Читать книгу Die verdwyning van Billy Katz - Chris Karsten - Страница 7

3 : OKTOBER 1993

Оглавление

“Pepler, die brigadier soek jou in sy kantoor – nóú. Roer jou gat!”

Lou merk sy plek in die lêer, klap dit toe en stap uit die speur­kantoor sonder om in dikgat Steyn se rigting te kyk. In die gang af na die hoekkantoor met die naamplaat BRIG. F.L. OTTO, BEVEL­VOERDER, MOORD-EN-ROOF. Hy klop.

“Kom in!”

Binne bly hy staan, soos dit ’n goeie onderdaan betaam. As hy in uniform was, sou hy gesalueer het, nou verstyf hy bloot sy arms vir ’n oomblik langs sy sye. Hy sien die afkeurende blik asof hy hondestront intrap in hierdie allerheilige sanktum.

Die brigadier skryf met sy Montblanc iets op ’n vel papier en hou dit oor die lessenaar na Lou uit. Hy tree nader en vat dit, lees: Mevrou Katz, die naam dik onderstreep, en haar telefoonnommer. Dis al op die hele blerrie vel.

Die Montblanc is die brigadier se handelsmerk, almal wonder wat dit kos, almal dink dis bietjie windgat dat ’n polisieman, selfs ’n offisier, met so ’n duur vulpen skryf terwyl die res Openbare Werke se geel Bics gebruik.

Lou wag, vou solank die A4 in al hoe kleiner vierkante tot hy dit in sy hemp se bosak kan inprop.

“Bel haar,” sê Otto uiteindelik.

Hoekom anders sou die brigadier vir hom ’n naam en nommer gee? Hy knik en wag weer. Jy loop nie uit ’n offisier se kantoor voor hy jou dismiss nie – dít het hy op die harde manier geleer.

Otto haal sy bril af, vryf oor sy groot rooi neus, dan oor sy groot rooi snor. “Wil jy nie weet hoekom jy haar moet bel nie?”

“Sy sal my sê as ek bel, brigadier.”

“Ek kan jou ook sê sodat jy jouself kan voorberei. Stel jy belang?”

“Nes brigadier wil, brigadier.”

Otto se ogies vernou, lyk of hy eers dink, sê dan net: “Haar seun het verdwyn.”

“’n Vermiste persoon? Wat moet ek voorberei, brigadier?”

“Weet jy wie de fok sy is?”

“Nee, brigadier. As brigadier my sal verskoon sodat ek mevrou Katz …”

“Lester Katz se vrou, dis wie sy is! Huisvriende met generaals en ministers. Generaal Roux het haar persóónlik na ons ver­wys.”

“Ja, brigadier.” Wie de moer is Lester Katz? En wie’s generaal Roux?

“Alle oë is op ons, Pepler. Kry die seun en kry hom gou. En kry hom veral ongeskonde, gehoor?”

“Hoekom moord-en-roof, brigadier? Dink hulle aan … ”

“Hulle dink nie aan motiewe nie, Pepler, dis óns werk. Al waar­aan hulle dink, is dat hulle jongste seun weg is. Bel mevrou Katz, sy wag vir jou. En hou kaptein Steyn op hoogte. Dismissed.”

By ’n imposante ingang van dik wit pilare en ’n swart ysterhek meld Lou hom oor die interkom aan: “Sersant Pepler, vir my afspraak met mevrou Katz.” Geen antwoord. Het die hekwagter hom gehoor? Hy leun by die venster uit, sy mond nader aan die interkom: “Hallo!” Die hek begin geluidloos oopgly.

Die keisteen-inrypad vat hom op ’n besigtigingstoer onder bome met skaduryke krone, tussen kleurryke struike in blom, langs bed­dings vol lelies, fonteine met kaal betonfigure wat strale water spoeg of pis, gras­perke met haaks rande, nie ’n halm uit gelid nie, asof deur ’n barbier versorg.

Hy sien haar toe hy om die laaste draai uit die laning kom. Sy wag hom onder die groot dubbelverdieping se voordeurafdak in (hy het al die woord portiek gehoor). Asblonde hare, lenig in wit langbroek, amperwit bloes, groot sonbril.

“Jy’s sersant Pepler? Nog so jonk.”

Hy’s nie seker hoekom sy so vieserig klink nie, oor sy ouderdom of oor sy moes wag? Of dalk is sy net gatvol omdat ’n sersant hier aankom en nie die generaal sélf nie.

Hy takseer haar vlugtig. Sy is sag op die oog, moes eens ’n skoon­heid gewees het. En die wit klere ongetwyfeld bedoel om haar sonbruin vel ten beste te vertoon. Bloedrooi lippe, bloedrooi naels, ook die toonnaels wat so astrant by die wit sandale met goue bandjies uitloer.

Hy staan ’n trappie laer as sy en hulle oë is waterpas, maar dit voel of sy van ’n groot hoogte af op hom neerkyk. Haar hand is vir omtrent ’n enkele sekonde sag en droog in syne, asof haar stand nie sweet nie.

“Kom in,” sê sy met ’n effense gefladder van dieselfde droë hand, maar nou asof sy iets probeer afskud.

Sy lei hom uit die portaal na ’n soort voorkamer. Beslis nie die huis se formele sitkamer nie, eerder ’n ontvangsvertrek vir mindere besoekers, die vloeroppervlak nietemin omtrent so groot as sy hele blyplek daar onder teen die Melville-koppies.

“Sit.” Sy wuif na ’n roomkleurige sofa met goue omboorsel en delikate kloupootjies wat lyk asof dit niks swaarder as ’n sierkussing kan dra nie.

Boudoir. Dié woord het hy ook al gehoor. Hy dink hy sal “portiek” en “boudoir” gebruik in sy verslag aan Steyn oor sy besoek aan die Katz-ma.

Sy gaan sit oorkant hom op ’n ewe broos sofa, hare van wyn­rooi fluweel. Sy kruis een lenige been oor die ander om slanke bruin enkels vir hom uit te stal. Sit penorent, borste uitgestoot, skouers teruggetrek. Dis soos hulle is, dié soort mense – so uitdagend en bewus van hulleself, tot selfs in die dal van doodskaduwee. Hy kyk op na haar gesig toe sy begin praat, die toon nou minder vies.

“Ons is bekommerd oor Billy.” Sy streel sag met ’n voorvinger oor haar keel, asof sy wil seker maak daar is nie nuwe plooitjies nie. “Dis al Donderdag en ons hoor niks van hom nie. Dis nie hoe hy ís nie.”

Wens hý was so. So statig en kalm, so selfversekerd in haar veilige kokon van bevoorregting wat haar teen die ongewastes van daar buite moet beskerm.

Maar hoe is haar Billy dan nou eintlik? “Wanneer het julle laas van hom gehoor?”

“Hy’t my laas Vrydag gebel. Lionel sê hy was toe by die werk. Lionel is my oudste seun.”

“Hoe oud is Billy? Getroud, ongetroud?”

“Ses-en-twintig en ongetroud. Hy en Lionel werk albei by hulle pa se besigheid. Jy’t seker al van hom gehoor, Katz Transport? Billy kom maak gewoonlik op ’n Sondagmiddag ’n draai, dis ’n ritueel. Hy was nie Sondag hier nie, en bel my nie. Ek bel sy woonstel en kry net die antwoordmasjien, het al hoeveel boodskappe gelos. Ons het elke hospitaal in Johannesburg gebel … hy’s so lief vir spoed, gee my grys hare.”

“So, sy kar is ook weg?”

Sy knik.

’n Huishulp in stywe wit uniform bring ’n skinkbord in.

“Ystee met heuning en kruisement, hoop jy drink dit,” sê mevrou Katz.

Gee hom nie eintlik ’n keuse nie, vra nie of hy dalk eerder iets vulgêrs soos Coke wil hê nie. Hy drink nie Coke nie, maar dit gaan oor die beginsel. En hy hou van tee en heuning, maar nie koud en met kruisement nie; hy drink graag tee en heuning met sy eie preparaat bygevoeg.

“Het jy ’n onlangse foto van hom, mevrou?” Hy beduie na die uitstalling foto’s in silwerrame op ’n tafeltjie van wit lakvernis. Hy herken haar op ’n hele paar: saam met vermoënde meneer Katz; die egpaar saam met hulle kinders; die kinders alleen, twee seuns en ’n dogter; die jonger seun saam met sy ma.

Sy staan op, trek die tafeltjie se laai oop, vroetel, en hou ’n foto na hom uit. “Jy kan hierdie een leen, dis onlangs geneem. Laat maak ’n afdruk en gee dit ongeskonde vir my terug.”

Ongeskonde, ongeskonde! Almal is tog so besorg dat hy Billy of sy foto ongeskonde aan hulle teruggee. Hy deponeer Billy Katz in die staatsdienslêer op sy skoot. “Het iemand al by sy woonstel gaan kyk?”

“Ek het Lionel Dinsdagaand al gestuur. En weer gisteraand. Daar’s niemand nie. Lionel het ’n slotmaker laat kom om vir hom oop te maak. Sien geen teken van ’n inbraak of worsteling nie.” Sy tuit haar lippe en vat ’n delikate slukkie tee. Toe sy die koppie laat sak, bly ’n rooi halfmaan aan die fyn gekartelde porseleinrand agter. Sy sit vir ’n oomblik swyend, kyk dan op na hom. “Sê nou Billy is gekaap, ter wille van sy kar?”

“Watse kar?”

“Porsche. Meneer Katz dink Billy het iewers gaan jol, dalk Plett, ons het ’n vakansiehuis daar. Maar ek het al ’n paar keer soontoe ook gebel. Geen antwoord nie. Ek sê vir meneer Katz Billy sal mos nie sommer net van die werk wegbly om te gaan jól nie.”

“Hy’t dit nog nooit tevore gedoen nie?”

“Wat gedoen nie?” ’n Frons tussen haar oë, met heelwat rimpel­spore onder die grimering, as jy haar so van naby bekyk.

“Weggebly van die werk, om te gaan jol?”

“Wel, dalk een of twee keer … maar hy’t altyd laat weet waar hy is.”

“Wat van sy vriende? En vriendinne?” Iemand soos Billy behoort ’n spul aanhangsels en agterryers te hê, veral met ’n Porsche wat flossies padlangs opsuig.

“Billy het baie vriende,” bevestig sy. “Ook baie vriendinne. Ek hou nie eintlik tred met al die name nie. Jy’s ook ’n aantreklike jong man, jy weet self – hulle kom en gaan en later lyk almal dieselfde. Ek ken net een taamlik goed … Os.” Sy sis die S uit sodat dit vir ’n oomblik tussen hulle in die lug bly hang. “Os is ’n lorriedrywer by Katz Transport, hy en Billy kom lank saam.” Lyk of sy nog iemand op die punt van haar tong het, dalk nog ’n ongewaste soos Os. “En ja, Billy se nuwe flirt. Jana. Of Jessie? Nee, Julia. Ja, hy’t haar die ander Sondag vinnig kom voorstel.” Sy sluk en sê sag: “Billy is my hele lewe.”

“En vyande?”

Sy beskou hom, die fronsplooi dieper. “Vyande? Wie, Billy?”

“Miskien is iemand kwaad vir hom.”

“Nee, niemand is vir Billy kwaad nie, almal hou van hom.”

“Hoe weet jy niemand is vir hom kwaad nie, mevrou? Het jy hom gevra?”

“Nee, ek het hom nie gevra nie, ek weet net. ’n Ma wéét sulke goed van haar kind.”

Lou hou die SAP 55 (A) na haar uit. “Mevrou, jy sal die vorm moet invul sodat ons beskrywings kan kry van geboortemerke en littekens en tatoeërings, ook van persoonlike artikels soos ringe en horlosies. Dra Billy sulke goed?”

“Hy’t ’n horlosie … Tag Heuer, dink ek. My geskenk op sy ver­jaardag, jaar of twee terug. En ’n oniksring, van Lionel af.”

Wat het die pa gegee? Die Porsche?

“En … hy’t ’n tatoeëermerk op sy voorarm. Net ’n kleintjie.”

“Links of regs? Skryf dit alles daar op die vorm. Ander ringe, deur sy neus of ore?”

“Nee! Sy pa sal die stuipe kry.”

Soos sy ma sekerlik horries gekry het toe Billy met sy tatoe by die huis aankom. Lou staan op.

“Jy’t nie jou tee gedrink nie,” betig sy, kom langs hom orent en gee hom ’n glimp van haar opgeknapte, sonbruin borskloof, ook die ene rimpels en sproete.

“Ek wil graag in sy woonstel gaan rondkyk,” sê hy.

“Ek kry die sleutels. Lionel het nuwe slotte laat insit, ingeval Billy se huissleutels saam met sy kar in verkeerde hande beland het.”

“Ek soek ook Lionel en meneer Katz se nommers,” sê hy en beduie in die portaal na die telefoon. “Kan ek gou kantoor toe bel?” Nee, nie portaal nie: foyer.

Sy knik en verdwyn om die sleutels te gaan kry.

Lou gee Billy se adres vir kaptein Steyn en vra dat ’n vingerman die plek gaan stof. Steyn sê hy bring self die vingerman en hulle sal Lou in Rosebank kry.

O, ou vettie is moeg gesit, wil ’n slag sy bene rek.

Hy wag ’n goeie uur vir hulle, stap intussen rond, beskou die fleurige tuine tussen die duplekseenhede, adem in hoe ’n ryk jong man lewe.

Steyn arriveer met twéé forensiese manne. Een gee vir Lou ’n paar blou latekshandskoene.

Steyn pluk sy broek onder sy pens op en brom: “Goed, kom ons gaan soek vir clues.”

Lou sluit oop en sê: “Kaptein, hoekom soek moord-en-roof na ’n klein wintie wat weggeraak het?”

“Jy weet hoekom. En as jy hom nie kry nie, is jou gat die mak­likste om te skop.”

Dit tref Lou opnuut dat alles aan die kaptein hang: sy pens, sy wange, die sakke onder sy oë, die rolle onder sy ken. Maar hy weet daardie swart varkogies sien alles raak, al lyk hulle so rooi en ver­lep. In sy twee jaar by moord-en-roof het hy al geleer jy moenie die kaptein onderskat nie.

Hande in die sakke beveel Steyn: “Gaan kyk jy daar bo.”

Lou steek vas en kyk na hom. “Is dit nou jóú ondersoek, kap­tein?”

“Nee, hoekom?”

“O, jy’s nie die ondersoekbeampte nie, maar jy gee die bevele asof dit jou saak is. Lyk of jy oorgeneem het.”

Lou draai sy rug op Steyn en stap die trappe op. Die dupleks, duursaam ingerig, is ruim vir ’n enkellopende: onder die oop leef­vertrekke en bo twee slaapkamers, elkeen met ’n en suite-badkamer. Die tweede slaapkamer is leeg, ook die kaste en badkamer. Nie eens ’n bed nie. As Billy oornaggaste kry, slaap dié beslis nie in die gastekamer nie.

In die hoofslaapkamer is ’n dubbelbed, die duvet haastig reg­getrek, die kussings skeef. Hy bestudeer die inhoud van die in­geboude kaste, die hangers vol klere met ontwerpersetikette, baie en deftige skoene, ook baie ontwerperstekkies.

Op die bedkas is ’n asbak met stompies; van hulle het lip­stiffie aan. Hy buk en snuif. Ou stompies. ’n Elektroniese wekker en Gerald’s Game deur Stephen King. In die laai kry hy ’n spesifieke lei­draad na Billy se dekadente lewe: ’n leë boksie Trojan Ecstasy All Fit. Daar’s ook kleingeld en ’n vuurhoutjie-plakkie van A1 AUTOBODY, onder die naam die klein ontwerp van ’n rooi kar, kan ’n Ferrari wees, met genoeg verbeelding. Goedkoop reklame vir ’n duikklopper, met die onsubtiele versugting dat selfs ryk kareienaars maar hulle Ferrari’s met die stampe aan A1 kan toevertrou. Binne is ’n paar vuurhoutjies uitgeskeur. Ook ’n bladsy uit ’n notaboekie met Julia en ’n foonnommer daarop gekrabbel. Lyk of Billy se nuwe flirt ook reeds met sy Trojane kennis gemaak het.

In die badkamer trek hy deure en laaie oop. As Billy Plett toe is, reis hy besonder lig, het nie eens sy tandeborsel en skeergoed saamgevat nie. In ’n hoek peul wasgoed uit ’n oorvol mandjie. Geen wasmasjien nie. Natuurlik nie, die Billy’s van hierdie wêreld hou hulle nie op met alledaagse goed soos vuil wasgoed nie – vat dit bloot op die rituele Sondagbesoek vir Ma, waar ’n bataljon huis­hulpe was en stryk.

Hy stap af, terug sitkamer toe. Die dupleks is met net die nodig­ste gemeubileer, maar ongetwyfeld ook die duurste, lyk dit. Nie sommer huisraad uit die tweedehandse meubelwinkels waar hy sy uitgesitte rusbank en lendelam eettafel en ou opvou-strandstoel gaan koop het nie.

Steyn staan by die sitkamervenster en uitstaar. “Leidrade?”

“Nie eintlik nie.”

Lou gaan sit op die leerrusbank oorkant die yslike TV-skerm, en begin na die boodskappe op Billy se antwoordmasjien luister, sy blik op die glimmende swart elektroniese toerusting onder in die TV-kas, almal met BANG & OLUFSEN in blink chroomletters. Hy herken mevrou Katz se bekommerde stem op ’n paar boodskappe. Drie jonger vrouestemme vra dat Billy hulle terugbel. Die eerste is Randy, die tweede Nora en die derde een los nie ’n naam nie, asof Billy haar stem sal ken. Nie een gee ’n nommer nie. Daar’s ook drie manstemme. Lionel die broer los twee boodskappe, vriend Os los een. Die derde stem is onbekend. Nie een gee ’n nommer nie.

Steyn draai na hom om toe Lou die foon terugsit. “Iets gekry?”

Lou skud sy kop. “Mense los boodskappe en vra dat hy terugbel, maar ek kry nêrens ’n foonboekie nie. Hy onthou tog seker nie al die name en nommers uit sy kop nie.”

“Tensy hy ’n fotografiese geheue het,” sê Steyn.

“Eidetiese geheue,” sê Lou. “Hy moes sy foonboekie saamgevat het, of dis in sy Porsche.”

“Wat sê jy daar?” Steyn se stem skielik ’n paar grade kouer.

“Ek sê hy moes die foonboekie …”

“Nee, voor dit. Oor die geheue. Wat het jy daar gesê?”

“O, eidetiese geheue. Dis eintlik wat dit is. Mense noem dit foto­grafiese geheue, maar dis eintlik …”

“So, jy dink jy’s fokken slim, hè! Jy dink jy kan mý kom leer?” Steyn se wange bewe, sy spekkenne tril woedend. “Probeer wys jy’s geleerd, met jou gat op universiteit gesit? Is dit wat dit is, Pepler?”

“Ek sê net …”

“Ek soek jou verslag voor ek vanaand huis toe gaan. Die briga­dier wil weet wat ons uitrig … wat jý uitrig. Dis nie net jou gat wat geskop gaan word nie, myne ook. En faks die besonderhede van die vermiste Katz en sy fokken vermiste Porsche aan polisiestasies, aan die flying squad, die speed cops. Vandág nog. En kry daai Julia in die hande. Verstaan jy?”

Fok jou ook! En hardop: “Ons het nog forensiese manne hier nodig. Ek sien nie ’n worsteling nie, behalwe in sy bed. Die bedde­goed sal onder UV ondersoek moet word vir vlekke en hare. Dalk het hy sy aanvaller of ontvoerder geken en hom ingelaat. Daar kan van sy hare op ’n sitplek wees, en vingerafdrukke. Forensies kan my help met ’n prent.”

“Prent?” blaf Steyn. “Watse fokken prent?”

“’n Prent van Billy se leefwyse en roetine en veral besoekers. En hou op om alles te bevraagteken wat ek sê. Of sal ek vir die briga­dier gaan sê jy wil eerder na klein Billy Katz soek?”

Lyk of Steyn gaan verstik. “Jou … jou klein kak, jou tjank trap ek nog af!”

By Katz Transport in Midrand weet Lionel Katz nie meer as sy ma nie. Billy is beslis nie op Plett nie, sê hy, die polisie het al gaan kyk, die huis is stil. Hy weet ook nie of sy broer vyande het nie. En nee, hy glo nie dis ’n ontvoering vir ’n losprys nie. Sy pa ook nie, hulle het oor so ’n moontlikheid gepraat. Nee, sy pa is nie beskikbaar nie, sy pa weet nog minder as hy. Billy en sy pa het nie ’n besonder hegte verhouding nie, Billy is eerder sy ma se kind.

Lou tik sy verslag vir Steyn op sy groen Remington, faks Billy en die Porsche se beskrywings en bel Julia die flirt se nommer. Niemand antwoord nie. Geen antwoordmasjien nie.

Hy wonder hoe sy lyk, veral tussen Billy se deurmekaar lakens.

Die volgende dag bel hy weer. Steeds nie antwoord nie. Hy sal nog ’n dag wag en Steyn dan vra vir ’n lasbrief sodat hy haar adres deur die foonnommer kan opspoor.

Hy’s nuuskierig om te hoor wat Forensies alles in Billy se plek gekry het, hoeveel verskillende vingerafdrukke, hoeveel verskillende hare in sy bed, watse liggaamsvloeistowwe aan sy lakens – dié op sy bed sowel as die lakens in die oorvol wasgoedmandjie.

Die verdwyning van Billy Katz

Подняться наверх