Читать книгу Koms van die motman - Chris Karsten - Страница 9

DIE BELOFTE

Оглавление

Maandag in die etensuur glip Ella weg na die sportwinkel in Cresta. Die pyne in haar knieë is gewoonlik die eerste teken. Sy doen die diagnose self en sover werk dit, g’n nodig vir ’n podiater of ortopedis of enige ander spesialis wat met die behandeling van haar enkels en knieë ’n nuwe stoetbul vir sy beesplaas by Lobatla wil koop nie.

Haar drafskoene is pê. En sy draf nie met enige hierjy-tekkie nie, dis vir moeilikheid soek, dán melk daardie kwak jou. Sy verkies Brooks. Die uitgetraptes is Brooks Ariel, maar die Ghost sit ook lekker, boonop hou sy van die funky skakering van oranje en pers, veral die oranje sole. Orange is the new black, ten minste op háár drafroete. Sy soek ook nog ’n sportbra, hulle slyt gou van al die dra en was, en sy het ten minste twee elke dag nodig, soggens vir die gim, saans vir die drawwery. Sy het niks wat vreeslik kan rondbons nie, maar die bietjie wat daar is moet gekoester word, en sy pas ’n Brooks Hot Shot aan.

Die aand gaan draf sy met die nuwe bra en tekkies, en dit voel goed, die Hot Shot bo, die Ghost onder, teen die prys van ’n dêm stoetram.

Agterna stort sy en trek slenterdrag aan en wag vir Lou en die soet-en-suur Chinees. Hy ken haar gebreke voor ’n stoof en weet ook in háár huis moet hy sy vleislus bedwing.

***

Die volgende oggend is sy besig om vir gim aan te trek toe haar sel lui. Sy loer: 05:19. Net die kolonel sal so vroeg bel vir opkommandeer na ’n misdaadtoneel. Maar dan sien sy die naam: Maggie.

“Hallo, tant Maggie, maar julle is vroeg aan die gang. Is my ma al by die huis?”

“Ella … Hier’s sy.”

Huil Maggie? ’n Blok ys kom sit in Ella se maag.

Twee ure later is sy en Lou op pad Bela-Bela toe. Verskuil agter sonbril, Kleenex verfrommel in ’n vuis, ineengekrimp in haar hoekie, een kaal voet onder haar op die sitplek ingevou. Oë onderlangs op die pad se wit stippellyne wat deur die kar opgevreet word, landskap wat sydelings en newelig verbyvlieg. Sy draai haar oë na Lou. Hy is haar krag en rots en aan hom is niks wasigs nie, sy sterk hande op die stuurwiel is soos dié van haar pa daardie laaste dag toe hy haar skool toe gevat het.

’n Slag vra hy: “Praat ek te veel, soek jy stilte?”

“Nee,” pleit sy, “práát.”

“Maar jy praat nie saam nie.” Hy sê dit as ’n blote waarneming, sy stem sonder toon van beskuldiging.

“As ek nie saampraat nie, beteken dit nie jy moet ook stilbly nie. Ek hou daarvan om jou stem te hoor, al dink ek aan ander goed.” Want sy stem vul die leegtes en stiltes, keer dat die treurnis alles oorvat. En dit mag nie gebeur nie, hoe natuurlik so ’n proses van verdriet ook al is. Sy ken dit. Die proses, nie soseer die verdriet nie. Wel, die verdriet ook, maar merendeels ánder se verdriet en trane. Want sovele kere al was sy getuie van ander se hartseer, so dikwels moet sý vertroos en praat. As moordspeurder moet sy simpatie hê tydens die invra en uitvra van treurendes, die ondervra en rondvra, en later die afvra en die kruisvra. Sy ken die fases van smart, sy hét Kübler-Ross se On Death and Dying gelees, maar dís bedoel vir sterwende pasiënte en hulle naastes wat saam die dood sien kom en afwag. ’n Onverwagse gewelddadige dood is anders, daarop kan jy jou nie voorberei nie, ’n vlaag ongeordende emosies tref jou soos ’n stamper teen die bors. Tog is kennis van sulke emosies ’n belangrike stuk gereedskap vir haar ambag as speurder, ook vir haar inlewing as mens in ander se verdriet.

Opeens is dit andersom. Netso. Nou ervaar sy sélf al daardie emosies, probeer sy sin maak te midde van die chaos in haar kop en hart.

Gemis. Nie verlies nie.

Gemis is haar eerste en oorwegende gevoel en dis wat die trane en hartseer bring. Sy gaan haar pa mis – sy het hom soveel jare terug al verloor, nou gaan sy hom regtig eers mis. Want ten minste was sy liggaam nog altyd deel van hulle, sy lewende liggaam en alles wat van iemand ’n mens maak – behalwe sy bewussyn; sy gees was al weg, maar nie sy liggaam en die hoop op ’n wonderwerk nie. Nou is dit ook alles van hulle weggevat en bly net die herinneringe oor. Die ander gevoelens sal later kom. Die melancholie en onbegrip en woede, maar sy wil nie dat dit nou inmeng met hierdie gevoel van gemis nie, sy wil die leegheid eers verwerk, eers sy nagedagtenis troetel, haar kinderjare saam met hom herleef.

“Ella?” sê Lou. “Hoor jy wat ek vra?”

Sy hoor nie, sy hoor net sy stem. Sy probeer haar been onder haar uitkry. “My been is dood,” sê sy en moet albei hande gebruik, want die been het geen krag of wil van sy eie nie, lê net daar soos ’n … wel, soos ’n dooie ding. En netnou gaan die speldeprikke begin. Sy kry dit uit. Of is dit uit? Want sy voel nie die kar se vloer onder haar voet nie. Sy strek teen die veiligheidsgordel om af te kyk in die skemer voetspasie in. Ja, tog, die voet is op die vloer. Dis ’n vreemde sensasie om so na jou voet te kyk en te wonder of dit wel jou eie voet is. Mens is tog veronderstel om jou eie voet te voel, nes enige deel van die lyf.

“Hoe voel jou kop, beter?”

“My kop is oukei, dis oor my voet dat ek bekommerd is.” Sy probeer haar tone wikkel. Steeds geen gevoel nie. “Ek kan nie my tone roer nie, Lou.”

“En nou sit jy op die ander een. As dit so aangaan, sal ek jou moet uitdra.”

Sy leun na hom oor en krap met haar vingers deur sy hare. Ligte hare soos hawermout, gespikkel met grys. Dit tref haar opnuut, hierdie liefde vir ’n ouer man wat begin grys word. Sy betrag die plooitjies in die hoek van die oog agter die sonbril, en op sy wang, langs sy oor en mondhoek en aan sy ken en nek. En sy voel gerus, hy is onwankelbaar, by hom is sy veilig. En hy is besorg oor haar hoofpyn en haar dooie voet en probeer ook haar geestelike las deel, maar sy sny hom af, en dis nie reg nie. Sy laat rus haar hand op sy bobeen. “Hoe het jý gevoel?”

Hy loer vlugtig na haar, dan terug pad toe. “Oor wat?”

“Hier begin die spelde nou in my voet. Oor jou ma, toe sy dood is?”

“Ek was tien jaar oud, ek kan haar skaars onthou.”

“Tien is ’n ontvanklike ouderdom, dit moes jou hard getref het.”

“Ek dink nie dit het nie, anders sou ek dit onthou het. Ons was nie juis ’n hegte gesin nie.”

“Nogtans, dis jou ma, dis die persoon wat jou in die wêreld gebring het, jy’t jou lewe aan haar te danke, daar’s altyd ’n spesiale en intieme band.”

“Tussen haar en my broer, ja, nie tussen ons nie. Kleintyd het ek dikwels gedroom ek is aangeneem, dat my ma my iewers langs ’n pad sien loop en vir my pa gesê het: ‘Shame, kyk daai arme kind, hou stil, kom ons vat hom huis toe.’ Soos ’n optelhondjie. En toe die hondjie groter word, is hy nie meer so cute nie. Dis hoe hulle was. Ontferm hulle oor ander goed, omhels eerder bome as hulle eie kinders, vergeet gou al hulle beloftes. Aan ’n kind maak jy nie beloftes wat jy nie kan nakom nie. Met hulle kort geheues en nog korter aandagspan sou hulle mooi ingepas het in hierdie Twitter-tyd.”

“Waar was dit?”

“Jy bedoel haar dood? By De Vlugt in die Keurboomsriviervallei. Sy’s dood in ’n ou Volkswagen Kombi, met die hand geverf in psigedeliese patrone en kleure.”

“Was julle by, jy en jou broer?”

“Nee, net sy en my pa en hulle nomadiese hippiekommune. Ons was op skool, ons ouma het vir ons gesorg, dis sy wat die nuus oorgedra het: ‘Kom sit hier, julle twee … daar’s slegte nuus, julle ma is dood.’”

“Net so?”

“Net so. Eers later gehoor sy’t ge-OD. Oordosis van iets. Dit kon ’n ongeluk gewees het, of nie, wie sal weet?”

“Siestog, Lou … En toe raak jou pa ook weg. Jy en jou arme broer.”

“Hy’t nie weggeraak nie, hy’t weggeloop. Daar’s ’n moerse verskil. Maar dis genoeg van my distopiese familie.”

Die “siestog” bedoel sy opreg, twee sulke onskuldige boeties skielik sonder ouers; onskuldige bloedjies, wil sy amper eers dink, maar dit klink darem té neerbuigend. En die ouers wil sy ook nie veroordeel nie. Van hippies het sy natuurlik gelees en gehoor, daardie blommekinders in die Age of Aquarius, die rondtrekkende vrydenkers, of vrydenkende rondtrekkers, met hulle acid trips en losse seks in die langdurige somer van liefde. Dat Lou die produk is van twee sulkes, is tog nie sy skuld nie.

Die ouerhuis waarin sý grootgeword het, is meer square, en gebou op ’n fondasie, nie ’n chassis met wiele nie. Al voel dit of daardie fondasie ’n groot kraak opgedoen het.

Sy gee sy been ’n drukkie en streel oor die hare op sy voorarm wat ook al wil grys word, voor sy weer haar hande op haar skoot vou. “Ek’s jammer, Lou.”

“Waarvoor?”

“Dat ek jou sadness van destyds insleep om myne te probeer verlig. Daar’s die afdraai.”

Hy sit sy flikkerlig aan. “Wat’s daai B&B se adres? Jy sal pad moet beduie.”

“Ek wil eers my ma sien, ons kan later gaan inboek.”

Solank Forensies by die meenthuis besig is, bly haar ma by Maggie, darem in dieselfde kompleks. Ella haal die ander voet onder haar uit (dié een nog nie dood nie), vee met die verfrommelde snesie oor haar neus en soek in haar sak vir ’n vars een. Sy gaan meer as een nodig hê. Haar ma is ’n sterk vrou, en sy ook, sy het sterk gene geërf. Maar die trane gaan vloei, dit voel sy aan haar keel wat klaar begin toetrek, asof dik aan’t swelle.

Nou is dit net hulle twee, ná nege-en-twintig jaar is hulle driemanskap gesplits. Vir haar ma is dit baie erger. Hoe lank was hulle getroud – twee-en-dertig jaar, drie-en-dertig? Dit kan nie maklik wees om ’n maat, ’n geliefde, ná só baie intieme jare te verloor nie. Sy en Bam was maar ’n paar jaar bymekaar – aan en af – toe sy hóm verloor het. En dit het gevoel of haar wêreld vergaan. Miskien omdat dit haar eerste groot liefde was, en jong liefdes is áltyd groots en intens en broos, nog nie versterk en verskans deur ’n soutsak of twee nie. Boonop is die slag van Bam se dood verswaar deur haar eie skuldgevoelens, en dis ’n kombinasie wat jou gees kan verniel as jy nie hulp kry nie.

Nou is sy gelukkiger – ás mens van geluk kan praat in só ’n situasie. Haar pa se dood is ook skielik, ja. Maar hy was eintlik al lank aan’t sterwe en anders as ander rouendes kon sy háár verdriet oor langer as ’n dekade versprei pleks van om alles plotseling en oorstelpend in een moment te ervaar. Dit maak die skok nie ligter nie, net bietjie draagliker.

Sy het haar pa oor die Kerstyd laas gesien, net agt weke terug, maar dit voel soos ’n eeu. Die Kerskuiertjie van net ’n naweek het darem tot agt dae gerek. Dis ’n skrale troos, want agterna is daar altyd die selfverwyt van ek moes meer gaan kuier het. Maar wie sou só iets verwag? Wie sal ’n komateuse man met geen hoop op herstel nie wil vermoor? Wie’s so siek?

Al die selfverwyt, al die verskonings wat as troos moet dien: min tyd vir haarself, sit met ’n berg dossiere. Sy het darem weer ’n naweekkuiertjie vir later dié maand beplan, of vroeg in Maart, op ’n af naweek wanneer sy ook nie op bystand is nie. Haar ma verstaan die drukte van haar soort werk, sy was tog self met ’n speurder getroud. En haar ma verstaan dat sy ook ’n persoonlike lewe het, dat baie ander dinge geregtig is om aanspraak te maak op haar bietjie vrye tyd. Want daar het weer ’n man in haar lewe verskyn, weliswaar sonder ’n geskal van trompette en gekletter van eierstokke. Amper asof terloops, soos ’n dwaalgees – sy sien hom, maar sy sien hom ook nie eintlik nie. Tot op ’n dag toe sy haar oë uitvee, en daar staan hy in volle fokus, en haar hart is skielik jellie.

Sy beduie die pad met handgebare en kriptiese sinne. Af in Flamboyant. Draai daar. Verby daardie huis. By die stopstraat links. Soetdoring. Ry aan. Nog ’n ent. Katdoring. Dis wat ons soek, jy onthou mos, jy was mos al ’n slag hier. Die groep meenthuise met die rooi teëldakke daar agter die heining en veiligheidshek.

Hoekom sal iemand só iets doen?

Om haar pa se lewegewende masjiene af te skakel was tog húlle besluit, sy en haar ma s’n, niemand anders s’n nie. En hoe lank al wroeg hulle nie oor so ’n finale besluit nie? Hoe verskriklik is dit nie om willens te besluit dat dit tyd is vir iemand om te sterf nie, iemand so hulpeloos, skaars net ’n dop van ’n mens, maar tog steeds ’n lewende wese. En dan, meteens uit die niet, verskyn iemand sonder gewete en greintjie menslikheid en ontneem haar en haar ma van daardie byna heilige reg om langs haar pa te sit en sy hande vas te hou wanneer hulle uiteindelik die besluit geneem het om hom te laat gaan.

Buitendien, hoe de hel het daardie barbaar in die nag by hierdie elektroniese hek ingekom?

Maar wag, al die vrae oor die wie, wat, wanneer en hoekom, dis vir later. Buitendien is dit uit haar hande uit, dis in Polokwane se jurisdiksie. So baie ander dinge wat eers afgehandel moet word. Die outopsie, die amptelike uitkenning van die liggaam, die begrafnis wat gereël moet word – gelukkig is Lou hier, sulke reëlings kan in sy hande gelaat word.

Sy mik met haar afstandbeheerder na die kompleks se hek, lig die sonbril op en dep oor haar oë en neus en bolip, en kam die kuif met vingers van haar voorkop weg. Die belangrikste is nou om sterk te wees, en om vir ’n rukkie alleen te wees met haar ma sodat hulle bietjie op mekaar se skouers kan huil en oor haar pa kan gesels, nie oor sy dood nie, maar oor mooi herinneringe van hulle lewe en liefde as driemanskap.

Lou skakel die kar af en vat haar hand. “Is jy oukei?”

Sy knik, te bang om te praat, die dêm keel het nou heeltemal toegetrek.

Hy knip sy veiligheidsgordel los, leun na haar en soen haar teen die voorkop. “Moenie probeer inhou nie.” Sy voel sy asem in haar hare en skuif haar sonbril op om weer oor haar oë te vee. Sy druk haar kop teen sy sterk bors vas en ruik die reuk van sy hemp en sy warm vel en kan die snikke nie verhelp nie.

Hulle sit ’n ruk so in stilte met sy sterk arm om haar en haar gesig teen sy bors. Dan voel sy beter, sy snuit haar neus, skuif die sonbril oor haar oë af, en sê: “Dankie, ek’s nou oukei.” Sy vee oor die nattigheid aan sy hemp.

“Is dit tranerigheid of snotterigheid?” vra hy.

“Lou!” Sy tik hom met ’n vuis teen die bors en kry ’n gebrekkige glimlag gevorm, ten minste dis soos dit voel, die trekking van haar tranerige nat lippe wat hy nou vlugtig soen voor hulle uitklim.

***

Woensdagoggend dring haar ma aan om saam met Ella en Lou te gaan vir die amptelike uitkenning. “Ek wil hom sien,” sê sy verbete. “Vir oulaas.”

En hy lyk nes Ella hom Kerstyd laas gesien het, niks het verander nie. Dit lyk of hy steeds net slaap. Netso bleek, netso uitgeteer, selfs sy haartjies geborsel wat in elf jaar van ligvaal tot grys verkleur het. Al verskil is die pype is weg. Die wit laken is tot onder sy ken opgetrek om ook die gat in sy keel te verbloem. En geen ventilator wat sy bors laat dein nie.

Hulle staan stilswyend daar na hom en afkyk. Sy voel hoe haar ma haar hand soek, en sy voel die bewing in haar, soos ’n elektriese stroom wat van een hand na die ander herlei word.

As daar ’n troos is, is dit dat haar pa geen skokkende en sigbaar liggaamlike verandering ondergaan het in sy transformasie van lewende tot dooie nie. Hierdie slapende gesig is die beeld wat in al die jare ná die skietery in haar gemoed geëts is; die gesig het nooit verander nie, dis so konstant soos ’n doodsmasker. Van hom as die pratende, laggende pa wat sy as kind geken het, duik soms nog vae beelde op, maar daarvoor moet sy hard gaan soek in daardie skemer hoeke van haar geheue. Tog is dit juis hulle, die nagedagtenis van die amper vergete lewende pa en eggenoot, wat sy en haar ma nou in hierdie dae oproep en vertroetel – in gesteelde stil oomblikke te midde van ’n aanloop van simpatiseerders.

Oor middagete in Maggie se meenthuis lui haar ma se sel. Ná die oproep sê sy: “Dis die ondersoekbeampte, hy wil met my gesels en vra of ek polisiestasie toe kan kom.”

“Ek sal Ma vat,” sê Ella.

Hulle word na ’n leë kantoor gewys. En sit skaars toe hy inkom. Hy is kort en lyk boekerig met sy swartraambril en wakker ogies en stel homself in Engels voor as sersant Caiphus Tjale van Polokwane se Serious and Violent Crime Unit. Sy stel haarself voor as warrant Ella Neser van Brixton se Serious and Violent Crime Unit. En hy bekyk haar vir ’n oomblik asof hy probeer peil of sy hom vir die gek hou.

“Die slagoffer is my pa,” help sy. “Gee jy om as ek bysit? My ma is nie gewoond aan polisieonderhoude nie.”

Hy ontdooi. “Innige meegevoel. Dis eintlik net ’n geselsie, nie ’n onderhoud nie. Jy weet mos, net om die basiese feite te bevestig.” Hy draai na haar ma. “Mevrou, jy was nie Maandagnag tuis met die voorval nie, ek verstaan jy was in die hospitaal.”

“Vir ’n niersteen. Hulle het eers ESWL probeer, gedog hulle sal dit sommer met klankgolwe opbreek.”

“Toe sny hulle?” vra hy, skielik so meelewend dat Ella wonder of hy nie self ook met nierstene sit nie. “Percutaneous nephrolithotomy, is dit nie?”

‘Ja, het jy ook al –”

“Net ’n klein snytjie hier laag in die rug vir die nefroskoop, nè, skaars ’n sentimeter. Praat ons van dieselfde prosedure?”

“Ja, en hulle het dit Maandagmiddag onder algemene narkose gedoen.”

“En dis hoekom hulle jou oornag in die hospitaal gehou het,” sê hy en skryf tydsaam in sy groot notaboek – A4, nie die kleineres wat sy gebruik en sommer in haar skouersak kan inprop nie. Hy kyk op. “En hoe voel jy nou? Ek bedoel oor die prosedure?”

“Goed, glad nie seer nie, dankie.”

“En dis hoekom mevrou Strydom die nag in jou huis kom oorslaap het, om na jou man te kyk terwyl jy in die hospitaal is? Doen sy dit dikwels?”

“Die oorslapery?”

“Ja, dit ook, maar ek bedoel eintlik om by jou man te gaan waak terwyl jy uithuisig is.”

“O, dit was net die tweede of derde keer dat sy moes oorslaap, in al die jare wat ek al hier bly. En hoe lank is dit, Ella? Ses, sewe jaar?”

“En wie het jou in die hospitaal laat weet?”

“Dominee Visser. Hy en Maggie het hospitaal toe gekom … hy en mevrou Strydom. Sy’s ’n traumaverpleegster, dis hoekom ek haar so vertrou.”

“En hoe lank gaan dit al so aan? Ek bedoel hoe lank was die slagoffer … was u man in sy komateuse toestand?”

“In Januarie al elf jaar.”

“En hy was heeltemal hulpeloos, u moes hom met alles help? Elf jaar lank?”

“Ja, maar hy’s my man, ek gee nie om nie, ek doen dit uit liefde.”

“Maar dit kon nie maklik gewees het nie. Uitputtend, die elf jaar, en nie net vir die liggaam nie, veral vir die gees, om jou geliefde so hulpeloos te sien, soos ’n baba amper. En hy moet gereeld omgedraai word, die bedsere is mos die ergste.”

Wat weet hy van bedsere? “Dit was ’n liefdestaak, sersant,” tjip Ella nou die eerste keer in. “In die eerste paar jaar het ek my ma gehelp, ek weet presies wat dit behels. Ons het nie omgegee om dit te doen nie.”

Hy kyk terug na haar ma, en sy kan die implikasie sien: hy praat met haar ma, hy wil hê haar ma moet antwoord. En hy’s reg, dis hoe sy dit ook in háár ondersoeke doen, sy duld ook nie ’n intjippery deur derde partye nie.

“Maar hoekom dan hierheen?” vra hy.

“Ek wou wegkom uit die stad uit. Veral toe Maggie ’n verplasing Bela-Bela toe kry. Sy’s my beste vriendin en as iets gebeur, is dit makliker met haar en die hospitaal hier. En Ella was aan die gang met haar eie dinge … universiteit, polisiekollege, haar eie lewe het begin en dit was nie regverdig teenoor haar nie. Wanneer kan ek my huis terugkry?”

Hy skryf in sy groot boek en sê sonder opkyk: “Vanaand. Hulle het gesê hulle sal so sesuur klaar wees met die prosessering van die toneel. En, mevrou, sal jy dan so gou as moontlik kyk of jy enigiets vermis?”

“Dink jy dis ’n inbreker?” vra Ella.

“In hierdie vroeë stadium ondersoek ons alle moontlikhede. En ’n gunsie, asseblief, warrant, sal jy omgee om mevrou Strydom ook vir my te bring? En jy kan weer bysit, dit pla my nie – vier ore is altyd beter as twee.”

Vier ore?

***

Hy skryf Maggie se volle name en adres en werkplek sorgvuldig in sy boek en sit dan agteroor, skuif die bril op sy gladde neus terug en sê: “Mevrou Strydom, hoeveel keer moes jy al oorslaap om na die oorledene te kyk wanneer mevrou Neser uithuisig was?”

Ella sien hoe Maggie haar voorkop plooi.

“O, ek weet nie, nie baie nie, drie of vier keer.”

Hy skryf.

“Maar sy haat dit,” sê Maggie dan.

Sersant Tjale hou op skryf. “Wat haat sy, dat sy nooit saans kan uitgaan nie?”

“Nee, om van hom weg te wees. Afhangend van my skofte gaan sit ek partykeer bedags ook daar by hom. Net vir so ’n uur of twee om haar kans te gee om bietjie uit te kom – winkels toe, tandarts toe, haar hare te laat doen, so aan, jy weet. Shame, arme ding.”

“En as jy daar by hom sit, wat doen jy?”

“Wat doen ek, jy bedoel bedags? Laat ek dink. Ek luister na RSG, ek lees my tydskrif, partykeer vat ek breiwerk … ek brei vir my dogter se kleintjies. Partykeer praat ek met hom. Ek vertel hom alles wat aangaan, jy weet. Dis wat Doreen ook doen. Is mos so, Ella? Doreen glo hy’t alles gehoor, daarom dat sy elke aand vir hom stories gelees het.”

“Maar ek praat spesifiek van Maandagaand. Wat het jy Maandagaand gedoen – gebrei, TV gekyk?”

“Ek … ek het ’n besoeker gehad.”

Ella kyk op, Maggie strengel en ontstrengel haar vingers. Ella ken sulke tekens, die liggaamstaal wat so baie verklap in ondervragings.

“’n Besoeker?” vra sersant Tjale. “Waar was die besoeker?”

“Daar in Doreen se huis.” En dan aan Ella asof sy skuldig voel. “Ek het vir jou ma gevra of hy daar saam met my kan kuier terwyl ek na jou pa kyk.”

Hy?

“Sy naam?” vra sersant Tjale, pen gereed.

“Paul,” sê Maggie en Ella merk die huiwering in die stem. “Paul Krige.”

“En was sy besoek vir besigheid, en watse besigheid?”

“Dit was persoonlik.”

Die ou weduwee het ’n vryer gekry!

“Het hy oorgeslaap?”

“Uh … hy’t my geselskap gehou. Ek het mac en cheese gemaak en ons het gesels.”

Ella kry al hoe meer respek vir die speursersant. Hy was besig om Maggie mooi in ’n lokval in te lei, gelukkig dat sy besluit het om eerlik te wees oor haar gas.

Sersant Tjale knik. “Ja, ons het borde en goed in die skottelgoedwasser gekry. Hoe laat is hy weg?”

Dit lyk of Maggie nou eers weer hard aan die dink is. “Ek’s regtig nie seker nie, kan so tienuur wees, miskien bietjie later. Jy weet hoe dit gaan as mens eers lekker aan’t gesels raak, jy kyk mos nie na die tyd nie.”

“’n Ou vriend, hier van Bela-Bela?”

“Nee, van Pretoria. En nie oud nie, ek ken hom so drie weke.”

Hoe langer in die tand, hoe langer die overture. Dus seker nog eerder vriend as vryer. Anders sou haar ma haar al vertel het van die nuwe man in Maggie se lewe.

“Julle eet en gesels en drink tee en tienuur is hy weg?” Tjale kyk van sy skrywery op en sê: “In die wasser was ook teekoppies, dis hoekom ek weet julle het tee gedrink. Hoe is hy by die hek uit?”

“Daar’s ’n paaltjie met ’n knop wat jy druk, die hek gaan oop, jy ry uit en dit gaan weer agter jou toe.”

“Het jy seker gemaak die voordeur is gesluit toe hy uit is?”

“Dit kan ek nie onthou nie.”

“Ek vra omdat Misdaadtoneelbestuur en Forensies geen teken van inbraak of gedwonge toegang kry nie. Die aanvaller moes by ’n oop deur ingekom het. Maar hoe sou hy die elektroniese hek oopkry sonder ’n kode of afstandbeheer? Het jy vir jou vriend Paul ’n afstandbeheerder gegee?”

“Nee,” sê Maggie.

“Ek soek sy nommer en adres. En wanneer het jy ontdek dat alles nie pluis was met die oorledene nie?”

“Vroeg Dinsdagoggend. Toe ek wakker word. Doreen … mevrou Neser het die spaarkamer se bed vir my reggemaak. Dis net oorkant die gang van Thys se kamer. En ek’s al veertig jaar ’n verpleegster, ek slaap lig, ek kan hoor as iemand onrustig is.”

“Maar jy’t nie Maandagnag lig geslaap nie, nè? Die aanvaller kom by die huis in, druk jou kamerdeur toe, gaan by die oorledene se kamer in, maak daai deur toe, doen sy ding, en verdwyn ewe stil soos ’n skim in die nag. Was jou deur toe, Dinsdagoggend vroeg toe jy wakker word?”

Sy knik. “Ek kon dit nie verstaan nie. Ook Thys se deur. Ek sou nie een van die deure toegemaak het nie.”

“Jy moes dieper as gewoonlik geslaap het. Gebruik jy iets … ek bedoel medisyne?”

“Net vir my cholesterol.”

“Nie iets om jou te help slaap nie?”

“Nee.”

“Sal jy omgee as Forensies bloed trek om te laat toets en ’n monster neem van jou DNS? Ook jou vingerafdrukke, sodat ons dit kan onderskei van ander afdrukke wat ons op die toneel gekry het?”

***

Ella en Lou trek dieselfde aand van die B&B af in by die einste spaarkamer met die driekwartbed. Die vorige keer toe Lou hier in haar ma se huis was, is vir hom op die bank in die sitkamer bed gemaak. Nie hierdie keer nie, só skynheilig kan sy nie langer wees nie. Met hom nog besig om die tasse in te dra, sê sy vir haar ma: “Ons sal saam in die spaarkamer slaap, Mams.” En wag op ’n teenwoord, of dalk net ’n trek van ’n lip of knip van ’n oog om die onbetaamlikheid van so ’n slaapreëling te kenne te gee.

Maar daar is niks, haar ma sê net: “Is die ou bedjie nie te klein nie, sal Lou nie sleg slaap nie?”

“Dan kan hy langsaan op die vloer slaap,” sê sy.

“Ella!”

“Wat gaan Mams met die huis doen? Dis bietjie groot, so alleen.”

“Nee wat, dis nie te groot nie, wat as daar eendag kleinkinders is?”

Nou is dit sý wat wil sê: Mams! Maar sy swyg, dis nie nou tyd vir sulke onderwerpe nie. Die eintlike rede hoekom haar ma aan die huis klou, is oor haar pa so deel daarvan was. Maar sy los eers die huiskwessie. Haar ma het tyd nodig en die huis is deel van die helingsproses. Oor ses maande sal sy wel anders voel en besef dat ’n kleiner plek goedkoper is en haar beter pas.

“Jy moet my kind mooi oppas,” sê haar ma vir Lou. “Sy’s nou al wat ek het.”

“Moenie jou oor haar bekommer nie, Doreen.” Lou grinnik. “Ek laat haar nie onder my oë uit nie.”

En sy merk haar ma se oë op hom, asof sy hom takseer, besluit of hy te vertrou is met haar dogter. Ongetwyfeld oorweeg sy ook die grys in sy hare. Aan die begin van die verhouding het sy ’n slag haar bedenkinge reguit en hardop geopper: “’n Man wat soveel ouer is as jy, my kind, en boonop geskei, is dit die regte ding? Hoekom nie liewer iemand van jou eie portuur nie?”

“Hy’s ’n goeie man, Mams, en ek’s lief vir hom.”

Maar net nou die dag, in die Kerstyd toe sy hier was en haar pa die laaste keer lewend gesien het, het sy en haar ma wéér ’n terloopse geselsie oor Lou gehad. En Ella vermoed dis teen die agtergrond van dáárdie geselsie dat haar ma hom nou vermaan om haar enigste kind goed op te pas.

Sy moes dit nooit aan haar ma genoem het nie. Maar dit was in ’n oomblik van emosionele swakte en groot werksdruk in ’n moordondersoek. Dis mos hoe sulke goed gebeur. Wanneer jy dit die minste verwag, of die minste in staat is om dit te hanteer, sak alles op jou toe. Of steek nare goed kop uit. Heeltemal onskuldige goed, het dit later geblyk. Maar hoe moes sy weet daardie sexy rooikop is sy gewese vrou, hoe moes sy weet dat daardie eksvrou se teenwoordigheid by sy huis bloot was om raad te kom vra oor haar nuwe huwelik wat by die some begin lostrek het? Hoe moes sy weet dat die eks tereg geredeneer het dat haar eerste man haar beter ken as ’n vreemde huweliksberader?

Dit was te midde van al daardie onsekerhede en agterdog en wantroue en … ja, sê dit maar reguit, jaloesie, dat sy vir ’n week oor die Kerstyd by haar ouers kom rus het. En haar en Lou se effense “misverstand” genoem het.

Waarop haar ma reguit wou weet: Is dit oor sy gewese vrou?

Sy het onmiddellik nuwe respek vir haar ma se insig gekry. Kinders, het sy besluit, moet nóóit die wysheid in die grysheid onderskat nie.

’n Gewese vrou kan ’n nagmerrie word, het haar ma bygevoeg.

Waarop sy net kon sê: Amen!

Teen die einde van die gesprek met al sy Kaapse draaie – ingesluit drome oor tande en babas en selfs Bam – was haar ma se raad:

Sê vir Lou hoe jy voel. En vat dan ’n wegbreekkans. Nie net ’n week nie – gaan weg, gaan oorsee, gaan vir ’n paar weke Lapland toe, of so ’n vreemde plek. Gaan sorteer jou kop én jou hart uit. As jy en Lou vir mekaar bedoel is, sal hy vir jou wag, en hy sal weet jou gevoelens het niks met jaloesie te doen nie, maar alles met openheid.

Sy het die raad oorweeg en besluit haar ma is dalk reg dat sy haar kop moet gaan uitsorteer. Maar sy het dit nog nie met Lou bespreek nie. Sy’s nie seker hoekom nie. Is sy bang hy wag nie vir haar nie? Of is dit oor haar eie onsekerhede? Hulle is al so lank bymekaar, en een van die mooi dae gaan hy haar in ’n hoek druk en sê: My hart se punt, ek lê weer gisteraand en wonder: Waar presies staan ons met hierdie verhouding? Is ons aan’t water trap of wat? Raak dit nie tyd om dit verder te vat nie, die volgende vlak, jy weet?

En dis daardie volgende vlak wat haar die wilde ritteltits wil gee, nie omdat sy nié vir hom lief is nie. Nee, hy’s die regte een, sy soek niemand anders nie. Dis net … dis net … Is sý reg vir so ’n commitment, hier diep in haar en in hierdie stadium van haar lewe?

Sy weet haar ma se vrees is dat haar dogter al amper dertig is en op ’n rak afstuur. En ’n ouer, geskeide man is beter as ’n rak. Maar Lou se ouderdom en huwelikstatus het niks met haar eie gevoelens of bedenkinge te doen nie. Of dat ánder jong vroue van haar ouderdom al met man en kroos sit nie. Sy het ander prioriteite. Sekere mense kan dit selfs selfsugtige prioriteite noem – sy wil Lou hê én sy wil haar vryheid hê. En hoe versoen jy die twee? Miskien sou Salomo geweet het. Aan die ander kant, die ou koning had tog ’n geneigdheid om te verdeel pleks van te versoen. Of verstaan sy dit verkeerd?

***

Met haar ma aan’t dut in haar kamer en Lou weg vir die laaste reëlings vir môre se begrafnis, besluit sy dis tyd om die siekekamer se deur te gaan oopmaak. En selfs nou is sy sku om in te gaan. So half soos mens voel wanneer jy by die vertrek instap waarin ’n terminale pasiënt lê.

Maar die kamer is onbeset en die bed tot die kaal matras afgestroop. Sy betrag die smeersels van taai grys vingerafdrukpoeier aan omtrent elke oppervlak, selfs aan die mure. En die eens lewegewende masjien is nou onheilspellend stil, die skerm, eens vol flikkerende syfers en lyne, donker. Die eensame drupstaander se vloeistofsakke nog halfvol. Op die bedkas die brilhuisie op twee boeke en al die ander goed wat sy van Kerstyd af onthou – waterglas, Kleenex-boks, oor die handdoekreling die handdoeke en waslap.

Duidelik het haar ma ook nog nie die moed gehad om die laaste tekens van haar pa se lewe te kom opruim nie.

Haar oë sweef terug bed toe. Selfs die kussings is sonder slope. Dit gee haar moed, dit lyk of Polokwane se Forensies deeglike werk doen om elke moontlike spoorelement te ondersoek en te ontleed.

Maar dan, terwyl sy so na die matras staan en staar, kom lê ’n vreemde troosteloosheid soos ’n klip in haar maag – hier alleen in haar pa se sterfkamer voel sy skielik soos die enigste oorlewende van die een of ander apokaliptiese verdelging. Dis asof die spiere van haar bene haar nie langer staande kan hou nie. Sy gaan sit op haar ma se stoel. Hier waar sy saans kom sit het om vir haar pa te lees. En daar, half onder die bed ingeskop deur al die voete van die speurders en die manne van Misdaadtoneelbestuur, Forensies en Patologiese Dienste wat die liggaam kom verwyder het, lê haar ma se nuwe pantoffels. Dit was ’n Kersgeskenk. Ella het die pantoffels gaan koop en toegedraai en op die plakker geskryf: Aan my liewe Vrou. Van jou Man.

Sy kyk op, terug na die bedkas. En daar’s die twee boeke. Een van hulle is ook ’n Kersgeskenk, van haar ma aan haar pa; sy’t mos geglo hy hoor, en geniet, die Dana Snyman-stories wat sy saans hier vir hom sit en voorlees het.

Maar waar’s die Bybel? Het haar ma dit kom haal?

Sy sit lank so op die leesstoel. Sy probeer haar inleef in wat Maandagnag presies hier gebeur het. Dit het groot wilskrag gekos, maar sy het dit reggekry om weg te bly, nie te kom pla of inmeng terwyl die ondersoekers hier besig was nie. Maar nou is dit of haar speurinstinkte wil-wil inskop.

Ook by die begrafnis, veral by die teraardebestelling, betrap sy haarself telkens dat sy opkyk om die roubeklaers van agter haar sonbril te bestudeer. Dis ’n aangeleerde ding. Gewoonlik doen sy dit van die periferie wanneer ánder naasbestaandes hulle geliefde begrawe. Want dis nie ongewoon dat ’n aanvaller die begrafnis van sy slagoffer bywoon nie. Die verskynsel kan kriminoloë en psigoloë nog moeilik verklaar, want oortreders wat al so betrap is, kan self nie sinvolle redes gee waarom hulle hul slagoffers se begrafnisse wou bywoon nie.

Haar pa se begrafnis is nie groot nie en die rouendes meestal van middeljarig tot bejaard, meestal vriende en kennisse van haar ma, want op Bela-Bela het niemand hom as lewende mens geken nie – soos hy slapend hier aangekom het, gaan hy vandag dieper slapend in sy graf in.

Sy staan tussen haar ma en Lou, met Silas en Mara aan haar ma se ander kant, toe die kis onder die laaste treurige sang in die graf begin afsak. Sy vat ’n hand vol roosblare uit die mandjie wat rondgehou word, gee ’n tree vorentoe op die groen plastiekgras van die grafmat en laat val die blare saam met die preweling van ’n groet en ’n belofte agter haar pa aan na sy finale rusplek:

Ek gaan jou mis, Paps, maar ek gaan hom kry, hy sal nie wegkom nie …

Koms van die motman

Подняться наверх