Читать книгу Die verdwyning van Billy Katz - Chris Karsten - Страница 11
7
ОглавлениеMona kyk alleen na die deel van die video wat sy misgeloop het.
Onder die wit lig waar Heidi doenig is, laat die kleur van die hart Mona aan die binnevleis van ’n ryp pruim dink. Hulle het destyds so ’n groot pruimboom agter in die erf gehad. Elke lente was daai boom oortrek deur die pienk bloeisels met hulle pers hartjies.
Die boom is selfs op een van haar tuisvideo’s, want dis ’n belangrike baken op die gesin se stamperige pad. Dieselfde video bevat ook die enigste beeld van haar man wat sy bewaar het; Pottie lê botstil, sy gesig en kop ’n swart blerts in die boom se skadu, die bokmelker reeds met sy donker siel op pad hel toe.
Op die skerm zoem die kamera uit om vir TV-kykers ’n wyer blik te gee. Dit beweeg stadig weg van die skalpel waarmee Heidi met delikate bewegings wit vetweefsel van die hartspier afskraap. Al hoe meer ander detail kom in sig: die hopie vet en ander weefsel op die disseksiebord, watte, lappe, ’n spuitbottel met gedistilleerde water, links van die hart ’n iPad en ’n boek, Finkbeiner se geïllustreerde Autopsy Pathology: A Manual and Atlas, oop by hoofstuk 6: “Special Dissection Procedures”. Regs verskyn die skinkbord met instrumente, ’n groot spesimenfles, ander glasbekers en wyebekbottels en retorte van wisselende vorms en groottes. Die kamera verskuif verder, na Rakker wat agter by die lyktafel die borsvel met groot rygsteke toewerk en die kadawer dan in een van die yskaslaaie instoot.
Daar was vir haar lang jare van persoonlike beproewing wat haar geloof tot die uiterste getoets het, maar nooit afvalligheid nie. Elke Sondagoggend was sy en haar twee dogtertjies op hulle plek in die Immanuel-kerk. Daar het sy die krag gekry om aan te gaan, om nie te gaan lê nie, om haar sterk te hou sodat sy nie swig voor Pottie en sy akkoord met die duiwel nie.
En hulle is steeds elke Sondag in pastoor Flippie se kerk, sy en Vera en Heidi en Rakker. En saans op haar knieë bid sy ook vir al die mans wat die onregte pleeg. Sy bid nie genade af vir hulle donker siele nie, maar vra dat hulle aan haar uitgelewer sal word.
Sy verstaan wat Hy van haar verwag, wat haar plig is in sy groter plan. Sy het ná intense wroeging en baie gesprekke met Hom tot die oortuiging gekom dat Hy haar as instrument gebruik, dat Hy haar uitgesoek het omdat sy ’n sterk vrou is wat ’n swaar las kan dra, soos sy in haar sewe dekades al herhaaldelik bewys het. Hy belas jou nóóit met iets swaarders as wat jy kan dra nie, Hy ken tog elkeen se krag; het Hy dan nie elke mens self geskep nie?