Читать книгу Stoffel: die beste stories - Christiaan Bakkes - Страница 5
Dorpsbobbejaan
ОглавлениеDie bobbejane maal en drom saam om die sementdam. Sommige hardloop om en om die hoë wal. Soos die bakkie nader ry, begin hulle een-een padgee. Blaffend hardloop hulle die koppe in. ’n Paar talm langer, maar ook hulle moed begewe hulle toe ons langs die waterpunt stop.
Net een bly agter: ’n groot wyfie. Sy staan op die wal en kyk na iets binne-in die dam. Ek en Januarie klim uit die bakkie. Dis ’n yskoue Bosveld-winteroggend.
Die wyfie is duidelik in ’n tweestryd gewikkel. Sy is traag om die damwal te verlaat. Iets daar binne hou haar daar. Sy wys haar tande vir ons en blaf benoud. Eers toe ons die wal bereik, gee sy pad. Sy spring van die damwal af en loop agter haar trop aan. ’n Ent verder gaan sit sy op ’n klip. Sy hou ons dop.
Uit die rante en beboste klowe roep die ander bobbejane haar. Sy antwoord, maar bly sit. Agterdogtig hou sy ons dop.
Die damwal is meer as ses voet hoog. Ek en Januarie klouter daarteen uit. Ons gaan sit op die rand en kyk in. Die dam is halfvol water. In die middel dryf ’n bobbejaantjie. Die koppie is onder die watervlak, die een handjie spartel nog effens. Januarie spring van die damwal af en stap veld-in om ’n stok te gaan soek.
Die plaas Kwarriehoek is ’n nuwe toevoeging tot die Skuinsdraai-reservaat. Die vorige eienaar is uitgekoop en ons het dit pas verkry. Hoewel dit voorheen ’n beesplaas was, spog Kwarriehoek met ’n gesonde bevolking rooibokke, koedoes en vlakvarke. Daar is ook rooiribbokke en klipspringers in die rante.
Die toevoeging van Kwarriehoek vergroot die reservaat met tweeduisend hektaar. Omtrent die helfte is bergveld; die res is vlakte met doringbosveld. Dit gee die reservaat nou genoeg vlakteveld om kameelperde te huisves. Ons beplan die hervestiging van kameelperde sodra die plaas met ’n wildheining by die res van die reservaat ingespan is.
Die bestaande waterpunte – sementdamme met suipkrippe – werk nog, maar ons beplan om dit eersdaags te omskep in versinkte suipings wat meer geskik is vir wild. Voëls en bobbejane val gereeld in die hoë sementdamme, versuip dan en vergiftig die water.
Januarie kom terug met ’n stewige sekelbostak. Hy gee dit vir my aan en klim weer teen die damwal uit. Ek leun oor en haak die bobbejaantjie nader. Januarie hang oor die rand en lig die dier aan die nekvel uit. Dis ’n wyfie. Sy is druipnat en verkluim.
Ons klim af en lê haar op die grond neer. Die groot wyfie het nou by die res van die trop aangesluit. Nuuskierig hou hulle ons van die rotse af dop.
Die bobbejaantjie se pensie is bolrond soos sy water gesluk het. Haar vingers en tone is bleekblou van die koue. Die ooglede hang halfmas en die bruin ogies staar sonder dat iets registreer. Sy sou nie veel langer in daardie koue water oorleef het nie. Dan is daar tekens van lewe – sy maak ligte kreungeluidjies.
Ek haal ’n ou stuk lap agter die bakkie se sitplek uit en begin die bobbejaantjie droogvryf. Ek masseer haar maag en sy braak water. Haar koppie rol slap op haar nek en haar ooglede bly halfmas. Nadat sy al die water gebraak het, kreun sy harder.
Ek reken liggaamshitte sal haar laat opwarm. Ek druk haar teen my bors vas. Haar vingertjies vind my woltrui en haar bene vou om my middel. Sy druk haar styf teen my lyf aan, honger vir hitte. Haar handjies verstewig hulle greep op my trui en binne oomblikke klou sy soos ’n neet aan my lyf.
Ek moet voortgaan met my rondtes; die draadspanners wag. Agterop die bakkie is die rolle draad en droppers wat hulle benodig. Ek wil hulle werk inspekteer. Daarna wil ek sommer ’n draai deur Kwarriehoek ry en kyk watter wild die vroegoggend oplewer. Die bobbejaan kan maar saamry totdat sy genoeg opgewarm het en dan kan sy teruggaan veld toe.
Voordat ons ry, gaan soek ek en Januarie eers ’n stewige, knoetserige stomp. Dié maak ons teen die binnewand van die sementdam staan. Sou ’n bobbejaan weer hier inval, het hy darem ’n leer om mee uit te klim. Toe hervat ons ons patrollie.
Ons ry deur die veld, ek en Januarie en die bobbejaan aan my boesem. Die dag word warmer en sonnig. Die bobbejaan toon egter geen teken dat sy ontdooi nie. Haar kop rus teen my bors en dit lyk of sy slaap. Haar arms en bene het my steeds in ’n stywe omhelsing.
Dis alles goed en wel terwyl ons nog in die veld is. Maar daar is een probleem: dis einde van die maand en vandag is die dag wat ek moet dorp toe.
Teen die tyd dat ons terug is by die opstal wat as veldwagterstasie dien, klou die bobbejaan net stywer aan my vas. Januarie en die veldwagters maak gereed vir hulle uitstappie dorp toe. Ek kry my maandverslae en rekwisisievorms in die kantoortjie bymekaar en druk dit in my leertas. Die bobbejaan maak sulke ligte steungeluide.
Dertig kilometer van die reservaat af lê Marble Hall. Dis waar ek my admin en logistiek gaan doen. Januarie sit voor langs my, die ander veldwagters agterop. Die bobbejaan sit steeds teen my bors.
Ek laai die veldwagters in die dorpsentrum af om hulle inkopies te doen. Ons spreek af om mekaar weer hier te ontmoet. Daarna ry ek na die koöperasie aan die rand van die dorp vir nog doringdraad en pale.
Die man by die koöperasie ken my goed; ek koop al my voorrade by hom. Hy het eendag ’n luislang in een van sy pakkamers ontdek. Ek het die slang kom verwyder en in die reservaat gaan loslaat. Terwyl sy mense die bakkie laai, staan ons die bobbejaan en bespreek.
By die supermark is die mense nie baie gelukkig met die bobbejaan aan my lyf nie. Ek koop vinnig brood en melk en verkas. Vir die mans in die drankwinkel is sy ’n bron van vermaak. Hulle pluk haar liggies aan die stert en vat aan haar ore, maar sy toon geen reaksie nie. By die slaghuis wil die eienaar weet of die bobbejaan nou die vars vleis is wat ek hom belowe het.
Nou nog net bank en poskantoor toe.
Die mollige meisie by die bank raak in vervoering oor die oulike klein apie aan my bors. Sy wil weet of dit my troeteldiertjie is. Hoe het ek haar so mak gekry? Soos elke keer as ek in die bank kom, wil sy weet wanneer ek haar reservaat toe nooi. Sy’s mal oor die buitelewe, sê sy.
By die poskantoor pos ek my maandverslae en wild- en voëllyste na die hoofkantoor in Pietersburg. Verlig dat al my take afgehandel is, stap ek uit in die sonnige straat. Nou nog net die bakkie vol brandstof gaan maak.
Ek voel daar kom ’n verandering by die bobbejaan. Ek kyk af. Haar koppie rus nie meer teen my bors nie. Haar oë is wawyd oop. Verskrik kyk sy na die vreemde omgewing om haar. Haar kop draai in alle rigtings en haar greep om my lyf verslap. Met my linkerhand gryp ek haar aan die nekvel. Sy skree benoud en ek begin bakkie toe hardloop. Sy laat los my trui en spartel verbete. Ek verstewig my greep aan haar nek. Mense op straat gaan staan en bekyk die affêre.
In ’n oogwink het die bobbejaantjie volkome herstel. Ek nael met die skreeuende, wriemelende dier om die bakkie te haal. Toe ek die deur oopgooi, glip sy uit my greep en duik die kajuit binne. Sy probeer aan die ander kant uitspring, maar die toegedraaide ruit stuit haar. Sy val terug op die bank. Ek spring in en klap die deur toe.
Soos ’n besetene werp sy haar teen die ruite. Ek kan nie toelaat dat sy ontsnap nie. Dit sal chaos wees om haar in die dorp los te laat. Ook wreed teenoor haar. Ek moet haar in die veld kry, terug by haar trop.
Die veldwagters kom met hulle pakkies oor die straat aangedraf. Hulle het gesien wat gebeur. Die dorpsmense gaap die petalje aan. Ek beduie vir die veldwagters om op te spring. My brandstoftenk is byna leeg; ek móét gaan volmaak.
Die arme bobbejaantjie is nou paniekbevange. Soos ’n warrelwind skiet sy heen en weer in die kajuit. Haar vrees, saam met die klomp water wat sy gesluk het, veroorsaak die voorspelbare: ’n streep geelbruin spuitkak verf die binnekant van die voorruit. Dan die sitplek, my briewetas, my skoot.
Ek skakel die bakkie aan en jaag garage toe. Die bobbejaan los nou blertse teen die dak, die agterruit en my nek. By die vulstasie por Januarie die pompjoggie aan om gou te maak. Ek gee die sleutel deur ’n skrefie in die venster aan. Januarie raas met die joggie om op te hou staar. Die man kom traag aan die gang.
Nou takel die bobbejaan my. Sy slaan haar arms om my skouers en byt my aan die oor en in die nek. Haar slagtande is nog nie behoorlik uitgegroei nie, maar is nietemin geniepsig.
Ek kry haar aan die nekvel beet en pluk haar los. Ek smyt haar op die vloer aan die passasierskant. Sy spring terug en plant haar op my gesig. Sy vou haar bene om my nek en gryp my hare. Sy byt my kopvel. Ek spook om haar af te kry. Haar naels krap my wang.
Hierdie keer gooi ek haar harder en vir ’n wyle hurk sy verdwaas op die vloer. Dit raak nou warm in die kajuit. Deur die strontstrepe op die ruite sien ek hoe die veldwagters en pompjoggies my besorg maar geamuseerd dophou.
Dit voel soos eeue voor die tenk vol is. Deur die skrefie in die venster betaal ek en kry die sleutel terug. Die bobbejaan bespring my weer. Ek voel hoe bloed teen my nek afloop. Sy kruip agter die rugleuning in en skuil daar in die donker by die domkrag en die wielsleutel.
Onder die starende blikke van die dorpenaars vertrek ons. Ek waag dit nie om die ruit oop te draai nie. Dis nou helwarm in die kajuit. Die stank van bobbejaanmis hang swaar in die lug, soet en walglik. Die besmeerde ruite belemmer my sig.
Dit word ’n lang rit reservaat toe. Gelukkig bly die bobbejaan agter die sitplek.
Die son sit laag aan die westerhemel toe ek by die sementdam op Kwarriehoek aankom. In die rante is dit stil. Ek stop langs die dam en gooi die bakkie se deur oop. Ek stoot die rugleuning vorentoe en staan tru.
Die bobbejaantjie verskyn. Sy kyk eers ’n paar keer rond voor sy besef waar sy is. Dan spring sy uit. Sy kyk ’n keer na my en die veldwagters voor sy ooplê oor die veld na die rante toe. Op ’n rots, afgeëts teen die lug, verskyn ’n groot bobbejaan. Haar roep is skril.
Die kleintjie word verswelg deur die ruigte aan die voet van die rant. Oomblikke later verskyn sy teen ’n rots halfpad boontoe. Weer roep die wyfie. Ek wag tot hulle by mekaar kom en saam oor die kim verdwyn.
In die aandstilte wonder ek wie nou eintlik vandag die dorpsbobbejaan was. Die bobbejaanreuk het maande lank in die bakkie getalm.