Читать книгу Die verdwyning van Billy Katz - Chris Karsten - Страница 10

6 : OKTOBER 1993

Оглавление

Hierdie Sondag is hy af en Lou bring die papierwerk vir sy dossiere op datum. Veral die Billy Katz-een. Daar is al hoe meer druk van bo af. Mens sou sweer dis ’n hoëprofielsaak, sluipmoord op ’n minis­ter of iets, nie net ’n klein losbol wat weggeloop het nie. Héél bo druk Gladys Katz haar man se generaal-tjom, die generaal druk die brigadier, die brigadier druk die kaptein, die kaptein skyt op die sersantjie.

Tussendeur braai hy vier tjoppies onder die prieel, ook ses groot portobello-sampioene gevul met feta en basiliepesto. Hy sit op sy opvou-strandstoel, eet sy tjoppies en sampioene en die oorskiet-aartappelslaai wat hy in sy kroegyskassie ontdek het. Hy het nie ’n kroeg nie en drink nie alkohol nie, maar die yskassie pas sy behoeftes. Hou nie eens melk aan nie, eet nie goed soos Weet-Bix en Rice Krispies nie; eet sampioene vir brekfis, saam met eier op roosterbrood. Baie gesonder. En hy drink sap.

In die yskassie is ’n paar eiers, ’n oopgemaakte blikkie katkos, boerewors in die vriesgedeelte. (Steak en tjops koop hy soos beno­dig vir ’n af Sondag.) Die res van die yskas is gepak met sampioene, enige eetbare soort vir enige tyd van die dag of nag, en met die bestanddele vir sy versapper: beet, wortels en seldery, afgewissel met beet, wortels en appels, afgewissel met beet, wortels en kom­kommer, afgewissel met beet, wortels en pynappel, afgewissel met beet, wortels en gemmer. Suurlemoen na smaak.

Ná die tjops en sampioene hou Billy Katz hom tot laatmiddag besig. Toe hy die lêer toemaak, lê die son laag, die prieel in skadu. Die loom ure van die Sondag het aangebreek. Sy stiltyd. Hy kyk na Kandas, dié begin lui spin toe hy hom met ’n groottoon in die lies kielie. Sy volle naam is eintlik Kandas die Tweede. Die eerste Kandas is ontvoer. Hy weet presies wie die ontvoerder is, maar hy kan niks daaraan doen nie.

In die kombuis gooi hy kookwater in ’n beker en dompel ’n rooi­bos­sakkie daarin. Hy skep van die salm-in-jellie in Kandas se eetbak en gooi vars water in sy drinkbak. Maak die dossiere en lêers bymekaar en druk dit in sy ou leersak, reg vir werk môre.

By die eettafel beloer hy die inhoud van die vrugteflesse; canned-fruit-bottels, het sy ouma die Consols genoem. Die nuwe mushie-oes lyk pragtig, g’n skimmel nie, en die eerste vruggies begin knop maak.

Hy meet ’n groot lepel heuning in die teebeker af, dan vier knippies droë mushies uit ’n ander, kleiner glasbottel, dié een ’n Mason, nog so kwart vol, genoeg tot die nuwe oes gedroog kan word. Net ’n paar gram op ’n slag is genoeg om die goeie allitererende tweeling in die tee los te laat: die psilocybin en psilocin wat sy kop moet diens.

Hy druk die Grateful Dead se In the Dark in die kassetspeler. “I will get by, I will survive …” Gaan sit met sy tee op die ou sofa met die boob job en nuwe oortreksel, en lank genoeg sodat hy op sy rug kan lê, bene uitgestrek.

Lente. Die vrou, nie die seisoen nie. Ontvoerder van katte.

Die laat ure op ’n Sondagmiddag is gewoonlik wanneer sy hom in sy kop kom besoek, soms genooid, dikwels ongenooid. Kom sy genooid, herleef hulle al die goeie ou dinge, al die lag en drome. Dis die lekker besoeke. Ongenooid bring sy haar trane en beskul­digings en kom krap, krap, krap tot al die rowe weer af is, al die swere opnuut rou en oop. Maar die heel seerste is wanneer sy ophou huil, ophou beskuldig, ophou krap, en haar rug op hom draai. Maak of hy en al hulle drome nooit bestaan het nie, of dit alles net ’n illusie was, ’n hallusinasie. Maak of sy by iemand an­ders die geluk vind wat hy op die lang duur nie vir haar kon gee nie. (Ten minste, só skimp Willem oor sy sussie en die jong tand­arts.)

Elke Sondagmiddag dreig Lou om haar te bel, maar hy kry dit nie reg nie. Die straf vir sy papbroekigheid is dat hy hom moet verlaat op verbeelde besoeke en afgeleide waarhede – of onwaarhede, want hy weet goed in wie se blerrie hoek Willem is.

Stiltetyd en stiltyd. Daar is ’n groot verskil. In die skoolkoshuis was dit stiltetyd, saans voor ligte-af. Jy lees bietjie in die Goeie Boek, gesels bietjie met die Goeie Vader, en gaan lê op die staalkatel en wonder oor hoe dit alles dan só in jou lewe gebeur het, so vinnig en so chaoties. Of jy probeer vorentoe dink, maar dís swaar, nie aan te beveel nie. Beslis nie vir ’n tienersnuiter wat nog nie eers van die gemors ágter hom kan sin maak nie. (Weet byvoorbeeld waar Ma is, maar waar de moer is Pa?)

Nou is hy nie meer ’n snuiter nie, maar ’n jong man met stil­tyd. Nie alleentyd nie, want hy is altyd alleen – stiltyd. En “jong” is misleidend, net sy chronologiese ouderdom is relatief jonk; hy’s eintlik al ’n veteraan, was op twintig al ’n blerrie veteraan. Het tóé al horribale dinge gesien, horribale dinge gedoen, en aaklige goed het met hóm gebeur.

Daarom moes hy ’n stiltyd skep, om sy kop skoon te maak. Jy diens gereeld jou kar en jy diens gereeld jou kop – as jy nie wil hê hy moet weer van voor af uithaak nie. In Sondae se stiltyd purgeer hy sy gees, besweer hy die demone wat hom steeds kom besoek, wat hom nie wil uitlos nie, wat hom snags op sy kwesbaarste kom teister en beproef en kasty.

Stiltyd, sy altered state of consciousness, in die lui skemerure tus­sen lig en donker in sy buitekamer hier in tant Libbie se agtertuin.

Dié blyplek teen die Melville-koppies pas hom perfek. Uit die pad en lekker rustig. Sy noem dit ’n buitekamer, maar dis darem meer: sit-eetvertrek, kombuisie, aparte slaapkamer, badkamer met stort. Skuifdeur na klein patio met ou strandstoel en gasbraaier onder die bloureën.

Tant Libbie, die goeie weduwee, loop nog skaflik, maar raak doof – jy moet hard praat vir daai gehoortoestel in haar linkeroor. Hy help haar in die tuin, sny haar gras, diens haar grassnyer, maak haar geute skoon, pak haar garage reg, was haar kar, ry met haar Pick n Pay toe, stoot haar trollie. Sy’s die naaste aan familie wat hy het. En háár familie sien sy ook nie te gereeld nie, net op spesiale dae.

Weeksaande as hy nie nagdiens werk nie, wag ’n bord kookkos in haar louoond. Dis nie deel van hulle huurakkoord nie, sy doen dit sommer net omdat sy ’n goeie mens is. Miskien omdat hy haar so help, of dalk omdat sy sien niemand kom ooit vir hom kuier nie. En wanneer sy begin vis, wys hy na die kannas wat droog lyk, of sê hy’s eintlik op pad om haar Opeltjie te gaan was.

Sy gee nie om oor Kandas nie, sy het self een, ’n groot vettie; tant Libbie en Nonnie ontferm hulle oor Kandas wanneer hy nagskof werk.

Die ou sofa, heropgestop, is waar hy en Kandas Sondagaande die stiltyd inwag, oë op die kleurontploffings van psigedeliese Grateful Dead-plakkate teen die muur: ’n skedel met rooi rose, twee dan­sende skilpaaie, dansende beertjies, twee dansende geraamtes.

Bokant die eettafel is die twee kleurfoto’s wat hy nog destyds uit ’n ou National Geographic in ’n dokter se wagkamer geskeur het, van Piptoporus en Polyporus, eksotiese eetbare makrofungi uit die tropiese reënwoude van Oos-Java se Meru Betiri-park.

Moenie eetbare makrofungi vlak kyk nie. Bestaan uit 90% water, maar die 10% droë substansie is ryk aan proteïen – dubbel groente s’n, vier keer meer as dié in lemoene – en bevat al nege amino­sure wat die liggaam nodig het, veral ryk aan lisien en leusien, wat kortkom in die meeste brekfisgraankosse. En hulle het alles wat jy soek in ’n vitamien B-kompleks – net 100 gram vars makrofungi gee jou ’n kwart van al die vitamiene wat jy vir die dag nodig het. Hy eet dit vir brekfis, en sommer regdeur die dag ook. Hy is Pick n Pay se grootste fungi-klant.

Daai soort swamme is vir sy maag, en enigeen wat geëet kan word, dié eet hy. Maar eintlik is hy ’n ekspert van die ander soort, dié vir die kop. Spesifiek spesie Psilocybe cubensis, ook eetbaar, maar hom kry jy in geen winkel te koop nie. Hoogs onwettig om dit te besit. Veral vir ’n dienaar van die gereg.

Sy eettafel – ’n lendelam ou tafel van dennehout wat hy sorg­saam gerestoureer het – word nie vir eet gebruik nie (dié doen hy sommer op sy skoot voor die TV, of onder die bloureën), dis die staanplek van die terrarium met sy kosbare Psilocybe cubensis. Die jong vrugte se sambreeltjies is so ’n ligte kaneelbruin, word dan ’n goue bruin met wit vleis, melerige smaak, selfs bitterige nasmaak, nie lekker nie. Maar Ma het hom ook nie kasterolie ingejaag omdat dit so danig lekker was nie.

Sy mushies. Daar is baie ander name: magic mushrooms, Transkei cubes, bleskoppe, shrooms, gold caps. En die medisinale ge­bruik daarvan is niks nuuts nie. Hy weet nie álles van psilocybin nie, maar hy weet baie; jy sluk nie iets as jy nie weet wat dit is en wat dit aan jou gaan doen nie. Die vlees van die gode, is hoe die Majas en Asteke dit al 9000 v.C. genoem het; hulle het teonanácatl geëet sodat hulle met die gode in gesprek kon tree.

Die boeke sê psilocybin is ’n natuurlike psigoaktiewe substans wat in meer as 200 sampioenspesies voorkom, met ’n effek soort­gelyk aan dié van meskalien en LSD. Leary-hulle het dit destyds deeglik getoets … dalk té deeglik: die Harvard Psilocybin Project (nie te suksesvol nie), die Concord Prison Experiment (om ge­vangenes op die smal weg te probeer hou), die Marsh Chapel Experiment (om te kyk of dit godsdienstige gevoelens versterk). Ook die CIA met breinspoeling in sy MKUltra-megaprojek; die CIA speel nie, toets die hele tutti op mense: psilocybin, meskalien, kannabis, alkohol, heroïen, morfien, temazepam, scopolamien, ergien (van nog ’n fungusspesie), natrium-pentotal, en natuurlik LSD, vir die sestigs se groot acid trips.

Leary, ’n kenner van die effek van psilocybin, noem daai magiese, magiese reise “Turn On, Tune In, Drop Out”, en “a journey to new realms of consciousness, it opens the mind, frees the nervous system of its ordinary patterns and structures”. Beste van als, uit al die goed wat die CIA in MKUltra getoets het, is psilocybin omtrent al waaraan jy nié verslaaf kan raak nie, dis ook nie giftig nie en jy kan nie ’n oordosis inkry nie; al binge jy elke aand daarop, kan jy nie OD nie.

Daar’s baie maniere om jou eie sampioene te kweek, sommer in jou kombuis. PF TEK – kort vir Psylocybe Fanaticus se Tegniek – is die beproefde kombuistegniek wat Bob McPherson vir die wêreld se mushie-kwekers gegee het. Meng bruinrysmeel (van die supermark) en vermikuliet (van die plantkwekery) met water vir die substraat waarin jou sampioene gaan groei. Verdeel dit in vyf of ses canned-fruit-bottels. Steriliseer die flesse om bakterieë te vernietig en skimmel te keer, want jy soek nie later daai wollerige wit kapok in jou substraat nie. Laat die flesse afkoel en gebruik ’n groterige spuitnaald om die substraat met sampioenspore te ent. Met net 10 cc (spore gemeng in gesteriliseerde water) kan jy om­trent ’n dosyn flesse ent.

As jy nie jou eie mushies wil kweek nie, vat die kans en gaan koop dit by ’n dwelmsmous op straat, maar ’n bankie van net ’n paar gram droë mushies van bedenklike gehalte kan jou tot R100 uit die sak jaag. Jy kry dit ook in die KwaMai-Mai-basaar in Johannes­burg se CBD, tussen al die gedroogde kruie en ander onbekende plant- en dieremateriaal, as jy weet by watter stalletjie om te gaan soek.

20 Julie 1969 was ’n groot dag: eerste man op die maan, geboorte van Lourens Johannes Pepler. Ja, hy’t die sestigs net-net gemaak, Pa en Ma se Zeitgeist, van Woodstock, Summer of Love, Flower Power, tyd van vrye siele en vrye liefde, van baarde en blomme, Easy Rider en Alice’s Restaurant, die Grateful Dead, Jefferson Airplane en Janis Joplin, van die The Electric Kool-Aid Acid Test, van Ken Kesey en sy Merry Pranksters, en van meskalien en LSD en ’n alternatiewe toestand van bewustheid, pleks van die gewone, vervelige ou beta­golwe.

Vreeslik gaaf en romanties en alles, maar wat de hel help dit hom, vir hom wat Lou Pepler is? Veral toe Ma op heroïen OD en Pa die pad vat, hom by Ouma los, wat hom summier skool­koshuis toe pos. Maar Ouma moes later skuldig gevoel het, want hy en haar plaas­like vrouevereniging was haar enigste erfgename. Die vroue het meer gekry as hy, maar hy hét ten minste ’n nes­eiertjie.

Andersins was sy opsies erg beperk.

Ná matriek is hy uitgelewer aan humorlose ou omies … nee, nie omies nie, aan blerrie ou despote wat jong seuns misbruik het om vir hulle delusies te gaan veg en sterf in ’n ander land se bosse. Terwyl húlle lekker knus in Bryntirion en Akasiapark, in Libertas, Groote Schuur en Westbrooke sit.

Hy en skoolmaat Kokkie was vir ses maande in die polisie­kollege in Pretoria, toe na die Security Branch: Anti-Terrorist Squad in John Vorster-plein, Johannesburg. Daar word hulle geleer om elke nag met haelgewere en outomatiese wapens terreur te saai on­der vroue, kinders en bejaardes in Soweto en Alexandra.

Hy en Kokkie soek nuwe avontuur en sluit vrywillig aan by Ops K, kry teeninsurgensie-opleiding by Groblersdal, vlieg Suidwes toe, beland by die SB-tak in Oshakati. Pligte: ondersoek terroristiese aktiwiteite, versamel inligting oor terroriste, ondersoek terroristiese moorde, ondervra verdagte terroriste …

Terrs, terrs, van jy jou oë oopmaak tot jy dit saans sluit.

En die sadiste wys jou graag hoe hulle so ’n terr ondervra en aan die praat kry. Klap hom op die ore tot dit bloei, skop hom tussen die bene, laat hom in ’n vlak gat lê en steek ’n braaivleisvuur op die sinkplaat oor die gat aan. Luister hoe hy daar onder huil en pleit terwyl hy begin kook. Of gee hom elektriese skokke. Die Luanda-telefoon werk soos ’n bom, een van daai ou slingerfone van swart bakeliet wat elektriese impulse opwek met die draai van die slinger. Knip elektrodes aan sy oorlelle, nippels en penis vas en begin draai. Jy moet lank draai om Luanda toe te bel, terwyl hy skree en wriemel en aanhou, aanhou gil van die pyn. Groot pret vir die sadiste, daai blerrie Luanda-foon.

Gee hom gas, boet! por die omies uit Pretoria. Gooi nog ’n vleisie op die kole, skink nog ’n dop, sing nog ’n song en probeer vergeet van môre, want môre is jy dalk moer toe, boet. Per adres die terrs se AK’s of RPG’s of landmyne. Maar moenie worry nie, boet, ons stuur jou stukkies met die Flossie terug, gekis en toegespyker, en ons stuur die vroom kapelaan na jou mense toe, die kapelaan ken sy storie: Dapper seun, sy lewe gaan opoffer vir sy geliefdes by die huis, en vir sy volk, en vir sy vaderland, en hier is sommer ’n medalje vir dapperheid ook, hang dit daar teen die muur langs die President se mooi portret.

So nie, as jy gelukkig was, as die koeël of granaat of landmyn nog nie jou naam dra nie, is dit terug bos toe. Gaan soek die fok­kers, boet! En bring hulle terug, lewend of dood, R2 000 ’n kop uit ons geheime staatsfonds, so mooi geadministreer deur ons goeie broeders van Militêre Intelligensie.

Maar die jong gemoedjie is broos, en van elke dag se intieme om­gaan met die dood raak jy skoon bosbefok. Bossies vir kort. Fatalisties. As dit gebeur, dan gebeur dit, nè? Ons gaan almal tog een of ander tyd moer toe, kan nie daarvan wegkom nie.

Maar dis ook ’n soort prikkel, soos die effek van ’n goeie zol, om so saam met die dood te leef. Word ’n adrenalien-junkie, soek daai high daar in die bos, die high van jy stap in, maar jy weet nie of jy weer gaan uitstap nie. Jy verwag die lokval, die landmyn, die koeël met jou naam op. Jy dink: Lê ek vanaand in ’n lyksak, of gooi ek vanaand ’n bier af, singende saam met die manne om die braai­vuur?

Regte cock-teaser, hè? Julle kry die spore en jy voel die prikkeling in jou lieste, soos vir daai sexy girl wat jy wil bykom op jou vol­gende trip States toe. Julle volg die spore, soek, soek, soek, ure, dae. Die spanning bou op, die adrenalien bruis. Dinge lyk goed, dinge lyk goed … kom nou, girl, moenie ’n man so terg nie.

Skielik die kontak. Jy ontplof in ’n klimaks van emosies, voel skielik soos een van die ou despote daar veilig tuis, kragdadig. Maar hý sit op sy gat terwyl ander pa’s se seuns flenters geskiet word. En vir wat?

Dan’s alles verby, nog net die stof en dampe en reuke, en die eggo’s van die skote en die krete van die sterwendes.

Dan die stilte. Jy sak met jou rug af teen die Casspir se wiel. Vee die sweet af, probeer die bewerasie beheer, teug na suurstof. Die groot orgasme het alles uit jou uit gesuig, al jou lug en al jou energie. Jy’s leeg en jy weet wat netnou daai leegheid gaan begin vul: die donker wolk wat jou gees kom beset.

Terug basis toe met die prooi (lewend of dood vir die losprys). Begin drink, dae lank. Dis al teenmiddel, en nie baie suksesvol nie, om die swartgalligheid en wanhopigheid en ja, die treurigheid, te probeer verdryf. Voor die siklus van voor af begin, die adrenalien weer begin inskop. En jy soek dit, jy soek die terrs wat die groot lekkerkry gaan bring. Of die dood. Jy weet nie watter een nie. Maar dis juis hierdie dobbelspel wat jou so mal en jags maak.

Tot daai laaste keer.

Skielik die kontak. Om jou vergaan alles. Jy onthou vaagweg die ontploffing en skote en gille, die bitter reuk van kruit en bomrook in jou neus, van stof en bloed. Voel die verskriklike pyn wat deur jou skeur. O fok, Kokkie … help my! Maar Kokkie hoor nie en daar is geen klimaks nie, net die duisternis wat oor jou kom lê.

Later speur hy sy eie bewegings na: medivac na Oshakati, na Groot­fontein, na Pretoria. Op die punt van die mes tussen lewe en dood. Word op nerf na deurgehaak. Hulle naai en lap en ryg hom weer aanmekaar. Dit vat maande, en sy lyf word weer gesond. Nog nie sy kop nie.

Uiteindelik terug John Vorster-plein toe, kry ’n medalje en ser­sant­strepe, hervat sy werk (nou ’n kantoorjoppie). Steeds Security Branch, maar “Blanke Seksie”. Hy hoor wat alles op die tiende ver­dieping aangaan, bly hy’s nie by “Ondervragings” nie, het ge­noeg terrs in die bos ondervra.

Die bevelvoerder roep hom in: Hier’s ’n studiebeurs vir jou, gaan Wits toe, gaan swot, enige graad … Wát, plantkunde? Maak nie saak nie, swot is nie die doel nie, die doel is werwing. Gaan werf van daai pienk liberals en kommies vir ons, ons soek van daai studenteleiers as informante, dat ons kan uitvind wie’s almal die opstokers by Nusas en Saso, by die End Conscription Campaign, dat ons operateurs kan instuur om te gaan skoonmaak.

Hy en Lente ontmoet mekaar. Hy val vir haar, sy val vir hom. Sy weet nie van sy nagmerries nie, hy steek dit goed weg. ’n Jaar ná universiteit trou hulle. Nou kan hy dit nie meer vir haar wegsteek dat hy net vier ure slaap nie – ás hy ’n goeie nag het. Hy kan nie meer sy sweet en rondrol en nagtelike uitroepe vir haar wegsteek nie. Hy kan nie die bier en Klipdrift wegsteek nie. Dis wat hy doen – probeer sy demone versuip. Dit werk nie.

Hy werk en suip, kom saans al hoe later huis toe. Hy werk en suip, kom soms glad nie huis toe nie. Sy kop haak uit. Hulle kry hom drie dae later in Ruby se woonstel in Hillbrow. Kokkie se sexy weduwee, Kokkie sy skoolmaat van wie net ’n torso met kop en een arm in die bos opgetel is.

Hulle vat hom J.G. Strijdom toe, senuweesaal. Senuweesaal stuur hom Sterkfontein toe, sy eerste besoek aan Krugersdorp. Hy hou nie van Krugersdorp nie, maar bly ses maande daar.

Die nagmerries hou nie op nie. Elke nag dieselfde, oor en oor en oor. Dieselfde inhoud, net die volgorde van die gebeure verskil. Partykeer is die ou man eerste. Hy kom daar soos die oorlewende van ’n kataklisme uit die skemering van die bosse, sleepvoet, die maer brandsiekbrak op sy hakke, stert tussen die bene, kop omlaag, rooi tong hygend van dors en hitte. Die ou man en sy brak kom by hom staan. Die ou man praat met hom, Hy verstaan nie wat hy sê nie. Hy sien die helfte van die ou man se skedel is weggeblaas, ook die hond se agterkop. Zombie-ouman en sy zombie-brak. Skielik hap die brak na hom. Weerwolftande kry sy arm beet, skeur dit af, loop weg met ’n laaste sluwe omkyk. Die ou man gryns en volg sy hond met die arm.

Gewoonlik skrik hy dan die eerste keer wakker. Lê in die don­ker en die sweet slaan oor hom uit, sy hart jaag, sy keel is droog. Hy kry nie sy arm gelig om te voel of dit nog aan sy lyf vas is nie.

As hy weer aan die slaap kan raak, is dit die een van die Casspirs wat deur die bosse aangejaag kom. Altyd die bosse, die stof en die bosse. Die Casspir met kadawers gedrapeer oor die spaarwiel, modderskerm, buffer, enjinkap. Die liggame aan flarde geruk van dae lank deur die bosse jaag. Wanneer die Casspir by hom stilhou, sien hy die gesigte deur die stofwarrels na hom staar, die oë sonder ooglede, monde grynsend sonder lippe, ’n hand wat beweeg en hom naderwink.

Wanneer hy dan wakker skrik, moet hy opstaan, die lig aansit, badkamer toe gaan, koue water oor sy nat, koorsige gesig spoel, diep teue sluk, na die bottel en die pille soek, uitgaan buitentoe sodat hy Lente nie in haar slaap steur nie.

Daar’s ander wat wag, sou hy weer aan die slaap raak. Hulle laat hom nie met rus nie. Hy slaap nie. Hy’s bang om te slaap. Hy ry sy nagmerries op pille, bier en die klaaglike wysie van die Buffels se huldelied, sing saam met Mike Batt: “We rode in the morning, we had taken up our guns, for the ashes of our fathers and the children of our sons!”

Halfpad deur In the Dark voel hy die naarheid. Die wysers van die muurhorlosie sê dis ’n driekwartier nadat hy die laaste mond­vol tee gesluk het. Op tyd, eers die effense lighoofdigheid, dan die naarheid. Dis die twee padtekens dat sy fantastiese reis begin het, agter die wit haas aan, die haasgat in.

En nou is hy ineens so gelukkig, want daar’s nog so baie paaie wat hy wil bewandel en hy wil die wêreld omhels en teen hom aan­druk en hy wonder: Hoe kon God alles so perfek geskape het? Al die planete en al die sterre van die Melkweg so in gelid, elke sel in sy liggaam so jubelend van vreugde? Hoe kan elke atoom van elke molekule soveel skoonheid en prag uitstraal? Hoe kry tyd dit reg dat alles nie gelyktydig gebeur nie? Hoe kan dit wees dat elke ding in hierdie wêreld sy eie vaste tyd het? Wat is daardie storie van tyd? Ja, ’n tyd om gebore te word, om te sterf, om te plant, ’n tyd om te huil, en te lag, en te treur, en om van blydskap te dans, ’n tyd om stil te bly, en te praat, ’n tyd om lief te hê, en te haat, ’n tyd vir oorlog, en vir vrede, ’n tyd om ’n lewe te red, en baie fokken tyd om ’n lewe te neem.

Die verdwyning van Billy Katz

Подняться наверх