Читать книгу Stoffel: die beste stories - Christiaan Bakkes - Страница 11
Bittereinder
ОглавлениеGister is die eerste trop sebras gevang. Sebras hoef nie onder kwarantyn te staan nie. Hulle dra nie dieresiektes soos wild met gesplete hoewe nie. Nadat hulle gevang is, kan hulle onmiddellik afgevoer word na ’n nuwe tuiste.
Die trokke is egter nog nie terug nie en die wildvangspan se tyd raak min. Koos Prinsloo, die leier van die wildvangspan, het besluit om solank te vang en die sebras in die kwarantynkampe te hou. Die trokke, wat ’n besending rooibokke en tsessebes ná hulle kwarantyn Waterberg toe vervoer het, behoort môreaand terug te wees.
Vandag word daar weer sebras gevang. Vlieënier Ben Kilpatrick het vanoggend oor die Wes-Caprivi se boswêreld gevlieg en ’n trop langs ’n pan in die Manywa-omuramba opgespoor. Die Caprivi se veld is suur. Afgesien van olifante en buffels kom ander wild nie in groot troppe hier voor nie.
Die Muhango-wildtuin het twintig sebras aangevra. In gister se trop was daar nege. Die enigste vragmotor wat by die wildvangspan agtergebly het, is die stokou Mercedes. Nie vinnig en betroubaar genoeg om wild oor lang afstande te vervoer nie, maar steeds geskik om wild van die vangkrale af na die kwarantynkampe te skuif.
Die vangkraal word in die omgewing van die pan opgerig. Dis beter om wild te vang in die laatmiddag, as dit koeler is. Die vangkrale moet dus in die hitte van die dag op. Dis harde werk. Kasupi, Daan Titos, Shorty en Sagous plant pale. Ek, Harvey, Hannes en Kaunda span kabels. Craig is doenig met die draadtang en bloudraad. Samuel en die ander Ovambo’s kap bosse uit.
Koos Prinsloo hou met ’n valkoog toesig. Alles moet presies reg wees, en wee die man wat lyf wegsteek. Kabels sny in handpalms in en kneukelvelle bly teen pale agter. Splinters steek in vingers en sweet brand die oë. Dan word die seile gelig en die gordyne gespan. Die manne is jonk en sterk en hulle is opgewek ten spyte van die harde werk.
Die breë bek van die tregtervormige vangkraal word goed versteek tussen bosse en bome. Die sebras moenie te vroeg onraad merk nie. Die helikopter styg vir ’n tweede keer op. Langs Ben Kilpatrick sit die wildvangspan se veearts, dokter Alex Kemp.
By die vangkraal versteek ons ons by die bek van die tregter. Kort daarna hoor ons die helikopter nader kom. Ons kan nog niks deur die bome sien nie, maar ons weet dat die sebras iewers tussen die vangkraal en die klank van die helikopter voortvlug. Ons hou ons klein tussen die struike. Die helikopter dreun nou suidoos van die vangkraal. Dan klink dit of hy nader kom. Die afwagting laai op by die bek van die vangkraal.
Die helikopter verskyn laag bo die boomtoppe. Dit vlieg heen en weer, duik af na die een kant, lig weer, vlieg na die ander kant en keer daar. Nou hoor ons die dreuning van die hoefslae uit ons skuilplekke. Die sebras donder by die bek van die kraal in. Die helikopter kom laag oor hulle in. ’n Alarm gaan af. Dis die vlieënier se sein.
Kasupi en Kaunda bars uit hulle ghwarriebos. Gordyn in die hand nael hulle kraal toe. Die draadringe sing oor die stywe kabel. Die gordyn trek toe en die sebras is binne. Agter hulle beweeg ’n linie mans in: Ovambo’s, Afrikaners, Engelse en Herero’s, elkeen met ’n stewige kierieklapperlat in die hand. Die helikopter gaan soek ’n landingsplek.
Nou begin die sports.
Die vangkraal se seil is van geweefde plastiek. Enige wilde dier kan met gemak daardeur breek, maar omdat hulle nie die buitekant kan sien nie, dink hulle dis ’n soliede versperring. Die tregter vernou geleidelik tot ’n drukgang. Die drukgang lei na ’n loopvlak wat skuins teen ’n laaiplatform oploop. Aan die einde van die laaiplatform staan die ou Mercedes-trok met sy hoë wande van metaal en hooi op die vloer. Die sebras moet daar in.
Daar is twaalf van hulle. Hulle hardloop dieper die vangkraal in en begin voor die drukgang maal. Hulle skop en trap en blaas. Die stofwolk om hulle ets hulle af teen die sakkende son. Daan Titos trek ’n tweede gordyn, wat die vangkraal in twee verdeel, agter die sebras en die linie mans toe. Nou is almal in ’n kleiner kompartement. Stof en die reuk van droë blare hang in die lug.
Die sebras steek vas voor die drukgang. ’n Groot hings dek die agterhoede. Hy staar dreigend na die aankomende linie mans. ’n Jong merrie blaf senuagtig. Dan neem die hings die inisiatief. Hy begin met ’n drafstappie parallel met die mans wat nou hulle latte swaai en fluit. Die hings tel spoed op en maak seker dat sy trop hom volg. Onverwags swenk hy reg op die wildvangers af. Hy mik vir die gaping tussen Craig en Sagous. Met uitgestrekte arms en swaaiende latte probeer hulle keer, maar die hings is vasberade. Hy kry ’n raps op die nek, skouer Craig dat hy daar trek en dan bars die trop deur die linie.
Nou staan hulle by die hoek van die gordyn. Die hings is kwaad en verbouereerd. Hy sien geen ontsnappingsroete nie. Die mans begin hergroepeer en terugval na die gordyn. Koos Prinsloo gee bevele. Dokter Kemp sluit by die mans in die vangkraal aan.
Weer word die sebras vorentoe gedryf in die rigting van die drukgang. Die hings bly tussen sy trop en die gevaar. Die manne fluit en jil, die trop maal en die hings begin met sy drafstap. Hierdie keer is dit Hannes wat flink moet trap om onder die hings se hoewe uit te kom. Weer ontkom die trop.
Die sebras hardloop met die gordyn langs. Die linie vorm nou om hulle teen die wand van die vangkraal vas te keer. Waar die gordyn teen die seilwand eindig, swenk die trop links en draf met die wand langs. Nou beweeg die onderpunt van die linie agter die sebras in om hulle af te sny. In enkelgelid hardloop die diere al met die seil langs na die bek van die drukgang.
“Hang terug, manne. Hang terug,” beveel Koos Prinsloo.
Die voorste sebra, ook ’n volgroeide hings, bereik die drukgang en lyk of hy wil huiwer.
“Nou, manne! Storm!” beveel Koos Prinsloo.
’n Onaardse gebrul styg uit die kele. Met latte omhoog sak hulle soos ’n Matebele-impi op die sebras toe.
Dis te veel vir die verbouereerde diere. Die voorste hings glip by die drukgang in en die ander volg. Heel laaste is die groot hings. Die manne storm by die drukgang in en Shorty trek die laaste gordyn toe.
In die nou drukgang is dit chaos. Die sebras trap en maal en blaf. Waar die manne kan bykom, foeter hulle die sebras oor die boude. ’n Paar klim teen die wand van die drukgang uit en karring die sebras van bo af. ’n Soliede stofbank hang om die drukgang.
Die sebras maal al hoe nader aan die laaibank. Die voorste hings sien die opening aan die einde van die laaibank. Hy gaan oor in ’n galop met die drukgang langs en teen die laaibank op. Die ander volg. Die volgende oomblik is die hings in die trok. Met die oorverdowende geraas van hoewe op metaal volg die trop hom tot in die trok. Almal behalwe die groot hings.
Dis ’n hings in sy fleur. Dis duidelik dat hy hard werk om sy trop en sy posisie te behou. Hy dra die litteken van ’n leeu se kloue op sy boud.
Voor die loopplank steek hy vas en skop agtertoe met al twee bene. Sy gevaarlike hoewe mis rakelings ’n paar koppe. Dan spring hy op sy agterpote en in een beweging draai hy om in die nou drukgang. Hier moet hy uit.
Ons sien sy verbetenheid en huiwer. Hy sien sy kans en storm op ons af. Orals klouter manne teen die wande van die drukgang uit. Ek is te laat en kry ’n geniepsige byt aan die skouer terwyl ek op my sy gestamp word. Samuel beland onder die hoewe en beskerm sy kop met al twee arms. Later moet dokter Kemp hom pynstillers inspuit vir ’n gekraakte rib.
Die gordyn tussen die drukgang en die vangkraal is op ’n skrefie oop. Die hings werp hom daardeur. Die gordyn skeur van die kabels af en word in die stof vertrap. Dan staan die hings in die middel van die vangkraal.
Om ons daal die stof neer en die laatmiddagson deur die herfsblare hul die hings in goud. Hy staan daar. Blasend. Uitdagend. Sy hoewe vertrap die aarde. Julle het my trop gevat. Vir my kry julle nie.
Teen sononder spook ons nog vergeefs om die hings in die drukgang te kry. Ons is moeg gejaag en uitasem. Die sweet maak spoortjies deur die stof op ons gesigte en kaal bolywe. Die sebra ontglip ons keer op keer.
Dis toe dat dokter Kemp besluit om die pylgeweer te laai.
Die Palmer-pylgeweer kan ’n veerpyl met ’n kapsule vol kalmeermiddel akkuraat oor vyftig meter skiet. Die hol naald dring die sebra se boudspier binne en die impak forseer die kalmeermiddel uit die kapsule en deur die naald tot in die weefsel. Nou wag ons.
Gou loop die sebra kop onderstebo. Hy spook om sy bewussyn te behou. Ons probeer weer. Hy staar na ons en blaas soos ons nader kom. Dan spring hy om en trippel weg. Ons trek die kring nouer. Die sebra besef hy sal weer moet deurbars. Hy loods sy stormloop.
Die springhaasgat was goed versteek in die gras. Die kalmeermiddel het die hings benewel. Twee meter weg van die linie en op volle galop verdwyn sy voorbeen in die aarde. Dit klink soos ’n sweepslag soos sy totale gewig sy been morsaf breek. Die aarde dreun soos hy neerslaan.
Verdwaas kom hy orent en strompel weg op drie bene. Reddeloos staar hy ons oor die afstand aan. Ons staan besluiteloos, amper skuldig, soos seuns wat ’n speletjie te ver gevoer het.
’n Stilte het oor die skemer veld gedaal. Uit die stilte word respek gebore. Ook die wete dat die werk nou klaar is.
Ek breek weg uit die linie en kruip onderdeur die seil, kom terug met die R4. Die span van die slotaksie klink skerp in die aandlug. Skerper klink die knal uit die geweerloop.