Читать книгу Koms van die motman - Chris Karsten - Страница 11
INTERLUDE: Ek pis op jou
ОглавлениеDie jaar is 1886 en die Boere noem hierdie boomlose stuk Transvaalse plato van grasveld, kalkkliprante en sterk spruite al jare “die rif van wit waters”. Hier op die plaas Langlaagte ontdek ’n uitlandse prospekteerder in Julie die dagsoom van die fabelagtige goudkonglomeraat. En aangelok soos deur ’n teef op hitte kom hulle aangestorm uit alle hoeke van die wêreld om elkeen ’n ons en meer te kom eis van die geel rykdom in en onder hierdie troostelose klippe.
Mzuzephi, negentien jaar oud en nou ’n trekarbeider uit Zoeloeland, werk ver hiervandaan as tuinier en staljong by baas Tom op Harrismith.
Maar:
Voor die eerste maand van hierdie werk raak een van baas Tom se perde weg. Ek dog ek doen goed en gaan vertel hom van die dier wat aan’t rondloop is. Maar hy wyt my dat ek nie agter die perd gekyk het nie en sê ek dra die las van sy merrie wat weg is.
Ek sê vir hom: Hoe dan só, baas? Ek het mos daar in die tuin geskoffel waar jy my aangesit het. Hoe kan ek gelaak word vir wat gebeur het? Al die perde was alleen uit om te gaan wei en net die een is weg. Moes ek skoffel of moes ek agter die perde gaan kyk?
Ai, die baas Tom, hy ken nie rede nie en hy raas en hy sê hy gaan my in die tronk laat smyt as ek nie sonder verlet die vermiste perd gaan soek nie. Ek gaan soek en soek en soek, maar kry nie die bliksemse merrie nie en vat te syner tyd die tyding vir baas Tom.
Hy ruk hom op en ja my weg: Skoert, jou nikswerd! Maak dat jy wegkom, trap terug na jou kraal daar op baas Porter se plaas in Zoeloeland. Gaan werk daar by hom, en vir die prys van my perd wat weg is, sal baas Porter jou loon agterhou en vir my gee.
Ek wil weet: En wat, baas Tom, is dan die prys van die merrie wat jy soek?
Hy sê: Die prys wat ek soek, staan gelyk aan twee jaar se loon by baas Porter.
Terug by die kraal vra ek my oudste broer of hy dink dis regskape in die oog van God en wet dat ek moet werk en afsien van my loon vir ’n perd wat ek nie verloor het nie.
Hy sê: Die wette van God en witman kan ek nie uitlê nie. Al advies wat ek vir jou het: Werk, my broer! Anders smyt hulle jou in die tronk en in die tronk wil ek jou nie sien nie.
Ek sê vir hom: Nee! Ek kan nie werk vir dit wat ek nie verloor het nie.
Mzuzephi is kwaad. Hy word ontneem van die kans en die geld om lobola vir ’n vrou te begin versamel, soos wat al die ander hubare jong manne van sy kraal en van die hele Mgodanyuka-hartland al doen.
Hy is bitter en gegrief. Hy kom uit ’n gelowige huis, hy ken die Bybel en bewandel die smal weg wat sy ouers hom geleer het, maar nogtans dreig ’n wit baas hom met die tronk. Dis ’n onreg dat hy moet betaal vir iets wat nie sy skuld is nie, ’n verloopte perd. Hy is veral ontnugter deur die valsheid van die baas se blaam en sy eie onmag daarteen.
Maar hoe kom hy uit hierdie greep wat hom so magteloos wurg?
Later die jaar, toe 1886 end toe staan, stuur baas Porter hom en ’n ander werker met ’n muilwa vol plaasgoed – witmielies en geelmielies, koeibone en suikerbone – na die nuwe kampongs wat in Witwatersrandse mynkampe opspring vir die goudgrawers.
Toe hulle daar aankom, merk Mzuzephi op: Dis waar die geld is, hiér, nie op ’n bergplaas in Zoeloeland waar ek verniet moet werk vir ’n perd nie.
Hy dros.
In Jeppestown vat ’n wit gesin hom in as houseboy. Maar hy behou kontak met sy familie en elke keer as baas Porter se negosiewa uit Zoeloeland aankom, stuur hy ’n geldjie terug kraal toe.
Saam met die groente bring die wa ook boodskappe. Sy pa, Numisimani, pleit. Sy ma, Nompopo, pleit. Sy broers en susters, sy hele familie pleit.
Ons lot is in die hande en welbehae van baas Porter op wie se plaas ons kraal staan. Baas Tom van Harrismith druk baas Porter oor uitstaande perdskuld, baas Porter druk ons. Doen die gemanierde ding, Mzuzephi – kom terug, kom dop jou boontjie uit sodat die wolk oor ons koppe kan weggaan.
Boonop: Mzuzephi verlang met ’n seer hart huis toe, na sy mense, sy kraal, sy bergwêreld.
Hy swig, en met een van sy broers stuur hy ook ’n boodskap terug vir baas Tom op Harrismith. Hy bied baas Tom drie pond aan as volle en finale aflos van skuld vir die verdomde perd waarvoor hy blaamloos is.
’n Paar weke later kom sy broer op die wa terug met baas Tom se nuwe instruksie vir Mzuzephi: Bring sélf die drie pond, jou nikswerd. Kom bieg jou skuld, kom smeek my vergifnis af, kom gee die geld persoonlik in my hand.
Mzuzephi wip sy gat: Ngilalele, wena nyoka – jou moer! Ek pis op jou en op jou nuwe order, voor ’n wit baas buig ek nie weer my knie nie!
En hy besef sy wit vervolgers sal hom en sy mense nooit los solank hy ’n band hou met sy familie nie.
Hy sny die bande, hy verander sy naam, sy woonplek, sy werkplek sodat niemand hom ooit weer sal kry nie.