Читать книгу Christine le Roux Keur 4 - Christine le Roux - Страница 10

Hoofstuk sewe

Оглавление

Omtrent ’n week na Linda se kuier, val al twee kinders in met pampoentjies. Emma kry dit nie baie erg nie, behalwe ’n nag of twee van koorsigheid en toe ’n opgeswelde gesiggie. Daarna sukkel Olivia om haar in die bed of ten minste in die huis te hou. Nicky kry dit erger; hy is baie koorsig, sy keel is so seer dat hy niks wil eet of drink nie en Olivia moet dag en nag by hom bly omdat hy na haar roep nes sy ’n oomblik lank uit die kamer gaan.

Ongelukkig val hierdie siekte saam met ’n baie belangrike saak waarby Nicolas betrokke is, sodat hy feitlik nooit tuis is nie en nie veel kan help nie. Hy voel skuldig hieroor, maar terselfdertyd diep dankbaar teenoor Olivia wat daar is en sonder klagtes voortgaan.

Teen die Saterdagaand voel Nicky effens beter en Olivia, wat gehoop het Nicolas kan oor die naweek bietjie oorneem en haar kans gee om te rus, word weer teleurgestel.

“Ek kan nie hierdie ete kanselleer nie,” sê hy vir haar voor hy die aand uitgaan. “Dis regter Henning en dis weke gelede al gereël en bevestig.”

“Natuurlik,” sê sy. “Toe maar, dis in orde. Ek en die kinders gaan almal vroeg slaap.” Sy vee oor haar taai voorkop. Die weer is baie drukkend, ’n seker teken dat ’n donderstorm op pad is.

“Wou jy uitgegaan het?” vra hy bekommerd.

“Nee!” Sy lag wild. “Dis die laaste ding waarvoor ek kans sien.” Sy hoor ’n motor buite en kyk vinnig deur die venster. “Daar’s Yvonne,” sê sy en draai weg. “Jy beter gaan.”

Sy gaan boontoe, spons die kinders af, laat hulle op haar bed lê en televisie kyk en gaan lees uiteindelik vir hulle ’n storie. Nicky drink sy medisyne gedwee en sy sit ’n ruk by hom tot hy aan die slaap is. Haar hart voel week wanneer sy na hom kyk: die opgeswelde gesiggie en die wangetjies wat nog rooierig gloei. Dis steeds warm en sy maak al die vensters oop sodat ’n luggie kan inkom. Toe sy seker is albei kinders slaap vas, loop sy sleepvoet na haar badkamer toe en tap die bad vol. Haar lyf voel seer en lam van die week se min slaap en sy lê byna ’n uur lank in die bad, haar oë toe.

Teen die tyd dat sy uitklim, is die storm bokant die huis. In al die kamers klap en wapper die gordyne soos die wind hulle heen en weer ruk en sy hardloop van die een kamer na die ander om toe te maak. Dit het ook onverwags koud geword, besef sy, veral omdat sy nog steeds net toegedraai in ’n nat handdoek rondloop. Terwyl sy in haar kas soek na iets om aan te trek, dreun die eerste donderslag. Sy bly staan, haar kop skeef gedraai, want sy verbeel haar sy het iemand hoor roep. Maar dis stil afgesien van die gedruis van die wind buite. Sy gryp haar sweetpakbroek en ’n pajamabaadjie en koes toe die kamer blou verlig word deur ’n weerligstraal. Haar voete voel koud en sy pluk ’n paar sokkies uit die laai, maar toe sy dit aantrek, sien sy dis nie hare nie. Dit lyk na Nicolas se tennissokkies wat Katie seker per ongeluk in haar laai gesit het. Nie dat sy haar nou daaroor kan kwel nie, sy trek dit aan al is dit myle te groot.

’n Donderslag kraak deur die lug, so hard dat sy ’n klein gilletjie onderdruk. Dit voel of die huis in twee geslaan is en sy haas haar na die kinders se kamers toe om te kyk of hulle nie geskrik het nie. Emma slaap rustig, maar Nicky is nie in sy kamer nie.

“Nicky?” roep sy en hardloop terug na haar kamer toe.

Hy is nie daar nie en in die kort stilte voor die volgende slag, verbeel sy haar sy hoor hom huil êrens onder in die huis. Sy spring die trappe twee-twee af en kry hom inderdaad in die deur van die sitkamer. Die hele huis is donker behalwe ’n paar leeslampe in die sitkamer wat bly brand tot Nicolas by die huis kom.

“Pappa,” sê Nicky betraand.

Sy kniel langs hom. “Pappa is uit, maar hy kom nou-nou terug. Wil jy nie maar kom slaap nie?”

Hy sidder toe die volgende slag soos ’n sweepklap bo die huis slaan en die volgende oomblik begin dit hael. “Livja?” kerm hy en klou aan haar vas soos ’n beangste diertjie.

“Toe maar, toe maar,” sus sy. “Dis net die reën. Dit sal nou minder word. Kom ons gaan slaap maar. Jy kan by my kom lê as jy wil.”

Hy wys na die sitkamer. “Wag vir Pappa.”

“Ons kan nie hier wag nie,” sê sy redelik. “Hoekom gaan wag ons nie bo in jou kamer nie?”

Hy skud sy kop. “Hier vir Pappa wag.”

Sy sug. “Goed, ons kan hier vir Pappa wag. Sal ek gou vir ons bietjie Milo gaan maak?”

Sy oë kry lewe. “Bietjie lekker Milo.”

“Nou toe,” lag sy en wys na die groot rusbank met sy vet, sagte kussings waarop byna niemand ooit sit nie. “Gaan lê jy solank daar, ek bring die Milo.”

Teen die tyd dat sy terugkom en hulle kruisbeen op die bank sit en drink, is die ergste storm verby. Die kamer word nog nou en dan verlig deur ’n laaste weerligstraal, maar die donderweer rammel al verder weg en al wat nou hoorbaar is, is die gesuis van die reën.

“Lekker reën,” sê sy vir hom. “Nou gaan al die plantjies groei en groot word.”

Hy drink net ’n sluk of twee van sy Milo voor sy oë begin verlep en sy vat die koppie by hom, sit dit op die tafeltjie neer en wys hy moet lê. Sy skik die kussings almal aan die een kant en wys hom waar hy moet lê.

“Livja ook lê,” sê hy beslis.

Sy gaan lê langs hom. Sy sal wag tot hy slaap, dink sy, en hom dan boontoe dra, maar sy onderskat haar eie uitputting. Hy krul sy lyfie teen hare vas en hulle wriemel tot hulle hulle lê kry, en dit is die laaste wat sy onthou.

Nicolas sluit die voordeur so teen middernag oop en Yvonne stap voor hom uit. “Sal ek vir ons gaan koffie maak?” vra sy.

Ja,” sê hy. “Ek wil gou by die kinders gaan inloer.”

Hulle stap by die sitkamer in en hy help haar om haar jas uit te trek. Albei bly verstom staan en kyk na die toneeltjie voor hulle.

“Nou toe nou,” gee Yvonne ’n rinkellaggie. “Kyk wat lê hier op die bank.”

Nicolas skud sy reënjas af en staan nader. Nicky lê styf teen Olivia, sy een handjie teen haar nek. Sy het haar lyf om syne gevou en Nicolas bekyk haar stilswyend. Sy dra ’n grys sweetpakbroek, ’n pajamabaadjie met geel en blou teddiebere op en sy tennissokkies. Hy wonder afgetrokke waarom juis sy sokkies. Haar los hare het halfpad oor haar gesig geval, haar wimpers lê in donker halfmane op haar wange. Hy voel opnuut skuldig toe hy die donker kringe onder haar oë sien.

“Nou toe, Nicolas,” sê Yvonne. “Maak hulle wakker dat hulle boontoe kan gaan. Ons gaan tog nie nou ’n middernagfees hou met kinders en gehuurde oppassers nie?”

“Nicky was baie siek,” sê hy afgetrokke. “Albei kinders het pampoentjies.”

Yvonne staan vinnig ’n paar tree terug.

“En sy dra al die verantwoordelikheid,” gaan hy voort asof hy met homself praat. “Ek was eenvoudig nooit die afgelope week by die huis nie. Sy het hulle dokter toe geneem en snags by hulle gesit. Sy sorg dat hulle vermaak word en eet en as hulle naar word, vee sy op.”

“Regtig, Nicolas,” lag Yvonne. “Wil ek hiervan hoor?”

“Sy doen veel meer as wat ek van haar verwag,” sê hy.

Haar stem bly strelend. “Dis waarvoor jy haar betaal.” Sy kyk ergerlik na die slapende Olivia. “Hoe ook al, maak haar wakker dat sy Nicky boontoe neem.”

“Nee, ek sal hom neem.” Hy buk, skuif sy hande versigtig onder die slapende lyfie in en lig die kind op. Nicky maak nie ’n geluid nie, sy koppie val net slap teen sy pa se bors.

“Ek sal solank die ketel aanskakel,” sê Yvonne en swiep uit die kamer uit.

Nicolas dra Nicky na sy bed toe, trek die komberse oor hom en soen hom op sy voorkop.

“Pappa,” sê Nicky sonder om sy oë oop te maak.

“Ja, ek is hier. Slaap nou weer lekker.”

Nicky glimlag effens, draai om en slaap onverstoord verder. Nicolas gaan terug na die sitkamer toe en staan en afkyk op Olivia. Hy het nie die hart om haar wakker te maak nie, sy lyk so uitgeput en slaap so vas. Hy buk, stoot sy arm onder haar in en lig haar ook op.

“En nou?” vra Yvonne skerp vanuit die deur. “Sy kan mos self loop!”

Hy frons waarskuwend. “Sjjt,” sê hy saggies en skud sy kop. Hy verbaas hom oor hoe lig sy is. Niks meer as ’n arm vol nie. Sy moet baie diep slaap want nóg die gepraat, nóg sy hantering van haar, maak haar wakker. Nes Nicky, val haar kop slap teen sy bors en hy dra haar die trap op.

By haar bed gekom, moet hy akrobatiese toere uithaal om die beddegoed weg te trek en haar op die matras neer te lê. Die geskommel maak haar halfwakker en haar hand gryp angstig na die voorkant van sy hemp.

“Toe maar,” sus hy. “Dis net ek. Julle het op die bank aan die slaap geraak.”

Sy knip haar oë, maar kry nie gefokus nie. “Nicolas?”

“Ja.” Hy trek die beddegoed oor haar skouers.

Sy beur effens regop, trek haar voet uit en begin die sokkies afrem. “Dis nou warm,” mompel sy deur die slaap.

Hy help haar, trek die ander sokkie af.

“Die storm,” sê sy en krul weer op, haar wang diep in die kussing.

“A,” sê hy. “Dis waarom jy my sokkies dra. Dis gerusstellend as daar ’n storm is.”

Sonder om haar oë oop te maak, gee sy ’n laggie. “Nee, Nicky was bang. Wou vir jou wag.”

Hy vou die komberse weer oor haar skraal skouers. “Ek het hom ook in die bed gesit. En jy staan nie vannag vir een van hulle op nie. Ook nie môre nie. Jy gaan nou slaap tot Maandagoggend.”

“H’m,” sê sy.

Hy raak vlugtig aan die holtes onder haar oë. “Ek is ’n baie selfsugtige man,” sê hy. “Ons verdien jou glad nie.”

“H’m,” sê sy weer.

Hy lag, ’n diep, gerusstellende geluid. “Jy hoef nie so vinnig saam te stem nie. Toe, slaap nou, die storm is verby en albei kinders vas aan die slaap.” Hy wil net wegdraai, buk dan skielik af en soen haar op die voorkop nes hy met Nicky gedoen het.

“Wel,” sê Yvonne toe hy terugkom in die sitkamer. Haar stem is nou yskoud. Sy gee vir hom sy koppie aan en begin vieserig die geduikte, verdrukte kussings op die bank uitklop en regsit. “Was dit nodig om haar boontoe te dra? Liewe aarde, sy kan mos loop.”

“Sy het baie vas geslaap.”

“Sy kan wakker word.” Yvonne staan terug en bekyk haar handewerk krities. Haar oog val op die twee Milo-bekers en sy tel dit vieserig op en sit dit op die skinkbord neer. “Hier gesit en Milo drink. Ek dog jy het die kinders verbied om in die sitkamer te eet?”

“Nicky was bang vir die storm,” sê hy gelykmatig. “Hy wou hier vir my wag.”

“Sy is glad nie streng genoeg met die kinders nie.”

“Hoe sal jy weet, Yvonne?” vra hy, sy stem nog sag, maar ’n gevaarlike blik in sy oë. “Sy het ’n wonderlike slag met die kinders.”

Sy buk af, bestudeer die bekleedsel van die bank en krap met een lang vingernael aan ’n plekkie. “Dit lyk my hulle het hier gemors.”

“Dit maak nie saak nie.”

“Hoe kan jy so sê?” Sy wys na die bank. “Hierdie duur materiaal.”

“Dis totaal onbelangrik. Al wat belangrik is, is dat Nicky bang was en dat sy hom getroos het. Ek gee nie ’n snars om vir die bank nie.”

Sy besef dat sy te ver gegaan het en vly haar neer in een van die leunstoele. Haar syerige rok trek effens te hoog op, maar sy doen niks om dit weer af te trek nie. “Natuurlik,” koer sy. “En dis vir jou belangrik. Dat sy die kinders versorg.”

“Vanselfsprekend. Dis die enigste prioriteit.”

“En is hulle nou aan die gesond word?” vra sy lieftallig. “Hierdie kindersiektes is so lastig. Gelukkig het ek as kind pampoentjies gehad.”

“Ek ook. Olivia ook, anders sou ek haar dadelik weggestuur het. Dis erg genoeg dat ek …”

Sy loer na hom oor die rand van haar koppie. “Uiteindelik sal jy haar tog moet wegstuur,” sê sy.

“Wat bedoel jy?”

“Wel …” Sy gooi haar een arm oor die rugleuning sodat haar skouers en veral borste op hulle beste vertoon. “As jy trou …”

Hy kyk nie eers na haar nie. “Dis wat sy beoog, ja.”

Haar oë skiet vlamme en sy sit vorentoe, die sensuele beeld nou vergete. “Wat het jy nou net gesê?”

“Sy wil hê ek moet trou,” sê hy mymerend. “Sy dink dit sal die beste wees vir die kinders.”

Sy ontspan merkbaar. “Sy is natuurlik reg.” Haar stem is warm, skielik is sy nie meer so hatig teenoor Olivia nie. “En goeiste, as ek geweet het die kinders is so siek … Ek sal môre na ’n speelgoedwinkel gaan. Legkaarte, speletjies – iets om hulle besig te hou. Hoe kon Vonnie haar poppies so afgeskeep het?”

Hy kyk haar takserend aan. “Hulle is nie poppies nie, Yvonne. Hulle is mense – weliswaar klein – maar mense.”

“Ag,” sê sy dartelend. “Dis sommer ’n liefdesnaampie. Jy weet wat ek bedoel.”

Hy staan op. “Dit word laat. Ek weet jy het nie ver om te ry nie, maar …”

Sy staan ook op en kom nader. Met haar hande op sy skouers kyk sy diep in sy oë. “Wil jy nie hê ek moet oorbly nie?”

Hy kyk af in haar gesig. Die swaar grimering om haar amandelvormige oë het in die loop van die aand effens gesmeer. In die vou van die ooglid sit streperige aanpaksels en haar wimpers lyk korrelrig, asof sy skoenpolitoer daaraan gekoek het. Hy kan nie help nie om dit te vergelyk met die dik, sagte wimpers wat op Olivia se slapende wange gelê het toe hy haar boontoe gedra het, haar kop so vertroulik en slap teen sy bors …

Hy knip sy oë vinnig. “Ek het onderneem om vanaand na die kinders te kyk,” sê hy saaklik. “Olivia het ’n week laas ordentlik geslaap.”

Haar oë vernou vinnig, maar sy vly haar stewiger teen hom vas. “’n Ander aand dan,” fluister sy en knibbel aan sy oor.

Hy ruk sy kop weg. “Kom, ek stap saam na jou motor toe.”

Sy laat haar nie so maklik afsit nie. Hy help haar om haar jas aan te trek, stap saam na haar motor toe en sluit vir haar oop, maar sy klim nie dadelik in nie. Sy vou haar arms om sy nek en lok hom nader met ’n halfoop mond. Hy soen haar, maar haar parfuum is vir die eerste keer vir hom te sterk, hy voel hy gaan daarin verstik. Olivia het geruik na seep en sjampoe, dink hy verward. En na blomme. Iets ligs en skoons.

“Lekker slaap,” sê Yvonne vir hom, klim in en ry weg.

Hy sien haar hand deur die venster soos sy vir oulaas waai voor sy by die hek uitry en dit geruisloos agter haar toeskuif. Toe pluk hy sy sakdoek uit sy sak en vee hard oor sy lippe. Hy weet nie hoekom hy vanaand so anders voel nie. Yvonne was so oorweldigend, so … gróót. Hy het dit nog nooit vantevore gedink nie, maar vanaand was alles omtrent haar te groot. Sy het groot hande en daardie lang rooi naels … Hy skud sy kop en neem ’n paar diep teue van die koel, nat lug. Sterre is sigbaar tussen die laaste donker wolke wat begin opbreek en losrafel. Olivia het sulke netjiese, fyn hande. Haar naels is altyd kort en ongeverf. Alles omtrent haar is klein en fyn en netjies.

Nicolas stap vinnig in die huis in, sluit die deur en neem die skinkbord kombuis toe. ’n Halfuur gelede was hy doodmoeg, nou is hy skielik wawyd wakker en vol ontstellende gedagtes. Sy dra nie vir die kinders duur speletjies aan nie, sy bou vir hulle ’n boomhuis. Sy drapeer nie haar lyf in ’n leunstoel nie, sy gly met die trapreling af. En veral vly sy nie ’n swaar, sensuele, ooraangetrekte lyf teen hom aan nie, sy lê in ’n slap, opgekrulde bondeltjie teen sy bors …

Hy skakel die ligte af en spring die trappe twee-twee op. By die kinders is alles rustig. Emma het al haar beddegoed afgegooi en hy maak haar weer toe. Nicky slaap soos ’n klip, sy gesiggie koel. Nicolas hou die kinders se deure oop sodat hy hulle sal kan hoor en wil net na sy kamer toe stap, maar kan homself nie keer nie en gaan loer by Olivia ook in.

Sy lê op haar rug, een arm bokant haar kop en al die beddegoed ook afgegooi. Een been is gekrom, die ander hang halfpad van die matras af. Die pajamabaadjie het opgetrek, tussen die sweetpakbroek en die baadjie is ’n kaal, plat midrif sigbaar.

Nicolas sluk hard, buk dan en tel die hangende been terug op die matras, trek die beddegoed netjies oor haar en druk dit onder die matras in.

“H’m,” sê sy en draai op haar sy, een hand onder haar wang.

“Inderdaad,” sê hy en stap vinnig uit die kamer uit.

Christine le Roux Keur 4

Подняться наверх