Читать книгу Die ontwaking - Chris Karsten - Страница 7

2

Оглавление

Die vrou in byderwetse slenterdrag stap eers by die toonvenster verby, steek dan vas, soos winkelkykers doen as iets die oog vang. Op koers na die Gucci-boetiek, maar op ’n Saterdagoggend in ’n winkelsentrum is die bestemming net die hoogtepunt van ’n genotlike wandeltog. Slenter, drink koffie, blaai deur ’n nuwe boek, luister na ’n CD-snit, pas ’n deftige sonbril op, koop kaas en olywe vir die aand se gaste, miskien ’n vrylopende hoender, nou bevrore, vir Sondagmiddag se ete, voel aan jou palm die tekstuur van ’n handgeweefde tapyt uit Turkmenistan. Op pad na die Gucci-bloes en Zanotti-sandale is jy deel van die promenade. En as ’n bonte samekoms van makabere gesigte agter ’n toonvenster jou aandag trek, steek jy vas, al is dit net uit nuuskierigheid.

Sy ken etniese Afrikamaskers; tiekie-’n-bos in die padstalletjies van snuisternysmouse, saam met beeldjies uit seepsteen, Afrika-diere uit hout, bric-à-brac van leer, erdewerk en kleurryke kraletjies. Sy steek vas, hierdie is nie net nog ’n kuriowinkel nie, nie ingeprop met rakke vol nuttelose soeweniers nie, eerder ’n anti-kwariese galery. En dit is wat haar interesseer, dit is haar veld: oudhede. Sy stap in.

Die lokaal is yl gemeubileerd, byna gewyd uit luidsprekers sagte klanke van ’n vioolkonsert, ’n aroma van muskus in die lug. Enkele voetstukke in die middel van die vloer, op elkeen ’n bisarre artefak uitgestal. Teen die mure die starende oë, asof sy die fokus is van ’n heilskare van heidense gesigte wat op haar afkyk, haar opweeg, ’n swygende oordeel vel.

In ’n hoek, of hy wegkruip vir die uitgeholde oë teen sy mure, sit die eienaar, bestuurder, bewaker van hierdie gelate, agter die skerm van die skootrekenaar op sy tafel – geelhoutblad, stinkhoutpote, merk sy op.

“Sê as ek kan help.” Sy stem, ’n fluistering, styg skaars uit bo die musiek.

Sy betrap sy oë tersluiks op haar, asof hy haar spesiaal tussen die ander besoekers uitsoek vir sy attensies. Gewoond dat mans haar beloer. Dit vlei haar. Lenig, met swierige rondinge en ’n effense kurwe aan die nekrug, het sy ’n aura van afsydigheid. Hare agter in ’n lae chignon aksentueer haar lang, dun nek, wek die indruk van ’n slanke swaan wat op water verby die maskers dryf, met rustige verposings wanneer een haar aandag lok en sy ’n précis lees:

Afrikamaskers, nagespeur tot die vroeë Steentydperk, is van groot seremoniële, kulturele en godsdienstige betekenis. ’n Masker is die draer se band met voorvadergeeste om die kronieke van sy voorgeslag te laat voortleef. Hierdie Yohure van Tweneboa-hout, gepoleer en met metaalinleg, word in die Ivoorkus tydens ’n dodedans gedra om stamlede met die afsterwe van ’n familielid te vertroos. Dimensies: lengte 41,91 cm, breedte 20,32 cm; gewig 0,9 kg.

Sy dink sy bestee te veel tyd in hierdie galery, loer na haar horlosie. Maar die Gucci’s en Zanotti’s gaan nêrens heen nie. Haar kennis en belangstelling is in meubels van ’n honderd jaar en ouer, en in antieke silwerware, keramiek, glasware. Hierdie relikte nie haar smaak nie, maar die gesigte teen die mure lok haar. Soos die aardige artefakte op die voetstukke in die middel van die lokaal, gemummifiseerde kopvelle, verswart maar kompleet met hare en gesigte, groteske produkte van koppesnellers in Papoea-Nieu-Guinee, die Kongo, die woude van die Amasone.

Die skouerblaaie, met dun bandjies van haar bloes, prominent wanneer sy vooroor leun:

Tsantsa; Jivaro-Shuar, circa 1900.

Die Jivaro-Shuar van die Andes tussen Ecuador en Peru oes die tsantsa (verkrimpte kop) van ’n vyand in ’n godsdienstige rite as ’n demonstrasie aan familiegeeste dat ’n onreg in die hegte familiekultuur van die Jivaro-Shuar met bloedwraak nagekom is.

Van ouderdom ses word ’n seun onderrig in die rites wat verband hou met sy familie se vetes oor lang tye, soms selfs dekades, met ander stamfamilies. Van ouderdom agt vergesel hy sy huishouding se koppe-snellers vir praktiese ervaring. Hierdie daaglikse gesprekke met die seun, en sy deelname aan strafekspedisies, word voortgesit tot hy volwassenheid bereik en die stam tevrede is dat hy sy verpligtinge behoorlik begryp.

In die hoek van haar oog beweging by die geelhouttafel. Hy het opgestaan. Kort van statuur, maar kry dit reg om nog kleiner te lyk. Sy tred aarselend, of hy hom ontuis voel tussen mense. By die groepie nuuskieriges om die verkrimpte koppe kom hy tot stilstand, sy adamsappel wip ’n slag, en hy begin sy toeligting in ’n sagte stem, saaklik en stamelend, soos iemand wat skugter is om die aandag op hom te vestig.

“Om ’n kopvel as trofee te oes, sny die kakáram die kop tydens ’n plegtigheid eers heeltemal van die liggaam los terwyl hy dit aan die hare vashou. Die onthoofding duur net enkele minute vir so ’n gesoute leier van ’n stamfamilie.”

Van effe opsy beskou sy die Jivaro-gesig, luister na sy eentonige stem, sonder kadense of infleksies om stemming te probeer skep.

“Die proses om die hele kopvel met gesig en al van die skedel te skalpeer, duur vyftien minute. Dit word gedoen met insnydings weerskante van onder die ore tot agter aan die basis van die nek. Die los agterste flap word met hare en al opgetrek tot op die kroon van die kop sodat die lem van binne af die kraakbeenweefsel van die neus en ore teen die skedel kan lossny terwyl die vel van die gesig afgeskil word. Die oë word verwyder en die skedel weggegooi.

“Aan die hare word die volledige kopvel dan in kookwater gedompel te midde van ’n rituele gechant van die hele familie. Ná twintig minute word die deurweekte vel aan ’n spiespunt gelaat om droog te word.

“Teen dagbreek die volgende oggend word die lippe en ooglede met pylnate toegeryg en die vel verder uitgedroog deur sand onder ’n vuur te verhit en by die nekopening in te gooi, soos in ’n buidelsak. Die sand word met die vuiste vasgestamp om die vorm van die skedel te herwin. Hierna word ’n gladde, plat klip in die vuur verhit, en oor groot piesangblare word die buitelaag van die vel bestryk totdat dit droog en verswart voorkom. Die hare word uitgekam.”

Hy draai weg, laat hulle toe om die uitleg te absorbeer.

Verdiep in die gesig van die ongelukkige slagoffer van ’n stamvete in die Andes, skrik sy vir die stem agter haar: “Kyk hoe duidelik is die pylnate steeds. Sulke fyn werk. Doen jý naaldwerk?”

So na aan haar dat sy die warm, klam asem op haar kaal skouer kan voel. Sy draai na hom toe om, moet effe afkyk na sy gesig, na die tong wat te groot lyk vir die klein mond wanneer hy praat.

“Nee, ek doen nie naaldwerk nie,” sê sy. Haar ma borduur graag, maar dit noem sy nie.

Mia Vermooten het die gewoonte aangeleer, en nie net weens haar lengte nie, om op mense neer te kyk. ’n Verworwe hebbelikheid, want sy is onder ’n sinkdak op Touwsrivier gebore. Hy is kort, bonkig, moet sy maangesig na haar oplig. Sy kan die uitdrukking nie peil nie, die trekke soos van klei. Nee, eerder die tekstuur en kleur van deeg; hier ’n homp vir ’n neus, daar ’n klont vir ’n wang en kies, hier vir die riwwe van die wenkbroue, te min vir die ken; lukraak aangelap en aangeplak asof die boetsering nog gedoen moet word.

“Die relikte is van museumgehalte, uniek,” sê die man op wie sy afkyk.

“Aardig,” sê sy.

“Wat van só ’n gekrimpte kop vir jou sitkamer? ’n Tsantsa as belegging én geselsstuk.”

“Gee my die ritteltit.”

“Die tsantsas het besondere simboliek.”

“Mooi dinge, dís waarvan ek hou; vloeiende lyne, goeie proporsies,” sê Mia.

Die enigste goeie ding van Touwsrivier, vertel sy – ás sy oor haar afkoms uitgevra word – is dat dit langs die N1 tussen Kaapstad en Johannesburg is. Sy het darem eers haar pa gaan groet, maar nie in die truspieël gekyk toe sy die grootpad noorde toe vat nie. Gucci en Zanotti help om Touwsrivier uit haar kop en herinneringe te ban.

Sy tree tru van hom en sy verkrimpte kop. Is gesteld op haar private ruimte. Bekyk hom uit haar hoogtes. Aan elke wang ’n rosige kol, asof hy soggens moeite met ’n blosser doen vir kleur aan ’n vel wat selde son sien, en nie meer jonk nie. Ramings is haar sterkpunt, daarvoor is sy opgelei en het sy verfyn; ramings is haar wérk. Maar sý ouderdom is moeilik om te skat, miskien al in sy middeljare, as sy die plooie en verweer op sy gesig in ag neem, die yl hare, die vlekke op die vel van sy breë hande, die bultende buik wat die hemp en kruisbande span. Vir haar lyk die galery-eienaar soos ’n ronde dwerg. Of ’n minlike hemelkind.

“Miskien ’n masker?” vra hy.

“Miskien,” sê sy.

“Maskers speel al eeue ’n rol in baie kulture. Agtiende-eeuse Europese gemaskerde dansballe, antieke Griekse akteurs, Chinese dra dit steeds op tradisionele vierings, Afrikamaskers vir kulturele geleenthede, op dankseggings vir goeie reën en oeste, as afskeid aan afgestorwenes …”

Sy sweef na ’n wit masker. Dalk tóg so een teen ’n muur as geselsstuk vir haar partytjiegaste?

Hy volg haar. “Elke masker se vorm en versierings het ’n spesifieke doel. Hierdie Punu van Gaboen verbeeld vroulike skoonheid, hoewel net mans dit mag dra.”

Hy is, dink sy, soos ’n ou hond wat smag na ’n klop op die kop; sy hét so ’n uitwerking op mans, en laat hom begaan.

“Die rif weerskante van die neus na die ore toe, die diamant-vormige insnydings aan die voorkop, dit dien alles as ornamentele juwele. Hou jy van juwele? Ja, ek sien jy hou van versierings aan jou liggaam.”

“Die wit gesig …”

“Van seldsame wit oker, simbool van reinheid. Hou jy van die Punu?”

“Maar die bos hare …”

“Die hare is ’n aanduiding van rykdom en status.”

“Ek sal dink oor die Punu.”

“Die Punu is nie te koop nie. Miskien ’n Ngil, ook wit van gelaat, maar kaolienklei, nie oker nie.”

Sy hou van die simboliek van status en reinheid. Maar haar blik vernou verby hom en sy maskers na die kas in die hoek.

“Daardie kas, die tallboy langs jou geelhouttafel?”

Sigbaar teleurgesteld dat sy artefakte haar nie aanstaan nie, en sy wonder of sy hom nie tog maar met ’n hand op sy ronde skouertjie moet vertroos nie.

“My moeder s’n,” sê hy, maar dit is asof die woorde ineens opnuut sukkel om by sy vet tong verby te glip, die punt sigbaar tussen sy lippe wanneer hy praat.

“Nie maskers en kopvelle nie, maar meubels, dis eintlik waarin ek belangstel,” sê sy, streel met haar vingers oor die gladde geelhoutblad. Aan meubels vat sy graag, nie aan vreemdelinge nie, selfs nie om ’n goedige oompie op te beur nie.

Van haar hand op sy tafelblad kyk hy na haar gesig op. “Ons’t ’n hele huis vol ou meubels.”

“Sal jou ma van hulle wil verkoop?”

“Baie geheg aan haar ou goed.”

“Ons is handelaars in oudhede, betaal die beste pryse vir kwaliteit.”

“Hierdie maskers en tsantsas is antikwiteite.”

“Ons lyn is meer … is sagter op die oog.”

“Maar doods, meubels praat nie met jou soos die maskers en tsantsas nie, vertel nie stories nie.” In sy mondhoeke nou wit spatsels speeksel soos salpeterskuim aan ’n perd se lieste.

“Sal jy jou ma vra?”

Hy bied sy hand aan. “Ek’s meneer Lotz.”

Die vingers kort, koue worsies in haar hand, maar goed versorg, die naels skoon en geknip.

“Sal jy omgee, meneer Lotz, as ek die tallboy van nader bekyk? ’n Besondere kas.”

Hy trek die laaie oop, drie bo-laaie, onder ’n deur. Kan verwar word met ’n jonkmanskas, maar beslis ’n tallboy. Sy merk literatuur oor maskers in die kas – Rituele, Maskers en Offerandes; Idia, Koninginmoeder; Die Jivaro-koppesnellers; oor astronomie – Die Big Bang; Galaksies en Konstellasies; Ptolemy’s Almagest; brosjures oor teleskope – Gids tot teleskope vir amateur-sterrekykers; Jou eie observatorium in tien maklike stappe.

“Ek hou van die tallboy. ’n Bellweb, 1920’s, skat ek. As jy dit wil verkoop.”

“Moet dit eers met my moeder bespreek. Sy’t ook baie ander en beter stukke.”

“Kan ek kom kyk?”

Nie oorgretig nie, weet sy, want dan styg die prys. Maar as die tallboy ’n aanduiding is, ’n voorsmaak van wat wag.

“Ek sal haar vra,” sê meneer Lotz weer, bestudeer haar; een oog knipperend uit pas met die ander een.

“As ek mag inbreuk maak, om die meubels te kom besigtig. Ons betaal kontant.”

“Wat van ’n masker?”

“Die tallboy, meneer Lotz … Ek wil dit vir myself hê. In my sitkamer het ek net die plek daarvoor. Hier’s my kaartjie.”

Mia Vermooten. Waardeerder. Antikware, lees hy hardop. “Sal jou bel as ek met my moeder gepraat het.” Hy lig sy gesig na twee geraamde foto’s op die tallboy. “Eintlik my oorlede ouma se kas.”

Die foto’s is op ’n vaal lagie waar meneer Lotz se kort arms en stoflap nie kan reik nie. Een foto van net ’n vrouegesig.

“Jou ma?”

“Ja.”

Strak gelaat, hare in ’n bolla, liplose mond, oë wat ’n bars kan kyk.

Op die tweede foto twee vroue met ’n jong seun, opgeskote, so veertien, vyftien, skat sy.

“En dié een? Dis mos sy op hierdie foto ook?”

“Dis ek,” sê hy. “Saam met my moeder en ouma Hannie.”

Mamma se seuntjie, dink Mia Vermooten. Geen glimlagge nie, of die drietal onbewoë ’n diep, ellendige geheim deel.

“Jy die enigste kind?” vra sy.

“Jy’t ’n mooi vel,” sê hy van agter haar skouer.

Sy draai haar gesig skuins om. “’Skuus?”

“Die tekstuur,” sê hy, “sag soos satyn.”

“My vel?”

“Jy beskerm dit teen die son. Dis goed. En gereelde bevogtigers.”

“Velsorg is belangrik,” sê sy, ietwat verbaas oor die trant wat die gesprek inneem.

Dit is of hy haar takseer, soos sy die tallboy takseer.

“Vel, jou grootste orgaan …”

“Ek moet gaan.”

Nou haastig, en sy loer vir laas, afkeurend, met die uitloop na die gesigte op die voetstukke.

“Sal jou bel,” sê hy agterna. En by die deur hoor sy ’n laaste mompeling agter haar: “Pavo”, kan ook “pou” wees. Sy glimlag tevrede. Goeie besluit om by die maskerwinkel vas te steek. Mia Vermooten meen sy het ’n goudmyn van ou meubels raakgeboor. Tom Spottiswoode sal in sy noppies wees met haar oggend se terloopse werk – ás sagmoedige Neelsie sy ma kan oortuig om van haar oudhede afstand te doen. Ou mense is tog so verknog aan hulle ou goed. Ook haar eie ma. Sulke sentimente is vir Mia ietwat van ’n raaisel, dat mense nuttelose artikels kan laat stof vergaar sonder om die geldwaarde daarvan te besef, of in ag te neem. Sy hoop meneer Lotz en sy stoetse ma laat haar nie in die steek nie. En sy was eerlik oor daardie tallboy, ’n pragstuk vir haarself.

Vat nou reguit koers Gucci-boetiek toe, op met die roltrap. Tyd verspil met die maskers en perkamentgesigte, maar op die duur die moeite werd. Hoop net hy bel.

Die ontwaking

Подняться наверх