Читать книгу Stoffel: die beste stories - Christiaan Bakkes - Страница 12
Haelstorm
ОглавлениеDis ons tradisie om die middag ná ’n safari die klowe en ruigtes en granietkoppe te gaan verken. Dis vir my lekker om in die veld te kom sonder kliënte, en dis vir Dan nodig om uit die kombuis te ontsnap.
Die Laeveld se granietberge is mooi. Die mooiste onder hulle lê tussen die samevloei van die Nsikazi- en die Krokodilrivier. Mpakeni is die hoogste monoliet hier. In sy skadu lê ons safarikamp. Oorkant, noord van die Nsikazi, lê Khandizwe en Matjulu, die hoogste punte in die Krugerwildtuin en kleiner as Mpakeni. Na die noordooste toe sien jy op ’n helder dag Pretoriuskop, Numbi en, verder weg, Legogote.
In die waterryke klowe van Mpakeni groei vlam-van-die-vlakte en mingerhout. Teen die rante bo die klowe maak die Laeveldkastaiing ’n digte blaredak. Kiaat en drolpeer groei teen die hange.
“Dan, are you ready to go?”
“In a minute, Blue. I’m just stripping off me whites and putting on me khakis.”
Hy gaan trek sy koksklere uit en druk ’n verslete strooihoed op sy kop. Ons vat koers. Op die valleivloer lê bosvarkspore. Kort-kort bars ’n bosbok voor ons uit die ruigte. In die lower bo ons wys die geheimsinnige bosloerie lyf. Skoenlappers en besies vlieg oral. Vir my en Dan is hierdie ’n mistieke plek. Ná ’n lang verkenningstog gaan sit ons langs ’n bergpoel en gesels.
Dan Peoples was vroeër ’n reisiger uit Nieu-Seeland, toe reeds jare lank op ’n wêreldreis. Hy het ’n leerjongenskap as slagter voltooi en daarna sy land verlaat. Dwarsoor die wêreld het hy in restaurante en op bote gewerk en só ondervinding in die kosbedryf opgedoen.
Ek was pas terug van die grens toe ons mekaar hier in die safarikamp ontmoet het. Dan se verhale oor Australië, Italië en Turkye was interessant vir iemand wie se enigste buitelandse ervaring grensdiens was.
Hy het op ’n Griekse eiland gewerk toe hy sy meisie ontmoet het. Hulle het saam in ’n restaurant gewerk. Sy is van Suid-Afrika, Witrivier in die Laeveld. Weens die politieke omstandighede wou hy nooit Suid-Afrika besoek nie. Hy was egter moeg vir die langpad en het beplan om na Nieu-Seeland terug te keer.
Sy meisie was ook op pad terug huis toe en het hom oorreed om Suid-Afrika te besoek. “Kom kyk net,” het sy gepleit.
Dit was drie jaar gelede. Hy is nooit weer hiervandaan vort nie.
Die wolke lê swart en dreigend bo ons toe ons uit die kloof kom. Ons vat die tweespoorpad terug kamp toe. Die storm vang ons ’n kilometer weg van die kamp. Die eerste haelkorrels is klein en piets ons geniepsig op die skouers. Ons dink nog dis ’n grap en slaan oor na ’n drafstappie.
Toe tref ’n gholfbal-grootte korrel vir Dan dat sy strooihoed van sy kop af vlieg. Sy oë verstar en hy gryp met al twee hande na sy kop. Die knewels begin reën op ons neer. Dis nie meer ’n grap nie.
Ek gryp Dan se hoed en gee dit aan. “Kom, nou moet ons hardloop!”
Ons lê oop terwyl takke en blare om ons van die bome gestroop word. Die haelkorrels hamer op ons koppe en skouers. My boshoed is van beter stoffasie as Dan se strooihoed, maar dit bied steeds nie genoeg beskerming nie. Etlike korrels moker my verblindende houe teen die kop. Dié teen my skouers en rug stuur brandpyne deur my lyf. Ek besef hier is moeilikheid.
Dan is vinniger as ek. Hy por my aan soos hy onder my uitseil. Dit val nou so geil dat opslagkorrels ons van onder af peper. Een tref my gevoelig op die knieskyf. Die aarde raak wit van die hael.
Ek oorweeg dit om skuiling te soek, maar daar is geen oorhangende rotse nie. Om ons word die verwoesting sigbaar deur die vlae ysreën. My longe brand, maar ek weet as ons nou stop, is ons dood. Ek rek my treë en haal Dan in.
“Come, Blue!” moedig hy my aan.
Voor ons word die kamp sigbaar. Maar dit lê nog ver. Té ver. Dit voel soos ’n ewigheid. Uit die hemele word ons genadeloos gekasty. Bloed vlek Dan se hemp oor sy rug. Ek is seker dat ek ook iewers bloei. Tussen die gholfballe deur verskyn daar nou en dan ’n stuk hael so groot soos ’n tennisbal. Ek voel hoe my bene swaarder word; ek was nog nooit ’n naelloper nie.
Ek sien hoe ’n reus van ’n stuk naelskraap verby Dan se kop trek. Hy sou nie bly staan het as dit raak was nie.
Dan is die Land Rover-afdak skuins voor ons. Ons pyl reguit soontoe. ’n Tennisbal tref my tussen die blaaie en dryf al die lug uit my longe. Ek val op my knieë, maar ek stop nie. Kruipend bereik ek die afdak en val langs ’n voertuig neer.
Die geraas op die sinkdak is oorverdowend. Ek kyk na Dan. Hy staan dubbel gevou en hyg. Sy strooihoed is aan flarde en sy oogbank is oop geslaan. Stadig kry ek my asem terug. In die laaste lig sien ek hoe die afdak bo ons koppe vol duike gepons word. Dan se asemhaling bedaar ook. Ons kan net na mekaar staar.
“Fuckit, Blue,” is al wat hy sê.
Terug by die kamp, ná die storm verby is, bekyk ons die skade aan ons lywe. Rooi kolle en hale, plek-plek nerfaf. Dan se oogbank lyk sleg. ’n Paar knoppe op die kop. Maar dit kon baie erger gewees het. Lyfseer en met ’n hoofpyn gaan ons bed toe.
Die volgende dag breek helder en sonnig. Styf en seer staan ek op. Van die rooi kolle op my lyf het nou ’n blougroen skynsel. Ek stap uit op die stoep van my hut en kyk oor die vallei.
’n Verstommende gesig begroet my. Verwoesting lê in ’n breë band oor die bos. Dis asof ’n reusagtige stroper in ’n reguit lyn oor die berge en dale gestuur is. Elke boom in dié strook is van sy blare gestroop. Die kaal takke staan in skerp kontras met die omringende lower wat die haelstorm vrygespring het.
Ek en Dan kom albei laat by die ontbyttafel aan. Net Chris Greathead is daar. ’n Paar van die ander manne is uit veld toe om die skade te inspekteer. Greathead is besig om die twee mak rooikophoutkappers vrugteslaai te voer.
“Ek hoor julle is amper doodgeslaan,” sê hy.
Ek wil ook die gevolge van die haelstorm gaan inspekteer, maar my lyf is seer. Die koffie is verkwikkend. Dan is traag om kombuis toe te gaan. Ons drie talm om die tafel en praat rugby.
Angie, die meisie by ontvangs, stap oor na ons.
“Blue, julle moet ry. Inch en Marco het ’n beseerde sebra gekry. Hulle het nie ’n geweer by hulle nie.”
Die naam Blue het by Dan begin en almal in die kamp het dit opgeneem. Dis die Kiwi’s se eienaardige verwysing na ’n rooikop.
Ons ry met Greathead se Land Rover. Ek sit die .375 in die geweerrak bo die paneelbord. Ons verlaat die afdak vol duike en ry in helder sonlig die berg af.
Ons kry vir Inch en Marco in die vallei by hulle Land Rover. Deur verkykers staar hulle na iets teen die hang.
“Ons wou nie nader gaan nie. Hy’t weggehardloop toe ons aankom. Dis sy linkeroog,” sê Marco.
Deur my verkyker sien ek die sebra kop onderstebo teen die hang uit beweeg. Sy agterstewe is na ons gedraai en ek kan nie sien wat skort nie. Ek vat die geweer. Ek en Greathead stap deur die boomlyn van die valleivloer en begin die hang klim.
Ek het Greathead drie jaar gelede in heel ander omstandighede as Dan ontmoet. Ons was pelotonmakkers tydens basiese opleiding op Diskobolos. Daarna is ons albei gekies vir die offisierskursus. As tweede luitenant is hy na die Mosambiek-grens en ek na die Angola-grens. Heel toevallig het ons ná ons diensplig gelyk werk gekry by die reservaat. Dit was die begin van ’n lang verbintenis.
Die wind waai in ons guns en ons nader die sebra. Hy loop stadig. Steeds kan ek nie sy besering sien nie. Ons probeer ongesiens parallel met hom kom. Dis makliker gesê as gedaan. As ons hom nou steur, sal hy oor die kruin verdwyn. Ons volg hom op ’n afstand en hoop hy bied self aan ons ’n geleentheid.
Dan gaan staan hy, asof hy bewus word van iets wat hom volg. Hy draai dwars en vir die eerste keer kan ons sy kop sien. Ek lig die verkyker.
Waar voorheen ’n oog was, blom ’n bloederige pappery uit sy skedel. ’n Swart bloedkoek sit al hard en donker teen sy wang. Ek staar verstom na die skade wat ’n haelkorrel kan aanrig. Dan draai die sebra weg en loop verder teen die berghang uit.
Ek en Greathead besef ons kans om nader aan die sebra te kom is beter as ons aan sy blinde kant bly. Stadig haal ons hom in. Sy geskende gesig is nou duidelik sigbaar. Die rou wond glim rooi in die oggendlig.
Stadig glip ek die veiligheidsknip af. Ek haal die geweer oor. Die sebra gaan staan weer. ’n .375 is ’n swaar kaliber; sy koeël val vinnig. Ek wil nog nader sluip, maar die sebra het my gehoor. Hy kan enige oomblik wegspring. Ek lê aan. Arme dier, flits dit deur my gedagtes toe ek die sneller afdruk.
Die koeël breek sy nek. Hy tuimel kop eerste na benede. Hy slaan ’n paar keer bollemakiesie teen die hang af voordat hy leweloos op ’n hoop bly lê.
Terug by die voertuie sê ek vir Inch en Marco om ’n span helpers te gaan haal om die sebra af te slag. Met die Land Rover sit ek en Greathead ons inspeksietog voort. Ons ry die gebied van die haelstorm binne.
Dis ’n toneel van totale verwoesting. Alle blare is van die takke gestroop en die bome staan kaal en grys teen die blou lug. In die tweespoorpad lê ’n mat versnipperde blare. Die grasvelde teen die hange lyk asof hulle met ’n sekel tot teen die polbasis geoes is. Die waterlopies wat ons pad kruis, is lelik verspoel. Ons ry stadig.
Dan begin ons die dooie diere sien, half begrawe onder die blaremat of verstrengel in die takke. Eerste ’n vlakhaas in die pad. ’n Grootkol-muskejaatkat met sy skedel vergruis. ’n Jong blouaap. ’n Bospatrys lê amper onsigbaar gekamoefleer tussen die blare. Soos vergete vlieërs hang ’n paar neushoringvoëls, ’n kwêvoël en ’n bloukuifloerie aan die kaal takke. Bo in die lug sirkel witrugaasvoëls, ’n berghaan en ’n paar kouvoëls. Jakkalsvoëls sit in die bome, op die uitkyk vir beseerde diertjies.
Greathead sien die klipspringer eerste, op ’n granietrantjie tussen brandnetel en wildesalie. Ek lig my verkyker. ’n Klipspringer het ’n unieke haarbedekking. Sy digte pels is grof en elke haartjie is dik en hol, amper soos ’n klein ystervarkpennetjie. Dié digte pelsmat vorm ’n uitstekende kussing teen die skerp rotse en bied beskerming teen ’n val as sy vlugvoetigheid hom in die steek sou laat.
Groot klosse hare hang los van die klipspringer. Sy vel is kaal waar die haelkorrels hom getref het. Ek kyk vas in hol oogkasse. Die jellie van sy oogballe hang in stringe langs sy gesig af.
Greathead lig die geweer van die rak af. Die klipspringer het ons gehoor. Hy strompel blindelings weg. Eers loop hy hom teen ’n laventelkoorsbessie vas. Dan kry hy ’n mate van rigting en verdwyn oor die rant.
“Ek gaan hom haal,” sê ek vir Greathead.
Ek trek my jagmes uit die skede en begin teen die rant uitklim. Aan die oorkant sien ek die klipspringer op die kruin van ’n rots. Die rant is besaai met granietblokke en ek vorder stadig. Dis ’n rammetjie met punthorings. Hy hoor my aankom en lig sy verminkte koppie om my rigting te bepaal.
Ek spring vorentoe om hom in te haal. Hy’s tog blind, ek sal hom mos maklik kan vang. Hy wip weg en land op ’n rotspunt hoër op. Daar staan hy in perfekte balans, ore gespits vir my beweging. Buite bereik. Ek klouter oor die rotse en probeer veld wen.
’n Klipspringer se kort bene eindig in klein, rubberagtige hoefies. Nog ’n aanpassing wat van hom ’n volmaakte bergdier maak, want daardie hoefies het verbasende kloukrag aan die oppervlak van enige rotswand. Die blinde klipspringer lei my in ’n makabere jaagtog oor die klippe. Foutloos spring hy van rots tot rots.
Totdat hy in ’n dopperkiaatloot vasspring en eenkant toe geskiet word. Hy herwin sy balans en vlug voort, verder van my af. Ek strompel en klouter oor klippe en rotse, mes in die hand. Growwe rotswande skraap my nerfaf. Netels klap my deur die gesig. Sweet stroom my af.
Dan duik die klipspringer weer in ’n bos vas en raak verstrengel. Nou moet ek spook om hom te bereik. My asem jaag. Hy spartel hom los en spring vorentoe. Paniek en verwarring kry die oorhand en hy loop hom vas teen ’n rotswand. Met ’n sywaartse sprong wig hy hom in ’n klipskeur in.
My hand sluit om sy nek. Ek trek hom by die skeur uit. Hy skop verbete. Ek moet hom teen my lyf intrek om te keer dat hy my raak skop. ’n Wanhopige blêr, hoog en lank, rys uit sy binneste. Sy blêr omvat sy gebrek aan begrip oor wat met hom gebeur het. Oor wat besig is om met hom te gebeur. Dit gee uiting aan sy helse doodsvrees. Ek voel hoe dit deur my siel sny.
Ek vat sy geskende koppie en buig dit agtertoe. Sy keel word ontbloot. My jagmes sny diep, deur sy strot en slagaar. Bloed stroom oor my hande, my knieë, my bene. Dit spat oor die klippe. Sy lyf word slap in my skoot.