Читать книгу Koms van die motman - Chris Karsten - Страница 10
DIE SKIETERY
ОглавлениеIn haar afskorting in die speurkantoor bel sy die Serious & Violent Crime Unit op Polokwane, sê wie sy is en vra vir speursersant Caiphus Tjale.
“Warrant Neser, how can I help you?”
“Ek bel namens my ma,” sê sy ook weer in Engels en sy hoop met ’n versoenende toon, as hy dalk ’n spesmaas begin kry dat dié lastige vrou van plan is om haar lang neus in sy ondersoek in te steek. “Sy’s nog so geskok en deurmekaar oor alles wat gebeur het.”
“Natuurlik. As ons in julle skoene was … ek en mý ma, sou ek dieselfde gedoen het. Hoe ek kan help?” vra hy weer.
“Het jy regtig nierstene laat uithaal?”
“Ja, ek het. Jy’s ’n baie agterdogtige mens, warrant. Is dit waaroor jy bel, om my woord in twyfel te trek? Of is jy bekommerd oor my gesondheid?”
“Jy’t laas gevra my ma moet ’n lys van gesteelde goed maak, omdat jy nie die moontlikheid van ’n inbraak wou uitsluit nie.”
“En sy’t nog nie haar lys vir my ge-e-pos nie.”
“Dís hoekom ek bel, namens haar, en nie oor ek agterdogtig is nie. Sy wil graag ’n lys maak, maar sy kan nie eintlik agterkom dat enigiets weg is nie. Behalwe my pa se Bybel. En dit maak ons albei baie hartseer en konfoes: Hoekom sal ’n inbreker ’n Bybel steel, maar haar beursie met geld netso los, ook haar juweliersware en TV en ander waardevolle goed? Wat sal die doel van sy inbraak dan wees, sersant? Behalwe dat hy erg godsdienstig is, maar momenteel vergeet het van die gebod wat sê jy mag nie steel nie, veral nie ’n Bybel nie. Wat ons ook kwel: Hoekom sal so ’n inbreker ’n bewustelose man vermoor, maar ’n slapende vrou laat leef? Maak dit alles vir jou sin, sersant?”
Net ’n sagte gezoem oor die lang lyn tussen High Street, Brixton, en Schoemanstraat, Polokwane.
“Sersant Tjale?”
“Ja, ek’s nog hier, ek soek net gou iets in die dossier. Goed, hier’s dit. Die Bybel. Dis nie gesteel nie. Dis hier genotuleer in Forensies se opgaaf van bewysstukke en potensiële leidrade waarop hulle beslag gelê het. Saam met die beddegoed.”
“Hoekom die Bybel? Wat van die ander items op sy bedkas?”
Weer stilte. Sy gee hom kans. Ten minste het hy nie afgelui nie. Nog nie.
“Foto’s wat van die misdaadtoneel geneem is … foto’s van die slagoffer daar in sy –”
“Dis nie sommer net ’n anonieme slagoffer nie, sersant, dis my pa, sy naam’s Thys Neser, jy kan maar sy naam noem.”
“Ek’s jammer, ek probeer nie ongevoelig wees nie, dis net, die protokol is so ingeburger, jy weet. En verskoon die gemompel, ek dink partykeer hardop, kom dit nie eens meer agter nie. Ek het die polisiefoto’s nou hier, van jou pa daar in sy bed. Hy sit met sy rug opgeskuif teen die kussings. En ja, hier’s die Bybel ook, op sy skoot, oop tussen sy hande. Dit lyk of hy in die Goeie Boek sit en lees.”
Sit en lees? Sy aanvaller het hom spesifiek so geposeer?
“Dis hoekom ons dit gekonfiskeer het. Vir moontlike vingerafdrukke en ander latente bewyse.”
Hoekom so, en hoekom met die Bybel? “Dink jy steeds dis ’n inbreker se werk?”
“Soos ek gesê het, warrant, álle moontlikhede word ondersoek, sodat ons hulle een vir een kan uitskakel. Is dit nie soos julle self ook werk nie?”
“Jy’t gesê daar was geen teken van ’n inbraak nie, geen deurslot wat oopgedwing is, geen diefwering wat oopgebreek is, geen oop venster met ’n stukkende ruit nie. Wanneer skakel julle die moontlikheid van ’n inbraak uit sodat julle op die werklike teiken kan begin fokus?”
“Werklike teiken?”
“My pa. Dis tog duidelik dat hy spesifiek geteiken is, ’n blinde kan dit sien, sersant.”
“Dalk is jy reg. Maar ek vat nie kortpaaie nie, ek laat my lei deur leidrade en bewysstukke, nie deur assumpsies nie.”
“Jy moes seker al ten minste ’n voorlopige outopsieverslag gekry het om jou te help met jou ondersoek – wat’s die patoloog se bevinding oor tyd van dood? Dis vir ons baie belangrik, sersant, jy besef dit tog. Is hy Maandagaand dood, of Dinsdag in die vroeë oggendure? Ek en my ma móét tog ’n presiese datum van sy dood hê.”
Die landlyn sing eers weer. “Maandagaand tussen tien en middernag.”
“Dankie. Wat van mevrou Strydom se vriend?”
Sy hoor ’n geritsel. “Mevrou Maggie Strydom van eenheid nommer agt? Wat in die spaarkamer aan die slaap was te midde van die hele aanval op die … op jou pa? Agter toe deure? Praat jy van haar?”
“Ek praat van haar vriend, die een wat homself Paul Krige noem.”
“Ja, ek kyk na hom, hy is ’n persoon van belang.”
“Die man wat my pa destyds geskiet het … Arthur Wilky. Hy’t in Januarie parool gekry.”
Hy is weer stil. Dan: “En jou suspisieuse speurbrein sê Wilky en Krige is dieselfde man? Wilky kom uit die tronk en omtrent sy eerste daad is om sy brouwerk van elf jaar terug reg te stel, seker te maak jou pa is hierdie slag dood? Hoekom sou hy dit wou doen, met al die agterdog wat onmiddellik op hom sou val? En om iemand dood te maak wat vir alle praktiese doeleindes reeds dood was? Verskoon as ek gevoelloos klink, ek probeer net die koue feite belig.”
“Ek weet nie hoe Wilky se kop werk nie. Ek noem dit net sodat jy dit in jou ondersoek in gedagte kan hou.”
“Het jy Wilky gesien?”
“Nie vandat hy vry is nie. Destyds met sy verhoor.”
“Is hy korterig en fris, so by die vyftig rond?”
Nee, dis nie die beeld in haar kop nie. “Hy was lank en skraal, kan al sestig wees.”
“Klink nie na die Paul Krige wat mevrou Strydom vir my beskryf het nie. Goed, maar waaroor ek éérs wonder, is hoe twee mense skynbaar so baie van mekaar hou, maar terselfdertyd so min van mekaar weet. Mevrou Strydom het net ’n selnommer van haar vriend Paul. Nie eens ’n adres nie. En daai selnommer bestaan skielik nie meer nie.”
Ook kan dit weke vat, indien nie maande nie – as sersant Tjale gelukkig is – voor hy die uitslag van Maggie se bloedtoetse uit die onderbemande en oorwerkte biologie-afdeling van die forensiesewetenskaplaboratorium in Pretoria kry.
Natuurlik is sy van nature agterdogtig en wantrouig, natuurlik het sy twyfel en bedenkinge. Dis alles gevoelens in die aard van haar as speurder; sonder intuïsie, suspisie en spesmaas kon sy netsowel ’n Kaalvoet-Karmeliet geword het, en waarskynlik baie gelukkig gewees het. Daarom ry die vraag haar: Wie presies is die Paul Krige wat so skielik in Maggie se lewe verskyn het, en netso skielik weer verdwyn het – nou ’n “person of interest” in die moord op haar pa?
Wat die alarm in haar kop laat afgaan (en klaarblyklik ook in sersant Tjale s’n) is dat Maggie nog g’n woord van haar nuwe vriend gehoor het sedert sy kuiertjie laas Maandagaand nie. En Ella het ’n punt daarvan gemaak om haar te gaan groet voor sy en Lou Sondagmiddag teruggery het Johannesburg toe, juis om in die verbygaan na Paul te verneem, kastig met die hoop dat dié gou weer sy skouer van troos vir Maggie sal kom aanbied – wanneer hy klaar is met die dringende besigheid wat hom so onverklaarbaar sonder taal of tyding weghou. En Ella kon sien hoe dit Maggie ontstel dat Paul verdwyn het in hierdie tyd van haar groot gewetenskrisis. Haar beste vriendin se man word in haar sorg as’t ware onder haar oë vermoor terwyl sy lê en slaap.
Sersant Tjale is reg. Dit is net logies dat die agterdog op Paul Krige sal val. Maar vir haar is die oorheersende vraag: Hoe pas Arthur Wilky by haar pa se dood in? Klink nie of hý die onderduimse Paul Krige is nie. Maar is Paul Krige sy handlanger … ’n gehuurde moordenaar? Want oor Wilky se betrokkenheid, direk of indirek, het sy min twyfel. Dit kan tog nie toevallig wees nie – op 13 Januarie word hy uit die tronk vrygelaat en ’n maand later, op 13 Februarie, word haar pa vermoor en die aarde sluk Paul Krige in.
Só lyk dit. Of sit sy die pot mis? Is daar ’n ander verklaring?
Sy breek haar kop, maar haar gedagtes loop in ’n sirkel omdat Wilky haar gees kom beset het soos ’n pes.
Sy hou van scenario’s en rekonstruksies wanneer sy haar eie moordondersoeke doen. Hierdie is nie haar ondersoek nie, maar die slagoffer is haar pa. Dus, veronderstel Wilky sit wel agter sy dood en Krige is die moordenaar – dit gee haar die antwoord op Wie?
Die tweede belangrike vraag is: Hoekom? Hoekom wou Wilky haar pa dood hê?
Die vanselfsprekende motief is vergelding. Maar vergelding vir wat, vir sy tronkstraf? Wilky het tog vergelding gekry nog voor hy sy voet in die tronk gesit het, dis tog sy koeël wat haar pa lewend dood gelaat het, dís sy vergelding. Nou is hy uit, hy’s ’n vry man, hy kan aangaan met sy lewe. Van sý verskriklike tronk sou haar pa nooit bevry kon word nie, hy sou nooit die res van sy lewe kon hervat nie.
Daar was niks om te vergeld nie. Hy was eintlik reeds dood, soos Caiphus Tjale opgemerk het.
Sy besef ook alte goed dat al was hierdie ondersoek in hulle jurisdiksie, sou die kolonel haar daarvan weggehou het omdat sy te emosioneel en subjektief is. Maar sy is ’n moordspeurder, hoe kan sy dit verhelp as haar intuïsie en kompulsie spontaan begin oorneem?
Buitendien, Maggie is ’n huisvriend en sy, Ella, het die reg om met huisvriende te gesels, veral met haar ma se vriendin, wat tog óók ’n slagoffer is.
Sy bel haar. “Ek wou net hoor hoe dit gaan, tant Maggie. Ek het pas met sersant Tjale van Polokwane gesels, hy moet nog ’n amptelike verklaring by tant Maggie gaan afneem.”
“Wat sê ek nóg vir hom, my kind? In so ’n verklaring? Alles wat ek weet, het ek vertel. Ek weet niks meer nie, ek was dan die hele nag aan die slaap. En toe ek vyfuur wakker word en by jou pa gaan inloer …” ’n Gesnuif. “Hoekom jou arme pa?”
“Dis wat ons probeer uitvind.”
“Dit was nooit moeite om jou ma met hom te gaan help nie, jy weet mos. Ook sodat sy bietjie kan uitkom, winkels toe, net uit. Ek het daar by Thys … by jou pa gesit en met hom gesels, vir hom allerhande stories vertel, intieme goed. Hy’t áls van my af geweet, elke sondetjie en skandetjie. Elke liewe ding in my hart. Mens het so iemand nodig, jy weet. Iemand wat bereid is om te luister sonder om jou te judge.”
“Tant Maggie, daardie sersant Tjale, hy –”
“Hy’t my weer oor Paul gevra. Ek bly bel. Dalk het hy ook iets oorgekom. Ek dink sy sel is stukkend, ’n stem sê die nommer bestaan nie, een van daai robotstemme.”
“Wat van sy landlyn?”
“Dis wat die sersant ook wil weet. Ek … hy’t nie ’n landlynnommer vir my gegee nie.”
“Ons kan ’n patrolliebakkie stuur om by sy huis te gaan kyk – wat’s sy adres?”
“In die Moot. Gezina, dink ek, kan nie onthou nie.”
Dit sal buitendien ’n denkbeeldige adres wees, dit weet Ella klaar. “Sy werkadres?”
“Public Works,” sê sy.
“Ja, maar waar spesifiek?”
“By ’n seksie wat hy noem Special Projects. Dis hoe ek hom ontmoet het. Hy’t gesê hy doen ’n oudit van ou hospitaalgeboue wat dringende onderhoud nodig het.”
“Hoe presies het julle mekaar ontmoet dat jy onthou van die hospitaalprojek?”
“Toevallig in ons hospitaal se kafeteria. Ek het een middag ná my skof gou iets te ete gaan soek. Soos die Voorsienigheid dit wil hê, want ek eet nie gewoonlik daar nie, vat altyd ietsie saam. Toe begin ons gesels, en een ding lei tot ’n ander, jy weet.”
“En dit was wanneer?”
“Daar aan die einde van laas maand rond, ek kan nie presies onthou nie. Hy’t nog gesê hulle druk hom, hy’t net drie maande, hulle wil sy verslag einde April hê sodat besluite geneem kan word en die tenders kan uitgaan. Toe lag hy en sê: Tipies staatsdiens, nè, hulle druk jou blou in die gesig, dan bly lê die dringende verslag iewers in ’n in-mandjie stof en gaar.”
“En het julle mekaar dikwels gesien, ná daardie eerste toevallige ontmoeting?”
“Nie dikwels nie. Hy’t my ’n slag vir ete uitgevat. Een of twee keer by my huis kom tee drink.”
“Dis nie dat ek my neus in jou private sake insteek nie, tant Maggie, ek probeer net help, ek probeer jou bietjie voorberei op wat kom. Sulke moordspeurders kan mens nogal onkant vang met al hulle vrae. En jy sal sien, hy gaan bly karring en karring tot jy nie meer weet wat om te sê nie.”
“Ek wens jy kan by wees.”
“Het Paul darem oor ander goeters as net sy werk gepraat? Oor sy persoonlike lewe?”
“Nie eintlik nie. Baie inkennig. Maar darem vertel dat hy ook sy wederhelfte verloor het, een of ander terminal illness. Ek wou nie te veel daaroor uitvra nie, te aardig gevoel. Sy kinders is al uit die huis uit. Seun en ’n dogter. Ek’t hom jammer gekry. So ’n alleenmens.”
“En sy kar?”
“Sy kar?”
“Watse kar het hy?”
“Ek weet nie, ek ken nie eintlik karre nie – ’n Volkswagen, dink ek. ’n Jetta, ja. Of Passat.”
As sy nie eens die model herken nie, hoe sal sy die nommerplaat onthou? “As hy vir dae daar is, slaap hy oor?”
“Ek het hom gevra. Hy ry heen en weer, dis net ’n uur. Hy sê Public Works is baie suinig, hulle laat hom nie in ’n hotel of selfs ’n B&B oorbly nie.”
“Het jy hom Maandagaand genooi om oor te slaap – as hy tot tienuur gekuier het?”
Nou is daar eers stilte. “Ek … ek het.”
Haar hart klop vinniger. “En het hy oorgeslaap?” Op ’n forensiese patoloog se tyd van dood kan jy jou huis verwed, haar pa s’n tussen tien en twaalf. Die som is dus maklik: as Paul Krige voor tien die aand weg is, moet na ’n nuwe person of interest gesoek word.
“Ek … ek …”
“Tant Maggie, dis mos nie so moeilik nie: Het hy oorgeslaap?”
“Ek weet nie!” bars sy ineens uit. “Ek breek my kop, Ella, maar ek weet nie. Ek glo nie. Ek sou mos vir hom ’n kussing en kombers uitgehaal het vir die bank. Toe ek vyfuur wakker word, was daar niks nie. Ook nie hy nie. Hoekom kan ek niks onthou nie?”
So, Maggie het gedink sy ken haar nuwe vriend. Sy dink as ’n man treurige stories vertel van ’n oorlede vrou se ongenoemde ongeneeslike siekte, en van sy seun en dogter wat al uit die huis is, dan beteken dit sy ken hom. Want dit is tog erg intieme inligting. Of is dit, in Paul se geval? Laat val ’n persoonlike brokkie hier, nog een daar, pik ’n denkbeeldige traan weg, speel die emosionele kaarte, bespeel die hartsnare. Brokkies wat nie uitgetjek kan word nie. Watter nuwe vriendin sal sê: Wys my ’n foto van jou dooie vrou, gaan wys haar graf vir my? Miskien later sal sy sê: Ek sal graag jou seun en dogter wil ontmoet, ek sal graag wil sien waar jy bly.
Maar só voor op die wa sal Maggie nie te gou wees nie, sy sal die verhouding eers tyd gee om sy natuurlike loop te neem, bedag daarop om nie die nuwe vriend af te skrik deur te voorbarig en veeleisend voor te kom nie.
Ella bel die departement van openbare werke in Madibastraat, Pretoria, en vra vir die afdeling Spesiale Projekte.
’n Nors stem gee ’n ander nommer. “Call this number, Special Projects is located in Proes Street.”
Sy bel Proes se nommer, vra weer vir Spesiale Projekte.
’n Hulpvaardige vrou sê, ook in die voertaal van die staat: “Kan jy meer spesifiek wees? Wil jy byvoorbeeld met iemand praat oor Suid-Afrika se infrastruktuurprojekte in die buiteland? En in watter land spesifiek?”
“Nee, oor ’n hospitaalprojek in Bela-Bela.”
“Die tak Spesiale Projekte werk net met die Republiek se diplomatieke eiendomme oorsee, en die plaaslike infrastruktuur by oorland-grensposte, seehawens en lughawens uitgesluit, dit val onder ’n ander tak. O, en hulle hanteer ook spesifieke presidensiële projekte. Doen jy navraag oor so ’n spesiale presidensiële hospitaalprojek op Bela-Bela?”
“Nee, maar miskien kan meneer Krige my help. Paul Krige.”
“Hou aan, asseblief.”
A, so daar’s tóg so iemand. Maar dan sê dieselfde vriendelike stem: “Bedoel jy meneer Kriel – J.P. Kriel? Op my telefoonlys is nie ’n Krige nie. Miskien werk hy in Madibastraat. Het jy hulle nommer?”
“Ek het al soontoe gebel, hulle het gesê vir Spesiale Projekte moet ek hierdie nommer bel.”
“Bel hulle terug, sê jy soek Projekte en Professionele Dienste, dis die regte naam van die tak daar by hulle.”
Ella bel die nors vrou terug en vra vir Projekte en Professionele Dienste. Daar probeer iemand help, maar die naaste aan Krige is Kroeze.
Sy sit die foon neer en staar na die plafon, reik dan na die boonste van haar stapel dossiere. Dis nie asof sy met haar tone kan sit en speel nie. Ná ’n week van die kantoor af is sy toegegooi en alles eis haar onmiddellike aandag. Soos Big Mac, een van haar konfidensiële informante wat ’n verdagte messteker uitgeken het op greinerige foto’s wat van CCTV-beelde afgetrek is. Soos Reefer, ’n ander KI wat reken hy weet watter bende agter ’n vlaag diefstalle by selfoonkiosks sit. Soos aanklaer Fransien Korkie wat haar wil sien oor Olivia Ross se borgaansoek.
Tussen haar eie sake maak sy tyd vir dankiesê-briefies ná al die oproepe, sms’e, e-posse, selfs ’n paar slakkepos-simpatiekaartjies van enkele familielede wat sy ongereeld sien. In so ’n krisistyd kom jy gou agter dat jy nie heeltemal so vergete is as wat jy gedink het nie.
Een van die e-posse is van Blue Caribbean International:
Dear Ella Neser
Re: Your application as “Hospitality Professional”
Sorry to hear about your family crisis and that you won’t be able to attend the scheduled interview. However, due to the overwhelming interest in our cruise ship career vacancies, we will be conducting another round of South African interviews in the near future and I hope to fit you in again at the later date. Thanks again for your interest in Blue Caribbean International and I’ll keep you posted.
Regards
Tilly Sallis (Mrs.)
HR Dept., Blue Caribbean International, Miami, Florida, USA
Die “family crisis” was al in Januarie en het niks met haar pa te doen nie. Dit was eintlik ’n “personal crisis” (oor Lou en sy eks), maar so wou sy dit nie stel nie, want dit kan die persepsie laat dat persoonlike krisisse met haar werk kan inmeng, en dit reflekteer nooit goed op enigeen nie. Uiteindelik was dit ook nie regtig ’n krisis nie, bloot bietjie turbulensie oor sy eksvrou. Sy sexy eksvrou. Wat by hom oorgeslaap het. Nie bý hom nie, in sy huis. Die misverstandjie waarvoor haar ma die raad oor Lapland gegee het. Die Karibiese See het warmer en vroliker geklink as Lapland, maar sy het Lou steeds nie vertel van haar aansoek om op ’n Karibiese passasierskip te gaan werk nie, wag nog vir die geskikte oomblik.
Op haar lessenaar wag ook twee rekenings en ’n koevert met die hand geadresseer aan bloot: Ella Neser, SAPS, High Street, Brixton. Melville se posstempel.
Sy kyk op. Sy kan die koffietafel skuins uit haar afskorting sien en op ’n liasseerkabinet by die venster staan die vet pot met die drie onaansienlike doringrige stingels. Hoekom sy dit nie al weggesmyt het nie, weet sy self nie.
Sy grawe in haar lessenaar se onderste laai vir haar private pos, hoofsaaklik rekenings wat betaal moet word – water en ligte, erfbelasting, MultiChoice, Vodacom, en die kaartjie wat saam met die potplant gekom het, wat sy óók nie weggesmyt kry nie, asof sy haarself met die plant en die kaartjie wil teister.
Hoop ons sien mekaar weldra
Kan nie wag nie!
Van jou grootste bewonderaar
Arthur Wilky
Die potplant met die kaartjie is in Januarie hier by haar lessenaar kom aflewer, net dae nadat kolonel Sauls haar ingelig het dat Wilky uit die tronk is, op parool vrygelaat nadat hy tien jaar van sy vonnisse uitgedien het, glo ’n modelgevangene.
Sy vergelyk die handskrif op die kaartjie met dié op die koevert met Melville se posstempel. Ongetwyfeld dieselfde. Sy huiwer, skeur dit dan oop en trek die simpatiekaartjie uit, bokant persblou irisse gedruk: Sorry for your loss! en onder weer die netjiese handskrif:
Dink aan jou
Arthur
Sy smyt dit ook in die onderste laai, stamp dit toe en voel hoe die are in haar voorkop dreig om te bars. Sy het ’n tyd van besinning en afskeid nodig, sy wil nie deur Arthur Wilky verpes word nie. Maar sy kan nie help om oor hom te wonder nie. Sy sien steeds daardie gesig wat destyds in die hof na haar draai nadat hy op al vier aanklagte skuldig bevind is. Daardie vreemde trek op sy gesig wat sy nie kon plaas nie. Sy het intussen besluit dat dit arrogansie was. Wat het sy gedink – dat hy berou gaan toon, skuldig gaan lyk, sê hy’s jammer? Maar nee, dis nie wat gebeur het nie, hy het na haar omgekyk, asof met ’n gryns.
Vier of vyf maande later is hy gevonnis, maar sy was nie weer hof toe nie. Sy was by ’n lesing op universiteit. Sy kon die klas gejippo het, maar sy wou hom nie weer sien nie. Sy het hom uit haar gedagtes verban, van hom vergeet, hy was, wat haar betref, dood. Vir tien jaar.
Tot nou in Januarie.
Het tien jaar in die tronk hom baie ouer gemaak? Sy weet nie eens hoe oud hy was met sy vonnis nie. Hy het middeljarig gelyk, miskien haar pa se ouderdom. Sy kan onthou hy het vir haar soos ou Snyders van fisika gelyk, met sy seningrige lyf en yl hare en ronde brilletjie.
Sy sit agteroor en sluit haar oë. Sy wil nie met sersant Tjale se ondersoek inmeng nie. Maar niemand kan haar keer as sy besluit om ’n slag in daardie ou dossier te blaai nie.
“Ja,” sê Silas Sauls en bestreel sy moestassie, “nes ek gedink het, hier begin jy nou.”
“Ek begin met niks, kolonel, ek vra net jou gekrabbel op ’n rekwisisie.” Vir daardie ou dossier uit die argief. Waar dit eeue al afgehandel lê. Vergete.
“Los dit liewer daar onder die stof.”
“Gaan Polokwane dit nie kom soek nie?”
“Ek is seker hulle sal uiteindelik daarvoor kom vra. Dis tog logies dat Wilky verdink sal word? Dis mos wat in jou kop ook broei, nè?”
“Ek wil wéét wat destyds presies gebeur het, kolonel. Veral nou. En jy weier om daaroor te praat. Hoe anders sal ek weet as uit die rekord?”
Sy hou hom dop. Metdat een hand die bril op sy papierchaos neersmyt om met die kneukels ’n oog te knie, bekruip die ander hand die Nicoretteboksie en prop ’n wit kougomblokkie in ’n kies. Dan staar hy ’n oomblik oor sy lessenaar na haar, kake kouend, tel die gehoorstuk van die landlyn op en pons ’n nommer.
“Hallo, Doll –” Hy luister en sê: “Niks is fout nie, ek bel net om –” ’n Wenkbrou krul soos ’n onrustige ruspe. “Ja, ja, goed, ek sal dit kry. Luister, Doll, hoekom ek bel … Ella kom vanaand vir ete, ek het gedink –” Hy luister en sê: “Bobotie? Ja, dis wat ek ook gedink het. Dis al wanneer ek bobotie kry, as sy –” Hy vra vir Ella: “Mara wil weet of Lou saamkom.”
“Kolonel, ek –”
“Wil jy hoor oor jou pa, of nie?”
“Ja, ek wil.”
“Hy kom saam, Doll, maak ’n gróót bak.” Hy tel sy bril op en druk dit oor sy neus terug. “Mis jou ook,” sê hy, plak die foon neer en draai na sy rekenaar. Die gesprek is verby, ook met Ella.
Die aand oor die bobotie vat Silas haar en Lou en Mara elf jaar terug na ’n spesifieke dag: Woensdag 11 Januarie 2006.
***
Dis die eerste dag van die nuwe skooljaar. Ella soen haar ma en stap solank uit kar toe, in haar maag ’n ligte fladdering. Wie sal nié opgewonde wees oor jou eerste dag in matriek nie? Opgewonde, maar tog ook huiwerend. So op die grens tussen kind en grootmens.
Dis lekker as haar pa haar by die skool kan gaan aflaai op pad kantoor toe, wanneer dit sy week is vir normale werksure en sy nie hoef bus te ry nie; sy geniet hulle kargeselsies. En saans kom hy tuis soos enige ander normale pa, trek sy werksklere uit, sny die gras en vroetel in sy werkskamer. Sý werk bring hy nooit huis toe nie, maar oor aandete wil hy weet wat hulle die hele dag gedoen het. Hy vra eers haar ma uit, dan vir haar. ’n Groot prater is hy nie, wel ’n groot uitvraer en groot luisteraar. Ja, dit doen hy goed.
Vanoggend is hy in sy gewone goeie bui, luister geduldig na haar kletsery, en skud sy kop toe hy by die skool stilhou. “Ek verstaan dit nie.”
“Wat verstaan Paps nie?”
“Só ’n pragtige meisiekind – waar kom ek aan haar? En skielik so groot.”
“Ag, Paps …” Sy lag, pik hom op die wang en klim uit.
“Soet wees, sien jou vanaand,” sê hy voor sy haar deur toeklap. Sy’s die enigste kind in die huis, haar pa se kind, sy haelgeweer lankal gelaai en oorgehaal vir die beskerming van haar eer.
In die kwetterende samedromming by die hek gaan sy staan, draai half om en sien hoe hy haar steeds daar uit die kar sit en agterna kyk. Sy wuif vir hom. Hy lig sy hand vir haar en die glimlag trek sy oë skrefies. Dan is die maats om haar, eis uitgelate haar aandag en sleur haar mee.
***
Soet wees, sien jou vanaand. Haar pa se laaste woorde ooit aan haar, die oplig van sy hand en die glimlag van trots haar laaste beeld van hom as lewende wese, ingebrand op die retinas van haar oë.
Oor die eettafel sê Silas: “Twee dinge het die noodlottige gebeure van daai Woensdagaand afgesit. Eers ’n rapport oor die kaping van ’n Merc S-klas in Westcliff, toe ’n kort oproep van ’n informant. Hy’t inligting gehad oor ’n sekere boewebaas wat dieselfde aand by ’n adres in Industria North sou wees. Nie sommer enige boef nie … die leier van ’n sindikaat, van ’n misdaadkartel.”
“Kartel impliseer georganiseerde misdaad,” sê Ella. “En dit was tog die ou Skerpioene se jurisdiksie, nie moord-en-roof s’n nie.” Die Valke se voorganger, ’n spesiale eenheid gemik op landwye misdaad op georganiseerde vlak – dwelms, mensehandel, korrupsie, geldwassery.
“Wag, ek kom daarby. Daai kartelbaas was ’n groot ding, in Gauteng se misdadige onderpens was hy ’n soort Scarlet Pimpernel. Dieselfde mitiese omvang. Ordog, al naam wat ons gehad het. Diabolies. Wreed. Slu. Noem maar op. Dís van die woorde wat op straat gebruik is om hom te beskryf. Ja, oorgenoeg epiese beskrywings van die vent vir nog ’n Paradise Lost, maar niks vir ’n facial composite nie – so obskuur dat niemand sy gelaatstrekke kon beskryf nie, word net gehoor, nie gesien nie.”
“En oor dié Ordog kry julle toe skielik ’n rapport van ’n lieplapper wat homself as ’n konfidensiële informant verkoop?”
“Hy’t ’n lang pad saam met ons geloop, ek en jou pa het hom vertrou … tot op ’n punt, natuurlik. Dit was juis oor al hierdie straatpraatjies en Pimpernel-stories dat ons nie die Skerpioene op hol wou sit nie. Wou eers ons inligting uittjek, dat ons nie ’n gat van onsself maak nie.”
“So, julle het niks teen Wilky gehad nie, g’n bewys dat hy ondergronds bedrywig is nie?”
“Boswell Wilkie, dié ken almal, maar Arthur Wilfred Wilky was op geen polisieradar nie. Wel Ordog, van hom het selfs die Skerpioene lankal geweet. Maar nes ons by moord-en-roof het ook hulle net in die duister rondgetas. Glibberige vent. Nee, nie vent nie, skim. Hoe jag jy ’n skim?”
“En toe kry julle ’n rapport oor ’n Merc, en julle kry ’n oproep van ’n informant en alle paaie lei na Rome?”
“Ja, ek onthou jou pa het nog gelag en gesê: ‘Is dit toevallig, of wat!’ Die Merc se tracking device en die oproep oor waar Ordog verwag word, lei albei na Bakersfieldstraat 21, Industria North – domicilium citandi et executandi van Top Notch Valet Services, wat tweedehandse karre spit en polish vir die showrooms van tweedehandse verkoopsmanne wat hulle verbeel hulle is eerstehands.”
“Wilky was nie op polisieradars nie, maar wat van julle informante?”
“Dis hoekom ek en jou pa so opgewen was. Vir die eerste keer het ons ’n wenk gekry wat dalk die sluier so bietjie sou lig oor Ordog se identiteit. Die informant, die een wat jy ’n lieplapper noem, hy’t gehoor hoe die naam Wilky in die strate gefluister word, in dieselfde asem as Ordog. En dat dit hy is, Arthur Wilky, wat die aand daar in Industria North verwag word.”
***
Operasie Ordog word haastig beplan en aanmekaargesit, onder aanvoering van Thys Neser, toe senior superintendent. En so halftien die aand hou Silas, toe superintendent, op die grasskouer van Bakersfield stil, links ’n veiligheidsheining wat ’n ry donker ou pakhuise beskerm en regs die spoorlyn, hy skat omtrent halfpad tussen Bosmont- en Newclarestasie. So tweehonderd meter voor hulle brand ligte by Top Notch Valet Services. Alles rustig.
In die ongemerkte polisiekar wag hy en Thys vir bevestiging oor die polisieradio dat die ander voertuie in posisie is om strate af te sluit en Top Notch in te hok.
Hulle is al van 1990 af saam moord-en-roof-speurders, Silas van die K9-eenheid af, Thys van Voertuigdiefstal, eers saam aan die Oos-Rand, nou saam in Brixton by die eenheid wat geherstruktureer is tot die Serious & Violent Crime. Maar hulle is meer as net kollegas, hulle kuier oor en weer, woon net kruipafstand van mekaar, spot hulle dikwels om ’n braai; die Saulse in Sophiatown, die Nesers in Westdene – en het selfs dogters van dieselfde ouderdom, Ella en Maylee. Hulle is boesemvriende wat intieme geheime skep en deel, mekaar se rûe beskerm, koeëls vir mekaar vat, wat bloedskuld teenoor mekaar het wat nooit afgekoop kan word nie.
Die radio knetter, almal is op hul plek.
Tydsberekening. Dis kardinaal vir so ’n verrassingsbesoek. Silas druk die hefboom en die luierende kar begin in eerste rat aankruie, die ligte steeds af. Ook die straat is sonder lamppale in hierdie gatkant van die dorp.
Met die praatstuk van die polisieradio in die hand wag Thys vir die boodskap.
“Waar’s hy?” vra Silas in die nagstilte van die kar.
“Easy now, partner,” sê Thys.
Hoe kry die man dit reg om altyd so koel te wees? “Waar bly daai fokken Casspir?” Die Special Task Force se Casspir wat die SWAT team bring en die hek moer toe moet kom ry, want hy en Thys kan kwalik die klokkie gaan druk en aankondig: Ons is lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, ons dien en beskerm, maak seblief die hek vir ons oop, want ons het ’n lasbrief hier vir visentering, ons dink julle versteek gesteelde karre en wie weet wat nog, ons dink ook sluwe meneer Ordog is hier en ons wil graag bietjie met hom ook ’n woordjie wissel, indien hy beskikbaar is en nie te besig met aandete of diverse onwettige aktiwiteite nie, dankie en julle samewerking word ten seerste waardeer. Sela, en so aan.
’n Blikkerige stem roep opeens: “Dis ’n go! Dis ’n go!”
En van voor uit Newclare se rigting kom die ligte van die Casspir en gevolg nou aan.
“Oukei,” sê Thys op sy rustige manier, “laat die sports begin.”
Meteens gaan meer buiteligte by Top Notch aan en drie mans kom by die voordeur uitgestorm, ongetwyfeld aangelok deur die Casspir se brullende diesel, die bohaai by die hek, die bulderende stem oor die megafoon. In die stofwalms en Casspir se soeklig is hulle vasgevang soos drie versteende hase.
“Hit the ground! Hit the ground!” bulder die megafoon.
Die mans val plat.
Silas stop langs die Casspir, klim uit en sê vir Thys: “Klaar hulle broeke bepis.” Dis gewoonlik wat gebeur as jy ’n Casspir sien, jy verloor beheer oor jou blaas en oor jou wil vir veg. Veral as die SWAT-manne in swart uit die Casspir begin spring met genoeg adrenalien en skietgoed vir ’n Normandiese inval.
En net drie wat kom weerstand bied, bewapen met poetslappe?
Meer polisievoertuie kom stop en in die ligte hang die stof nou soos digte mis.
Hy en Thys gaan staan by die drie op die grond, kyk af na hulle, op hulle mae, lappe in die hand agter die kop.
“You.” Thys por een met ’n skoenpunt in die ribbes. “Get up.”
Die man kom orent, stof homself af. Silas deursoek hom vir wapens.
Agter hulle bulder die megafoon opnuut: “Everyone, come on out! Show your hands! This place is surrounded!”
Wat nie heeltemal waar is nie, daarvoor sal die mannekrag van twee bataljonne nodig wees, wat hulle nie het nie. Slaag iemand daarin om oor of deur die lemmetjiesdraad te kom sonder om soos maalvleis opgekerf te word, is daar buite in die donker periferie wegkomkans in die oop veld.
Ook in die offisiële lingua franca sê Silas vir die man: “Ons soek jou baas.”
“Meneer Manzini is daar binne in sy kantoor.”
“Eintlik die ánder baas,” sê Thys. “Ons soek die grootbaas.”
In die skerp ligte vee die man oor ’n beswete neus en bolip. “Meneer Manzini is my baas, dis sy valet-plek.”
Die megafoon, asof dit die dooies probeer opwek: “Out! Last chance! We’re coming in, guns blazing!”
Silas loer Casspir toe. Guns blazing? Jissus, ’n megafoonprater wat te veel TV kyk!
By die voordeur met uithangbordjie RECEPTION/ONTVANGS kom die werkers nou skoorvoetend uitgetou, en elkeen word gevisenteer en aangewys waar hy moet gaan lê, neffens mekaar in ’n ry.
Dan verskyn die ou grote met bultende maag, skurende bobene, skommelende boude, stem wat vir laas na gesag probeer klink. “Ek’s die bestuurder, wat soek julle hier?”
“Naam?” vra Silas.
“Meneer Manzini.”
Silas bevoel die dik lyf, kry net rolle spek, geen wapen nie.
“Kom ons gaan praat daar binne, uit die geraas uit,” sê Thys, en hou in Ontvangs die lasbrief vir hom. “So, jy’s die baas van hierdie plaas?”
“Wat’s aan die gang?”
“Lees, dit staan alles daar.” En brom: “Manzini? Is dit soos in Swaziland se Manzini?”
Manzini swaai die lasbrief minagtend deur die lug. “Dis alles kak, vir wat kom beleër julle my besigheid, ek’s ’n wetsgehoorsame burger van die land?”
“Ons het gedog jy kan ons help,” sê Thys, “as wetsgehoorsame burger en als.”
“Ons soek ’n swart Merc,” sê Silas. “Dis vanoggend in The Valley Road in Westcliff gekaap.”
“Die eienaar lê met ’n kritieke skietwond in die hospitaal,” sê Thys.
“Dit beteken die aanklagte is nie net kaping nie, maar ook poging tot moord,” sê Silas.
“As hy bly leef,” sê Thys. “Erger as hy dit nie maak nie.”
Manzini is parmantig. “Ons maak karre skoon, ons kaap hulle nie.”
Thys wuif binnetoe. “Is almal uit?”
“Dalk nog ’n paar daar agter, die wasmasjiene raas. Miskien hoor hulle nie, ons werk 24/7.”
“Ja,” sê Thys, “karkapers het min rus.”
“Ons is nie fokken kapers nie!”
“Jou taal, meneer Manzini,” berispe Silas.
“Waar’s jou grootbaas?” vra Thys. “Kruip hy ook daar agter by die wassers weg?”
“Hy sal nie heelnag kan wegkruip nie, ons sal hom kry,” sê Silas.
“Van wie praat julle?” vra Manzini, haal sy pet af, vee met ’n plat hand oor sy kaal kop, blink in die skerp soeklig van buite deur Ontvangs se vensters.
“Los die speletjies!” Thys se stem is ineens skerp.
Silas ken daai stemtoon. As Thys Neser in daai toon met jou praat, staan jy liefs ’n tree of twee tru. Silas sê: “Soos jy sien, die lasbrief is vir die deursoeking van jou perseel vir ’n Mercedes-Benz S500, 2005-model, so 10 000 kilo’s. En daar’s die VIN-nommer. Nou vra ek weer: Is daar só ’n kar hier op jou perseel?”
Manzini haal ’n dik skouer op, minder astrant. “Ek weet nie, ek sal eers die rekords moet nagaan. Ons maak elke dag dosyne karre skoon, ons het kontrakte met handelaars so ver as Soweto, Roodepoort, Fourways, Midrand …”
Thys gaan maak die voordeur oop. Stof en geraas warrel in die lug. Hy roep. “Kom! Meneer Manzini het ons ingenooi, laat ons begin! Begin die plek deursoek vir ’n groot swart Merc en ’n wegkruiper.” En vir Manzini: “Waar’s jou kantoor?”
“Ons kan hier praat,” sê Manzini.
Gewapende polisiemanne kom verby en verdwyn in die ingewande van die pakhuiskompleks in.
“Nie hier nie, op ’n stiller plek,” sê Silas.
“Dis rustig hier,” sê Manzini.
“Liewer in die privaatheid van jou kantoor,” sê Thys. “Waar al jou dokumente byderhand is.”
“Waar’s jou kantoor?” vra Silas.
Manzini lig sy oë.
“Kom,” sê Silas en kry sy elmboog beet. Hy vertrou die vent nie, maar boeie kan later wetlike komplikasies inhou as hulle geen spoor van die gewraakte Merc, of van Ordog, kry nie. Boonop uitgelag as overkill van die jaar, met ’n Casspir en SWAT teen ’n klompie wassers en poetsers van karre.
“Wat gaan julle –”
“Sjuut,” fluister Silas vir Manzini.
Thys wys na die trappe uit die gang. “Wag hier.”
“Katvoet,” vermaan Silas.
Thys verdwyn met die trappe op en Silas wag. Manzini probeer weer iets sê. “Shaddup!” snou Silas.
Thys kom af met ’n fris man met breë skouers. “Hy staan daar voor ’n deur wat sê MANAGER. Ook ongewapen, maar erg koppig, traag om daar pad te gee.”
“Wie’s jy?” vra Silas.
“’n Drywer, meneer,” sê die man, treurige oë afgeslaan op sy skoene.
“’n Drywer van gesteelde karre?”
Hy kyk nie op nie. “Nee, meneer, net ’n drywer.”
“Wat doen jy daar bo?”
“Ek wag, meneer,” sê hy vloer toe. “Om te dryf.”
“Ken jy hom?” vra Thys vir Manzini.
Manzini kyk na die drywer, na die groot skouers wat vooroor hang, kop onderstebo soos ’n moeë donkie. “Naam is Kofman, hy’s ’n chauffeur.” Manzini lig ’n vet hand en maak met sy voorvinger sirkelbewegings langs sy slaap.
Silas stamp die drywer met die los speek by Ontvangs buitetoe.
Met sy terugkoms sê Thys: “Raait, kom ons gaan kyk hoe lyk ’n karwasbaas se kantoor.”
Manzini begin weer stribbel, maar Silas por hom met ’n stamp in die rug agter Thys die trappe op, albei nou met hulle dienspistole in die hand.
Voor sy MANAGER-deur steek Manzini koppig vas.
“Maak oop,” sê Thys.
Manzini draai die knop en druk die deur oop. “Dis ek,” sê hy binnetoe en stap in, Thys en Silas agterna, veilig verskuil agter die groot rug, net ’n raps kleiner as ’n garagedeur.
Op ’n tweesitpleksofa sit ’n man, Silas skat hom so in die vyftig rond, min of meer sy en Thys se jare. Hande sedig op sy skoot gevou, lang bene by die enkels gekruis, blink skoene lyk duur en Italiaans. Sy styl hare is plat agteroor geborsel met ’n effense silwer glinstering in die neonlig. Die ronde goueraambrilletjie gee hom die voorkoms van ’n tipiese boekhouer, nie noodwendig onguur nie – Silas is amper seker dat baie boekhouers nié boekerig lyk nie. Hy sit ongestoord, die trek van ’n gryns aan die dun lippe asof die nagtelike polisieklopjag hom eerder amuseer as verskrik.
“Wie’s jy?” vra Thys.
“Arthur Wilky.” Gemoduleerde stem.
Manzini gaan sit agter sy groot lessenaar en Thys stel hom en Silas amptelik voor met rang, van, doel van besoek.
Waarop Silas sê: “Die klandestiene kartelbaas, as ek dit nie mis het nie?”
“Klandestien? Kartelbaas?” Wilky grinnik. “Sjoe, groot woorde vir só ’n klein polisiebreintjie. Maar ek’s bevrees jy het dit mis. Dis wel my besigheid hierdie, en wetsgehoorsaam, mag ek byvoeg. Muzi daar is my bestuurder.” ’n Wuif met sy hand na Manzini links van hom.
“Staan op,” beveel Silas.
Wilky ontvou sy bene en kom orent. Silas bevoel hom. Geen wapen nie. Wilky gaan sit en vou weer sy bene en hande.
Silas gaan draai die sleutel in die deur sodat hulle nie onverwags gesteur kan word nie en staan dan ’n oomblik die groot kluis in die hoek en beskou. Hy sal nie omgee vir ’n kykie daarin nie. Voor sy geestesoog sien hy die pakke note, die ongeregistreerde vuurwapens, al die dokumente vir gesteelde voertuie. Maar hy hoef nie oorhaastig te wees nie, hulle sal weldra daai inhoud onder ’n vergrootglas kan bekyk. “Is dit waar julle die vervalste registrasiepapiere hou?”
Wilky se voorkop plooi. “Vervalste papiere?” Hy draai sy gesig na Manzini. “Muzi, is jy agter my rug besig met iets onwettigs?”
“God, no, I’m an obedient citizen!” sê Manzini onthuts, slaan dan vlot oor na Kombuisafrikaans: “Hierie is ’n legitimate besigheid.”
Silas sien geen teken van ’n wapen op die lessenaar nie, maar gaan trek nietemin die laaie oop en vroetel daarin. Niks nie. Hy gaan sit op die gastestoel regoor Manzini en sy groot lessenaar. Thys sit regs van hom in die ander gastestoel regoor Wilky se sofa. Die deur is skuins agter Silas se linkerskouer. Agter Thys is die enigste venster, die vuil blinding vir die nag toegetrek.
Thys sê: “Komaan, Muzi, moenie twee ou bullshitters probeer bullshit nie. Ons weet almal wat hier aangaan. Die legitimate besigheid is net ’n front, Top Notch is die plek waar julle gesteelde karre was en versprei – en met was bedoel ek nie net met seep en water nie, ek bedoel launder, soos in geldwassery, soos om vuil geld en vuil karre weer ’n aansien van wettigheid te gee. Of hoe, Arthur?”
“Waarvan praat julle?” sê Wilky.
Thys kruis ook sy bene, sy dienspistool terug in sy holster. Silas ken die trieks van gemoedelikheid, soos om verdagtes op hulle voorname aan te spreek nes ou vriende en hulle te laat ontspan.
“So, Muzi,” sê Thys. “Is ek reg, is dit waar die Manzini vandaan kom, jou Swazi-bloed?”
“Dis waar ek gebore is, by Commissie Nek. En nie net ordinary Swazi-bloed nie, blue Swazi-bloed in hierie veins.”
“Hene, nè?” sê Thys en lyk regtig geïmponeerd. “Jy’s van royalty?”
“Van LaYaka Ndwandwe se regeertyd af, ons eerste Ndlovukati … ons eerste olifantvrou.”
“Jy stam van ’n olifant af?”
Silas gryp in. “Daai gesteelde Merc, is dit op pad grens toe, as we speak?”
“Met nuwe vals nommerplate en ’n nuwe vals registrasiesertifikaat,” sê Thys.
“Swazi-grens toe,” sê Silas, “want julle is seker nie so dom om dit sommer direk by Komatipoort deur te stuur Mosambiek toe nie, of hoe?” sê Silas.
“Nee,” sê Thys, “met so ’n Merc is dit voet in die hoek na die naaste grenspos … waar’s dit – Nerston? Oshoek? Dan reguit Mbabane toe, nè? En vroeg môreoggend is dit deur Naamacha Mosambiek in.”
“As julle my nie gaan arresteer nie, sal julle my moet verskoon,” sê Wilky en wil opstaan.
“Sit!” sê Thys, met weer daai byt in sy stem.
“En voor lunchtime sluk die drywer al welverdiend in Maputo aan sy bottel koue Laurentina,” sê Silas. “Of gaan julle daar by afgeleë klein Bothashoop of Waverley oor die grens, daar waar sekere grensmanne bietjie slaperig is, nie so skerp nie, of dalk anderpad kyk.”
Wilky sug. “Is dit wat julle daar by moord-en-roof doen – dink fabels uit?”
“Ja,” sê Thys, “soos dat jy eintlik Joburg se eie Michael Corleone is, net onder ’n ander naam, en meer … wat’s die woord? Meer klandestien, ja.”
“Laat ek raai – die Godfather-prente is jou gunstelinge?”
“Hier’s nog ’n groot woord uit ’n klein polisiebrein: nom de guerre. Is Ordog jóú nom de guerre?”
“Asseblief, inspekteur, jou ryk verbeelding –”
“Die rang is senior superintendent.”
“O? Sénior, nogal, nie sommer net enige superintendent nie.”
Silas geniet die skermutseling tussen Thys en Wilky, die woordskote wat hulle op mekaar afvuur hier dwars heen en weer oor die siglyn tussen hom en Manzini.
“Jy’t lank weggekom, maar dis mos wat julle almal dink, julle crime bosses. Dink julle is te slim vir ’n polisiebrein.” Thys swyg ’n oomblik asof iets hom byval, en hervat: “Breintjie. Die verkleinwoord impliseer tog reeds klein. Maar jy wil ’n punt maak, nè, jy wil jou minagting vir die polisie beklemtoon met ‘klein breintjie’. Goed, Arthur, kom ek gee jou ’n voorbeeld van hoe ’n klein polisiebreintjie werk: Al Capone word uiteindelik gevang omdat hy belasting probeer ontduik, Ordog word uiteindelik gevang oor gesteelde karre op sy perseel. Die ander ernstiger aanklagte sal later geformuleer word. Soos moord, as die eienaar van die Merc dit nie maak nie. En soos ek reeds vir jou bestuurder gesê het, hy’s kritiek, die dokters is skepties of hulle hom deurgetrek gaan kry.”
Silas merk hoe Manzini angstig met ’n sakdoek oor sy beswete gesig en kaal kop vee, ongeag die kilheid van die lugversorger. Ook Wilky lyk skielik minder arrogant. Dis wat die woord “moord” aan jou doen, en aan die lugdruk rondom ’n verdagte: dit raak digter, begin hom druk, laat hom sweet.
Dan lui Silas se sel. “Jis, Reggie?”
Almal swyg, en hy sien die gesigte na hom draai, drie pare vraende oë meteens intens op hom – is dit nuus onder uit die wassery, is die gekaapte Merc gekry, of tekens van die Merc? Of hemel behoede, is dit slegte nuus oor die Merc se eienaar?
Silas gaan staan by die venster agter Thys se stoel, sy rug na hulle vir privaatheid. Die gesprek met inspekteur Reggie is nie vir verdagte ore bedoel nie. Hy hoor hoe Thys die gesprek met Wilky en Manzini agter sy rug hervat.
Hy trek die toutjie en die aangepakte blinding gaan oop. “Wat het jy, Reggie?” Silas staar deur die stowwerige ruite die nag in, na die stad se ligte suidwaarts oor Bosmont en Croesus tot doer by Diepkloof en Nasrec en die N1-suid iewers daar in die nag op pad Vrystaat en Kaap toe.
“Ons het hom gekry,” sê Reggie. “’n Swart Merc S500.”
“So, hy’s tog nie reeds op pad nie?” dink Silas hardop, laat rus sy ander hand op die Z88 se greep in die holster.
“Nommerplate verskil, maar dieselfde VIN,” sê Reggie. “Dis die een wat ons soek.”
“Uh-huh?” sê Silas. Hét julle, julle is vas, julle boggers!
“Klaar gewas, gevacuum, gepolish, vol tenk,” sê Reggie. “Forensies is nou daarmee besig.”
“Uh-huh,” sê Silas en trek weer die blinding toe, taai en vuil aangepak van jare se stof en roet en rook en vlieëkak.
“Wil jy kom kyk?” vra Reggie.
“Uh-huh, netnou, ons gesels eers nog bietjie hier.”
En sit jou pokergesig op, moenie iets verklap nie, hulle is klaar erg op hulle senuwees, veral Manzini.
Hy lui af en draai van die venster om.
Maar hulle moet tog iets aan sy gesig gelees het … Wilky die sluwe een, hy sou oplet vir sulke lyftaal. Moet vir mekaar ’n teken gegee het.
Want meteens is Manzini, rats vir so ’n groot lyf, uit sy stoel op.
En Silas merk, asof in vertraagde aksie, die wapen in Manzini se hand.
Pluk sy dienspistool uit.
BOEM! BOEM! BOEM!
Die slae van die skote klap skielik en oorverdowend en oormekaar in die geïnsuleerde vertrek sonder oop deur of oop venster.
Manzini nou skuins agter Wilky, wat steeds op die bank sit.
BOEM! BOEM! BOEM!
En Silas voel ineens hoe iets aan hom ruk en deur sy vleis skroei of ’n gloeiende vuuryster in sy maag ingedruk word. Sy knieë is lam en hy kners teen die pyn en met die val trek hy nog ’n skoot af en keer dan vir die vloer met sy ander hand. Die sel spat weg. Hy land op sy knieë, half agter Thys se stoel, en val plat.
Dan is dit stil. Oorverdowend stil. Net die naklank wat in sy toegeslane ore ruis soos van ’n aankomende trein deur ’n tonnel. Sy kop duisel en hy lê ’n oomblik hygend en verras oor die skielike geweld. Druk hom dan op sy knieë op. Thys se hare steek bo teen die rugkant van die leunstoel uit. “Thys … is jy orraait?”
Geen antwoord nie. Hy boor met ’n vinger in sy ore. Net die gesuis, geen ander geluid nie, geen kreun of sug of fluistering nie. Hy voel aan sy sy en merk die bloed aan sy hemp, laag by die soom van die Kevlar vest. Hy kners en loer om die stoel, pistool gereed.
Voor die sofa lê ’n figuur op sy maag. Roerloos. Bloed aan ’n uitgestrekte hand. Sy blik rus ’n oomblik op die blink skoene.
Manzini. Waar’s hy? Skuil hy, wag hy, sy wapen gereed vir Silas om sy kop te wys?
“Manzini!” Sy stem is skor in die stilte.
Hy kreun sag en kruip stadig om die stoel, pistool voor hom gereed, en loer om en sien die groot onderlyf op die vloer langs die bank. Hy kyk weer op na Thys hier bokant hom. Dit lyk of hy afgesak het, sy kop skuins teen die rugkussing.
“Thys!”
Hy trek homself teen die stoel op en skrik vir al die bloed oor Thys se geslote ooglede, oor sy wang en ken en keel. Aan die nek soek sy vingers na ’n groot aar en hy fluister: “Byt vas, partner … dis verby, hulle kom ons help.” Maar hy voel geen polsslag nie en leun met sy oor na Thys se mond en hoor geen asemhaling nie en staan orent en beskou die wond bokant sy vriend se wenkbrou. Die gedagtes wat deur sy kop flits is: Nee, ’n koeël in die kop, dis nie goed nie, dis nie goed nie … En sy bors ruk ’n slag en hy voel hoe iets in hom ontspruit, diep in hom die gewaarwording van groot verlies en ’n tweede gedagte: Ons het hom verloor, my partner is weg, dinge het verander, niks gaan ooit weer dieselfde wees nie. En in sy bors is ’n beklemming asof ’n groot klou sy hart omvou en dit begin saampers en iets heel anders kom neem van hom besit, ’n meer basiese, ’n meer primitiewe instink.
Hy draai na die sofa, sy oë op Wilky op die vloer, dan na Manzini se stil liggaam. Hy tree na hulle, pistool in die een hand, die ander soek na sy sel. Waar’s die sel, hy moet bel vir hulp? Hoekom kom hulle nie, het hulle dan nie die skote gehoor nie? Die pyn is terug in sy maag, sy vingers taai van bloed, syne en sy partner s’n. Maar sy opleiding skop in. Vergeet van ’n vloekskoot onder die Kevlar in, beveilig eers die toneel, maak seker Wilky en Manzini is ontwapen, is onskadelik, kry mediese hulp vir Thys.
Voor hom lig Wilky sy gesig na hom: “Moenie skiet nie, moenie skiet nie. Ek’s gewond, ek het nie ’n wapen nie.”
“Lê stil!”
“Ek bloei, kry hulp.”
Silas tree verby die bank na Manzini, dié se oë is oop, starend na niks. Silas por hom met die punt van sy stewel, hurk en voel ook aan sy nek, maar weet klaar, hoef nie eens te voel nie.
Hy merk die wapen. Dit moet uit Manzini se hand weggespat het toe hy die vloer tref. Hy bekyk dit sonder om daaraan te raak.
Hy gaan staan by Wilky. “Staan op.”
“Ek kan nie, ek’s gewond, ek soek hulp.” Hy kreun en probeer orent kom, die hemp aan sy regterskouer deurweek van bloed.
Silas help hom op die bank terug, boei sy hande en staan tru, beskou weer die vloer waar Manzini lê en waar Wilky voor die sofa platgeval het. En vra: “Waar’s jou wapen?”
“Watse wapen? Ek sê mos ek het nie ’n wapen nie.”
“Die een waarmee jy my partner geskiet het.”
“Ek het niemand geskiet nie.”
“Die rewolwer daar, die ou Smith & Wesson, is dit nie joune nie?”
“Rewolwer? Nee, waarvan praat jy?”
Selfs ’n klein polisiebreintjie kan die komplot ontsyfer wat hier beplan en uitgevoer is: Manzini skiet Silas Sauls, Wilky skiet Thys Neser.
“Ek het niks met –”
“Shaddup! En uiteindelik hét ek jou, en nie net vir gesteelde karre nie – vir die doodskiet van ’n polisieman gooi hulle die fokken sleutel weg, meneer Ordog!”
***
Op pad huis toe sê Lou: “Dit moes pynlik vir jou gewees het.”
Sy knik. Dit was. Maar is dit nie wat sy wou weet nie? Nou weet sy. En sy kry die beeld van haar pa nie uit haar kop nie. Afgesak in sy leunstoel. Kop skuins teen die rugkussing. Al die bloed. So baie bloed. Haar pa s’n.
“Is jy oukei, Ella?”
Sy voel sy hand en leun in na sy palm, sag en warm teen haar wang. Net vir ’n oomblik, dan is sy hand terug op die stuurwiel, en die gekleurde liggies van die paneelbord speel lig en donker oor die kontoere van sy gesig.
“Ek probeer net alles absorbeer.”
“Nou verstaan jy hoekom Silas nie daaroor wou praat nie. Ek sou ook nie.”
“Maar verstaan jy hoe ék voel, Lou?”
“Natuurlik verstaan ek. Dis die ambivalensie waardeur Silas moes worstel. Hy verstaan ook dat jy wil weet wat daar gebeur het. Veral nou ná jou pa se dood. Maar hy weet van die pyn wat dit gaan bring wanneer hy al daai ou wonde oopkrap, die pyn vir jou én vir hom. Want so iets laat niemand onaangeraak nie. Ek is seker hy moes homself ook honderd keer afgevra het: Wat bereik ons eintlik regtig deur daai gebeure van elf jaar terug weer in die oopte te bring? Gaan dit vir Ella ’n soort afsluiting bring? Indien wel, goed, kom ek vertel, kom ons kyk wat gebeur. Indien nie, wat is die sin van só ’n oopkrappery dan? Geld dieselfde redes van destyds dan nie steeds vandag nie?”
“Jy bedoel die redes hoekom ek nie die verhoor wou bywoon nie?”
“Ja, jy wou nie al daai gebeure in koue, onpersoonlike detail herleef nie. Hoekom nou?”
“Om daar in die hof te sit en al die getuienis aan te hoor, hoe seer dit hulle ook al maak, bied vir baie naasbestaandes ’n mate van genesing. Dit help hulle helingsproses, om balans te herwin sodat hulle kan aangaan. Ek het anders gevoel; mý hart het genees deur goeie herinneringe, my gemoed was gereserveer vir net my pa, daar was nie plek vir die man wat dit aan hom gedoen het nie. Daardie geweldenaar het ek nie plek in my huis of in my gees gegun nie. Dit was genoeg om te gaan kyk hoe hy skuldig bevind word, die vonnis was net ’n afsluiting.”
“Closure.”
“Nee, nie só ’n soort finale afsluiting nie. Die vonnis het bloot die regsproses afgesluit, nie my gevoelens nie. Wat beteken closure? Dit beteken niks, dis net ’n woord, ’n buzz word, iets wat gesê word om jou beter te laat voel. Hoe kry jy ooit afsluiting van die dood van ’n kind, van ’n eggenoot, van ’n pa? Ek het elf jaar berus, maar nou, met my pa se dood, is alles skielik oopgekrap. Die man wat dit gedoen het, mag nie wegkom nie en Silas se vertelling is deel van die nuwe ondersoek. Dit help met die nuwe soektog na ’n verdagte en sy motiewe.”
“En ek sal jou help,” sê Lou. “Moenie my afsny nie.”
“Ek sal nie,” sê sy.
Maar is sy nie klaar besig om dit te doen nie?