Читать книгу Koms van die motman - Chris Karsten - Страница 5

DIE UITSPRAAK

Оглавление

Vrydag 27 Oktober 2006

Toe sy uitkom, staan Silas klaar daar op die skool se stoep vir haar en wag, en die lug is grys betrokke en die son wasig asof agter geslypte glas.

“Hoe was dit?” vra hy op pad kar toe.

Ella haal ’n skouer op. “Dit was oukei. Het hulle al begin?”

“Jy sal niks mis nie. So ’n uitspraak is ’n langdradige besigheid, dit kan baie vervelig wees.”

Eintlik moes haar pa self ook daar gewees het. Dis net reg dat hy by is, op hierdie dag wanneer oor sy skieter se lot beslis word. Maar hy kan nie, hy lê al tien maande in sy eie donker heelal, en sy kanse lyk al hoe slegter. Haar ma glo hy sal regkom, sy sê dis moontlik, want mens hoor elke dag van iemand wat bykom. Maar die dokters klink nie so seker nie.

“Wat’s jou planne?” vra Silas in die ry.

Hy’s die praterige soort, stiltes pla hom. Nie vir haar nie, veral nie vanoggend nie, vanoggend het sy baie om oor te dink; haar kop is vol fisika en skieters. “Die dag ná my laaste vraestel begin ek al werk … waiter.” Dis klaar op haar kalender afgemerk: 29 November, op haar verjaardag!

“Waiter? Jy bedoel seker kelner.”

Ag, tog. “Ja, by die Dros. Kampusplein.” Hy’s tog so vol fiemies as jy jou taal mix.

“Ek wag nog vir jou aansoek, ek het mos gesê ek sal ’n aanbeveling saamstuur Pretoria toe.”

“Ek gaan eers swot. Dis wat ek besluit het.”

“En jy dink kelnerwerk sal vir universiteit betaal? Saans in die Dros en soggens in die klas … Wil jy nie meer polisie toe kom nie?”

Sy hoor die verwyt in sy stem, asof sy haar pa verraai, noudat hy so hulpeloos en stemloos daar in sy diep slaap lê. “Ek wíl. Dis al wat ek wil doen, maar eers as ek klaar studeer het.”

Dis wat haar ma ook gesê het. Die dag met jou geboorte het jou pa die eerste paar rand in jou neseier gesit, en dit elke maand aangevul. Daar’s genoeg, gaan leer eers, gaan geniet dit om student te wees, vir grootmensgoed is daar baie tyd, dis al wat jy gaan doen vir die res van jou lewe, om groot te word.

“Jy moet vasbyt, Ella,” sê hy, en sy vra nie waarvoor sy moet vasbyt nie – dalk oor die matriekeksamen, maar sy dink hy bedoel oor haar pa se toestand.

Haar ma gryp na halms. Sy weet nie waar haar ma van sulke pasiënte hoor wat uit lang komas bykom nie. Miskien ná ’n paar weke, beslis nie ná só lank nie. Sy liggaam is klaar vermaer, sy spiere uitgeteer, sy wange ingevalle. Maar die groot fout lê daar in sy brein waar jy nie kan inkyk nie. Van sy brein sien jy net golwe op die EEG se skerm, en daarvan verstaan sy niks, net dat hy breinskade het. En wat elke dag haar oë bly lok, is die merk bokant sy oog. Dis wat die skade veroorsaak het. Daardie koeël wat daar bly sit. Die dokter sê hy weet nie of dit geluk by die ongeluk is nie. As dit ’n groter kaliber was, was hy dood. Nou leef hy darem nog, al is dit in ’n bestaan waartoe niemand anders toegang het nie. Hulle het oorweeg om dit uit te haal, toe daarteen besluit. Die risiko was glo té groot.

Die risiko vir wat? Dat sy toestand verder kan versleg? Hoe kan hy verder versleg as die verslegting waarin hy reeds is? Hoeveel stappe van verslegting is daar met sy laagste moontlike telling van drie op die Glasgow Coma Scale: GCS 3 = E1 vir eye response + V1 vir verbal response + M1 vir motor response.

Diagnosis: persistent vegetative state.

Prognosis: poor.

Deur die verkeer merk sy hoe die wasige son nou heeltemal agter die wolke verdwyn het. “Is my ma al daar?”

“Sy hou vir jou plek.”

Asof sy laat is vir ’n konsert. Sy is laat omdat sy van nege tot elf in die eksamenlokaal was. Die hofsaak kan nie op ’n slegter tyd wees nie: in die middel van die eksamen. Vanoggend moes sy die fisikavraestel skryf met die stres van afwagting en onsekerheid. Maandag met die chemie sal dit darem bietjie beter wees – sy sal by die lokaal instap met berusting, wat ook al vandag in die hof gebeur.

“Hoe voel jy?” vra hy.

“Ek’s oukei.” Sy voel nie oukei nie, sy is styf soos ’n snaar oor die fisika en oor wat in die hof wag. “Wie’s by my pa?”

“Maggie.”

Natuurlik. Goeie tant Maggie. Goeie ou babasitter wanneer sy en haar ma albei uit die huis moet wees. Wat min gebeur, maar tog. Soos vandag.

“Is jy dors? Daar’s ’n kafee, ek kan gou stilhou.”

“Nee, ek het nog water.”

“Hy sal nie loskom nie.”

“Ek weet.” Dis wat almal sê: hy sal nie loskom nie. Asof dit ’n troos is.

Hy. Niemand noem sy naam nie. Hy. Die skieter.

Sy het hom nog nooit gesien nie. Sy wou hom nie sien nie. Haar ma wou, maar op die ou end het sy net die eerste dag van die verhoor bygewoon, net om te sien hoe lyk die man wat haar pa geskiet het, en dit was genoeg, het sy gesê.

’n Bordjie langs die straat: Reserved: Police Vehicles Only. Hy glip by die gaping in. Agter die tralieheining langs die sypaadjie rys die massiewe klipstruktuur van die Johannesburgse landdroshofgebou. Hulle stap na die ingang met die klipbeeld van ’n vrou, maklik drie meter hoog: Justitia, Lady Justice, vrou van geregtigheid. Bo pak die wolke digter en donkerder saam en kom lê laag en dreigend oor die stad.

Die groot binnehof is maklik honderd meter en langer, met marmerpilare en terrazzovloer en stil wagtendes op lang houtbanke. In die gang waarin hy haar lei, maak die terrazzo plek vir uitgetrapte linoleum.

Court B – Silence. Voor die deur gaan hy staan en lê sy hand – groot soos ’n pannekoekpan – sag op haar voorarm. “Jou ma sit links heel voor, jy sal haar sien.”

“Moet ek alleen ingaan?” Sy druk hare van haar wang weg, voel-voel aan haar poniestert.

“My plek is by die aanklaer, jy sal my sien. Niks om voor bang te wees nie, gee net ’n effense buiging met jou kop as jy hier ingaan, en gaan sit, dis al.” Hy maak die deur vir haar oop, sy hand nou aan haar elmboog. “Haal diep asem,” fluister hy.

Sy stap in, gee die buiginkie en toe sy opkyk, is die landdros se gefronste blik op haar, asof vies oor die versteuring. Gaan dan voort met die eentonige voordrag wat effens eggo in die stilte van die hofsaal. Ook uit die banke van die openbare galery draai gesigte na haar, en van die swartgeklede figure voor by tafels vol papiere en dik regsboeke, afgeskort tussen die publiek en die regbank.

Dit voel of ’n leërskare van nuuskierige oë haar volg:

A, die slagoffer se dogter!

So, dís hoe sy lyk!

Regte ou valetjie!

Kyk, net knieknoppe en elmboë!

Arme kind!

By die voorste ry huiwer sy, wag dat knieë skuins gedraai word sodat sy kan verbyskuur, verby die voete en die lywe met hulle bedompige geure van sweet en antisweet. Dit laat haar dink aan kerkbanke. Haar ma glimlag vir haar en vat haar hand toe sy haar sit kry. Sy laat haar asem sag uit.

Die geritsel bedaar en die stilte sak opnuut neer, behalwe vir die landdros se eenselwige, afgemete stem en ’n geskuifel hier en ’n gekug daar.

Nou beskou sy die uitsig … die vista. Sy hou van vista, dit impliseer ’n wyer uitsig.

Die landdros, in ’n swart toga met rooi lapelle, hoog en vernaam op haar houttroon.

Voor links gaan ’n deur oop en Silas kom met ’n kort buiging in en gaan sit op ’n stoel langs ’n ander vername man, ook getoga. Net jonger en aantrekliker. Is dit die aanklaer van wie hy gepraat het? Moet wees. Dié sit agteroor en luister, arms gevou, voor hom ’n podium met lêers en boeke.

Regs by ’n tafel sit twee ouer mans en ’n jonger een. Hulle het nie togas aan nie, maar is somber gekleed soos begrafnisgangers. Dit moet die span vir die verdediging wees, die verdedigers van die skieter. Hulle lyk vol wysheid, veral die twee ouer mans met hulle grys hare. Drie teen een. Dit klink onregverdig. Veral teen so ’n jong aanklaer. Watse kanse het hy om die skieter te laat boet?

Oplaas beskou sy die skieter, so half skuins voor haar, in die lang beskuldigdebank net agter sy verdedigers, pateties ingebondel, maer skouers geboë, ken rustend op ’n handpalm, bril stip op die landdros asof hy elke woord inneem soos ’n spons.

Sy is teleurgesteld. Sy weet nie eintlik hoekom nie, en sy weet ook nie wat of wie sy eintlik verwag het nie – ’n rowwe jafel met tatoes?

Sy verskuif. Die bank is hard. Sy het nie juis wat haar ma noem boudspekkies nie. Maar dan, ná wat soos ure voel, is daar ineens ’n verandering in die landdros se stemtoon, ’n nuwe dringendheid. Dit is asof ’n teken. Voor by hulle tafels kyk almal skielik op, trek slap skouers terug, sit meer regop, gee meer aandag. Ook weerskante en agter haar in die openbare banke trek ’n ritseling soos die nuuskieriges uit hulle loomheid ontwaak.

Langs haar fluister haar ma: “Hier kom dit nou,” en sy voel hoe haar ma se hand weer na hare soek.

Die landdros spreek die skieter nou direk aan: “Mr. Wilky, please stand up.”

Ella sien hoe hy sy liggaam uit sy inbondeling ontknoop en orent sukkel. Haar oë bly op hom terwyl sy inneem:

“Regarding the totality of the evidence submitted in this matter, the decision of this court is the following: Count one, read with the provisions of Section 51 of the Criminal Law Amendment Act number 105 of 1997, the accused is found guilty of attempted murder. Count two, read with the provisions of Section 18 of the Riotous Assemblies Act number 17 of 1956 as amended, the accused is found guilty of conspiracy to murder. Count three, read with the provisions of Section 120 of the Firearms Control Act number 60 of 2000, the accused is found guilty of the unlawful possession of a firearm. Count four, read with the provisions of Section 120 of the Firearms Control Act number 60 of 2000, the accused is found guilty of the unlawful possession of ammunition.”

Sy voel die drukking aan haar hand en sy hoor hoe haar ma sag snak en dan haar hand los om in haar handsak na ’n tissue te soek. Maar Ella se oë wyk nie van die skieter nie en sy sien hoe sy kop vir ’n oomblik hang. Dis reg, voel skuldig, helsem, dis jou verdiende loon! Eintlik moet jy kom kyk wat jy aan my pa gedoen het. Jy sal –

Dan draai hy meteens sy gesig na haar, asof hy die hele tyd bewus was van haar blik op hom, asof hy haar telepaties met hom kon hoor praat.

Hulle oë bots.

Maar nou, noudat sy hom reguit in die gesig kyk, lyk hy so normaal: skoongeskeer, maerderig, ouerig, effe outyds in sy tweedbaadjie en paisleydas, goueraambril met die ronde lense, vaal haartjies steil agteroor geborsel. Hy lyk nie soos ’n Mad Max of Rambo of Terminator, of selfs ’n malletjie soos Hannibal Lecter nie. Hy lyk onskadelik, soos ’n ouer weergawe van meneer Snyders van fisika.

Met sy leë gesig.

Maar dan vertrek sy dun lippe, amper soos in ’n gryns, of soos iemand wat skielik ’n kort, intense steekpyn ervaar. Hy draai sy gesig weg en kyk weer voor hom.

Hoe het hy geweet waar sy sit? Hoe weet hy wie sy is?

Koms van die motman

Подняться наверх