Читать книгу Die verdwyning van Billy Katz - Chris Karsten - Страница 9
5
ОглавлениеArme lessenaar, ys Ella toe die kolonel se groot skaduwee oor haar en haar afskorting val. Sy hou van hierdie ou lessenaar, sy hou van alle ou houtmeubels, haar huis is vol daarvan, meubels van enige soort hout: oregon, geel, swart, stink, eik, mopanie, kiaat.
Goed, dié lessenaar is nie juis kothuis nie, eerder staatsdiens, massaproduksie uit eikehout, miskien dertig, veertig jaar oud. Maar sy hou vas aan hom (Stallie noem dit klou), want Openbare Werke dreig om alle ou houtmeubels uit te faseer. Vader weet hoekom, niks fout met eikehoutmeubels nie, dit sal nóg dertig, veertig jaar hou. Eikehoutmeubels is warm en sterk, soos ’n goeie man. Maar Openbare Werke voer ’n faseerkampanje: faseer hout uit, faseer blik-en-chroom in. Soek werk vir hulle hande.
Sy skuif die lêers rats na veiligheid, net betyds voor die aansienlike (en groeiende) sitvlak op sy geliefkoosde hoek neersak. En hoor net hoe kraak en protesteer die arme ou ding, tot diep in elke kwas en swaelstertvoeg.
Die kolonel leun oor en druk ’n geel Post-it teen haar skerm vas. Kaplaks, sommerso, gee nie ’n dêm om oor die taai kol wat sy weer moet afkry nie. Met sy handskrif … nee, die spoor van ’n dronk vlieg wat in ink geval het.
“Kekker … Kesler?” Sy kyk op na hom. “Wie’s Kesler?”
“Dis Pepler! Kan jy nie lees nie?” grom hy. “Ekspolisieman uit ’n vorige lewe. Was glo ’n regte klein upstart wat almal die moer in gemaak het.”
“Wat doen die ekspolisieman hier?” Sy tik met ’n nael op die plakker.
“Hy’s in sekuriteit,” sê hy en streel oor sy snor.
“O, een van hulle?” Wat het ’n astrante ekspolisieman met haar uit te waai?
“Ja, een van daai,” sê hy. “Kry ’n goue handdruk, laat druk ’n paar fancy kaartjies en noem homself ’n Security Consultant.”
“Wat soek hy, kolonel?”
Pleks van ’n antwoord kry sy so ’n algemene, allesomvattende handgebaar oor haar en haar rekenaar en oor die lêers op haar lessenaar. “Vorder nie eintlik met jou ondersoek nie, nè?”
“Dokter Koster sê die amputasies is nie met ’n chirurgiese saag gedoen nie, lyk of die voete sommer met ’n gewone ystersaag afgesaag is – dieselfde saag vir al vier. Hy vermoed dis een mens se handewerk.” Sy loer weer na die geel plakker. “Wat van dié Pepler?”
“Gaan kuier vir hom, hoor wat hy te sê het. Hy’t die voeteberig in die koerant gelees en besluit om my te bel. Ek het eers bietjie oor hom gaan uitvis. Hulle sê hy was ’n korrelkop, maar goeie speurder.”
Ja, korrelkoppe trek mekaar aan, dis hoekom die kolonel sy tjap van goedkeuring aan dié Pepler-man gee.
Die lessenaar sug verlig toe hy opstaan. Hy bekyk haar ’n oomblik. “Voel jy beter?”
“Ja, kolonel. Maar ek het nog nie jou sakdoek gewas nie.”
“Hou dit vir die volgende snot-en-trane-sessie, dis nog nie verby nie.”
Sy bel en ’n vriendelike vrouestem skakel haar deur na ’n bars manstem: “A, vermaarde speurder Neser. Steeds adjudant-offisier, sien ek, nog nie bevorder nie, nè? Dog hulle sou jou darem al luitenant gemaak het. Met ’n fris bonustjek en medalje … Goue Orde van die Baobab. So iets.”
Hoe oud is hy nou, dié “klein upstart” in die ou SAP? “Meneer Pepler, het jy dalk iets anders om vir my te sê, iets meer tersaaklik tot my ondersoek?”
“Ja, ek het. Die vraag is of jy my gaan glo. Silas Sauls het seker dadelik die lyne warm gebel om te hoor presies wie ek is. Het hy jou ook ingelig dat ek nooit die SAP se titel van Mees Populêre Persoonlikheid gewen het nie?”
“Ons het nie eintlik oor jou gepraat nie. Hy’t net gesê ek moet jou bel, dat jy dalk vir my ’n wenk het.”
“Ja, ek het. Iets soos jy wys my joune, ek wys jou myne.”
“Jy eerste. Wat kan jy wys?”
“Twintig jaar terug was ek ook ’n moordspeurder, ’n sersantjie. Wat was Silas Sauls toe? ’n Kaptein, ja. Sien, ek het óók bietjie rondgebel. Sulke vinnige spronge tot kaptein het destyds nie sommer in enige … hmm, ónwit broek gesit nie. Om daai ou Broederkliek te beïndruk moes hy iets goed gedoen het, en ek bedoel nie gatlek nie. Wat ek hoor, is dat Silas eerder sou krepeer as om énige agterent te lek, veral ’n bleek een.”
“Dis eenvoudig, hy’s bevorder omdat hy ’n briljante polisieman was … en steeds is. Jy kon my sommer gevra het. Ek ken hom goed, ek het voor hom grootgeword. Hy en my pa was saam speurders.” En nadat ’n boef se koeël haar pa in ’n koma gelaat het, het Silas sy plek ingeneem – soort van. Maar dit hoef hierdie vent nie te weet nie.
“Dan weet jy dat jou kolonel ná ’94 die nuwe polisie se blinkste meteoor was. Kaptein, majoor, luitenant-kolonel, kolonel. Als op eie stoom, sonder politieke konneksies. Groot dinge is vir hom voorspel.”
“Ja, ek weet,” sê sy.
“Was dit nie vir sy beneuktheid en hekel aan politici nie. Toe gebeur iets en hulle pluk twee van sy sterre af, stamp hom terug ondertoe.”
“Luister, meneer Pepler, ek het regtig nie tyd vir …”
“Ja, jy’s besig, ek weet. Ons is almal besig. As speurder het ek ook eenkeer met vermiste ledemate te doen gekry.”
“My ledemate word nie vermis nie, dis die liggame wat vermis word.”
“Wil jy nou meer! Jy’t ledemate sonder liggame, ek het liggame sonder ledemate gehad. Wel, sonder vingers. Pas ons gevalle nie perfek by mekaar nie? Soos ’n poephol op ’n pot. Of word sulke taal deesdae nie meer in die polisie toegelaat nie? Word julle vuil bekkies nou met blouseep geskrop?”
“Vloek gerus, meneer Pepler, as vuil taal jou manier is. Maar ek sal dit waardeer as jy nie só met my praat nie.”
“Aitsa, wip sy haar. Raait, as jy nie in my wenk belangstel nie omdat jy dink dat ek te rof en onbeskof is, koebaai dan. O, terloops, die vingers het ek self afgeknip.”
Kliek.
Sy sit vir ’n paar sekondes nog met die gehoorbuis teen haar oor, plak dit dan terug. Mooi positiewe dêm einde aan dié gesprek. Self vloek sy nie hardop nie, maar niks keer ’n harde woord of twee by geleentheid binnetoe nie, daar waar net die groot genadigheid haar hoor brom.
Gaan hy nou die beneukte kolonel bel en vra van wanneer af stel die SAPD kloosterkoeke as moordspeurders aan? Gaan hy dreig om sy inligting vir homself te hou omdat hy en daardie wipgat van ’n adjudant-offisier Neser nie sal regkom nie? Gaan hy vra wat’s fout met haar, raas daai koppie, of is dit net die seksuele frustrasies waarvan ou Freud praat?
Haar foon lui. Sy bekyk dit. Is dit weer hy? Sélf die vingers afgeknip, liewe herder!
Sy tel op. “Ja, Neser hier?”
“Julies hiér. Kaptein Julies. Jimmy vir sy vriende, en solotenoor …”
“Jy’s boonop ’n sanger, Jimmy?”
“In die kerkkoor van die Eerste Independente-gemeente. Klink nie of jy sover ’n goeie dag het nie, dalk kan ek dit bietjie ophelder. Ons het afdrukke gekry aan die Checkers-sak – van ’n duim en voorvinger. Ek weet dis min, maar dis iets.”
“Dis goeie nuus, ek voel klaar beter. Dis nie dalk die voëlman s’n nie … meneer Hattingh?”
“Nee, en die nuus word beter. Ek het dit vir AFIS gevoer, en nou kan jy maar Halleluja!”
“Jy’t ’n match gekry?” Dankie tog vir die Automated Fingerprint Identification System.
“Ja, die duim en wysvinger pas by ’n tienvinger-afdruk wat ons lankal op AFIS het, van die lang vingers van ’n ou kalant, onder vriend en vyand bekend as Stink Attie Kieser. Met ’n misdaadrekord van omtrent net twee bladsye korter as Crime and Punishment.”
In die elektroniese argief bekyk Ella hierdie indrukwekkende inventaris van leeglêery, dronkenskap, openbare onsedelikheid, van ’n jong daggaroker wat dwelmsmous word, kleindief wat vorder tot sakkeroller en grypdief, met tussenin ’n paar kar-inbrake. Dis ’n CV wat strek van Stink Attie se twaalfde verjaardag tot nou, sy twee-en-veertigste jaar, in en uit die tronk. Lyk of hy sy MO die laaste jare verfyn het. Hy hang nou by winkelsentrums rond op soek na sagte teikens wat hy van inkopies en/of handsakke kan verlos. Die beeld wat by haar opduik, is van ’n wildehond wat die trop geduldig volg, op ’n veilige afstand, om die mank of sieklike ou bok uit te soek.
Uit die rekords blyk dit Stink Attie se prooi is deesdae byna uitsluitlik ouer vroue. Dit blyk verder dat hy ten minste twee adresse het. Sy semi-permanente domisilie per adres Medium A-seksie, Leeuwkop-plaastronk, Bryanston. En wanneer hy nie daar is nie, opereer hy van sy suster se huis in Albertskroon, Johannesburg.
Breggie van Albertskroon is nie meer in die fleur van haar lewe nie; lyk of sy laas op skool in haar fleur was. Ella skat haar iewers tussen veertig en sestig. Sy sê sy soek vir Attie, hy kan haar help in ’n ondersoek, en nee, sy kan nie sê watse ondersoek nie. Waar is Attie?
Breggie sê haar jongste boetie is nie juis huisvas nie en hy lig haar ook nie eintlik in waar hy elke dag sy eerlike brood gaan verdien nie, soms by verkeersligte, soms by winkelsentrums. Sy weet regtig nie waar hy is nie, cross my heart and hope to die, en suig haar sigaret tot ’n woedende rooi kool. Voeg dan in ’n walm rook by: haar boetie is arm maar eerlik, daarom vat hy enige werk, pas karre op, was karre se ruite, verkoop robbies by robots, stoot ou anties se trollies vir hulle.
Breggie bied bokswyn aan. Ella skud haar kop en kyk hoe Breggie haarself uit die tapkraantjie help met ’n stewige maat van iets wat soos suur piepie lyk en ruik, en waaraan sy dan dorstig sluk en haar lippe smak. Ja, sy hét vir Attie gevra oor sy parool. Hy sê hy gaan meld hom stiptelik by sy paroolbeampte aan, het genoeg van die joint gehad, wil nie teruggaan Leeuwkop toe nie.
Alles die lewe se skuld, nie Attie s’n nie, sê Breggie met lippe wat pap en nat om die sigaret se filter vou. Dis die lewe wat hom soontoe dryf, vir hóm wys die wêreld mos net sy gatkant. Hy’s eintlik goed van inbors, net onder die invloed van verkeerde vriende, en dié draai elkers sy slap armpie verkeerde kant toe. Maar sy moet tog na hom omsien, hy’s mos bloed van haar bloed.
Ja, ja, sal dadelik bel as Attie ’n slag huis toe kom, cross my heart.
Ella hoor niks van Breggie nie en die paroolbeampte sê Attie is ongereeld met sy aanmeldings. Daarom sit sy en Stallie nou al die vyfde agtereenvolgende aand straataf van die huis in Albertskroon en wag. Maar steeds geen spoor van Stink Attie nie.
Natuurlik sou Breggie haar boetie uitgevra het oor hoekom ’n speurder hom dié slag soek. En net die woord “poelieste” sou ’n klapper onder hom aangesteek het om gat skoon te maak. Dis hulle manier, ’n soort dierlike instink van veg of vlug, meestal vlug.
Die gewag gee haar kans om Stallie te pols. Hy’s mos nou sersant Stalmeester; hy’t bevordering gekry, sy nie. “Wat’s fout met my, hè, Stallie?”
“Oor wat? Oor jy bang is? Of oor jy nie ’n lover kan kry nie?”
Sien, daar som hy die tweeledige probleem presies op, kort en kragtig. Ken haar beter as wat sy haarself ken, want hulle is kollegas én pelle. Is elke oggend saam in die gim, sy in haar swart spandex, sy knypgatjie in ’n perse.
Bang. Hy’t haar skielike gebrek aan selfvertroue raakgesien voor sy dit self agtergekom het. Nie eens die traumaberader het dit só sekuur gediagnoseer nie. (Dank die Vader daarvoor, anders was sy nie afgeteken nie.) Haar vrees vir die onsekerheid, dís die ergste. Hoe gaan sy optree wanneer sy weer oog tot oog voor die volgende reeksmoordenaar te staan kom? Gaan sy veg, of vlug soos Attie? Haar aard sê veg, haar instink vlug. Dis vir haar ’n vreemde instink en dís waarom haar selfvertroue moer toe is. Vroeër sou sy King Kong aanvat.
Maar dis nie eintlik waaroor sy met Stallie wil praat nie.
“Ek soek nie ’n lover nie, Stallie, ek soek net geselskap – ’n goeie man s’n. Ek meen, jy’s ’n goeie man, rêrig, maar jy’s nie die soort wat kortasem raak oor ’n rok nie.”
“Jy dra nie rokke nie.”
“Ek het probeer.”
“Vir omtrent ’n dag lank, ja.”
“Stallie! Rok is nie die punt nie. Die punt is ónder die rok.”
“So, jy soek ’n lover. Dis mos wat ek sê.”
“Ek kom op g’n plek of okkasie waar ek dalk sulke mans kan ontmoet nie. Ek’s ’n dêm kluisenaar. Die opwindendste sosiale gebeurtenis in my lewe is wanneer Mara my nooi vir vleis, rys en aartappels, of as jy my saamvat Pink Flower toe. Ek’s nie ondankbaar nie. Nee, dis net . . dis nie juis plekke waar ek die man van my drome gaan ontmoet nie, of hoe? Dink jy mans sien my nie raak nie? Dit voel of hulle óór my kyk, of déúr my. Is ek só seksloos?”
Hy tik teen sy slaap. “Kopskuif, dis wat jy nodig het, Ellatjie. As jy nie self dink jy’s sexy nie, gaan niemand anders so dink nie. Gaan koop iets skandaligs, ’n regte dekadente onderdingetjie. Paradeer daarmee voor die spieël en verbeel jou dis Bam wat na jou kyk, of daai ander ou … Wat’s sy naam nou weer?”
“Jy bedoel Milo?”
“Ja, Milo. Ek hou nie van rugbyspelers nie, maar sou nie omgegee het om Milo Pink Flower toe te vat nie.” Hy wys na Breggie se huis. “Daar’s nou ’n kar. Is dit ’n Beetle?”
“Ja.” Sy voel skielik die polsslag in haar keel terwyl sy kyk hoe die bestuurder uitklim om die hek te gaan oopmaak.
Sy sit haar hand op haar holster. “Hy kan gewapen wees.”
“Gewapen? Attie Kieser?”
“Jy weet nooit.”
Hy snork. “Nie daai vent nie.”
Hulle kyk hoe die Volksie langs die huis inry.
“Sulke mense kan desperaat wees,” sê sy. “Hulle sal enigiets doen om nie terug te gaan tronk toe nie.”
Die karligte word gedoof, die donker figuur klim uit en sleep die hek toe.
“Hy’s g’n desperaat nie.” Stallie draai die aansitter.
“Hy loop met vier voete in ’n dêm sak rond, Stallie. Hy kan van sy trollie af wees en op ons begin skiet.”
“Jy’t self sy rekord gesien, hy’t nog nooit enige soort wapen gebruik nie. Hy’s ’n patetiese kleindief, nie ’n geweldenaar nie.”
“Wel, ek vertrou hom nie. Waar kry hy die voete?”
“Dis mos wat jy vir hom wil vra. Kom ons gaan tel hom op.”
“Wag, laat hy eers ingaan. Het jy jou wapen by jou?”
“Dis nie Jack the Ripper nie, Ella, dis Stink Attie Kieser!”
Stallie hou voor die lendelam hek stil. Sy klim uit. Stallie stoot die hek oop en hulle stap na die donker stoep. Sy klop en staan opsy, weg van die deur af, Stallie oorkant haar.
Sy leun deur toe en klop weer, harder.
Trekking van maagspiere toe sy die voetstappe binne op die houtvloer hoor aankom. Hand klem om die Beretta se kolf.
Die stoeplig gaan aan, deur gaan oop.
“Hoesit!” sê die benerige vent met die slierterige hare en gaping waar ’n voortand was.
Sy herken hom aan die polisiefoto’s. “Meneer Attie Kieser?”
“Dissy, yours truly. En julle is die cops, Breggie het gesê julle soek my. Hoe kan ek julle help met julle case?”
Stallie tree vorentoe. “Kom, laat ons ry.”
Attie deins terug. “Ry? Whoa. Stop. Waarheen ry?”
“Moord-en-roof toe. Vir jou onderhoud met warrant Neser. Dis haar saak.”
“Watse saak? Hoe moet ek help?” protesteer Attie.
“Kom, dis ’n formele onderhoud,” sê Ella. “Ek sal alles mooi verduidelik, seker maak dat jy jou regte verstaan.”
“Ek ken julle cops. Julle praat van interview, maar eintlik is dit police brutality.”
Stallie gryp hom aan die arm. “Moet ek jou boei? Wil jy in die kattebak ry?”
Stallie hanteer die video-opname van agter die eenrigtingglas en sy begin met die onderhoud. Dis wat dit genoem word; streekkommissaris Pitso duld nie politiek inkorrekte woorde soos “ondervraging” in sy polisiearea nie.
“Die tyd is 22:36. Die plek is Onderhoudkamer 3, Eenheid vir Ernstige en Geweldsmisdaad, Brixton, Johannesburg. Teenwoordig is adjudant-offisier Ella Neser en Atticus Petrus Kieser, aka Attie Kieser, aka Stink Attie, ’n ooggetuie en/of verdagte in saak MAS 82/04/15.”
Attie sweer op sy goeie woord van eer en dié van al sy voorsate dat hy in sy hele lewe nog nooit sy voete in enige botaniese tuin gesit het nie. Hy weet ook niks van enige Checkers-sak nie, hy koop by Spar.
Ella sukkel om die spartelende rotogies vas te vang. “Wat van jou afdrukke op die sak?”
“Is geplant!”
“Wie sal dit plant?”
“Die poelieste!”
“Hoekom sal hulle so iets doen?”
“Ek ken hulle, hulle doen weird goed, enigiets om jou te vang.”
Sy sny met ’n voorvinger oor haar keel vir Stallie agter die spieël en sien hoe die kamera se rooi liggie uitdoof.
“Luister, Attie, voor ons aangaan, laat ek dit reguit vir jou sê: Ek het baie tyd vir hierdie onderhoud, g’n man of kinders wat vir my wag nie, ek het niks anders om te doen nie. As dit nodig is, sit ek en jy vir sewe dae en sewe nagte hier, sonder slaap. Of liewer, ék sal so nou en dan bietjie gaan skuinslê, nie jy nie. Iemand met minder geduld sal die gesprek kom oorneem wanneer ek moeg is. So, jy gaan nie veel ruskans kry nie.”
“Dis oukei, warrant, ek’s nie eintlik ’n groot slaper nie, in die joint leer jy af om te slaap.”
“Dan’s dit gaaf, Attie, want een van die ander ondervraers is ook nie ’n groot slaper nie. Sersant Beneke. Was glo ’n goeie slot. Voor ek gebore is. Die sarge sal kom oorneem wanneer ek bietjie rus. Hy martel nie, verstaan goed, want martel is teen die wet. Maar die sarge het ander maniere. Mense wat weet, sê dis erger as martel. Die sarge is bietjie outyds, en bietjie swaarmoedig van geaardheid. Ken jy die Briels, Attie, al van hulle musiek gehoor?”
“Nee, warrant. Ek like Die Antwoord, ‘Fatty Boom Boom’ en ‘Cooky Thumper’ en so.”
“Die Briels stamp nie koekies nie, hulle sing goed soos ‘’n Traan van droefheid’ en ‘Drie wit kissies’. Jy sal die sarge later smeek om jou terug te vat Leeuwkop toe. Die sarge like die Briels, hy speel dit hárd, sonder einde. Maak jou mal, jy wil later van droefheid die mure uitklim en hom …”
Attie sit ineens regop, die swart ogies stip op haar. “Wat bedoel jy met terugvat, warrant?”
“Volgende week, terug in die tronk. Jy’t jou paroolvoorwaardes verbreek. En ek ondersoek ’n saak van moord, ek het nie tyd vir jou nonsens nie. As jy nie met my wil praat nie, dan praat jy met Beneke en die Briels.”
“Wait a fucking second, warrant!”
“Nee, jý wag. Ek het jou aan die begin mooi gevra om nie te vloek nie. As jy aanhou vloek, gaan sluit ek jou nou toe sodat jy kan afkoel.”
“Sorry. Maar moord, warrant? Is ek ’n murder suspect?”
Sy lig haar hand en sprei haar vingers oop. “Vier moorde.” Sy staan op. “Dink bietjie oor jou toekoms, Attie. Besluit of jy met my wil praat of nie. Sien jou later.”
Sy stap uit, sluit die deur en gaan sit by Stallie, hulle oë op Attie.
Sy gee hom ’n kwartier, en toe sy weer oorkant hom gaan sit, sê hy: “Warrant, ek sit so alleen en dink, toe val iets my by.”
“O, jy begin jou geheue terugkry?”
“Ja, dis wat gebeur. Dis nie dat ek lieg nie, dis net … ek het ’n medical condition, my geheue is nie lekker nie, jy weet, dis daai Duitse siekte.”
“Goed, kom ons begin van voor af. Jy praat, ek luister. Wag net ’n oomblik.” Sy wys duim-op vir Stallie en sien die rooi liggie aangaan.
“Oukei, Attie, laat ek hoor.”
“Daar was ’n ander sak.”
“Jy bedoel ’n tweede sak? Waar’s dit?”
“In my kamer. Breggie se huis.”
Sy kyk na die spieël en sny weer met haar voorvinger oor haar keel.
Hulle ry met Attie terug Albertskroon toe.
Die blou gimsak staan op die onderhoudkamer se tafel. Lululemon Duffel, en duur. Sy het ook een, maar rooi en effe kleiner, ’n Apera Sling.
Met rubberhandskoene aan rits sy dit oop. ’n Vae blomgeur van potpourri ontsnap. Sy loer in, wil nie die inhoud versteur voor Forensies dit ondersoek het nie. Nee, dis lankal reeds versteur; Stink Attie sou tog nie sý lang vingers van die inhoud kon afhou nie.
Die klere lyk alles nuut. Die prysetikette is afgeknip, maar die nylonstukkies is net so gelos. Niemand het die klere gedra nie, dus geen spoorelemente nie – geen hare, sweet, spoeg of ander liggaamsvloeistowwe, geen epiteliale selle van die vel of ander weefsel wat DNS kan oplewer nie.
Sy besluit om tog die inhoud te ondersoek, moet weet wat in die sak is voor sy Attie verder kan ondervra. Buitendien dokumenteer Stallie alles met die videokamera.
Sy lig die items een vir een met haar vingerpunte uit. Sit ’n poeierblou handdoek op die onderhoudtafel neer. Dan ’n blou oefenbra. Swart jogabroek. Wit sokkies. Alles Lululemon. Wit-en-blou vrouetekkies, Nike. ’n Potpourri-sakkie.
Iemand wat van blou hou, het gedink potpourri is ’n goeie manier om die reuk van gedroogde voete te verdoesel.
“Die tyd is 23:54. Onderhoudkamer 3. Onderhoud word hervat, adjudant-offisier Ella Neser met Atticus Petrus Kieser, aka Attie Kieser, aka Stink Attie, ’n ooggetuie en/of verdagte in saak MAS 82/04/15.”
“Oukei, Attie, kom ons begin weer voor, vir die derde keer. Waar’t jy hierdie sportsak gekry?”
“Opgetel.”
“Jy bedoel dit staan verlate iewers, toe tel jy dit op?”
“Exactly! En hoe sê hulle van optelgoed is pisgoed …”
Sy leun vorentoe. “Hei! Stop die gevloek. En jy’s besig om my tyd te mors.”
“Oukei, oukei. Iemand het dit vergeet.”
“Man of vrou? En waar?” Dis die groot vraag: Wie is die eienaar van die blou Lululemon-gimsak met die Checkers-sak binne-in? En hoe lyk daardie eienaar?
Stink Attie knoop sy wenkbroue, bestudeer lang, vuil vingernaels, die tatoes op sy kneukels, krap aan twee dobbelstene op die rugkant van ’n hand: dubbelsesse; so, Attie beskou homself as ’n gelukkige man. Kyk op na haar. “Vrou. Jongerig.”
“Hoe oud is jongerig? Ouer as ek, jonger as ek?”
Sy verslete gesig plooi dieper. “Omtrent dieselfde.”
“En? Moenie dat ek dit so uit jou uittrek nie. Kleur van haar hare?”
“Donker, amper swart.”
“Kort of lank?”
“Kort.”
“Sal jy haar gesig vir die polisiekunstenaar kan beskryf?”
“Vir ’n identikit? Maybe. Maar as ek werk, kyk ek nie eintlik na gesigte nie.”
“Ja, jy kyk na wat jy kan gryp. Komaan, Attie, as jy jou teikens uitsoek, is jy tog oplettend. Gee vir my detail. Dra sy ’n bril? Is haar gesig skraal of mollig? Is haar neus skerp of rond? Is haar lippe dun of vol? Is haar ken skerp of plat? Hoe lyk haar hare – krulle of steil? Haar klere – langbroek, rok, romp, bloes? Hoe lyk haar liggaamsbou – kort, lank, maer, geset? Jy sal tog na ’n jongerige vrou se lyf kyk, jy’s mos nie ’n klip nie.”
Hy kyk na haar, flitsende ogies vir ’n oomblik stil. “Wat kry ek?”
“Jy kry ’n goeie woordjie by jou paroolbeampte.”
Hy sug diep. “Sy’s langerig en maerderig. En sorry en askies dat ek dit sê, warrant, maar sy’t bietjie agter in die queue gestaan in daai department, soos die warrant self …” Hy skulp vuil palms voor sy bors en laat sak sy oë kuis. Voeg skalks by: “But the rest is not bad, warrant, not bad at all.”
Wie se res, die warrant s’n, of die slagoffer s’n? En sy kan haar voorstel hoe Stink Attie en sy mede-inwoners tydens sy volgende verblyf in Leeuwkop se Medium A ’n sekere moordspeurder se gebrekkige departement gaan bespreek.
“Beskryf haar klere.”
“Lang skirt, blou top … nee, langbroek en wit top.” Skud sy kop, gooi sy hande in die lug. “Ek’s confused, warrant. Ek was eintlik agter iemand anders aan, ’n ouerige antie met ’n trollie. Hierdie een het skielik voor my uit ’n jeweller gekom, amper teen my vas, jy weet. Kyk nie links of regs nie, met daai blou sak.”
“Toe los jy die antie met die trollie vir die jonger een wat by die juwelier uitkom. Veel beter buit. En toe?”
“Sy gaan sit by een van daai eetplekke wat in die pad is van alles, waar jy om die tafels moet loop om by die shops uit te kom. Sit daai blou sak langs haar stoel op die vloer, order tee, drink haar tee, sit geld in ’n bordjie, staan op en loop weg. Los die sak net daar. Wat moes ek doen, hè, warrant? Sy tempt my mos om dit te gaan vat.”
“En dis presies wat jy toe doen – gryp die sak en maak dat jy wegkom. Waarheen?”
“Uhm, Botanical Gardens toe. Dis lekker daar, ek like dit om daar te gaan relax.”
“So, jy hét al jou voete in ’n botaniese tuin gesit.”
“Uhm, ja, dis daai siekte wat my so confuse, warrant. Ek zip die sak oop, dog eers: twee vir die prys van een, dude, vandag is jou fokken lucky day.”
“Attie!”
“Sorry, warrant – uitgeglip, kan dit nie altyd keer nie, ánder medical condition, daai Franse siekte. Anyway, ek trek die Checkers-sak uit en maak dit oop. Fok … ek bedoel, moer … voete! Smyt dit net daar neer, maak gat skoon … Dis nie vloek nie, warrant, dis ’n expression.”
“Maar jy skrik nie so groot dat jy die gimsak vergeet nie, nè? Wat het jy nog gekry? Juweliersware? En moenie weer vir my begin lieg nie.”
“Nee, ek sweer, net die klere, my word of honour, warrant. Dis al wat in die sak was.”
“Wat’s die naam van die juwelier en die koffiewinkel?”
Lyk of hy diep dink. Sy sien dit aan die rooi oë wat wil omdop, binne toe wil kyk, na al sy sondes. Hy skud sy kop. “Nee, kan nie onthou nie. Dis daar op daai tweede level, jy sal dit kry.”
Tweede verdieping. Ja, sy weet waar dit is, dis die juwelier naby The Fitness Shop waar sy ook haar sportklere koop. Sy weet ook van die koffieplek, het al daar koffie gedrink. En sy het die datum toe Attie die sak “opgetel” het: Maandag 6 April.
Wat alles beteken dat as die vrou met ’n kredietkaart of tjek vir die oefenklere betaal het, kan sy nog ’n deurbraak maak, kan sy dit onder die kolonel se neus gaan druk, vir hom sê sy is al besig om haar sit te kry op daardie perd, moet nog net die vrou opspoor en inbring vir ’n onderhoud – daardie mooierige, langerige, skralerige, jongerige vrou met die korterige, steilerige swart hare en kleinerige borsies, geklee in ’n langbroek (of lang romp) en blou bloes (of wit bloes), sonbril op die kop.
Sy kom ná twee in die bed, die wekker gestel om Stallie sesuur by die gim te kry.
Daarna moet sy by eksspeurder Pepler in Linden ’n draai gaan maak; die kolonel wou al weet of hulle notas uitgeruil het. Ten minste het Pepler nie in sy ore gaan kerm oor sy haar sogenaamd gewip het nie.