Читать книгу Koms van die motman - Chris Karsten - Страница 7

INTERLUDE: Die Nineviete herrys

Оглавление

Die Nineviete buit goud en hulle buit silwer en hulle hou nie op roof nie. In hulle lêplek is geen einde aan al die mooi goed nie en bul-mans van klip bewaak die poorte van hulle stad van skatte en bedrog, die strate vol skedels, die keie besmeer van die bloed van dié wat saamsweer om onvrede te bring.

Maar die klein profeet voorspel:

Daar kom iemand wat jou sal verjaag, jou hoer van Nineve! Bewaak jou vestings, hou dop die pad, maak jou gereed vir die stryd, monster al jou kragte!

Want Ek sal al jou klere uittrek, Ek sal volke jou kaal liggaam laat sien, koninkryke die skande van jou naaktheid. Ek sal mis op jou gooi, en van jou so ’n spektakel maak dat elkeen wat jou sien, van jou af sal padgee.

Jy sal nie herstel nie, jou wond is dodelik.

En in 612 v.C. word die profesie bewaarheid:

Swepe klap, wiele dreun, ruiters galop, swaarde blink, spiese blits.

Die wagte op die klipmure vlieg in die son weg soos treksprinkane.

Nineve word geplunder, verdelg, afgebrand.

In Bo-Mesopotamië, aan die oosoewer van die Tigris … kyk, dáár lê die Assiriese hoer nou, kaal, verniel, gekasty, beskaam, en haar dinas – haar Sin-shar-ishkun, wat beteken: “Die een wat vertroos” – is gestroop van sy goud en sy mag en sy lewe.

Maar wag! Die geskiedenis word herskryf. Die Nineviete herrys.

In Zoeloeland, by Mazizini aan die voetheuwels van die Drakensberge waar die Thukela van sy fonteinbron daar hoog bo oor die valle en uit die ravyne en deur die tande van die drake kom, word in 1867, in die clan amaZizi, ’n nuwe Ninevitiese koning gebore: Mzuzephi, wat beteken: “Waar het julle my gekry?”

Maar gesalf as nuwe dinas of koningskind is hy nie – sy opgang van veewagter tot vors begin meer beskeie, dit begin by ’n perd.

Koms van die motman

Подняться наверх