Читать книгу Die verdwyning van Billy Katz - Chris Karsten - Страница 13
9 : OKTOBER 1993
ОглавлениеLou bel die Julia-flirt se nommer vir die soveelste keer sonder sukses. Hy stap na kaptein Steyn se kantoor en stel voor dat hulle ’n lasbrief probeer aanvra om haar adres te kry. Hy wil persoonlik gaan kyk wat by haar blyplek aangaan en haar oor Billy Katz uitvra voor die brigadier weer die horries kry – maar dit sê hy nie hardop nie.
Vrydagoggend kom plak vetsak Steyn die lasbrief op sy lessenaar neer, sê brigadier Otto het dit sélf laat aanvra. Lou haal net sy skouers op. Wat traak dit hom hoe ’n senior offisier die sisteem manipuleer? ’n Landdros teken so ’n lasbrief net as dit op goeie regsgronde gemotiveer is, soos dat ’n misdaad ondersoek word; Lou sien nog geen vae teken van misdaad nie. Hy ondersoek bloot iemand wat vermis word. Maar die belangrikste is dat hy nou ’n adres het.
Net ná drie die middag kry hy parkeerplek in Mentonweg en moet ’n blok na die Fairview-woonstelgebou in Richmond stap. ’n Neerdrukkende vierkantige blok van net drie verdiepings, sonder hysbak. Hy klim die trappe na die derde en klop aan Nommer 311. Niemand maak oop nie, ook nie inwoners agter buurdeure nie.
Weer drie verdiepings af. Kry die faktotum se woonstel aan die einde van ’n donker gang. Hy druk die knop langs die veiligheidshek. Binne begroet ’n histeriese gekef die deuntjie. Lou sug. ’n Ou man met ’n toy pom-gevreet in die vou van sy arm maak oop. Die brak hap en kef deur die tralies na Lou; hy voel sy nekhare rys.
En hy wag. Onmoontlik om ’n gesprek te voer. Met groeiende moerigheid staan en betrag hy die ou man se flou pogings om die brak te paai – kielie hom met ’n krom vinger, fluister in ’n harige oor. Hy ril toe die brak die superintendent met sy pers tong begin lek, oor sy verrimpelde ou gesig, oor sy blou lippe, geplooide wang, beaarde neus. Dieselfde pers tong wat seker flussies nog sy eie brakballetjies skoongelek het, miskien ook sommer die super se verrimpelde ou knaters.
Dié gluur nou beskuldigend na Lou. “Wat soek jy? Besoektye is tussen …”
Lou hou sy SAP-ID uit. “Woonstel 311, Juliana Maria Beyers.”
“Sy’s op vakansie, kom eers die naweek terug.”
“Vandag is Vrydag, watter naweek?”
“Môre se naweek. Kan jy later terugkom, tussen vyf en ses? Is sy in die moeilikheid?”
“Net as sy ook ’n hond het.”
“Jy’s nie ’n hond-man nie, nè?”
“Nee,” sê Lou met die wegstap, “ek’s ’n kat-man.”
Sondagmiddag net ná vier is hy terug by die woonstelblok. Eintlik is hy van diens af, maar dis ’n goeie tyd om iemand tuis te kry. Sesuur se koers wil hy terug wees by sy eie plek, vir sy persoonlike stiltyd.
Hy klop, wag. Verbeel hom hoe hy deur die glasoog in die deur bespied word. Sy maak eers op sy tweede klop oop. Net op ’n skreef, die veiligheidsketting steeds vas.
“Ja? Wat verkoop jy?”
“Niks, ek …”
“Is jy van Jehova?”
“Nee, ek’s van moord-en-roof.” Hy hou sy polisie-ID op.
“Sersant Pepler,” lees sy hardop. “Kom jy my arresteer, sersant Pepler?”
“Miskien. Is jy Julia?”
“Ja. Wat het ek gedoen?”
“Het jy ’n hond?”
“Nee.”
“Dan kom ek jou nie arresteer nie. Maar dalk kan jy my met ’n saak help. Oor ’n vermiste persoon.”
“Is die vermiste vermoor, of het hy die moordwerk gedoen?”
Moordwérk?
“Kan ek inkom? Net ’n paar minute, sukkel al die hele week om jou in die hande te kry.”
“Is ek veronderstel om die vermiste te ken?”
“Ja, Billy Katz. Ek het goeie rede om te glo jy ken hom.” Van Trojaanse faam, wil hy byvoeg.
Sy druk die deur in sy gesig toe. Hy hoor hoe sy die ketting binne afskuif. Die deur gaan groot genoeg oop vir hom om in te gaan.
“Waar het jy my naam gekry?”
“In Billy se blyplek in Rosebank.”
Sy het lang hare tot oor haar skouers, met ’n middelpaadjie geskei en die kleur van plaasroom. Room uit ’n bottel, nie uit ’n speen nie, merk hy aan die nuwe vaalbruin groei weerskante van die paadjie. Sy’s mooi sonder om ’n skoonheid te wees. Oë ligbruin, wange rond, lippe vol, ook die lyf. Veral die lyf. Kan haar en haar manjifieke boesem onder die T-hemp maklik in Billy se Porsche indink, en veral in sy bed, met daai harde, puntige nippels waarmee jy glas kan sny.
“Daar’s nog van sy bier in die yskas, wil jy een hê?”
Lyk nie of Billy se verdwyning haar té erg kwel nie, as sy die man se bier aan ander, vreemde mans begin uitdeel.
“Het jy sap, miskien beet?”
“Wat!” Sy bekyk hom ’n oomblik geamuseerd, stap dan by die smal kombuis in. Nie plek vir meer as een lyf op ’n slag nie, nes syne. Hy leun teen die kosyn.
“Diet Coke?” Sy haal ’n literbottel uit die yskas en skink twee glase. Ook sy, soos mevrou Katz, bied nie keuses aan nie; jy vat wat jy kry, of los. Hy is dors en vat die glas by haar.
“Wanneer het hy weggeraak?” vra sy.
A, tog geïnteresseerd. Hy volg haar terug sitkamer toe en sê vir haar rug: “So tien dae gelede.”
Sy beduie na ’n stoel. “Dan kan jy my nie arresteer nie, ek was toe met vakansie. Jy sal ’n ander ontvoerder moet gaan soek.”
“Wanneer het jou vakansie begin?”
“Ek’t Saterdag 2 Oktober gery.”
“Billy het sy ma laas op Vrydag 1 Oktober gebel. Waar was jy daai Vrydagaand?”
Sy staar na hom. “Herre, sersant, maar jy werk dit fyn uit. Daai Vrydagaand … laat ek sien.”
Hy kyk hoe sy maak of sy diep dink.
Sy skud haar kop. “Nee, ek’s bevrees jy hét my, ek het nie ’n alibi nie. Dis mos wat julle dit noem, nè? Ek was alleen hier in my woonstel. Ek het ’n paar bokse uitgepak en toe my tas vir die vakansie ingepak. Kyk, daar staan van die bokse nog.”
Dis ’n ongemaklike stoel met ’n regop rug en hy verskuif sy boude om sy sit te probeer kry. Daar’s ook nie ’n sytafeltjie nie. Hy moet sy glas op die vloer sit en afbuk as hy ’n sluk wil vat, met die lêer en notaboek wat elke keer van sy skoot wil afgly.
“Maar julle was goeie vriende, sover ek kan agterkom,” sê hy. “Báie goeie vriende, julle was ’n item. Hoekom was julle nie die Vrydagaand voor jou vakansie bymekaar nie? Hoekom gaan hou julle nie sáám vakansie nie?”
Sy sug. “Ja, dis wat ek vir hom was: ’n item. Hy’t baie items gehad, ek was maar net een.”
“Julle was nie meer saam nie?” Hy skryf in sy notaboek. “Wanneer het dit gebeur?”
“Die uitval was vroeër daai week. Dis hoekom ek besluit het om verlof te vat, om weg te kom van hom af.”
“Waar’t jy vir Billy gaan wegkruip?”
“Op ’n skaapplaas in die Kamdeboo.”
Hy kyk na haar. Waar de moer is die Kamdeboo. “Skaapplaas?”
“Ja,” sê sy, “sulke wollerige goed met vier pote. My ouers boer daar. En my broer. Wil jy bel om te hoor of ek lieg?”
Hy skud sy kop. “Miskien later, as dit nodig is. Dis net bietjie vreemd dat julle albei dieselfde naweek weg is. Jy Kamdeboo toe, Billy in die lug opgeraap. Hoe lank was julle saam? Jy ken seker sy vriende, veral sy vyande? Het hy vyande gehad, van wie jy weet?”
“Baie mense word vir hom kwaad, want hy’s ’n selfsugtige, arrogante windgat. Maar ook sjarmant, niemand bly lank vir hom kwaad nie. Hy’s nie ontvoer nie, sersant, hy jol iewers saam met ’n nuwe girlfriend. Jy mors jou tyd.”
“Waaroor het julle baklei?”
“Wie sê ons het baklei?”
“Jy sê julle het ’n uitval gehad. Wat het gebeur?”
“Luister, sersant, ek ken Billy baie goed, ek weet presies hoe sy akkedisbrein werk. Ek was net nog iemand wat verower moes word, net nog ’n kerfie aan sy bed se kopstuk.”
“Goed, help my dan met ’n profiel.”
“Profiel? Ja, ek kan jou ’n mooi profiel van Billy gee. Wat wil jy weet? Dis eintlik maklik, Billy is nie ’n komplekse karakter nie. Hy’t net twee dinge op sy brein, seks en geld, dis waarom sy hele lewe draai. Die seks tel hy self op, vir die geld sorg Pappie.”
Hy bestudeer haar, eintlik haar lyftaal, kyk of haar liggaam haar woorde weerspreek: kop wat kantel; oë wat wegkyk, of opkyk, of af; trek van die mond; vingers wat iets anders sê as die mond; arms wat vou en ontvou; voet wat geïrriteerd tyd hou.
“As jy net nog ’n flirtasie was, hoekom het hy jou aan sy ma gaan voorstel?”
Haar oë rek. Dít het sy nie verwag nie. Sy verskuif, streel met haar vingerpunte oor haar nek en die kuiltjie in haar keel.
“Hoe weet jy dit?”
“Sy’t vir my gesê. Mevrou Katz onthou jou naam.”
“Sy onthou seker baie name, ek’s sekerlik nie die eerste een wat Billy gaan voorstel het nie. Sal ook nie die laaste wees nie.”
Sy staan op en vat die glase kombuis toe, sonder om nog Coke aan te bied, die lyftaal sê: Dis tyd dat jy padgee.
Hy hou sy pen en notaboek vir haar. “Jou werknommer en werkplek. As ek dalk iets van Billy hoor.”
Sy skryf en gee die notaboek terug. “Hy’t my belieg en met ’n ander teef verneuk – dís waaroor die uitval was. Natuurlik moes ek dit verwag het, maar dit was nogtans ’n skok. Ek het regtig vir hom omgegee, en ek het gedink hy gee vir my ook om. Hy’t my aan sy ma gaan voorstel as … as die toekomstige ma van sy kinders. Grappenderwys, maar tog ook ernstig. Of só het ek gedink. Paar dae later hoor ek hoe hy in Gems hand om die blaas met daai flerrie sit.”
Hy kyk na haar handskrif in sy notaboek en vergelyk dit met haar naam en nommer op die vel wat hy in Billy se laaikas gekry het. “As julle mekaar so goed ken, sal hy mos jou foonnommer uit sy kop ken. Hoekom sal hy jou nommer op hierdie stuk papier hê, nogal in jou eie handskrif?”
Sy staar vir ’n oomblik na hom, asof sy eers wag vir haar breinratte om in plek te val. “Die antwoord is eenvoudig. Ek het begin September hier ingetrek en die telefoon is eers teen die middel van die maand geïnstalleer. Eintlik baie gou, ek vermoed Billy se pa het toutjies getrek. Ek het my nuwe nommer vir Billy neergeskryf. Tevrede?”
“Jy werk by Global Trading, is dit wat hier staan?”
“Ja, in City Deep, maar probeer om my nie daar te kom pla nie. Global Trading het ’n vervoerkontrak met Katz Transport. Dis hoe ek Billy ontmoet het.”
“Raait. Jy sê Gems, daai rave club in Melrose?”
“Ja, Billy se tweede huis. Waar hy sy los flossies optel. Een van my vriendinne het hulle saam daar gesien. Ek het sy pel Os gevra en hy het dit bevestig. Billy ontken dit natuurlik blink en bles. Maar nou ja, help nie jy gaan sit in ’n hoek en krepeer nie. Jy beweeg aan, jy hoop op iemand beter. Daar’s áltyd iemand beter, of hoe, sersant?”
Hy weet nie, hy’s nie eintlik ’n ekspert met sulke goed nie. “Waar kry ek dié Os?”
“Hy’s ’n lorriedrywer vir Katz Transport. Billy het die werk vir hom gekry.” Sy gaan haal ’n foonboekie uit haar handsak op die eettafel, blaai daarin rond. “Hier’s dit. Os Osler. Jy kry hom nie maklik in die hande nie, hy’s gewoonlik op pad met ’n vrag. Bly by sy suster, dis eintlik haar nommer. Elizabeth. Los ’n boodskap by haar dat jy vir Os soek. As ek jy is, sal ek nie sê ek’s van die polisie nie.” Sy bly by die tafel staan. “Hoe lank nog met hierdie inkwisisie, sersant? Ek het baie dinge om te doen voor ek môre teruggaan werk toe.”
Hy staan op. “Laaste vraag: Wanneer het Os en jou vriendin vir Billy met die nuwe meisie in Gems gesien?”
“Kan nie onthou nie.”
“Jy kan nie onthou wanneer hy jou verneuk het nie?”
“So drie weke terug.”
“Jy kom seker ook in Gems, of jy het, saam met Billy. Ken jy haar, die … flossie met wie Billy jou verneuk het? Ek sal graag met haar ook wil gesels.”
“Kans is goed dat sy saam met hom weg is.”
“Kén jy haar?”
“Nee, ek ken haar nie, maar ek weet wie sy is. Ek bedoel, ek ken haar naam. Heidi.”
Lou ry terug kantoor toe. Julia Beyers werk by Global Trading in City Deep?
Hy bel eksswaer Willem Roos in Pretoria.
Dié antwoord met: “Loutjie! Lanklaas van jou gehoor, my maat.”
Asof hulle nie twee maande terug met mekaar gepraat het nie. En wat hom amper net so erg irriteer as om knaend aan ’n sekere katoolse tandarts herinner te word, is om “Loutjie” en “my maat” genoem te word.
“Luister, Willem, ek …”
“So, vang jy steeds moordenaars?”
“Ja, en vang jy nog veediewe?”
“Wilddiewe,” sê Willem, enigsins gesteurd.
Lou móés die stekie inkry, weet goed Willem is lankal nie meer by die veediefstaleenheid nie. Hy is al ’n paar jaar by die nuwe eenheid vir die beskerming van bedreigde spesies, want dis juis oor die spesies dat hy hom nou bel. En probeer weer: “Luister, Willem …”
“Darem al bevordering gekry?”
Willem is nou besig met ’n duel, want hy’s mos luitenánt Roos. En hy weet baie goed Lou is nog steeds ’n sersant, met blerrie min kans op bevordering, met dié dat sy toekoms in die hande is van Steyn en Otto. En vermiste Billy Katz.
“Wil iets by jou uittjek, Willem. Laas toe ons gesels het, het jy gepraat van ’n groot ondersoek waarmee julle besig is, ’n gesmokkel met ivoor en renosterhoring uit Angola. Verbeel my jy’t iets genoem van Katz Transport?”
“Ek lees juis in die koerant die vermiste Billy Katz is jou saak. En ek dog jy’s ’n móórdspeurder.”
“Wat van Katz se lorries?”
“Katz Transport is net die karweier, hulle permitte is in orde. Die probleem is die eienaar van daai vragte.”
“En die eienaar is Global Trading? Is dit die naam wat jy laas genoem het?”
“Ja, en so glibberig as tien palings. Waar kom jý aan hulle?”
“My Katz-ondersoek. Billy se lover … sy eks werk vir Global Trading. Sê sy en Billy het mekaar ontmoet deur Katz Transport se vervoerkontrakte met Global Trading.”
“Ek sukkel my gat af om by Global Trading se baas uit te kom, vorder net tot by sy sekretaresse.”
“Miskien kan ek help,” sê Lou. “Belowe niks, maar sal probeer.” Sonder veel hoop dat Julia Beyers vir hom ’n gunsie sal doen.
“Dankie, my maat,” sê Willem. “Ons het in Oktober ’90 die eerste keer van naderby kennis gemaak met ’n Katz-lorrie uit Zambië, danksy die samewerking van Botswana se doeane. Hulle het ’n agtienwieler gestop toe dit by Kazungula van die veerboot afry.”
Willem se stem is ’n oomblik stil en daar is ’n geritsel van papiere.
“Kry nie nou die lêer nie, maar ek onthou die doeanemanne het ’n vrag koperskroot op daai lorrie gekry. Permitte in orde, behalwe vir goedere in staaltrommels wat onder seile versteek was: honderde olifanttande, rou en gekerf, nog honderde kleiner ivoorartikels soos armbande, halssnoere en beeldjies, byna honderd swartrenosterhorings en ’n hoeveelheid malagiet. Miljoene werd. Hulle arresteer die drywer en skut die lorrie en sy vrag. Doeane gaan kyk in hulle argiewe en sien dat Katz-lorries al sedert die vroeë tagtigs die grens tussen Botswana en Zambië met die veerboot oorsteek. Twee dae later daag Billy Katz en ’n prokureur by Kazungula op. Met stapels dokumente, onder meer die ontbrekende invoerpermitte vir die rou én gekerfde ivoor, laasgenoemde glo bestem vir soewenierwinkels. Hulle vra doeane nederig om verskoning dat die drywer nie al die dokumente by hom gehad het nie. Botswana het nie ’n keuse nie en laat gaan die drywer en sy lorrie, vrag en al.”
“Ek raai die vrag was ook bedoel vir Global Trading.”
“Jy raai reg. Hoe weet jy?”
“Ek’s ’n siener. Ek sien dinge.”
Willem snork. “Jy’t nie die ding met Lente sien kom nie. Ieder geval, ek bel vir Billy Katz. Hy sê hy’s net die troubleshooter, hy’t niks met die vrag te doen nie, ek moet sy pa bel. Lester Katz is nie beskikbaar nie – nooit nie. Ek kry die ander seun, Lionel Katz. Hy sê hy’s net die boekhouer, Manny Souza is die logistieke bestuurder. Manny Souza sê hy sal eers moet soek, want Katz Transport se vyftig lorries is 24/7 op elke denkbare Suid-Afrikaanse pad aan’t ry, met elke denkbare vrag. Ook op elke denkbare pad in elke denkbare buurland – Mosambiek, Zimbabwe, Botswana, Namibië, Zambië, glo tot by die kopermyne in Zaïre. Angola is die uitsondering. Paaie en brûe is verwoes en steeds te gevaarlik ná die grensoorlog, en Savimbi se bosoorlog hou nog aan. Uiteindelik kry ek die naam van ’n klant uit Manny Souza gewurg: Global Trading, Atomweg, City Deep.”
“Wat laat jou dink hulle smokkel, as die permitte dan in orde is?”
“As jy die groter prentjie sien, Loutjie, sal jy ook die klokkies hoor lui. Ná die besigheid by Kazungula gebruik Katz se lorries nou die Wenela-grenspos. Vermy Botswana, ry reguit van Katima Mulilo in Zambië se koperbelt in. So ses weke gelede deursoek Namibiese doeane ’n lorrie op pad terug Republiek toe by Wenela. Weer ’n vrag koperskroot, weer malagiet. Maar dié slag ook kobalt en ander erts – toermalyn, akwamaryn, ametis. En honderde diervelle, ongebrei, net ingesout. Ook weer ’n paar honderd rou olifanttande en honderde gekerfde ivoorartikels. Geen renosterhorings nie. Alle permitte weer in orde, behalwe vir die tande en gekerfde ivoor. Billy Katz en ’n prokureur vlieg Katima toe met die permitte. Begin jy die patroon sien?”
“Halfedelstene? Is dit ’n nuwe ding?”
“Dis presies wat ons ook vir mekaar vra. Brei hulle uit na halfedelstene, edelstene, diamante? Nie ons jurisdiksie nie, maar ons weet mos almal dat diamante Savimbi se gunsteling-betaalmiddel vir wapens is, dan tande, horings en kiaat uit Angola se woude.”
“Maar hoekom karring julle so met Global Trading? Daar’s tog seker baie ander smokkelaars met ivoor en horings om te gaan vang. Of met perlemoen en broodbome. Of ietermagôs, hoor hulle raak meer bedreig as renosters.”
“Global Trading interesseer ons om verskeie redes. Een is die permitte wat elke keer kastig vergeet is. ’n Ander is ’n vertroulike CITES-verslag wat sê Global Trading is al die afgelope vyftien jaar een van CITES se grootste probleme in Suider-Afrika. En niemand kry vatplek aan hulle nie, want Global Trading het hoë vriende. Lekker diep in die regering se gat ingekruip – dieselfde regering wat die grootste teenstander is van CITES se besluit om internasionale ivoorhandel te verbied, dieselfde regering wat tydens die grensoorlog gehelp het om Angola se manjifieke olifanttroppe uit te wis – met oorlogswapens, nie jag vir sport nie, jag vir fokken geld.”
“Ja,” sê Lou, “dieselfde regering wat seuns vir kanonvoer gebruik het.”
Lou is gelukkig, dit duur net vyf dae voor hy Os Osler in die hande kry, vroegoggend by sy suster se huis in Jeppestown.
Os is eers astrant. “Is ek ’n verdagte? Billy is my vriend! Ons kom al jare saam, vir wat sal ek hom ontvoer?”
“Miskien om ’n miljoen vir sy vrylating te eis?” sê Lou.
Dit lyk of Os wil stik. Hy vee met ’n palm oor sy kaal kop. ’n Gróót kop, en nie ’n mooi een nie, ongelyk soos ’n ryp papaja, met ’n tatoe agter die oor en ’n ring in die lel.
“Hoe lank gaan ons besig wees? Ek moet werk toe gaan, my lorrie gaan regkry. Ek ry Sondag Zambië toe.”
“Jy’t ’n keuse: ons gesels hier sonder dat ek alles uit jou moet trek, of ek vat jou moord-en-roof toe vir ’n formele gesprek, wat ure kan duur, indien nie dae nie. Wat’s jou antwoord?”
“Ons praat hier. Wat wil jy weet?”
“Ek gaan alles opneem, dan hoef ek nie so baie te skryf nie. En onthou, die waarheid en niks anders as die waarheid nie. Hoe lank ken jy vir Billy?”
“Tien jaar.”
“Waar’s hy, wat het van hom geword?”
“Ek weet nie, almal soek hom. Hy’t niks vir my gesê nie.”
“Is iemand kwaad vir hom? Weet jy van vyande?”
“Almal het fokken vyande.”
“Wanneer het jy hom laas gesien?”
“Daai Saterdagaand by Gems. Dit was 2 Oktober.”
“Jy’t ’n goeie geheue met datums.”
“Ja, want my ma verjaar op 3 Oktober, dis hoekom my geheue so goed is. Ek en Elizabeth is die Sondag Sasol toe vir haar verjaardag. Billy het nogal vir haar ’n present saamgestuur. Badolie en lekkerruikseep.”
“En dit was die laaste, jy’t nie weer van hom gehoor nie?”
“Nee. Is ons klaar?”
“Ek soek jou vingerafdrukke en monsters van jou bloed en hare.”
“Vir wat? Het jy ’n lasbrief?”
“Om dit te vergelyk met dié wat ons in Billy se dupleks gekry het. En nee, ek het nie ’n lasbrief nie. Maar ek vra jou samewerking, en Billy se ouers vra jou samewerking sodat ons hom kan opspoor. Of moet ek vir hulle gaan sê jy stel nie belang om saam te werk nie, want jy traak nie oor jou vermiste vriend nie?”
“Nee, ek’t niks om weg te steek nie.”
“Goed, kom in stasie toe vir die afdrukke en monsters. Gee my vooraf ’n lui sodat ek dit kan reël. Vóór jy Zambië toe gaan. Raait, vertel my nou van Gems. En van ene Heidi.”
Transkripsie van getuieverklaring: Walter “Os” Osler
Adres: Dukestraat 33, Jeppestown, Johannesburg.
Datum: 22 Oktober 1993.
Tyd: 11:30.
Afgeneem deur: Sersant Lou Pepler, Moord-en-Roof, Brixton.
Ek is 27 jaar oud en ongetroud. Ek en Billy [die vermiste William Katz] is beste vriende.
Gems [’n rave-klub te Venusstraat, Melrose] is Billy se favourite uithangplek, veral naweke, elke Vrydag-, Saterdag- en Sondagaand. Myne ook, saam met hom, as ek nie op pad is nie [vir Katz Transport].
Ons gaan Vrydagaand 24 September 1993 soos gewoonlik Gems toe. Billy het baie vriende en chicks hou van hom. Daar is altyd ’n gekoek om hom.
Sy vaste girlfriend is Julia Beyers. Sy gaan partykeer saam, maar nie baie nie, sy sê sy raak bietjie gatvol vir Gems. Sy was nie die Vrydagaand saam nie, want sy sou oor ’n week na ’n nuwe woonstel trek en sy wou inpak.
In die loop van die aand wys Billy ’n groep van drie chicks by ’n tafel vir my. Sy woorde is iets soos: “Ek tjek hulle al die hele aand uit, hulle is alleen. Ek dink dis tyd dat ons hulle gaan uithelp.”
Met “uithelp” verstaan ek hy bedoel ons gaan hou hulle company en dans met hulle.
Ons gaan sit by hulle en Billy bestel dop vir almal. Ek kan sien hoe hy op een van hulle inzoem, Heidi. Sy’s mooi en jonk, ’n blond. Billy is charming en vol grappe, laat almal lag. Dit lyk of Heidi vir hom val, want hulle dans baie.
Sy drink nie dop nie, net orange juice. Middernag staan die chicks op en sê hulle gaan waai. Billy sê vir Heidi hy sal haar huis toe vat as sy nog wil kuier. Sy wil nie. Hy vra of hy haar later kan bel, hy wil haar uitvat vir ’n date. Sy gee haar nommer vir hom.
Ek kan net twee chicks se name onthou: Heidi en Valerie. Ek dink dis Valerie, kan ook Vanessa wees, of Verity, so iets.
Billy bel my vroeg Saterdagoggend, sê ek moet saam gaan brekfis eet, ons maak ’n foursome met Heidi en haar vriendin. Ons ontmoet hulle by Basil’s in Rosebank. Dis ’n lekker brekfis, die chicks geniet dit en lag vir Billy se grappies. Ek ken al sy grappies, maar ek lag saam. Hy hou daarvan as mense lag as hy iets vertel. Billy weet hoe om mense te entertain. Ek hoor hoe hy vir Heidi vra of hy haar daai aand [Saterdagaand, 25 September 1993] weer by Gems kan sien, maar sy sê nee, sy moet studeer.
Ons los hulle ná brekfis want sy is ’n student en wil gaan boeke koop.
Saterdagaand kuier ek en Billy soos gewoonlik by Gems. Sondagaand kom hy eers baie laat by die klub aan, weer sonder Julia. Hy’s stiller as gewoonlik en daar’s ’n krapmerk oor sy wang. Ek vra wat aangaan. Hy sê sy het hom in die bed gekrap, ek moet sien hoe lyk sy rug, sy velle is afgekrap. Sy woorde is: “Sy’s soos ’n fokken tiger in die bed!”
Hy sê dis hoekom hy so laat by Gems aankom, maar ek wonder oor die krapmerk, dit lyk nie soos ’n krap van passion nie. Hy en Julia gaan toe al so ses maande uit.
Billy het baie meisies, maar hulle hou nie lank nie. Altyd dieselfde rympie as hy my aan ’n nuwe een voorstel: “Hei, Os, ontmoet die toekomstige ma van my kinders!” Dit laat hulle vreeslik special voel.
Maandag- of Dinsdagaand vra ek hom of hy weer vir Heidi gaan uitvra vir ’n date. Hy sê hy’t haar nog nie weer ná Saterdag se brekfis gesien nie. Ek onthou sy woorde goed. Hy’t gesê: “Sy’s nie my soort nie.”
Woensdag bel Julia my en vra wat tussen Billy en ’n sekere Heidi aangaan, want sy hoor allerhande stories van hoe hulle om mekaar se nekke hang. Ek sê ek weet nie eintlik daarvan nie, sy moet maar vir Billy self vra.
Die volgende Saterdagaand, 2 Oktober, is ek en Billy weer by Gems. Julia is glo weg Karoo toe, dit lyk of hulle opgebreek het.
Dié aand sien ek vir Heidi weer daar, saam met drie dudes en nog twee chicks. Een ou sit die hele tyd met sy arm om Heidi se nek, asof hy aan almal wil wys hulle is ’n item.
Ek sê vir Billy Heidi is daar as hy haar wil gaan groet, maar hy sê hy’t niks vir haar te sê nie. Ek sien hoe die dudes by Heidi se tafel heeltyd na Billy kyk.
Middernag waai ek, want ek en Elizabeth wil vroeg Sondagoggend Sasolburg toe ry vir ons ma se verjaardag. Dis die laaste keer dat ek vir Billy gesien het. Ons het Sondagaand laat van Sasolburg af teruggekom en ek was nie Gems toe nie. Billy was nie Maandag by die werk nie, ook nie daarna nie. En dis al.
Lou tik sy verslag vir die kaptein. Hy wens hy kon meld – vir die brigadier se bakore, op na die generaal s’n, op na Gladys Katz se porseleinskulpies – dat hy ’n spesifieke leidraad gekry het wat kan lei tot Billy Katz se opsporing. Maar hy kan nie, hy het nie leidrade nie, kan net rapporteer wat Julia Beyers en Os Osler te sê het, en dis wat almal reeds weet: Billy se lewe draai om vroumense en geld.
Die vraag is: Wat het dit met sy verdwyning te doen?