Читать книгу Christine le Roux Keur 4 - Christine le Roux - Страница 16

Hoofstuk dertien

Оглавление

Die volgende dag is net so sonnig en teen tienuur stap almal see toe, gewapen met sonsambreel en piekniekmandjie met koekies en koeldrank. Die vorige middag wou Yvonne nie haar swemklere aantrek nie en het net elegant op die sand gesit, ’n groot strooihoed op haar kop terwyl die ander vier in die see baljaar het. Maar vanoggend dra sy ’n spierwit swemkostuum vol goue borduursels. Dat die wit by haar rooi hare pas, stry Olivia nie, maar dit lyk nie besonder goed by die spierwit vel nie. Sy neem ook kennis van die feit dat Yvonne onder haar elegante klere nie ’n baie goeie figuur het nie. Sy is definitief breed in die heup en haar dye lyk kleierig.

Nicolas slaan die groot sambreel vir hulle op en almal gooi hulle handdoeke oop. Die kinders wil dadelik water toe storm, maar Olivia hou hulle terug en smeer hulle eers van kop tot tone met sonroom.

“Dis wys van jou,” merk Yvonne op. “Mens kan nooit te jonk wees om jou vel op te pas nie.” Sy maak haar groot drasak oop en haal ’n buis room uit. “Nic, sal jy my insmeer?”

Hy is nog besig om die sand om die sambreel vas te stamp en reageer nie dadelik nie. Blitsvinnig steek Olivia haar hand uit en vat die room.

“Ek sal dit doen,” sê sy. “Nicolas haat dit absoluut om sy hande vol room te kry. Die reuk staan hom ook nie aan nie.”

Yvonne se mond gaan oop, maar daar is min wat sy kan doen en sy moet gedwee bly sit terwyl Olivia haar hardhandig van kop tot tone insmeer. “Dankie,” sê sy ysig toe Olivia klaar is en sy gaan lê op haar maag met haar kop in die skadu van die sambreel.

“Wat van my?” vra Nicolas en kyk na Olivia. Hy dra sy sonbril sodat sy nie die uitdrukking in sy oë kan sien nie.

“Maar jy …” begin sy verbouereerd.

“Haat mos die room aan my hande,” sê hy ferm.

Sy het geen keuse nie, sy gaan kniel langs hom en smeer sy rug en skouers vol room. Sy vel tintel onder haar vingertoppe en sy begryp nie waarom die see skielik so hard in haar ore druis nie.

Die kinders kom teruggehardloop van die water af. “Dis te woes,” kla Emma. “Pappa, jy en Livja moet nou kom dat julle ons kan vashou.”

Nicolas en Olivia staan albei op, maar Yvonne is vinniger. Sy het blykbaar besluit dis nou hoog tyd dat sy haar regmatige plek inneem in hierdie groepie. Sy spring regop, gooi haar hoed neer en hou haar hand uit na Nicky toe.

“Kom,” sê sy vrolik. “Dis tyd dat ek ook swem. Kom saam met tante Yvonne.”

Nicky lyk skepties, sy ogies pleitend op Olivia gerig, maar sy glimlag gerusstellend en stap saam af na die water toe. Nicolas tel Emma op sy skouers, iets wat sy vreeslik geniet omdat hy relatief diep kan ingaan en hoog spring om haar bo die water te hou. Dis hoogwater en die branders is woes. Yvonne is nie van plan om Nicky op háár skouers te tel nie, maar sy steek haar arms van agter om sy lyfie en lig hom hoog op elke keer as ’n brander aangerol kom. Olivia hou hulle ’n rukkie lank dop en ontspan dan; die vrou lyk asof sy weet wat sy doen, en sy draf dieper in en duik onder die eerste omkrullende brander in.

Elke nou en dan kyk sy tog terug, maar Nicky lyk gelukkig. Sy sien ’n enorme brander aankom en draai om om saam met die brekende brander uit te ry. Die water maal haar nogal en sy kom proestend regop en vee haar hare uit haar oë uit. Sy sluk nog na asem toe sy besef sy sien nie vir Yvonne en Nicky nie. ’n Sekonde lank wonder sy of hulle terug is na die sambreel toe, maar dan kom Yvonne stikkend onder die malende water uit, haar rooi hare gepleister oor haar gesig, die een bandjie van haar deftige kostuum slap oor haar boarm.

“Waar’s Nicky?” skree Olivia en beur vorentoe deur die water wat nou geweldig sterk begin terugtrek.

Yvonne lyk so beteuterd en is so besig om haar hare uit haar gesig te kry dat sy nie eens antwoord nie, maar gelukkig is daar ’n fris man met ’n groot maag langs haar en al wat Olivia kan sien, is hoe hy afbuk en die klein figuurtjie in die rooi swembroekie uit die malende water lig. Sy is yskoud geskrik en kyk oor haar skouers na Nicolas, wat dit gesien het en ook sukkelend deur die terugtrekkende gety probeer nader kom.

“Dankie,” sê Olivia vir die groot man en vat Nicky by hom. “Baie dankie, meneer.”

Die kind stik vreeslik en sy hou hom klaar onderstebo oor haar arm terwyl sy uitstorm. Nicolas is nou ook in die vlak water en sit Emma neer met ’n streng bevel om uit te gaan; tussen hom en Olivia dra hulle die stikkende kind na die sand toe en lê hom op sy magie neer. Die strandwag kom nader gehardloop, maar nadat Nicky monde vol water uitgespoeg het, huil hy bloot angsbevange en klou aan Olivia vas, so styf dat dit voel of hy haar verwurg.

“Toe maar, liefie,” sê sy oor en oor en dwing haar stem om kalm te bly. “Het jy bietjie omgerol in die branders? O, my tyd.”

Nicolas tel hom op en dra hom tot by die sambreel waar Olivia hom warm toedraai in haar groot handdoek. Nicolas se mond lyk styf en Emma, wat klappertand in haar eie handdoek, staar na hulle met groot oë. Voor hulle iets kan sê, is Yvonne ook by.

“Ek is jammer,” sê sy, haar hande nog onverpoos besig om met haar hare te vroetel.

“Hoe het dit gebeur, Yvonne?” vra Nicolas in ’n baie koue stem.

“Die branders was so woes,” sê sy kwaad. “My hare het begin nat word en ek kon nie sien nie en toe ek my hand lig om dit uit my oë te vee, het daardie groot brander net uit die niet gekom en ons omgeslaan. Is hy oukei?”

Nicky gee haar ’n angstige kyk en krul hom stywer op op Olivia se skoot, sy duim vir die eerste keer in maande weer in sy mond.

“Hy’s piekfyn,” sê Olivia rustig terwyl sy hom sus. Sy is nie van plan dat Yvonne se histerie die kind verder ontstel nie. Sy kyk af na Nicky en glimlag tergend. “Hy het net bietjie te diep geswem, nè?” Sy kyk op na Emma, wat ook nog bang lyk. “Het jy gesien hoe diep swem Nicky? My aarde, nes ’n groot man.”

Nicky haal sy duim uit sy mond uit en glimlag waterig. “Diep geswem,” sê hy trots.

Yvonne hou aan verduidelik. Sy kon dit nie help nie, sy is onverhoeds betrap deur die brander, dit was nie haar skuld nie. Nicolas luister glad nie, hy staan net en afkyk op Olivia en die toegedraaide kind op haar skoot. Sy oë is donker en so onstuimig soos die brekende branders.

“Ek wil nie meer swem nie,” kondig Emma aan.

Olivia kom sukkelend regop, die gewig van die kind swaar in haar arms. “Ek dink ons het genoeg geswem vir een oggend,” stem sy saam. Sy glimlag vir Nicolas en Yvonne. “Gaan swem julle nou maar, ek sal die kinders huis toe neem.”

“Maar jy …” begin Nicolas.

“Ek sal regkom,” sê sy en skuif Nicky teen haar skouer. “Sal julle die res van die goed bring?”

“Ja, natuurlik, maar …”

Sy luister nie, stryk net aan oor die sand en tussen die mense deur na die huis toe. Daar gekom, gee sy vir die kinders iets om te drink en begin middagete maak. Nicky is temerig en sy gee hom sommer ’n broodjie en sit hom in die bed. Teen die tyd dat die ander twee van die strand af kom, is die ete gereed.

Nicolas is baie stil, maar Yvonne is daarop uit om vrolik en meelewend te wees. Sy sprankel, verwys in elke tweede sin na haar misstappie in die branders en monopoliseer die enigste badkamer tot sy weer te voorskyn kom met elke rooi haar op sy gewone, elegante plek. Die lasagne is aan die uitdroog voor hulle uiteindelik kan aansit.

“Dat so iets so onverhoeds kan gebeur,” lag Yvonne kort-kort en vat liefderik aan Emma se hand. “Tannie Vonnie het net so groot geskrik soos Nicky. Maar hy slaap nou lekker, nè, ek het daar ingeloer. Tannie Vonnie gaan opmaak daarvoor, julle sal sien.”

Olivia skep swyend slaai in en begin eet.

“Dit het seker al met jou ook gebeur?” vra Yvonne vir haar.

“Nee,” sê sy bot, want sy is nie van plan om te jok net om Yvonne beter te laat voel nie. “Ek het van jongs af geleer: al verdrink ek, hou ek tot elke prys die kind bo die water.”

Yvonne se vrolikheid verdamp. “Is dit so?” vra sy koel. “Ek dog jy het op ’n wildplaas gewerk. Daar is seker nie veel branders nie, is daar?”

Sy antwoord nie en dis Nicolas wat vir haar in die bres tree. “Olivia het haar tweelingboeties min of meer grootgemaak,” sê hy.

Olivia staar hom in stomme verbasing aan. “Hoe weet jy dit?”

“Jou pa het mos daardie middag by my gekuier,” sê hy gemaklik. “Hy het my vertel.”

“Dan is die geheim opgeklaar,” lag Yvonne. “Geen wonder jy is so goed met die kinders nie. Ek was ’n enigste kind, sien.”

Ja, dink Olivia suur, ek kan dit sien. Jou ouers het seker so groot geskrik na hulle jou gehad het dat hulle nie weer ’n kans gevat het nie. Maar sy kan nie help om te wonder wat anders haar pa vir Nicolas vertel het nie.

Maar dis duidelik dat Yvonne bereid is om enigiets oor die hoof te sien solank sy weer almal se guns kan wen. Sy dink nie hulle moet gaan slaap nie, kondig sy aan. Sy wil hê hulle moet dorp toe ry. Sy het ’n baie spesiale rede waarom sy so aandring.

“Gaan jy en Nicolas,” sê Olivia afwysend. “Ek sal by Nicky bly.”

“Nee, nee, nee,” koer Yvonne. “Ons moet almal gaan. Ons kan wag tot hy wakker word.”

Sy oorrompel almal, en teen drie-uur ry hulle dorp toe. Olivia het wel weer ’n lysie goed wat by die supermark gekry moet word en sy stel voor sy los die ander om hulle eie ding te doen.

“Nee, nee,” sê Yvonne weer. “Ek en jy sal saam gaan, dan ontmoet ons almal later vir koffie.”

Nicolas neem die kinders af na die klein hawetjie toe en Olivia stap tandeknersend saam met Yvonne. Die supermark verveel die ouer meisie grondeloos, maar sy onderdruk dit en help selfs vir Olivia om alles in die motor te gaan sit. Daarna sleep sy Olivia saam na die speelgoedwinkel toe waar sy ’n enorme bedrag geld uitgee op baie duur speelgoed vir Nicky.

“En iets vir Emma. Sy het ook geskrik,” besluit sy.

Olivia probeer keer. “Ons … wel, ék hou nie daarvan om die kinders te oorlaai met speelgoed nie,” sê sy. “Dit versmoor hulle natuurlike kreatiwiteit.”

“Onsin,” lag Yvonne en Olivia moet gedwee help dra.

Maar waar haar verdraagsaamheid regtig getoets word, is toe Yvonne ’n boetiek ontdek met baie mooi ontspanningsklere. Sy pas aan en dwing Olivia om ook aan te pas.

“Dis baie mooi,” stem Olivia saam. “Maar dis nie ek nie, regtig.” Sy kyk na ’n pryskaartjie en word bleek. “Dis alles hopeloos te duur.”

Yvonne gee op, koop vir haar ’n klomp goed en kom triomfantelik by die koffieplek aan waar hulle vir Nicolas moet ontmoet. Sy deel presente uit asof sy Kersvader is en straal oor die kinders se blydskap.

Nicolas hou alles woordeloos dop en sê niks nie, behalwe om haar te bedank vir haar vrygewigheid.

“Maar dink jy ek kon iets met Olivia doen?” lag Yvonne vir hom. “Sy pas die mooiste goed aan, maar koop sy? Aikôna. Dis dan kastig te duur, sy het dan kwansuis nie geld nie.”

Nicolas kyk skerp na Olivia, maar sy hou haar besig met die kinders se speelgoed en keer dat hulle melkskommels nie omgestamp word nie. En sy is hoofsaaklik baie bly toe hulle terugry en sy by die huis kan kom. Sy pak die kruideniersware uit en is bly die kinders wil nie weer see toe gaan nie. ’n Wind het opgesteek en sy kan sien dis nou onplesierig buite.

Sy skrik toe Nicolas in die deur verskyn en met gevoude arms teen die kosyn leun.

“Het jy regtig nie geld om mooi goed te koop nie?” vra hy.

Sy kyk vinnig op en weer weg. Haar optimisme het effens verminder, sy voel vreemd moeg en tam. “Ek wou niks gekoop het nie.”

“Maar jy het normaalweg genoeg geld?” dring hy aan. “Betaal ek jou nie genoeg nie?”

“Natuurlik betaal jy my genoeg,” sê sy stram. “Maar dit is Desember, onthou. Daar is Kerspresente en …”

Hy haal sy beurs uit sy sak en kom nader. “Ek weet dit,” sê hy en haal ’n klomp note uit. “Ek moes daaraan gedink het. “Jy is so uitsonderlik …”

“Uitsonderlik wat?” vra sy vinnig.

“So ’n uitsonderlike goeie oppasser vir die kinders dat jy ’n bonus verdien. Hier,” sê hy en hou die note uit na haar toe. “Ek wil hê jy moet vir jou iets moois koop.”

Sy kyk na hom met onstuimige oë. “Sit die geld weg. Ek het genoeg, dankie. Nie almal kan …” Sy bly ontsteld stil.

“Nie almal kan wát nie?” vra hy sag.

“Kan alles koop nie,” sê sy en klap die kassie toe. “Verskoon my, as die badkamer nou vry is, sal ek graag my hare wil was. Of is Yvonne weer daar besig?“

“Olivia,” sê hy en hou sy hand uit na haar toe. “Ek weet … dit was nie my idee dat sy …”

“Ekskuus,” sê sy beleef en skuur verby hom. “Is dit reg as ons vanaand sommer sop eet?”

“Natuurlik,” sê hy meganies, sit die geld terug in sy beurs en druk dit in sy sak.

Sy staan onder die stort en huil, besluit sy is kinderagtig en kom later kalm te voorskyn, haar donker hare soos ’n sygordyn oor haar skouers. Nicolas en Yvonne sit op die stoep met glase wyn en nooi haar om by hulle te kom sit, maar sy verskoon haarself en kry aandete gereed. Die kinders se opgewondenheid met hulle presente het nog nie afgeneem nie, maar het ook nie bereik wat Yvonne in gedagte gehad het nie. Hulle het vriendelik genoeg dankie gesê en haar selfs gesoen, maar hulle bly nietemin ver weg van haar.

“Livja,” sê Nicky vir haar toe sy hulle later in die bed sit. “Saam met Livja swem.”

Sy soen hom en staan opsy sodat Nicolas vir hulle kan nagsê. Toe hulle saam uitstap, kyk hy haar indringend aan.

“Wil jy nie ’n ent gaan stap nie?” vra hy.

“Dis baie stormagtig.”

“Dis net die wind,” sê hy.

“Wat van Yvonne?”

“Sy sê sy wil vroeg gaan slaap.”

Sy haal haar skouers op, kry die dik kakiebaadjie wat sy saamgebring het vir sulke dae en stap saam met hom by die stoeptrap af. Die wind is snerpend koud en sy slaan die kappie op. Dit dien ’n dubbele doel: haar ore en kop bly warm, maar dit beperk ook haar visie, sy kan Nicolas nie sien nie.

“Dit werk nie,” merk hy op toe hulle langs die see stap. “Ons en Yvonne.”

“Nee,” stem sy saam. “Wil jy hê ek moet vroeër plaas toe gaan? My pa sal net te bly wees.”

“Nee! Dis nie wat ek sê nie. Ek wil hê jy moet begryp ek het haar nie genooi nie, sy het self besluit om te kom.”

“Haai, Nicolas,” sê sy en hou haar stem lig. “Jou privaat lewe het regtig niks met my te doen nie. Jy kan nooi wie jy wil.”

“Maar ek het haar nie genooi nie!”

Sy haal haar skouers op. “Ek het te … lief geword vir die kinders. Ek dink dis ’n seker teken dat ek nie ’n professionele oppasser is nie. Ek moes ’n sekere afstand behou het juis omdat …” Sy bly moedeloos staan.

Hy gaan staan. “Juis omdat wat?”

Sy moet ook bly staan en omdat die wind so geweldig waai, moet sy haar gesig na hom toe draai. “Omdat dit ’n tydelike reëling is. Ek het van die begin af gesê dit is sleg vir die kinders, die gedurige omwenteling. Dis die enigste rede waarom ek …” Sy druk haar hande in haar sakke en kyk uit oor die donker see.

“Ja?” moedig hy aan. “Sê vir my.”

“Waarom ek nog hier is.” Haar stem word sterker. “Daardie middag toe jy en … toe jy en jou vriend gaan tennis speel het, het Yvonne teruggekom om met my te praat.” Sy kyk vinnig op na hom toe, maar kan nie sy gesig duidelik sien nie. “Soos jy seker afgelei het uit die gesprek wat jy vanmiddag so lekker afgeluister het.”

“Wat het sy vir jou gesê?” vra hy kwaad.

“Niks belangriks nie. Sy het dit net duidelik gemaak wat wie se gebied is.”

“Wat bedoel jy daarmee?”

“Grootmense speel grootmensspeletjies,” sê sy kripties. “Ons kinders moet ons daaruit hou.”

“Wat is dit veronderstel om te beteken?”

Sy gooi haar kop terug sodat haar kappie afval en die wind haar hare wild oor haar gesig ruk. “O, ek is seker sy gaan dit nog vir jou vertel. Jy sien, ek is nog ’n maagd. Sy vind dit absoluut heerlik. Lagwekkend. Dit was vir haar so snaaks dat sy nie kon ophou lag nie. Ek het nog altyd gedink dis verdomp prysenswaardig in hierdie gevaarlike tye waarin ons leef, maar dit het haar saak versterk. Soos sy gesê het: grootmense het ander drange wat uitgeleef moet word en ons kinders moenie inmeng nie.”

“Olivia,” sê hy gesmoord. “Wat …?” Hy steek sy hande uit om haar skouers vas te vat, maar sy staan vinnig weg.

“Ek wou loop,” sê sy ferm, al voel sy hoe haar oë swem in ongevraagde trane. “Maar ek het besef dit sal verskriklik wees vir die kinders. Ek wil hê jy moet dit weet. Ek is aangestel as hulle oppasser en ek sal bly tot iemand beters op die toneel verskyn. Ek sal hulle nie los om deur jou –”

“Olivia!” val hy haar in die rede, sy stem rou. “Luister na my! Ek het haar nie –”

Sy begin wegdraai. “Ek kán hulle nie los nie!” val sy hom ru in die rede. “Jou minnares sal hulle verdrink!” Toe draai sy om en begin terughardloop in die rigting van die huis.

Christine le Roux Keur 4

Подняться наверх