Читать книгу Koms van die motman - Chris Karsten - Страница 8

ARTHUR

Оглавление

Klipfontein Maximum Security Correctional Centre

Tembisa, Gauteng

Vrydag 2 Maart 2007

Dis ’n droom, en in die droom is hy ’n Laputaanse neerkyker op die verrigtinge doer onder en op die arme skepsels. En danksy sy intense beloering val sekere gelaatstrekke hom bywyle op: hier ’n neus en lip, daar ’n oog en oor, en van hulle begin bekend lyk, begin lyk na syne – sý neus, lip, oor, oog, wenkbrou, moesie, moedervlek aan die skouer. Wag! Nee, daai merk aan die skouer, dis nie ’n moedervlek nie, dis die litteken van ’n koeëlwond.

Beurtelings mesmeriseer en walg die spektakel hom, hierdie prosessering, assessering, klassifisering, hierdie fantasmagoriese monteerbaan waarop ook sý stomme geskandmerkte liggaam afgebreek, gedip, gedoseer, gefumigeer en gevisenteer word, die inhoud van sy mond en anus met rubbervingers gerek en gepriem, voor al sy parte in ’n nuwe vorm herskik en naamloos herverpak en met ’n agtnommer-staafkode getjap word.

Maar nou, te midde van hierdie helse geharwar, verdwyn die nuutgemuteerde hy momenteel uit sig. Panies soek sy skeeloë, een binnetoe, een buitetoe.

Dáár! Daar staan hy. Saam in die linie van die nuwe opname. Kaal in hulle boksers van growwe doek – jonk, oud, vet, maer, kort, lank, harig, poens, pan, bles, bleek, wit, swart, bruin, taan, groen, en enige ander vorm, voorkoms, bou, skakering.

Ja, dit ís hy: Gevangene 6660022W, toegewys aan Eenheid C, Seksie 3, Groep C.

’n Betitelde spreker word gepresenteer en assistentdirekteur Panji tree na vore, vernaam beboep, besnor, getint en gedelegeerd; tronkbaas Ndabandaba is onbeskikbaar.

Panji deklameer oor ’n lewe in die tronk. Dun purper lippe kap sy sinne verbete en kort af. Inkerkering is g’n piekniek nie. Daar’s reëls, regulasies, orders. Daar’s roetine. Daar’s voorregte vir goeie gedrag en nadele vir swak gedrag. En erge gevolge vir pogings om te ontsnap. Vir smokkelary. Vir geweldpleging teen staf en medegevangenes. Vir die beskadiging van staatseiendom. Vir die besit van wapens, dwelms en ander kontrabande. Hy waarsku teen die lewensgevare van bendebedrywighede. Teen die gesondheidsgevare van masturbasie en sodomie. Teen tatoeërings, daggarokery, TB, MIV/Vigs en ander seksueel oordraagbare siektes.

Die linie bekyk hom skepties toe hy praat oor die land se grondwet as sou dit konsuis ook die basiese menseregte van gevangenes beskerm, as sou korrektiewe amptenare spesiaal opgelei word om in hulle daaglikse interaksie met gevangenes uiting te gee aan hierdie konstitusionele bepalings van: gelykheid (Artikel 9), menswaardigheid (Artikel 10), die sekuriteit van die aangehoudene (Artikel 12), die reg op mediese dienste (Artikel 27), reg op onderrig (Artikel 29), vryheid van geloof (Artikel 31), op menslike behandeling en omgang met geliefdes (Artikel 35). Ensovoort en dies meer.

In die valse wasem van die stem bemerk 6660022W ’n histrioniese toon wanneer Panji se vinger oor die skelm strepie hare op sy lang bolip streel en groot gewag maak van departementele visie, missie en doel, maar in elf tale verswyg dat agter tronkmure ánder reëls, regulasies, orders en wette geld.

Vir persoonlike higiëne kry 6660022W ’n korrektiewe kam, skeermes, tandeborsel, pasta, rol toiletpapier en twee koekies seep vir lyf én klere. Vir slaap twee komberse, kussing en viltmat, dun soos karton. Die oranje drag, versier met die woord Corrections in herhalende klein swart sirkeltjies, bestaan uit een growwe linnebaadjie, een trui, twee langbroeke, twee hemde, twee T-hemde, twee kortbroeke, ook vier bokser-onderbroeke, twee pare sokkies en een paar skoeisel gesny uit die harde huid van een of ander groot en wilde hoefdier, ingesout en ongebrei en ongelooi en ru gestik, sodat 6660022W se sagte, bleek en bloubeaarde voete binne twee dae rou geskuur is met bloeiende blase.

As lid van Groep C word hy in ’n kommunale sardiensblik ’n slaapgat op die sementvloer aangewys, net groot genoeg vir sy viltmat. In die sel bedoel vir veertig gevangenes is ingeprop – in weerwil van Panji se pasuitgesproke versekerings van menswaardige behandeling en persoonlike privaatheid en veiligheid en ruimte – tagtig stinkende, rasende, swetsende, dreigende moordenaars, rowers, verkragters, messtekers, aanranders en alle ander soorte geweldenaars.

In sy vorige lewe het 6660022W – eens bekend as Arthur Wilfred Wilky, vrygesel – vir omtrent vyf dekades buiten babatyd nooit ’n slaap- en badkamer met enigiemand gedeel nie. Nou lê hy slapeloos op sy vloermat, omgeef deur vreemde liggame wat suur asems en sweet en hitte uitskei en dreig om sy kloustrofobiese nagruimte ook met ledemate in te dring.

Stokstyf lê hy daar in die halfskemering van die nag, sy oë en ore oop. Waaksaam, onseker, beangs. Om hom die nagtelike snorke en sugte en hoeste en gesmoorde krete van tagtig gedoemde siele. Hy adem die reuke van vrees aan ongewaste voete, pisters en oksels, van vrot gasse wat uit die diepste en dikste en kromste derms uitgepoep word. En angsvallig oor sy vel is die krieweling van ’n miljoen skarrelende pootjies van weeluise, bosluise, kopmyte, tampans, vlooie, spinnekoppe, kakkerlakke, kokkerotte, stinkkewers, malmiere, balbyters – asof al hierdie goggas, bekend en onbekend, net lê en wag het vir die sluier van die nag om uit te kruip uit hulle neste en broeiplekke sodat hulle in hulle legioene op sy vars vleis kan kom teer en hom tot waansin teister.

En dis maar net die eerste van baie, baie sulke nagte.

Toe die onrustige slaap uiteindelik sy ooglede toetrek, is dit met ’n nuwe treitering: die oë van daai Neser-dogter wat soos twee prieme agter in sy skedel inboor, deur been en breinvog tot in sy harsings in.

In die nag vlieg sy oë oop van ’n hand wat om sy mond toeklap.

Nee, nee, in godsnaam nee, nie ek nie!

Hy word tussen sy komberse uit orent gepluk deur twee silhoeëtte teen die dowwe tralielig uit die gang.

Hy stoei en spartel en proes en kwyl agter die hand wat sy lippe kneus. Hoekom ek? Gaan soek die jongetjies, ek het hulle gesien, daar in die opnamelinie, met hulle gladde velle en ronde wange, hulle vet dye en boude in die boksers, vat hulle, ek’s oud, los my!

Hulle sleep hom skoppend en proesend oor slapendes wat nie meer slaap nie, nie meer snork en sug en hoes en poep of in drome uitroep nie, wat asems kollektief inhou, en in die donker is net die aritmiese gejaag van vele vervaarde harte hoorbaar en ’n sagte ruising van vele skietgebede, opgestuur om’t ewe uit die siele van gelowers en ongelowers, van goddeloses, godversakers en godloënaars, nou almal verenig in vrees en dank dat dit die ou man is en nie hulle nie.

Hulle sleep hom uit die kommunale slaapsel na die kommunale badkamer toe. Hy spartel en proes nie meer nie, sy kop hang met styf toegeknypte oë, sy kaal voete skuur nerwe af oor die growwe sementvloer agterna en in sy gedagtes maak die warboel en vrees plek vir ’n soort versteende berusting. Dit gaan gebeur, ek kan dit nie keer nie, maar laat dit, om hemelsnaam, net gou verby wees.

Hulle stamp hom in en hy struikel, val op sy knieë en maak sy oë oop en gryp met uitgestrekte hande vir ondersteuning. In die flou ganglig is hy omring deur ’n bos van kaal bene.

Arms pluk hom regop en hy sien die stortarea waarin hulle vergader en hy lig sy oë op na die een wat met hom praat. Die skadugesig kan hy nie uitmaak nie, net die dun stem: “Ek sê, tawwe ou whitey, ken jy die nommer?”

“Die nommer van wat? Asseblief … ek soek nie moeilikheid nie.”

Dit moet ’n grap wees, want hulle lag en gaan in tale aan’t brabbel:

“Soek’ie kak’ie, soek’ie kak’ie …”

“Ka’ jy sabela, hè?”

“Nee, wat wee’ hy van sabela, hy wee’ fokkol, hy’s frans, hy’s vuil mpata.”

“Hy’s outop en wil die baloney pony ry.”

“Dissy, dissy! Kyk’ie, dis net wat hy soek … hy soek luv, outop soek luv.”

Hy smeek: “Ek wil niemand pla nie, ek wil net uitgelos word, dis al.”

Hulle skater, klap mekaar op die rug, gee mekaar high fives, stamp hom in die kring rond van die een na die ander, al hoe hardhandiger terwyl hulle hom tussenwerpsels toeslinger soos klippe in ’n steniging.

“Umkhosi odla amahhashi … eet jy perd?”

“Nee, whitey dink hy’s beter as ons.”

“Fokken whitey dink hy’s ungcono kunawe.”

“Is jy beter as ons, hè, whitey, is dit wa’ jy dink?”

Tot die maere, die voorbok, hulle met ’n wuif van sy hand stilmaak en sy dun stem deur die verstikkende skemer lug sny: “Hulle sê jy’t ’n cop geskiet.”

“La’ ons tjek hoe taf die copskieter is,” sê een.

“Asseblief, ek’s nie taf nie, ek het hom nie geskiet nie, ek is –”

“Shaddup!”

Hy steier van die hou en ineens is die hande aan sy lyf soos die tentakels van ’n seekat, grypend, stampend, plukkend.

En hy voel hoe die eerste een van agter in hom inskeur terwyl die ander hom vashou.

Hy begin huil, die eerste keer in vyftig jaar voel hy trane oor sy wange, en hy is skaam oor hy huil, maar hulle maak beurte en hy dink hy huil eintlik van die pyn want hulle hou nie op nie en die pyn is of sy vel afgekerf word met ’n mes waarvan die lem stomp is sodat dit herhaaldelik op dieselfde plek moet sny om die weefsel uiteindelik van die vel los te kry, en later is dit asof sy liggaam geen gevoel meer het nie, asof die punte van sy senuwees gedoof is en geen impulse en gevoel meer sy brein bereik nie, en hy net daar geboë vasgehou word terwyl hulle aangaan en aangaan en aangaan asof vir ’n ewigheid, tot hulle hom oplaas op die taai, bloederige vloer van die stort laat val.

“Magubane is hier,” sê een, maar hy voel skaars die skop teen sy wang.

“Dit is die Nommer,” sê ’n ander, en ook hierdie skop is niks vergeleke met die ander pyn nie.

Hulle drentel uit. Die paartie is verby. Waar’s die pret as ’n man nie meer pyn kan voel nie? Hulle verdwyn soos skimme, met die hoë stem se laaste waarskuwing wat in die badkamer en in sy skedel bly eggo: “Piemp, whitey, en next time is jy nie so lucky nie!”

Niemand maak alarm nie en ’n bewaarder kry hom eers oopsluittyd die oggend – road kill, net goed vir aasdier en kraai.

Koms van die motman

Подняться наверх