek in die outopsie eers kan bepaal.”

“Iemand moes haar laas nag of vanoggend vroeg hier kom aflaai het,” sê Ella. “In die donker, om dit ongesiens te kon doen.”

Opnuut ’n geklap van litte toe dokter Koster orent kom, hom strek, en sê: “As julle nie omgee nie, of al gee julle om, help my om haar om te draai sodat ons kan kyk wat ons aan haar rugkant vind. Adjudant, vat die voete. Kolonel, jy die skouers.”

Halfpad omgedraai snak Ella Neser sag. ’n Groot, oop wond aan die rug, noukeurig reghoekig, asof ’n A4 of A5 op haar regterblad uitgemeet is voor die skerp lem in die vel en weefsel begin sny het. Sand en stof en gras aan die gestolde bloed van die rou wond gekoek. Op die plek waar haar rug gelê het, minder droë bloed, meer bloedserum aan die grashalms.

“Die moordenaar het ’n stuk vel en weefsel verwyder,” sê dokter Koster terloops en onnodig, asof hy in sy outopsiemikrofoon oor sy bevindinge verslag doen.

“Hoekom?” vra Silas Sauls.

“Het sy gelewe toe hy dit gedoen het?” wonder Ella.

“Sy’t gebloei,” sê die patoloog. “Dooie mense bloei nie. Sy’t geleef toe sy gesny is. Maar nie hier nie. Sy’t op ’n ander plek gebloei, op die moordtoneel.”

“Gesny sonder om weerstand te bied.” Sy draai haar kop weg, maar haar oë bly op die gruwelike wond. “Dalk onder verdowing? Tog seker nie by haar positiewe toe haar vel uitgesny is nie.”

“Die outopsie sal sê.”

Dokter Koster soek onder haar hare, volg met die posterieure ondersoek van die liggaam nou dieselfde prosedure as toe sy op haar rug gelê het, van die agterkop af na die voetesole toe. Daarna bind hy sakkies om die hande sodat hy in die lykhuis onder die naels kan skraap – as sy dalk tóg ’n krap na haar aanvaller ingekry het, dalk velselle onder ’n nael bewaar het as leidraad na haar aanvaller se DNS, en sy identiteit.

“Sy’s joune, adjudant,” sê kolonel Silas Sauls. “As jy haar wil hê.”

Sy kyk verras na die kolonel. “Jy bedoel …”

“Of ek kan Fred Lange vra. Hy’s ’n ou hand, jy kan hom bystaan en leer.”

“Nee, ék sal haar vat,” sê Ella.

“Jou eerste moord, en sorg dat jy hom kry.”

Hy praat met haar, maar ook sý oë is vasgevang deur die liggaam van die jong vrou op die gras by sy voete. Sý dogter, skat Ella, is ongeveer dieselfde ouderdom, miskien ’n jaar of twee ouer. Hy sien haar nie dikwels nie, maar dít, hier voor hulle, is enige pa, enige ouer, se ergste nagmerrie.

“Ek sal jou bel vir die outopsie, adjudant,” sê dokter Koster. “Dis ’n goeie leerskool, veral in jou eerste moordondersoek. Ek sal jou bel dat jy saam kom kyk wat haar liggaam vir ons sê, watter leidrade sy oplewer. Dis beter dat jy self sien wat gebeur. Dit gee jou ’n beter begrip. Op papier is die resultate van ’n regs-geneeskundige ondersoek onpersoonlik. Maak hierdie een persoonlik, nie omdat dit jou eerste as ondersoekbeampte is nie, maar omdat jy in dié aanvaller se kop wil inkom. Dis nie ’n gewone geval nie.”

Geen moord is gewóón nie, wil sy sê. Maar vra net: “Wanneer?”

“Wat’s dit vandag? Dis vandag Woensdag. Sy sal tot môre moet wag. Ek’t reeds ses ander. Kan niemand voortrek nie. Sy moet agter in die tou inval.”

“Haar identiteit … miskien iets in haar jeans se sakke?” En nie sommer jeans nie, ontwerpersjeans.

Dokter Koster knip sy tassie toe. “Haar sakke is leeg. Dalk lewer haar vingerafdrukke en DNS ’n naam op.” Hy stroop die handskoene af. “Laat kom die lyksak en draagbaar. En ek sien jou wanneer ons haar oopmaak, adjudant Neser.”

Op swikkende knieë en met dun, krom skouers of hy swaar dra aan sy swart tassie, die lang pad tussen die bome en oor die gras terug in die rigting van die flitsende polisieligte.

“Sien jy kans vir die ondersoek? Gooi ek jou by die diep kant in?” Silas Sauls se oë op die wond aan die vrou se blad.

“Ek sal dit doen,” sê sy. “Ek sal hom kry.”

Net twee jaar by moord-en-roof, maar lankal nie haar eerste moord nie, wel die eerste as ondersoekbeampte. By luitenant Fred Lange sal sy nie leer nie; sy het die beste leermeester. Silas Sauls, in sy sestigs en wel net ’n kolonel, is die héél beste, is haar persoonlike opinie. Sy het hom gesien werk, aan sy sy. Hy lyk nie nes ’n boelhond nie, hy ís een. As hy sy kake in jou slaan, los hy nie. Al twee keer bevorder, twee keer gedemoveer. Die laaste keer was hy brigadier Sauls. Maar hy stamp koppe. Dit is te verstane, dit gebeur in enige organisasie. Sy hebbelikheid is egter om die verkeerde koppe uit te soek, die hoë koppe. Dan word hy teruggestamp, onder toe: brigadier, kolonel, nou luitenant-kolonel. Nie goeie loopbaanstrategie nie; nie vir hóm nie, vir haar wel. As hy afgestamp word, bly hy in die veld, kan sy by hom leer. Soos nou. In ’n hoek van sy nurkse hart, vermoed sy, is ’n klein plekkie vir haar gereserveer.

“Wat beteken dit, die stuk vel wat uitgesny is?” vra sy. Nie eintlik ’n vraag nie, net ’n gedagte wat sy hardop uitspreek.

“Kry haar identiteit,” sê Silas Sauls. “Dis voorrang. Nie hoe sy dood is nie, nie wáár sy dood is nie. Haar naam. Leer haar ken, leer alles van haar af, tot jy haar beter ken as vir jou eie suster. Die res sal volg.”

“Ek’t nie ’n suster nie.”

“Jou broer dan.”

“Ek’t ook nie ’n broer nie.”

“Dêmmit, Neser …”

“En jy wéét dit.”

“Ek bedoel, leer die slagoffer ken, en jy vind die spoor van haar aanvaller. Veral in hierdie geval. Soos jy sélf opgemerk het, sy’t g’n toevallig in sy pad gekom nie.”

Dit, weet sy, is bedoel as pluimpie. Dit is soos Silas Sauls pluimpies uitdeel. G’n klop op die skouer nie, g’n soetsappigheid nie; bloot ’n terloopse erkenning. En vir daardie erkenning sal sy hom wys wat sy kan doen. Hy gee haar die kans en sy sal hom nie teleurstel nie. Bogger Fred Lange.

En sy opmerking oor haar familie, weet sy óók, is net sy manier van praat. Natuurlik weet hy álles van haar familie af, veral van haar pa.

Haar selfoon lui, maar toe sy die beller se nommer sien, druk sy die knoppie om die oproep af te sny. ’n Rukkie later kom die stemboodskap. Sy herken die man se stem en wis dit uit sonder om te luister wat hy te sê het. En sy háát vroue wat hokkie speel.

Die ontwaking

Подняться наверх