Читать книгу Die ontwaking - Chris Karsten - Страница 9

Оглавление

4

Sy kry die oproep ’n week later, op ’n Saterdagoggend. Hy en sy maskers en mummiegesigte, en sy tallboy, al byna vergete in ’n donker hoek in haar agterkop, op daardie plek waarin die rommel van onbereikbare drome en vrugtelose verwagtinge opgevee word. Sy stem effe aarselend.

“Dis ek, meneer Lotz, van die …”

“Van die maskers,” sê sy.

“Jy kan hom kry,” sê hy. “My moeder sê as die prys reg is, kan jy die tallboy kry.”

“En die ander?”

“Jy kan na die ander ook kom kyk. Sy’s sat vir al die ou meubels, moeg vir afstof en poleer.”

Seker ook nie meer jonk nie, dink Mia Vermooten, gedagtig aan die foto en meneer Lotz se eie beleënheid.

“Jy kan die tallboy laat haal.”

“Vandag?”

“Ja.”

“En die ander meubels, wanneer kan ek hulle kom takseer?”

“Môre,” sê meneer Lotz.

“Môre is Sondag.”

“Môremiddag. Teen vieruur, wanneer ons klaar gerus het. Al tyd wat ons het.”

“Is sy … jou ma nie dalk in die week beskikbaar nie?”

“Net Sondae. Sodat ek teenwoordig kan wees. Sy maak op my staat.”

Sodat sy die ou vrou nie inloop nie, vermoed Mia.

“Goed, gee die aanwysings.”

Sy het klaar ’n afspraak Sondagmiddag in die etensuur, haar dag reeds vermors, kan net sowel daarna die valuering gaan doen. Haar afspraak in die etensuur is in die Rainbow Tavern by Southgate, net ’n vlugtige ontmoeting, gewoonlik skaars vyf minute. Maar sy sal iets eet, ’n glasie wyn drink, die tyd verwyl voor sy na meneer Lotz en sy ma toe ry.

“Doradopark,” sê hy. “Die paaie is sleg, stofstrate vol sinkplate. Ken jy Doradopark?”

“Nee, maar ek’t ’n vier-by-vier en GPS. Ek’s gewoond aan grondpaaie om meubels op vreemde plekke te gaan besigtig, selfs op plase.”

“Bring die tallboy se geld saam,” sê hy.

In ’n telefoongids kry sy Speedy Mini-Movers, ‘For a quick move big or small’. Sy kon Tom Spottiswoode by die toonlokaal gebel het. Hy sou ’n drywer met ’n bakkie na die maskergalery toe stuur. Maar sal wil weet waarom die tallboy na haar blyplek gevat word, sal wil weet of sy dan besig is met ’n private versameling van oudhede. Hy sal nie gesteurd wees dat sy hom op ’n Saterdagoggend pla nie, maar hy sal lastige vrae vra wanneer hy vanaand oorkom as gas en in haar tuinhuis die tallboy sien waarvoor hy die bakkie moes stuur.

Mia Vermooten se partytjies is gesog en haar gaste word nooit teleurgestel nie. Almal weet op haar huispartytjies wag áltyd ’n bonus. Ook die bonus stel niemand ooit teleur nie. ’n Uitnodiging na ’n eksklusiewe partytjie in Mia Vermooten se tuinhuis in Rosebank word nie sommer van die hand gewys nie. Tom Spottiswoode sal wel, terwyl hy haar meubels goedkeurend beskou, in sy skik wees met die nuus van ’n skatkis van oudhede in die huis van meneer Lotz se Teutoonse ma. Hy hoef nie te weet waar sy aan die nuwe Bellweb-tallboy van neutehout kom nie.

Saterdagmiddag word die tallboy afgelewer, en sy verskuif dit totdat sy presies tevrede is met sy posisie, op ’n aks. Bo-op, waar mevrou Lotz en die tweede foto van die drietal op hulle ereplek gepryk het, kom nou ’n kissie van glansende rooshout, so groot soos die skoendoos van haar Zanotti-sandale. Haar huis, vriende en leefstyl ligjare van Touwsrivier af. Dit is soos sy dit verkies, dit is waarvan sy hou. Pronkery, geld, vryheid, sonder ’n bepaalde volgorde. En wanneer partytjiejoligheid en flenters gesprekke die aand haar ore bereik, dink sy sy is gelukkig, is sy behaaglik en sonder sorge.

“Lekker partyjie,” kom sê Tom Spottiswoode voor die tallboy. “Maar jy meng nie.”

Te dig aan haar, soos sy gewoonte is, dring haar ruimte binne.

“’n Besige week wat wag. Begin al môre, op die Sondag.”

“Die tallboy is nuut.”

Sy voel die hitte van sy liggaam, verwag die palm op haar boud, verskuif ’n tree weg.

“Ek’t afsprake vir die hele week, tot Vrydag toe. Sal eers Vrydag terug wees.”

Hy vra nie uit nie, en sy bied nie inligting aan nie. Dit interesseer hom nie waar en by wie sy die oudhede kry nie; hy stel in die opbrengs belang. Profyt, is Tom Spottiswoode se mantra. En wanneer hy ’n bietjie lighoofdig word, verskuif sy fokus van profyt tot fornikasie. In die tuinhuis soet kruiegeure van wierook en potpourri en cannabis indica; op ’n tafel se glasblad verdeel ’n vrou met lang naels wit poeier met ’n rooi Joker. Tom Spottiswoode met die jel in sy hare nie onaantreklik nie, maar dit is ’n perk wat sy stel: meng nie liggaamsvloeistowwe met ’n kollega nie, en lig sy hand ferm van haar boud weg.

Sy gaan slaap alleen in haar kamer nadat die laaste gaste weg is; ’n foto van haar ma op haar bedkassie die enigste herinnering aan Touwsrivier.

Sondag word sy eers tienuur wakker, voel besonder opgewek en doen moeite met die versorging van haar hare en grimering, krabbertjies in haar ore, kettinkie met goue kruis om haar nek, ring met klein diamante in die vorm van ’n madeliefie aan haar middelvinger. Gemaklik maar met sorg geklee, gepas vir ’n sinkplaatpad en ’n besoek aan stowwerige ou meubels, maar tog ook vir ’n middagete in ’n restaurant. Ontwerpersjeans en die nuwe Gucci-sybloes sonder bra. Nog jonk, nog nie dertig nie, vermoed een van die minder goeie gene van die drie en twintig wat sy van haar ma gekry het, het haar borste voortydig laat versak. Maar danksy die mastopeksie dra sy nou selde ’n bra, en teen veertig, vyf en veertig, is sy van plan om hulle wéér te laat lig. Die voordeel van geld, sy gun dit vir haarself, en geen suigeling se voorreg om aan húlle te rem nie.

Sy pak ook ’n koffer met klere vir vyf dae. En bel haar ma. Sy bel haar ma elke Sondagoggend op dieselfde tyd. Sy gee haar ma tyd om uit die kerk te kom, miskien tien minute op die kerkpaadjie te staan en klets, dan huis toe te loop, haar Bybel en gesangeboek neer te sit, haar hoed af te haal, ’n borsel deur haar hare te trek, en by die telefoon in die gang te gaan sit en wag.

Haar ma, stiptelik, tel met die tweede gelui op.

“Is dit jy, Mia-my-kind?”

Dit is hoe haar ma élke Sondag die telefoon beantwoord: “Is dit jy, Mia-my-kind?” Al is dit ’n ritueel, al is die oproep en die tyd so afgespreek.

“Ja, Mams, dis ek. Hoe gaan dit met die bors? Wat sê die dokter?”

Die jeremiades óók roetine: kroep op die bors, jig in die heup, liddoring op die kussing van die groottoon. Voordat die gesprek, voorspelbaar, verskuif tot Boet, by die koöperasie bevorder tot assistentbestuurder: veevoer; getroud met Magda, laerskool-onderwyser, en hulle drie spruite, die punt van ouma Truia se hart. Vir haar broer bel Mia selde, net op verjaardae. Vir Boet het Mia weinig te sê, en hy vir haar; geen ongedurigheid nie, net ’n weggroei van mekaar af sedert sy die N1 gevat het, haar gaan vestig het op ’n ander planeet weg van kleinburgerlike Touwsrivier.

Touwsrivier, begraafplaas van stoomlokomotiewe en haar pa.

Wanneer die spoorweghuisie vibreer van die gerammel van treine, was die oorlog later ál waaroor haar pa saans kon pieker, oor joiners en hensoppers en bittereinders, oor die Kolonie se verraad teen die Boere, tot kotsens toe, het dit vir haar gesmaak. Dit is die ding van ou mense: leef in die verlede; klou aan ou meubels en ou stories.

Die gesprek met haar ma eindig ná ’n halfuur, sy aktiveer die huis se alarm en stap met haar kleretas uit na die Toyota RAV vir haar eerste afspraak van dié Sondagmiddag in die Rainbow Tavern by Southgate.

Die ontwaking

Подняться наверх