Читать книгу Stoffel: die beste stories - Christiaan Bakkes - Страница 10
Oomblik van waarheid
ОглавлениеBaie dinge flits deur jou gedagtes voor jy ’n man skiet. Daardie sekonde voordat jy die sneller trek. Hy is in die gaatjievisier van die LM4, sy geweer op jou gerig. Jy weet jy het die voordeel. Jou brein is glashelder. Jy korrel sekuur. Meer as alles weet jy dis jou reg.
Vier maande al ontwyk hulle ons. Ons kom altyd te laat op die toneel, die spoor reeds koud. By my en Harvey word dit ’n obsessie om die ivoorstropers vas te trek. As daar tekens van hulle in sy sektor is, radio hy my. As ek hulle spore noord van die witpad kry, radio ek hom. Dan ontplooi ons die Boesmanspoorsnyers in ’n gesamentlike operasie.
Dis laatoggend toe ons die spoor kry: ek, Harvey, Kakweche, Yaya en Frans Dwandamo. Frans hurk oor die spoor. Tydsaam bespreek hulle dit.
Ek en Harvey wag. Die winterveld is stil en warm. Ons het ver geloop tot hier; swart stof kleef aan die sweet op ons bene. Woordeloos staar ons na mekaar terwyl die Boesmans gedemp praat.
’n Tsetsevlieg kom sit op Harvey se nek. Hy ignoreer dit. Ek sien hoe die vlieg se monddele in Harvey se nek insaag. Hy wag. Eers toe die angel bloed raakboor, bring hy sy hand op. Stadig. Dis nou moeilik vir die tsetse om te onttrek. Harvey vat hom tussen sy duim en voorvinger vas en pluk hom van sy nek af.
Ek hoor hoe die vlieg wriemel, kraak en bars soos Harvey hom tussen sy vingers vermorsel. Hy skiet hom weg soos ’n sigaretstompie. Die blare gooi flikkerende skadu’s oor die sanderige woudvloer.
Frans kom orent. Hy skouer sy geweer en stap na ons toe. Sy gesig toon geen emosie nie. “Twee weke,” is al wat hy sê.
Ek en Harvey kyk na mekaar. Ons weet albei: hierdie spoor gaan ons nie los nie.
Ons kry die eerste olifantkarkas teen laatmiddag. Eers kry ons die aasvoëls; ons sien hulle bo ons kring. Daarna sien ons hulle sit in droë bome versprei oor ’n wye area. Nog voor ons die karkas bereik, hoor ons die vlerkslag van honderde soos hulle swaar en versadig opvlieg. Die stank is oorweldigend.
Dit word die patroon in die dae wat volg. Die Boesmans, meesters in die kuns, hou die spoor. Die aasvoëls dui vir ons die doodsakker aan. Al die karkasse is in ’n gevorderde stadium van ontbinding.
Snags slaap ons op die spoor, geweer in die arms. Geen vuur nie, koue kos uit die ratpacks. Teen voordag is ons op. Ons stap deur die hitte van die dag, deur die stilte van die veld. Daar is geen teken van lewe nie. Dis asof alles skuil, want hulle weet. Die eindelose winterveld is vaal. Dan sien ons weer aasvoëls in die verte voor ons.
Ek en Harvey is vuil. Dit wys meer op ons as op die Boesmans. Die grys sand van die omurambas maak ’n swart laag op jou vel as die sweet uitdroog. Ons PT-broeke is taai in ons lieste.
Dis die vierde dag. Vyf karkasse lê agter ons. Die kos in die ratpacks is op. Daar is nog water in die panne van die omurambas, maar dit raak droër boontoe.
Die Boesmans raak moeg. Hulle het ’n hoër metabolisme en het kragkos nodig. Die vleis aan die karkasse is selfs vir hulle te verrot om te eet. Hulle begin die spoor verloor. Ek en Harvey weet dis met opset. Ons sal moet plan maak.
Ons het ’n reëling met die basis: ons hou nie radiokontak nie, maar teen eerste lig elke dag ry Spekkies of Steve met die witpad langs. In ’n noodgeval sal ons ’n Boesman pad toe stuur.
Ons besluit om die Boesmans met ’n vars seksie te vervang. Steve-hulle moet ratpacks en water bring. Hulle moet die voertuig met water en kos by ’n RV langs die pad versteek en daar wag. Die vars Boesmanseksie moet op die ou Boesmanseksie se spore terugloop en vir my en Harvey in die bos ontmoet.
Die oorgang neem ’n dag. Ek en Harvey rig ’n tydelike basis in en wag. Ons lê plat in die sand onder ’n rosyntjiebos en spaar energie. Ons wag op die plek waar die Boesmans laas die spoor verloor het – óns kan dit lankal nie meer eien nie.
Die vars span bereik ons teen laatmiddag. Dis Benson Kupinga, Bert Mirinda, Maranda Duwonga en Thomas Dwasha. Goeie ouens.
Ons wys vir hulle waar die ander die spoor verloor het. Benson Kupinga tel dit binne oomblikke op. Ons gebruik die laaste daglig om verlore tyd in te haal.
Vroeg die volgende dag kry ons nog ’n karkas. Dieselfde storie: die aasvoëls, die stank, die verminkte skedel.
Teen middag sien ons aasvoëls ver na die noordweste. Die spoor lei weg daarvan. Ek en Maranda Duwonga laat vir Harvey en die ander op die spoor. Ons loop in die rigting van die aasvoëls.
Die olifant kon onder die koeëls van sy aanvallers uit vlug. Later het bloedverlies hom inmekaar laat sak. Dit neem etlike dae van ontbinding voor die aasvoëls deur sy vel kan pik. ’n Paar het al aan die dun vel van die lieste en anus begin. Dis gewoonlik die swartaasvoëls wat eerste deurbreek. Daarna kom die witrugaasvoëls in hulle swerms. Die meeste sit geduldig in die bome en wag.
Die olifant is soos ’n ballon opgeswel, sy bene grotesk in die lug. Wolke brommers en vlieë styg op met ons aankoms. Dit moes ’n mooi bul gewees het; sy ivoor is dik en geel. Vroeër in sy lewe het hy albei tande afgebreek. Dit het goed uitgegroei om stewige, dik tande te vorm.
Ons laat hom agter om by die ander aan te sluit; ons sal later sy ivoor kom haal. Maranda tel Harvey-hulle se spoor op, twee omurambas ondertoe.
Ons rendezvous teen sononder. Hulle is by nog twee karkasse verby. Dié olifante het nie weggekom nie; die ivoor is ru uit die tandkasse gekap.
Die volgende dag verloor ons die spoor. Hierdie keer is dit regtig: die spoor het net verdwyn. Die Boesmans is vars. Hulle fynkam die gebied. Ek en Harvey verloor spoed.
Die volgende twee dae dwaal ons in kringe deur die bos. Die soektog lewer niks op nie. Ek en Harvey is totaal uitgeput. Die Boesmans verloor belangstelling. Daar is geen kans om weer die spoor op te tel nie. Ons sal moet hergroepeer.
In ’n omuramba kry ons ’n reeks panne met water in. Ek en Harvey maak ’n tydelike basis in ’n ruigte. Ons stuur die Boesmans pad toe. Ons was ons lywe in ’n pan. Dit laat ons beter voel.
In die skadu van ’n Zambezi-kiaat maak ons lêplek. Daarvandaan het ons ’n uitsig oor die panne. Ons probeer slaap, maar kan nie. Daar word nie veel gepraat nie. Albei van ons weet ons is besig met iets groters as onsself. Dit gee ons moed. Al wat ons nou kan doen, is wag. Hierdie ding moet reg gedoen word.
Twee dae later sluit Frans Dwandamo, Kakweche en Yaya weer by ons aan. Hulle het ratpacks gebring. Ons is uitgerus en gereed om aan te gaan. Maar waar begin ons?
Hoe ons op ’n rigting besluit het, kan ek nie onthou nie. Ons begin loop teen eerste lig. Teen namiddag sny ons spoor. ’n Duidelike spoor. Vyf mense, sê Frans Dwandamo. Teen laaste lig halt ons vir die nag.
Ons kry die volgende karkas teen agtermiddag die volgende dag. Die swaar vlerkslag van aasvoëls kondig ons aankoms aan. Iets is egter anders. Ek en Harvey kom dit nie dadelik agter nie. Eers toe ons die Boesmans diep in gesprek sien, besef ons hier gaan iets aan. Stil staan ons eenkant en wag. Die Boesmans bestudeer die karkas en lewer kommentaar in hulle antieke klapklanktaal.
Frans Dwandamo is die oudste en die geelste. Salpeterkroese slaan al plek-plek op sy kop uit. As jongman was hy een van kolonel Cardozo se fletchas. Cardozo was ’n Portugese valskermsoldaat wat Barakwena-Boesmans effektief teen insurgente gebruik het tydens die Angolese vryheidstryd. Toe die Suid-Afrikaanse Weermag Angola in 1975 binneval, was Frans tydens Operasie Savannah in die Alfa-groep.
Hy lewer die uitspraak namens die groep. Dis vir hom moeilik om te verstaan dat ons nie die tekens kan raaksien nie. Hy kyk ons nooit in die oë nie. Hy praat bondig: “Die jagters is moeg. Hulle het vleis gevat. Hulle het die rug oopgesny.”
Hy wag terwyl ek en Harvey die oopgevlekte rug bestudeer. Ja, hierdie is nie littekens van ’n hiëna of leeu nie, dis snye wat met ’n mes of byl gemaak is. Hompe rugvleis is slordig uitgesaag.
“Dis hoekom die aasvoëls hier is,” gaan Frans voort. “Die jagters het die vleis vir hulle oopgemaak.” Hy wag ’n oomblik voor hy die finale uitspraak gee: “Hierdie olifant is gister geskiet, kort ná ons die spoor gekry het.”
Daardie nag slaap ons vir die laaste keer op die spoor.
Die son is die volgende môre pas oor die boomtoppe toe ons by hulle lêplek instap.
Sedert ons die karkas gekry het, stap ons met ons gewere in die arms. Gespan en gereed, die veiligheidsknip op rapid fire. Ek en Harvey vee die bosse met ons oë. Kort-kort kyk ons na mekaar. Harvey se heldergroen oë blink in sy vuil gesig.
Ons voel die afwagting; ons weet dit kan enige oomblik gebeur. Dit kon so maklik anders verloop het. Ons waaksaamheid ten spyt kon ons in ’n hinderlaag ingeloop het. Nou het die jagter die prooi geword.
Ons ondersoek hulle skuilplek. Repe olifantvleis hang aan die lae takke van ’n Zambezi-kiaat. Handgemaakte kapbyle en slagmesse is in die mikke gebêre. Komberse en beddegoed is hoër op versteek. Aan die voet van die stam, in die onderbos, is vyf grasbeddens om ’n kampvuurtjie. Die kole gloei nog. Eenkant staan ’n swartgebrande pot.
Ons kry die plek waar hulle spore uit die kamp lei. Dis nie ’n halfuur oud nie.
Ons val terug en gaan lê hinderlaag. Ons hou die wildspaadjies wat kamp toe lei oop. Vanuit my posisie onder ’n rosyntjiebos kan ek net-net vir Harvey regs van my sien. Oorkant my, aan die linkerkant, lê Yaya. Kakweche en Frans Dwandamo lê buite sig anderkant Harvey. Ons is reg vir hulle.
Ek weet dit gaan ’n lang dag wees. Dit gee my tyd om te dink.
Toe ek ses maande gelede niksvermoedend in die Wes-Caprivi aangekom het, kon ek nie raai in watter vreemde, donker wêreld ek gedompel sou word nie. In vele opsigte was hierdie my eerste kennismaking met die ware Afrika. Die Afrika waarvan ek in Joseph Conrad se boek gelees het.
Aanvanklik kon ek nie glo hoe gelukkig ek is nie. Die bootpatrollies op die geheimsinnige Kavangorivier met sy eilande, systrome en papirusbeddings. Die opwindende ontmoetings met seekoeie. My eerste blik op ’n sitatunga. Die voetpatrollies saam met die Boesmans, hoe hulle my leer van spoorsny en veldkos. My vriendskap met Harvey Logan.
Ek het egter gou agtergekom dat hierdie ongerepte wêreld eintlik ’n slagveld is. Soos ek die veld beter leer ken het, het ek al hoe meer beendere teëgekom. Ou skelette van swartrenosters en nuweres van olifante.
Ek en Harvey was vasbeslote om die wildstroopprobleem ons s’n te maak, betrokke te raak, iets daaromtrent te doen. Dis ’n epidemie. Afrika se wildernisgebiede word van grootwild gestroop: Zimbabwe, Zambië, Mosambiek. Om nie eens van Angola te praat nie.
Dis oorlog; dis lewe of dood. Ek, Harvey en die Boesmans is krygers in die stryd. Iewers in die bosse nie ver van hier nie beweeg die vyand. Hulle moet terugkom, een of ander tyd. Ek is reg vir hulle.
Ons het afgespreek om laag te lê tot ná donker. Sodra die stropers regmaak vir die nag, sal ons nader sluip en hulle oorrompel. Fok dit, besluit ek op my eie. Vanaand kak hulle.
Die son skuif langsaam oor die hemel. Ons lê doodstil, gewere gereed. Deur die takke en droë stompe kan ek die kamp goed sien. Ek draai my kop en kyk na Harvey. Weer sien ek sy helder oë. Sy grynslag glim in my rigting. Ek vermoed sy plan is dieselfde as myne.
Ek lê só stil dat ’n koningsblou sysie ’n paar sentimeter van my af kom sit. Hy wip van takkie tot takkie en kyk my vraend aan met sy kraalogies. Dan wip hy na die woudvloer om saadjies te pik.
Die son skuif tot agter die boomtakke in die weste. Die dag koel af. Rooibekfisante kondig die koms van die nag aan. ’n Vreedsaamheid daal neer. ’n Sarsie vlerkgeklap van ’n fisant klink op.
Yaya trek my aandag en beduie in die rigting van die kamp. Soos skimme kom hulle uit die skadu’s gestap. Die oomblik het aangebreek. Harvey se oë flits in my rigting.
Twee vly hulle op die grasbeddens neer. Een maak sy geweer teen die boom staan. Hy klim in die mikke en begin komberse na ’n ander op die grond aangee.
Die vyfde man staan ’n rukkie bewegingloos. Hy het ’n geweer in sy hande. Dis ’n swaarkaliber-slotaksiegeweer. ’n Olifantgeweer.
Ek eien hom as my teiken. My hartklop versnel. Ek raak bewus van ’n suising in my ore. Ek lig my geweer.
Nou eers besef ek die nadeel van my lêposisie: daar is te veel bosse en takke vir ’n skoon skoot. Droë stompe belemmer my sig. Die son verdwyn deur die takke van die ruigte.
Die man met die olifantgeweer begin in my rigting stap. Ek kyk na Yaya, dan na Harvey. O fok! flits sy oë. Wat nou? vra myne.
My hart hamer buite beheer. My keel trek toe. Wat nou?
Tydsaam stap die man reguit op my af. Sy donker oë boor in myne. Sy geweer hang gemaklik in sy hande. Hy lyk selfversekerd en ontspanne, iemand wat al lank hierdie soort werk doen. Ek weet hy kom om my dood te maak. Ek lê versteen, my geweer gereed. Ek kan nie ’n skoot op hom inkry nie. Steeds kom hy nader.
Ek kyk weer na Harvey. Hy probeer iets beduie, sy wenkbroue en mond beweeg, sy oë sein dringend. Ek verstaan nie.
My geweerloop lê tussen die takke van die rosyntjiebos. Ek sal moet opstaan om ’n skoot in te kry. Teen daardie tyd sal dit te laat wees. My blik soek deur die bosse na ’n antwoord. Harvey se oë, wenkbroue en lippe beduie driftig.
Skielik snap ek: die droë stompe wat my sig belemmer, is hulle brandhout. Ek lê agter hulle houthoop. Die stroper kom brandhout haal; hy weet nie van my nie.
Die oomblik van waarheid.
Ek staan uit die bosse op. Die kolf van die LM4 druk teen my skouer. Die gaatjievisier vind die man se bors. Ek sien die volslae verbasing op sy gesig.
Baie dinge flits deur jou gedagtes voor jy ’n man skiet.
Hoeveel olifante het hy nie al afgemaai nie? Op hierdie strooptog alleen – tien. Wat van al die ouer karkasse wat versprei oor hierdie velde lê? Hierdie man is die vyand. Hy staan téén alles waarvoor ek staan.
My vinger krul om die sneller. My hand maak toe. Dan . . . twyfel.
Om die sneller te trek is om ’n grens oor te steek. ’n Onsigbare lyn. Is ek bereid om dit te doen? ’n Lewe te neem? Hierdie is nie wild skiet nie. Hierdie man het ’n ma. Hoeveel olifante is ’n mens se lewe werd? Tien?
Ek kan dit nie doen nie.
’n Skoot trek deur die takke bo my. Dit kom nie uit die man voor my se geweer nie, dit kom van die stropers se lêplek af. Hy spring om en hardloop. Vir ’n oomblik langer rus my korrel op sy blaaie. Dan gooi ek die loop boontoe en trek ’n sarsie oor sy kop af.
Ek spring weg en hardloop agter hom aan. Kakweche verskyn langs my. In die hardloop skiet hy uit die heup. Ek stuur nog ’n sarsie oor die man se kop. Sy geweer val. Vlugtig sien ek hoe Harvey, Yaya en Frans inbeweeg op die lêplek. Nog skote klap.
Dis nou heeltemal donker. Ek en Kakweche verloor die man in die ruigte. Ons draai om en stap terug. Kakweche tel die olifantgeweer op. Teleurstelling lê swaar in my.
Terug by hulle lêplek vertel Harvey se gesig dieselfde storie. Almal het weggekom. Hulle het al hulle goed agtergelaat. Byle en messe. Hulle het uit hulle skoene uit gehardloop. Behalwe die olifantgeweer, ’n .458-Winchester Magnum, het hulle ’n dubbelloop-12-boor-haelgeweer agtergelaat. Daar is ook ’n vol magasyn van ’n semi-outomatiese G-3.
Harvey stop uitasem by my. “Jesus Christ, man, we fucked this one up!”
Ek en Harvey sit skoongewas in die warm sinkkantoortjie. Ons skuif ongemaklik op ons stoele rond.
Die man wat ingestap kom, is beswaarlik ’n imposante figuur. Hy is klein, met geboë skouers. Sy rooi hare staan in alle rigtings. Hy het ’n litteken oor sy gesig en die letsels van ’n gebreekte neus. Sy veldwagteruniform sit los en ongemaklik aan sy lyf.
Sy klein ogies glip van my na Harvey soos hy praat. Sy stem is sag.
“Katima se natuurbewaarders het drie van die vyf gekry. Die gewere wat julle buitgemaak het, het die arrestasies vergemaklik. Die leier is gevang. Hulle soek hom al lank; hy’s ’n ou stroper. Die ander twee het Zambië toe gevlug.”
Hy tel ’n foliovel van sy lessenaar op. Vir ’n wyle lees hy stil. Dan gaan hy voort: “Die hoofnatuurbewaarder noem dit in sy verslag ‘knap werk van onervare veldwagters’.”
Hy bly weer stil. Hier kom dit nou, dink ek.
“Hoe dit óns raak, is van groter belang. Daar is twee aspekte wat ek wil noem. Eerstens: die operasie is bloedloos uitgevoer. Niemand het seergekry nie; niemand is dood nie. Dis goed – sterfgevalle sou onnodige aandag op ons gevestig het. Geen polisie, geen verslaggewers, geen vrae of ondersoeke nie. Tweedens: geloofwaardigheid. Ná hierdie deurbraak, júlle deurbraak, sal niemand meer ons teenwoordigheid hier bevraagteken nie. Niemand hoef te spekuleer oor wie of wat ons is nie. Nou het ons geloofwaardigheid as veldwagters in diens van Natuurbewaring.”
Hy kyk stip na ons. “Luitenant Logan, luitenant Mathysen. Dankie vir voortreflike diens.”
Ek en Harvey staar effe verward na hom. Dan kyk ons onderlangs na mekaar, onseker.
Ons sien die man is doodernstig. ’n Kompliment soos dié kom nie maklik van hom af nie. So onindrukwekkend soos sy voorkoms is, so indrukwekkend is sy rekord: Sandhurst Militêre Akademie in Engeland, Rhodesiese SAS, Selous Scouts, Verkenningskommando. Tydens die Slag van Quito is hy swaar gewond.
Ek en Harvey kom orent. Ons salueer tesame. “Dankie, kolonel.”
Op 1 April 1989 het die VN-resolusie 435 in die destydse Suidwes-Afrika in werking getree. Die Kubaanse magte moes terugtrek tot die vyftiende breedtegraad en die Suid-Afrikaanse Weermag moes alle militêre hulp aan die Unita-rebelle staak. Die weermag moes volledig uit die land onttrek sodat die eerste stappe na ’n onafhanklike Namibië geneem kon word.
Dit het nie gebeur nie. Die SAW het klandestien voortgegaan om Unita te ondersteun onder die dekmantel van Natuurbewaring. ’n Klein groepie uitgesoekte weermaglede het aangebly onder die voorwendsel dat hulle aan die departement gesekondeer is. As opgeleide veldwagters in ons dienspligtyd moes ek en Harvey Logan by hulle aansluit om as front te dien.
Selfs vandag nog is die indrukke van daardie tyd ingegrif in my geheue. Dit was van die betekenisvolste tye van my lewe. Harvey Logan sal altyd my beste vriend bly.