Читать книгу Stoffel: die beste stories - Christiaan Bakkes - Страница 7

Krokodil in ’n pisvel

Оглавление

“Wag! Stop die bakkie.”

“Wat? Hoekom?”

“Krokodil.”

“Ag kak, man.”

“Krokodil, ek sê jou. Stop die bakkie.”

“Wat sal ’n krokodil hier maak?”

“My gots, man, stop net die fokken bakkie, dan wys ek jou. Ek’s mos nie blind nie.”

Daniel verminder spoed en trek van die pad af. Ek spring uit en draf na die rand van die water. Steve klim ook uit en volg.

“Jy’t seker ’n likkewaan gesien,” sê hy.

Ek gee hom net ’n kyk en soek verder oor die watervlak en riete aan die oorkantste oewer. Gedwee klim Daniel uit en stap nader.

Ek beduie vir hulle om stil te bly. Lank staar ons na die water. Steve sien dit eerste. Ek en Daniel is besig om die riete dop te hou toe iets in die middel van die dam verskyn. Vir die ongeoefende oog lyk dit soos ’n ruwe stuk boombas.

Steve raak aan my skouer. “Stoffel, daar’s hy.”

“Ja, wragtig,” sien Daniel hom ook raak.

Ek knik tevrede. “Nou ja, daar het julle dit.”

Asof hy bevestiging nodig het, stap Daniel bakkie toe en gaan haal die verkyker. Deur die lense word die laaste twyfel uit die weg geruim.

“Nou wat sal hy hier maak?”

Ons staan op die oewer van die gronddam langs die grootpad. Op die stowwerige vlakte aan die oorkant staan sinkpondokke en kleihutte so ver soos die oog kan sien. Rommel lê orals rond en plastieksakke fladder aan die doringbome.

Ek kyk na Steve en Daniel. “Kêrels, vanaand kom ons hom vang.”

Ons al drie werk vir die departement van landbou op wildplase in die tuisland van KwaNdebele. Ons was op pad na die kantoor op KwaMhlanga toe ek die krokodil gewaar het. Ons doen navraag.

Die krokodil is al ’n geruime tyd in die dam. Die kinders gooi hom met klippe en die polisie het al ’n keer op hom kom skiet. Waar hy vandaan kom, weet niemand nie. Miskien het hy oor land van die Elandsrivier af geloop, dis sestig kilometer weg. Die mense is al lankal ontevrede oor sy teenwoordigheid. (Eers veel later sou ons hoor van die babakrokodilletjie in ’n visdam by die nabygeleë polisiebasis. Hy was blykbaar die onluste-eenheid se gelukbringer, maar hy’t te groot geword vir die visdam. Dis onbekend of hy self ontsnap het en of die polisiemanne hom in die dam gaan vrylaat het.)

Ons handig ons maandverslae en logstate in en ry terug om ons operasie vir die aand te beplan. In die skuur by die opstal waar ons bly, kry ons ’n ou glasveselboot, toe onder die stof en rommel. Daar is nie roeispane nie en twee word aanmekaar getimmer met oorskietlaaghout en planke.

Daniel vra vir drie vrywilligers onder die Pedi-veldwagters. Soos gewoonlik is dit John Peba, Josef Mokoa en Petrus Sepogwane wat hulle bereidwillig verklaar.

Ons bespreek die strategie en stel ’n lys van toerusting op. ’n Sterk skietlamp word uit ’n staalkas gehaal. Steve en John Peba maak ’n bloudraadring om ’n besemstok se punt vas en daaraan word ’n lus van nylontou geheg. Die plan is om die ring oor die krokodil se kop te kry en dan die lus styf te trek sodat daar ’n tou om sy nek is. Josef en Petrus stap veld toe om stewige kierieklapper-mikstokke te gaan kap. ’n Panga en ’n rol speklap word ingepak, ook ’n groot rol tou. Ons sny ’n fietsbinneband middeldeur en maak ’n lus aan die punt. By die jagkamp haal ons ’n ou pisvel van ’n matras af.

Ons laai die toerusting in en bind die boot agterop die bakkie vas. Almal trek langmou-oorpakke aan. Dis laatmiddag toe ons op die plaas wegry. Kort voor sononder is ons by ons bestemming.

Ek stap saam met die drie Pedi’s om die dam. Tussen die riete gewaar hulle die krokodil. Terwyl Daniel en Steve die bakkie se battery uithaal, maak ons die boot los en kry dit in die water. Die battery word in die boeg neergesit en die koord van die skietlamp aan die pole gekoppel. Twee manne sal roei en een sal die skietlamp vashou. Die res sal met die ring en mikstokke regstaan om die krokodil te vang.

Tydens dié delegering van pligte staan Petrus Sepogwane half eenkant.

“Wat’s fout, Petrus?” vra ek.

“Ek kan nie swem nie, morena.”

Teen agtuur is dit donker. John Peba en Josef Mokoa roei ongekoördineerd en die boot waggel oor die water. Steve vee met die skietlamp oor die dam. Ek hou die besemstok met die draadring vas en Daniel ’n mikstok.

Die ligstraal kry die krokodil in die middel van die dam. Bewegingloos hang hy in die water. Die skerp lig dring deur die oppervlak en vir die eerste keer kry ons ’n behoorlike blik op die krokodil. Dis nie ’n grote nie, iets onder die twee meter. Sy gepantserde vel is olyfgroen en geel, sy pens wit. Hy lyk spekvet en sy oë glim rooi in die ligstraal. ’n Dooie platanna hang by die kant van sy bek uit.

Plassend en wiegend nader die boot die krokodil. Die naam van ’n kinderverhaal kom vlugtig by my op: Die Swape Vang Krokodille. Die reptiel lê verblind deur die lig wat Steve op hom hou. Dit voel soos ’n ewigheid voor die boot langs hom inbeweeg. Niemand praat nie. Steve hou die lamp stip op die krokodil. Hy mag miskien nie groot wees nie, maar daardie tande wat aan die kant van sy bek uitsteek, lyk gevaarlik genoeg om groot skade aan te rig.

Die krokodil is nou byna teenaan die boot. Steeds hang hy botstil in die water. Ek bring die vangstok in posisie. Stadig steek ek die ring half in die water voor die krokodil se snoet. Ek bring dit versigtig nader. Die ring is nou gelyk met die krokodil se bek. Almal op die boot staar in konsentrasie. Die skadu van die ring val oor die krokodil se gespikkelde geel oog. Dan plons hy met ’n swiep van sy stert en ’n skop van sy gewebde agterpote na benede. Soos blits verdwyn hy in die bruin dieptes van die dam.

Ons kyk vir mekaar. Ons sal maar net weer moet probeer.

Vier uur later is ons nog steeds in die boot op die dam. Teen dié tyd is die bodem van die boot halfvol water. Almal is klam en koud en die gemoedere loop hoog. Nog ’n paar keer ná die eerste poging het die krokodil die boot toegelaat om naby te kom, net om ons te ontglip en vir etlike minute onder die water te skuil – om dan aan die ander kant van die dam op te kom.

By die sinkhuise het ’n paar mense die lig op die water gesien en nader gekom. Petrus Sepogwane op die oewer lewer lopende kommentaar. Die boot het die dam seker al vyftig keer in elke rigting deurkruis. Wat begin het as ’n opwindende avontuur, het verval in ’n herhalende klugspel en die manne begin belangstelling verloor.

Dis toe dat die krokodil sy strategie verander: hy gaan soek skuiling tussen die riete op die oewer. Op plekke is die rietbos so dig dat die boot glad nie daar kan inkom nie. Nou en dan tel die skietlamp die krokodil se rooi oog op, net om dit sekondes later in die ruigte te verloor. Die boot vaar op en af langs die oewer; die manne raak raadop en ongeduldig. Hier is die water vlakker en die boot se kiel skraap plek-plek oor die modderige bodem.

Steve se lamp tel weer die krokodil se oog op. Op Daniel se bevel roei John en Josef nader. Dit lyk asof die krokodil in ’n inham in die oewer skuil. Die boot is ’n paar meter van hom af toe hy duik en buite sig verdwyn. Ek is al moedeloos, maar Steve is wakker. By die inham is daar net een plek waar die krokodil kan ontglip en dis onderdeur die boot.

Hy skyn reg op die water en verlig die rivierbodem onder die boot. Nou gebeur dinge vinnig. Ek sien hoe die krokodil se gepantserde rug tussen die wiere, riete en opdrifsels deur onder die boot se kiel verdwyn. Ek slinger die besemstok weg en gryp die mikstok uit Daniel se hande. Verbete dompel ek die mikstok in die water waar ek laas die krokodil gesien het.

Die water ontplof in ’n kolkende bruin massa soos die spartelende, wriemelende krokodil op die bodem vasgepen word. Die mikstok sidder en beef en ek moet al my krag inspan. Onder my veg twee meter van brute krag om te ontsnap. Die water verander in bruisende sjokoladesop.

Met my skouers en arms wat op die mikstok druk, begin die boot onder my bene uitgly, dieper die water in. John en Josef spook vergeefs om die boot met hulle spane te anker en spoedig is die water onder die kiel te diep. Die ewewig verskuif en ek tuimel in die dam in, bo-op die krokodil.

Ek kan nie bekostig om my greep op die spartelende reptiel te verslap nie. My knieë sak in die modderige bodem weg en ek klou aan die mikstok. Die krokodil is steeds buite sig, maar om my kook en maal die water.

“Bring die boot nader en kom help!”

Petrus Sepogwane verskyn kniediep langs my in die water met ’n tou in sy hand.

“Ek weet nie watter kant sy kop sit nie. As ek nou my hand in die water druk, word hy afgebyt. Steve! Hou die lig op die water.”

Daniel klim uit die boot en kom met die rol speklap aangewaad. “Draai dit om jou hand en voel waar sy stert is.”

Nie die blinkste gedagte nie, maar wat anders?

Ek steek my een hand uit en Daniel draai die lap om. Met my ander hand druk ek af op die mikstok. Petrus is by en help my die stok vashou. John, Josef en Steve kry die boot aan wal.

Met my toegebinde hand kry ek die krokodil se stert en lig dit bo die water uit. Daniel het die tou by Petrus gevat en draai dit nou ’n paar keer om die stert. Hy bind dit stewig vas. Hy en John en Josef gryp die tou.

“Los maar!”

Ek en Petrus verslap ons greep op die mikstok en die spartelende krokodil word deur die riete tot op die oewer gesleep. Steve hou die skietlamp heeltyd op hom en Petrus gee die fietsbinneband vir my aan. Met sy bek groot oop swaai die krokodil sy kop van kant tot kant. Hy is egter verblind en met een beweging laat gly ek die lus om sy bek, trek dit toe en draai die res van die binneband deeglik vas. Petrus gryp die krokodil om die middel en Daniel bind sy agterpote vas. John hou sy stert vas en Josef hardloop om die pisvel in die bakkie te gaan haal.

Spoedig is die krokodil in die pisvel, die battery terug in die bakkie en die boot agterop die bak.

Ons ry Elandsrivier toe om die krokodil te gaan vrylaat. John, Josef en Petrus sit agterop onder die boot, Daniel bestuur en ek en Steve sit langs hom met die krokodil oor ons skote. ’n Verbysterde groepie toeskouers bly op die oewer agter.

Telkens moet Daniel rem trap vir beeste en donkies in die pad.

Ek kry ’n plan. “Kom ons gaan slaap by Boet se huis. Ons kan die krokodil môre loslaat.”

“Ja,” beaam Daniel. “Ek wil van hierdie nat klere ontslae raak.”

Steve kyk op sy horlosie. “Boet sal in sy broek kak as ons nou by sy huis aankom met ’n krokodil in ’n pisvel. Dis halftwee in die môre.”

“Dis lankal tyd dat ons hom bietjie terroriseer. Kom ons gaan!”

Steve lag. “Ja, kom ons gaan. Fok vir Boet anyway. Hy lê lekker en slaap terwyl ons krokodille vang.”

Boet is ons ernstiger kollega. Hy bestuur ’n wildplaas op die oewer van die Elandsrivier. Wanneer ons drie Saterdae rugby luister, braai en bier drink, loop Boet met sy verkyker en voëlboek in die veld rond. Omdat hy gesteld is op sy privaatheid, maak ons ’n punt daarvan om op ongeleë tye by hom op te daag.

Daar word nabetragting gehou oor die krokodilvang-operasie. Elkeen vertel sy kant van die storie. Oomblikke word onthou en daar word lekker gelag. Ons is dit eens: die operasie was ’n groot sukses. Weer eens het ons as veldwagters in die belang van die natuur opgetree. Ons is oppassers van die natuur en redders van mens en dier. Iemand sou die krokodil een of ander tyd kom skiet het, of hy sou groot genoeg geraak het om ’n kind te vang. Nou vat ons hom na die Elandsrivier waar nog gereeld krokodille gewaar word. Daar sal hy vry wees om in vrede voort te leef.

Ná ’n lang getoet by die hek van die wildplaas kom die hekwag gaap-gaap uit sy hut om oop te sluit. Die tweespoorpaadjie kronkel deur die doringbome na die huis toe. Met die stilhou verkas Petrus-hulle kampong toe.

Boet lyk of hy in trane wil uitbars toe hy deur die slaap en kers in die hand die agterdeur oopmaak. Ons bars uitbundig by die kombuis in. Steve het die krokodil in die pisvel onder sy arm. Hy sit hom op die kombuisrak neer en stap na die gas-yskas.

Hy haal drie biere en ’n blok kaas uit. Hy gee vir my en Daniel elkeen ’n bier aan, sny ’n groot homp kaas met sy knipmes af en stop dit in sy mond. Boet lyk desperaat.

“O sorrie, Boet, wil jy ook ’n bier hê?” vra Steve.

“Boet, ons soek slaapplek,” sê ek. “Ons wil van ons nat klere ontslae raak en iets vir die nag in jou bad laat slaap.”

“Wat?” vra hy.

Ek tel die pisvel van die kombuisrak af op. “Kom kyk.”

Die ander krokodilvangers loop agter my aan badkamer toe. Boet volg mismoedig met die kers.

Ek skud die pisvel oor die leë bad oop en die krokodil val uit. Hy wriemel ’n paar keer voor hy besef hy is nog vasgebind en magteloos. Dan lê hy stil.

Boet staar na die krokodil. “Maar julle kan mos nie die ding in die bad los nie,” sê hy amper pleitend.

“Wel, as jy ’n beter plek vir hom het, haal jý hom uit.”

Boet blaas die aftog en stap brommend na sy slaapkamer. Hy klap die deur agter hom toe.

Daniel steek nog ’n kers op en ons drink ons bier klaar in die voorhuis. Kort-kort grinnik een opnuut oor Boet se reaksie. Ons trek ons klam oorpakke uit en elkeen beset ’n rusbank of ’n oop bed.

Die bospatryse kondig die nuwe dag aan. Daniel staan op en gaan maak koffie in die kombuis. Ek stap in die halflig op die werf uit om te gaan fluit. Die môrester skyn nog in die grys hemel. Vandag gaan ’n mooi dag wees. Ek staan ’n rukkie buite en voel hoe die bosveld om my wakker word.

Terug in die huis is die koffie gereed. Daniel het ’n doos Ouma-beskuit in Boet se koskas geannekseer. Ons doop dit in die sterk, soet koffie.

Boet word wakker en kom sit by ons in die voorhuis. Hy lyk of hy lekker geslaap het en toon belangstelling in die krokodilvangs. Hy vra uit en ons vertel entoesiasties. Boet geniet dit veral om te hoor hoe ek in die water geval het.

Toe die son oor die doringboomtoppe lig en die voorhuis se ruit vang, staan ek op. “Kêrels, kom ons gaan los daai krokodil in die rivier.”

Die ander staan op en ons loop badkamer toe. Ek gesels nog met Steve en kyk skuins oor my skouer na hom terwyl ek oor die bad se rand buk om die krokodil agter die nek op te tel.

“Stoffel, pas op!” Steve ruk my aan die skouer terug.

Die krokodil lig hom met sy stert regop. Blitsig swaai sy bek in die rigting van my uitgestrekte hande. Dit klink soos ’n geweerskoot toe sy bek toeklap. Die binneband wat sy agterpote en bek vasgehou het, lê in repies in die bad.

Ek en Steve tuimel agteroor. Ons stamp vir arme Boet in die muur vas dat sy agterkop klap. Ons land bo-op mekaar op die badkamervloer; Daniel lê op die naat van sy rug in die gang. Die krokodil val terug in die bad en spartel verbete, maar hy kry nie vasskopplek teen die gladde wande nie.

Ons sit grootoog regop. Boet vryf sy agterkop.

Ek inspekteer my hande vir skade. Die krokodil het my vingers naelskraap gemis.

Die bakkie ry kronkelend op ’n tweespoorpaadjie rivier toe. ’n Troppie rooibokke hou ons vanuit ’n sekelbosruigte dop. ’n Vlakvark bars uit die lang gras en vlug stert omhoog voor ons uit. Ons stop op die vloedvlakte langs die oewer.

Boet wys ’n sandbank uit. “Daar het ek laas week ’n knewel gesien.”

Ek lig die krokodil, veilig vasgebind en in sy pisvel ná ’n helse gespook in die badkamer, van die bakkie af. Ek skud hom versigtig op die sanderige oewer uit. Terwyl Petrus sy kop vashou en Steve sy stert, haal ek die binneband van sy agterpote en bek af. Almal staan tru, versigtig en vol respek.

Die krokodil lê nog so ’n rukkie. Dan lig hy hom op sy kort bene en stap water toe. Hy gly in en verdwyn. Ná ’n ruk verskyn sy kop in die middel van die Elandsrivier soos hy stroomaf swem.

Stoffel: die beste stories

Подняться наверх