Читать книгу Die ontwaking - Chris Karsten - Страница 14

Оглавление

8

Op ’n grou, mistige dag begrawe Bob Sweeney sy ma. Sy afskeid van sy ma is met weemoed, maar hoofsaaklik berusting. Sy lê op ’n mooi plek, ’n vredige plek, onder ’n majestuese rooi spar in die gedenktuin van die kerk van sint Mary.

Lisa plaas die blomme op die hopie vars grond, klein soos ’n molshoop, en haak haar hand by sy elmboog in.

“Kom, Pa,” sê sy, in haar ander hand ’n tweede gerf blomme.

Uit die Atlantiese Oseaan stuif die digte misbank aan, deur The Narrows, oor die MacKay-brug in die Bedford Basin op. Aanstons sal ’n wasige kleed Halifax bedek, sal die neweling ook in die takke van die sparre hang, hierdie rusplekke van goeie siele knus toevou, asof God sy eie palm oor hulle hou. Dit is waar sy ma nou lê, en sy is nie alleen nie.

“Gaan jy maar,” sê Bob Sweeney vir sy dogter. “Ek wil nog ’n bietjie hier ronddwaal.”

Hy trek die jas stywer om sy skouers en sit die tweedpet op sy kop terug, verstel dit effens vir die regte hoek, en om sy bles teen die koel lug te bedek. Die herfs kom vanjaar gou, dink Bob Sweeney. Maar daar sál nog warm dae wees, hierdie koue vlaag sal weer wyk, want dit is laat Augustus, eintlik nog somer.

Die ander begrafnisgangers reeds weg, meestal oues, sy ma se vriende en tydgenote; kan nie meer te lank buite vertoef nie, moet gou die hitte van hulle klein kamers opsoek vir die pyn in rumatieklitte.

“Ek sal vanaand kom kuier, vir ons iets maak om te eet,” sê Lisa, ’n drukkie van vertroosting aan sy arm, haar lippe op sy wang.

“As jy besig is …”

“Ons kan eet en deur Ouma se goed gaan. As Pa wil.”

Bob Sweeney knik net. Dit is die plek, hierdie hoek onder die groot ou spar, waar ook hý hom onbetwisbaar en laastelik sal bevind, en dit hou vir hom geen vrees of trepidasie in nie. Die ewige rus wil hy ingaan op geen ander plek as by sy Sweeney-clan nie. Ook hy sal ’n klipkruis kry met sy naam uitgebeitel. Net die kruis en die sederkissie met sy as in, en bo-oor sal die grasperk van die tuin weer toegroei, die viooltjies sal blom, die Livingstone-madeliefies, die pienk meiblomme, en in die winter sal die sneeu kom en hy sal deel wees van die aarde.

By sy voete die klein vierkant grond omgedolwe waar Bob Sweeney sy ma se kissie ter ruste kom lê en toegegooi het. Op die grond ruikers met purperkaartjies van afskeid. Vir háár kruis het hy reeds opdrag gegee.

Mary Sweeney.

“Ek gaan nou eers. Pa moenie te lank bly nie, dit word koud, die mis kom aan.”

Hy lig sy kop op toe sy ’n paar tree weg is, hou sy dogter dop toe sy by ’n ander kruis buk, die blomme teen die stam van daardie kruis neerlê. Sy sit ’n oomblik stil op haar hurke, kop geboë. Kom dan orent, wuif vir hom en stap tussen ou grafstene deur hek toe. Hy haal sy hand uit sy jas se sak en wuif haar agterna.

Nou begin Bob Sweeney dwaal, weg van sy ma se hopie af na die kruis met Lisa se tweede gerf. Hier buig hy af, vee met sy vingers oor die mos wat die naam oorkruip. Maar ná vyftien jaar is die mos deel van die proses, dink hy.

Sarah Sweeney.

Lisa was net vyf toe háár ma dood is. Te vroeg weg. Sam sewe. Jammer dat Sam nie ook vir sy ouma se begrafnis kon kom nie. Maar Bob het begrip. Saskatoon is ver; in dieselfde land, maar ’n halwe wêreld weg.

Sy Sarah moes vandag hier saam met hom sy ma kom begrawe het. Dit is nie reg dat ’n mens so vroeg sterf nie. Sy ma was vyf en tagtig, of is dit ses en tagtig? Vol en goeie lewe, en hulle was bymekaar tot op haar einde, van Sarah se dood af. Sy ma het ingetrek en die twee kinders help grootmaak, vir Sam en klein Lisa.

In die mistige laatmiddag dwaal hy verder, om die spar se stam. Hiérdie kruis staan al twintig jaar hier ingeplant.

Sy pa, Samuel Sweeney.

Nou het sy ma haar ten laaste by hom kom aansluit, nou is hulle weer saam.

Hy dwaal na die volgende kruise. Sy Sweeney-grootouers, dan sy oumagrootjie. Hier steek hy opnuut vas, dié inskripsie onleesbaar, maar Bob ken dit.

Anne Sweeney, 1882 – 1900.

Net agtien jaar oud. Veels, veels te vroeg; nie ongewoon vir daardie tyd nie, ’n eeu en langer gelede, komplikasies van long-ontsteking kort ná die geboorte van haar baba. ’n Taai baba het oorleef sonder ma en pa, want onder die spar is ’n afwesige kruis. Anne lê alleen, sonder haar man.

Will Sweeney, Bob se oupagrootjie.

Ook Will het jonk gesterf. In September 1900, net twee en twintig, en Anne enkele maande later, in November van dieselfde jaar. Anne kon hulle baba vir twee, drie maande koester; Will het sy klein William nooit eens gesien nie. Will Sweeney se laaste rusplek is ’n ongemerkte gat in die grond, sonder kruis of kopstuk, iewers in ’n ver land, iewers in die noordoostelike binneland van Suid-Afrika, duisende kilometer van Kanada af.

Dit is die afwesige Will Sweeney wat al hoe meer, veral nou ná sy ma se dood, in Bob se gedagtes kom krap en woel en dolwe. En aan mites en stories leen Bob nie sy ore uit nie. Feite. Dit is sy werk en sy geaardheid.

Hy draai om en drentel weg om huis toe te gaan. Vanaand, nadat hulle klaar geëet het, sal hy en Lisa in sy ma se kamer ingaan en haar persoonlike besittings uithaal en sorteer. Dit sal nie lank duur nie. Die kledingstukke wil Lisa by die welsynswinkel gaan afgee. Hoede, skoene en warm jasse is daar altyd welkom. Die dokumente is in die hoededoos bo in haar hangkas. In die boks ook haar testament. Karige nalatenskap, maar die testament sal die eksekuteur help om die afhandeling van die boedel te bespoedig, om die lewe en dood van sy ma af te sluit. In die boks verwag hy nie aandelesertifikate in winsgewende hout-, velle- of gaskorporasies nie, ook nie bankdokumente oor ’n seldsame muntversameling in ’n kluis in die Bank of Nova Scotia nie. Nee, geen sprake van so iets nie. Dog vir haar meer werd as al die goud van die Klondike, is die sentimentele skat wat in haar hoededoos bewaar word; die briewe en geskriffies en aandenkings, oorgeërf en aangevul, geslag op geslag, vandat Edward en Rhona Sweeney tydens die groot Aartappelskaarste op die Billow uit Ierland padgegee het, deel van die instroming van verhongerde en verflenterde Ierse immigrante na die Nuwe Wêreld.

Onder die spar wel, maar in sy ma se hoededoos, weet Bob, het Will Sweeney nie ’n leemte gelaat nie. Bob ken die buitelyne uit familievertellings, en wanneer hy en Lisa om die tafel in daardie boks gaan delf, hoop hy, sal hy self sien en lees hoekom dit dan so bestem was dat Will in die jaar 1900 in ’n ver land moes sterf. Hy sal graag wil weet, dieper wil delf, na die feite wat deur al die mites en stories toegespin is. En wie sal hom verkwalik? Nou op aftrede het hy iets nodig om hom besig te hou en die soeke na afstamming is ’n gewilde tydverdryf, mense sit selfs voor die TV en kyk hoe wildvreemdes hulle stamboom uitpluis.

Die ontwaking

Подняться наверх