Читать книгу Stoffel: die beste stories - Christiaan Bakkes - Страница 6
Jagseisoen
ОглавлениеDie laaste strale van die sakkende son gooi rooi strepe deur die sekelbosruigte. Deur die teleskoop sien ek ’n deel van die koedoe se blad deur ’n gaping in die bos. Onsekerheid kriewel in my. Ek sit met die .243-Musgrave, ’n ligte geweer vir ’n koedoe. Riaan is weg met die .30-06-BRNO. Die son lê al onder die takke.
Al wat ek sien, is ’n stuk vaal vel met ’n dun wit streep wat daaroor kronkel en vertak. Ek stel my voor hoe ’n paar donker koedoe-oë my deur die ruigtes dophou. Gespitste ore en gesperde neusvleuels. Sal ek of sal ek nie? ’n .243-koeël word so maklik deur ’n tak weggeskram. Dit raak skemer. Ek hurk besluiteloos.
Langs my skuifel Hendrik Mahlangu onrustig. Die spanning laai op. Die ouens van Siyabuswa, die naaste dorpie, soek die vleis vir môreoggend. Miskien kry Riaan iets. Wat moet ek doen? Ek wil nie teen laaste lig ’n dier kwes nie.
Ek en Hendrik Mahlangu is al heeldag in die veld. Ons het baie vlakvarke en rooibokke gesien, maar niks het ons ’n geleentheid gegee nie. Die diere hier is wild gejag. ’n Halfuur terug het die koedoe vir ons witstert gewys by ’n suiping. Ons het die spoor gevat.
Hendrik moes die koedoe in die sekelbosruigte vir my uitwys. My oë is nog dom; dit het minute geneem voordat ek dit wat van die koedoe sigbaar is, kon eien. Nou is dit my besluit. My ore begin suis. Stadig maar seker neem die noodlot bevel oor. Die teleskoop kom oog toe. Die kruishaar rus waar die wit streep vertak. Die kolf boor in my skouer in. ’n Laaste sweempie vertwyfeling en dan oorgawe. My voorvinger druk die sneller af.
Die dowwe slag van koeël teen lyf klink op. Die koedoevlek wat sigbaar is deur die gaping verdwyn. Hendrik Mahlangu spring voor my uit en vleg deur die sekelbosse. Ek volg, maar verloor hom uit die oog. Blindelings hardloop ek in die rigting na waar ek geskiet het. Dorings gaffel my arms en bene. Amper loop ek my in Hendrik vas.
Hy staan daar en glimlag. Aan sy voete lê die koedoe. Te oordeel na die borrels in die bloed ’n longskoot. Dis ’n jong bul. Een en ’n halwe draai in die horings, nie naastenby trofeegrootte nie. Maar vir my is dit die mooiste koedoe wat ek al gesien het. Dis my eerste jaar as veldwagter. Dis my eerste koedoe. Die jagseisoen het begin.
Ek en my studentemaat Riaan van Zyl werk vir die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingskorporasie. Ons is in beheer van ’n reeks wildplase. Die plase wissel in grootte; party is ’n respektabele tienduisend of seweduisend hektaar, ander is blote wildkampe van een- of tweeduisend hektaar. Sommige spog met mooi kliprante en droë rivierlope. Ander bestaan uit eentonige doringplate, vervuil met sekelbos en haak-en-steek, slegs geskik vir koedoe, rooibok en vlakvark. Die groter wildplase het kameelperde, en op Sandspruit is daar selfs ’n klein kudde witrenosters. Dis altyd vir ons lekker om daar te werk; dit voel of ons in Groot Vyf-gebied is.
Die wildplase is nie ver van mekaar af nie. Riaan is op Tierpan gestasioneer en ek op Kwaggavoetpad. Ons werk oor en weer en kamp gereeld saam uit op die ander wildplase.
Die plan met die plase is om hulle stelselmatig te vergroot deur aangrensende plase aan te koop en dit dan tot wildreservate te ontwikkel. Maar tot tyd en wyl is dit niks meer as jagplase vir regeringsamptenare nie. Oor naweke moet ek en Riaan die jagters vergesel as hulle blesbokke en rooihartbeeste kom skiet. Ons moet saans saam met hulle kuier en probeer keer dat hulle nie die jagkamp se lapa afbreek of brandsteek nie.
Ná my eerste koedoe wen ek selfvertroue. Daar kom baie geleenthede om my oog in te kry. Dis my en Riaan se werk om die rooibok- en koedoegetalle te beheer. Ons werk kwotas uit volgens die wildtellings. Op elke plaas moet ’n sekere getal diere uitgehaal word.
Snags gaan ons uit met die bakkie, gewere en ’n skietlamp. Hendrik Mahlangu beheer die lamp terwyl ek bestuur en Riaan skiet; die volgende nag ruil ons om. Die rooiboktroppies staan verblind en versteen in die ligstraal; met die .243 word hulle een ná die ander omgeklits met ’n kopskoot. Sommige nagte skiet ons rooibokooie en -lammers. Ander nagte skiet ons koedoe – koeie en verse. Ons korrel raak al beter.
Vir die rooibokramme en koedoebulle maak ons ’n dagjag. Ons gaan te voet uit in die voordag, elkeen na ’n ander uithoek van die plaas. Ons kyk hoeveel bokke ons elk voor elfuur kan skiet. Ek skiet my trofeekoedoe en nog ’n paar groot bulle.
Ek en Riaan is jonk en bloeddorstig. Ons ding mee. Soms kom ons elkeen met vyf of ses rooibokke terug. Ons sit in die veld en braai lewer en niertjies op die kole. Ons kan dit skaars glo dat ons betaal word om hierdie werk te doen.
Jaggeleenthede kom ook uit ander oorde. Die staatsveearts vra dat ons vlakvarke moet skiet vir varkpestoetse. Op elkeen van die wildplase skiet ons verskeie vlakvarke. Met ’n groot spuitnaald trek ons bloed uit die hart in ’n proefbuis en vries dit. Met maandeinde neem ons dit Marble Hall toe.
Die Ontwikkelingskorporasie het ook ’n skaap- en bokteelprojek in die gebied. Daar is rooijakkalse ’n probleem en ek en Riaan word soontoe gestuur. Ons skiet genoeg jakkalse vir ’n enkelbedkaros.
Dan kom die boodskap dat die manne van Siyabuswa hulle nuwe raadsaal wil versier. Elandsfontein lê teen die hoëveld. Dis mooi oop veld en ons het nog nie veel daar geskiet nie, die sebras is nog mak.
Ek en Riaan gaan uit op ’n dagjag. Ons sluip van boekenhoutboom tot termiethoop. Siyabuswa se nuwe raadsaal kry vier sebrahingsvelle as muurbehangsels.
Dan is daar ook nog die gekweste blesbok of hartebees wat ons ná elke naweekjag moet gaan verlos. Aan die einde van die jagseisoen is ek en Riaan skerpskutters.
Die direkteur vra my om vir oulaas vir hom ’n blouwildebees te gaan skiet; hy soek die vel vir sy kantoor se vloer. Ek ry Hartbeeshoek toe en kry ook sommer vinnig ’n trop blouwildebeeste. Hulle staar my blasend aan soos ek aangestap kom. Ek plak my op ’n lae termiethoop neer. Hierdie keer het ek die .30-06. ’n Groot bul staan effe na agter, verskuil deur ’n vers. Dis die een wat goed sal lyk op die direkteur se vloer, besluit ek.
Ek haal die geweer oor. Ek wag dat die trop ’n bietjie maal en trippel en dan is die bul voor. Uitdagend blaas hy in my rigting. Hy wys my sy voorkant. Ek lê aan. Ek trek die korrel op sy kuiltjie. ’n Maklike skoot, dink ek. Té maklik. Ek lig die loop boontoe vir ’n kopskoot. Halfpad op sluit my hand te vroeg en ek druk die sneller af.
Die skoot sing leeg in my ore. Ek sien hoe die bul sy kop skud en een keer bokspring. Dan laat vat hy en sy trop in ’n stofwolk. Voor hulle in die ruigte verdwyn, kry ek ’n laaste blik op die bul. Iets hang los by sy bek. Ek het sy kakebeen afgeskiet.
Vergeefs soek ek. Ek kry bloedspatsels op klippe. Bloeddruppels aan grashalms. Ek volg die spoor die res van die dag. Af en toe gewaar ek deur die takke die trop in die verte. Hulle laat my egter nie weer naby kom nie. Teen laatmiddag het die trop se spore ander wildebeeste s’n gekruis en ek raak deurmekaar met die spore.
Mislukking kom lê swaar in my gemoed. Vir ’n wyle oorweeg ek dit om die ding stil te hou. Toe te smeer. Dan berispe my gewete my. Ek sluk my trots. Ek radio vir Riaan; hy en Hendrik moet kom help.
Voordagmôre is ons op. Hendrik Mahlangu bring ons terug op die spoor. Ons kry die trop. Die bul is nie meer by hulle nie. Teen middag kry ons ’n plek waar hy onder ’n horingpeultjieboom gerus het. Die gras is plat; daar is klein druppeltjies bloed en groter spatsels serum. Hy is weer vort.
Ek dink aan die wildebees. Dis ’n wond wat nie kan heel nie. Afgesien van die pyn is hy verdoem om van honger en dors te krepeer. Ek haat myself. Hoe onseker was ek nie met daardie eerste koedoe nie. Hoe versigtig en oordeelkundig het ek nie hierdie hele jagseisoen te werk gegaan nie. Nou dit. Sommer net so maak ek alles ongedaan.
Alles vir ’n donnerse mat vir die donnerse direkteur. Nee, vermaan ek myself. Dis nie die direkteur se skuld nie. Ek was lus vir hierdie opdrag, ’n laaste geleentheid voor die jagseisoen sluit. Dis my eie bloeddors en selfversekerdheid wat hierdie ellende veroorsaak het.
Die blouwildebees is skoonveld. Drie dae lank deurkruis ons die plaas van hoek tot kant. Ek kan nie glo dat tweeduisend hektaar so groot kan wees nie. Saans om die vuur probeer Riaan my opbeur. Hendrik Mahlangu lyk min gepla.
Al waaraan ek dink, is hoe die wildebees stadig besig is om uit te teer. Kort tevore nog meester van sy trop, nou waansinnig van honger en dors. Redeloos en sonder begrip.
Ek droom van hom in die nag. Ek droom ek kry hom. Met sy geskende bek vra hy my hoekom. Ek droom ek lê aan. Die sneller is stram en weier om af te trek. Ek trek met al my mag. Dan gaan die geweer af en spoeg die koeël ’n paar meter voor die loop uit. Die wildebees verdwyn in ’n stofwolk.
Teen laatmiddag die vierde dag kom Hendrik Mahlangu by die kamp aan. Ek en Riaan het moed opgegee. Hendrik het hom opgespoor.
Ons kry hom in ’n ruigte lekkerruikpeule langs die spruit. Dit lyk skaduryk en vreedsaam, ’n goeie plek om te kom vrek. Hy lê in die gras. Hy hou ons dop soos ons aankom, maar hy staan nie op nie. Sy vel is dof en vaal. Sy heupbene en ribbes wys. Sy kakebeen hang los en sy tong hang slap by sy bek uit. Droog en bruin.
Ek haal die geweer oor en stap nader. Met ’n skoot deur die brein beëindig ek sy lewe.