Читать книгу Christine le Roux Keur 4 - Christine le Roux - Страница 5

Hoofstuk twee

Оглавление

Nicolas leun weer heeltemal terug in sy stoel, so hard dat die leuning protesteer. “Jy het geen ondervinding nie,” herhaal hy stadig. “Waarom mors jy dan my tyd? Waarom het jy aansoek gedoen vir die pos? Wat het jy vantevore gedoen?”

Sy besluit wyslik om die laaste vraag eerste te beantwoord. “Ek het op ’n wildplaas gewerk.”

“’n Wildplaas?” vra hy oorstelp.

“Ja, jy weet, een van daai plase wat soos ’n privaat wildtuin is. Baie gewild, hoor. Mense is mal oor die bos, veral buitelanders. Ek het hulle ontvang, soms rondgery, daardie soort van ding. Nie die kos gemaak nie, soos ek reeds gesê het.”

“Maar hoekom het jy dan … ek bedoel, wat op aarde het gemaak dat jy –”

“Ek is nou lus vir iets anders,” sê sy beslis, haar gesig ernstig. “Toe ek jou advertensie sien, het ek net dadelik geweet dis wat ek soek. Dis waarmee ek goed sal wees.” Sy maak haar handsak oop en haal die knipsel uit. “Ek sien ook hier dat jy sê inwoning is opsioneel, maar verkieslik. Dis natuurlik logies. As jy in die aande moet uitgaan, wil jy nie nog rondsoek na ’n oppasser nie en dit pas my.”

“Wat pas jou?”

“Om in te woon. Jy sien, na die twee jaar op die plaas, het ek natuurlik nie ’n blyplek nie en genade, as jy weet wat woonstelle deesdae kos! Eers het ek gedink ek sal maar ’n woonstel soek en miskien weer begin skoolhou, maar eintlik was ek –”

“Is jy ’n onderwyseres?”

“O ja,” sê sy gemaklik. “Wel, dis waarvoor ek geleer het, maar toe kom die aanbod op die wildplaas en dit het net só avontuurlik gelyk dat ek besluit het ek doen dit eers. Nou het hulle so groot geword dat hulle eintlik vaste personeel wil hê en ek was bietjie moeg vir die afgeslotenheid, maar veral vir al daardie mans wat dink ’n jong meisie op ’n verafgeleë plaas is daar vir meer as net rondry.” Sy kyk hom ontstoke aan. “Jy kan nie glo wat met mans gebeur as hulle om ’n kampvuur sit nie. Ek sê vir jou, hulle het die paadjie na my rondawel deurgetrap. Ek het dit oorweeg om ’n leeu voor my deur vas te maak. Dit sou hulle leer.”

Hy kan dit nie help nie, hy lag. “Dis alles baie interessant,” sê hy dan. “Maar jy moes self besef het jy het geen –”

“Ek dink ons moet ’n proeftydperk hê,” val sy hom in die rede. “Ek is seker jou kinders is lieflik, maar dis net moontlik dat hulle twee bedorwe brokkies is of regte klein monsters wat my bed aan die brand sal steek. Aan die ander kant mag hulle my haat. Ek dink dis regverdig dat ons aan albei kante die reg het om sê nou na twee weke te besluit of dit sal werk of nie.”

“Juffrou Joubert, ek kan jou nou al sê …”

Sy hou haar hand in die lug en skud haar kop. “Nee, ek dring daarop aan. Emma en Nicky is die twee wat moet besluit. Jy kan nie nou net ja sê nie, dit gaan van hulle afhang.”

Hy stik byna. “Ek was nie van plan om nou net ja te sê nie!”

“En nog ’n ding,” sê sy streng. “Ek wil hulle ontmoet sonder dat jy teenwoordig is. Ouers inhibeer altyd hulle kinders.” Sy wys weer na die knipsel. “Hier het jy gesê jy soek onmiddellik iemand. Dit pas my uitstekend. Ek bly op die oomblik by my vriendin, maar haar woonstel is klein en ons baklei oor die badkamer. Sal ek my eie badkamer hê in jou huis?”

“Ja, maar ek het nie –”

“Ek het ook nie baie besittings nie. My radio, ’n paar boeke en my klere en selfs dit is nie veel nie, want in die bos het ek ’n kakie-uniform gedra. Ek het darem bietjie spaargeld, want jy kan dink: waarop spandeer mens jou geld as jy net een keer in twee weke op die dorp kom en dan is daar nie veel meer as ’n slaghuis en die koöperasie nie?” Sy kyk hom vraend aan. “Moet ek ’n uniform dra?”

“Nee, natuurlik nie. Jy kan dra wat jy wil, maar –”

“Dan sal ek vir my moet klere koop.” Sy knip haar handsak toe en staan op. “Ek dink ek het nou alles gevra wat ek wil weet. O, jou adres. Sal dit in orde wees as ek sommer nou na die huis toe gaan? Die kinders is seker by die huis, of hoe? Dis mos nog skoolvakansie.”

“Ja,” sê hy lam. “Hulle is by die huis. Katie is daar.”

“Uitstekend. En sy sal seker vir my kan wys waar my kamer is en sulke soort goed?”

“Ja.”

“Ek het ’n motortjie,” sê sy. “Al is hy op sy laaste dae. Loop nog net op genade. Was al gedaan toe my pa hom uitgegooi het, maar gaan nog dapper voort. Sal ek die kinders moet rondry?”

“Ja. Skool toe en so aan, maar daar is ’n motor by die huis. Ek verwag nie jy moet jou eie voertuig gebruik nie.”

Sy glimlag en steek haar hand uit. “Dan groet ek. Baie dankie, meneer Steytler. Ek dink ons gaan goed regkom.”

“Juffrou Joubert,” probeer hy ’n laaste keer.

“Noem my Olivia,” stel sy voor. “Anders gaan dit so formeel wees. Tot siens, meneer Steytler. Ons sien jou seker later vanmiddag?” Sy bly skielik staan, halfpad na die deur. “Noem ’n mens jou meneer Steytler of sê mens advokaat Steytler?” Sy skud haar kop. “Nee, dit klink darem vreeslik styf.” Sy lig haar hand in ’n groet en stap uit.

Hy bly totaal verdwaas sit. Nicolas, sê hy vir homself, vir die eerste keer in jou suksesvolle loopbaan het jy ’n saak verloor. Jou argumente het op dowe ore geval; om die waarheid te sê, jou opponent het jou nooit eers die kans gegee om enige argumente te opper nie. Jy is koel en kalm, sonder ’n kwade woord, verslaan.

Eers in die hysbak blaas Olivia haar asem stadig uit en val teen die muur, asof sy uitgeput is. Sy vang haar oog in die spieël oorkant haar en glimlag breed. Kind, sê sy vir haarself, jy het vir jou ’n werk losgepraat. Moet nooit weer aan jouself twyfel nie.

Onder in die straat klim sy in haar motortjie, bly dat dit so warm gebak het in die laatwinterson, want sy het skoon die bewerasie. Sy ry na haar vriendin Mart se woonstel toe en laat haar in met die sleutel wat Mart vir haar gegee het.

Mart sit pens en pootjies bo-op die koffietafel omdat hy presies in die sonkol staan, en sy kyk op toe Olivia inkom. “En toe?” vra sy.

“Ek is hier om in te pak. Wees vreugdevol, liewe Mart, ek en my bagasie is nou-nou onder jou voete uit.” Olivia kyk spytig in die klein sitkamertjie rond. Onder die voete is die regte frase – net waar jy kyk, lê bokse of tasse, die opgerolde komberse en kussings wat sy saans op die rusbank oopgooi as sy gaan slaap omdat Mart se kamer net een bed het. “Ek het die werk gekry.”

“Sowaar?” sê Mart bewonderend. “Dan kan ek maar vir meneer Nolte bel en sê hy kan ophou soek, die onderwys sal sonder jou moet voortbestaan.”

“Presies.” Olivia tel ’n appel op en begin dit knarsend eet. “Tensy die advokaat my binne die twee weke uitskop, natuurlik.”

“Die twee weke? Watse advokaat?”

Olivia val op die rusbank neer. Die kussings is bietjie verfrommel geslaap en sy klop hulle skuldig reg. “Meneer Steytler is ’n advokaat en weet jy, ek het dadelik geraai. Ek sê mos vir jou ek is goed hiermee.”

“Ag, jy het seker sy toga agter die deur sien hang.”

“Nee, ek het nie!” Olivia bekyk die koutjie van die appel voor sy na die snippermandjie mik en dit presies ingooi. “Ek moes netbal gespeel het,” merk sy op.

“Olivia, hou op onsin praat,” maan Mart. “Vertel van die begin af. Alles. Ek wil alles hoor.”

Olivia sit mooi regop soos ’n kind wat deur haar juffrou aangespreek is behalwe dat sy dit nie volhou nie en eers afbuk om haar steweltjies los te knoop. “Dis beter,” sug sy. “Goed. ’n Opsomming. Sy naam is Nicolas Steytler en hy het twee kinders. Emma is ses en Nicky vier. Nicky is natuurlik eintlik Nicolas – ’n familienaam. Die kinders se ma is dood twee dae na Nicky se geboorte en ’n tante, ons advokaat se suster, toe nog ongetroud, het die kleintjies versorg. Ongelukkig het sy nou ’n man ontmoet, ’n boer – ai tog, wat was sy naam nou weer?”

“Dit maak nie saak nie,” giggel Mart. “Gaan voort.”

“Sy wou Nicky met haar saamneem toe sy getroud is, maar dit wou meneer Steytler nie toelaat nie. Die kinders moes bymekaar bly. Hel, ek sou so dink. En dis waarom hy nou na ’n oppasser soek. Iemand betroubaar wat nie Franse kos maak of drink nie. Iemand wat vastigheid aan die arme kinders se lewe kan gee.”

“Waarom het hy jou aangestel?”

Olivia kyk haar gemaak seergemaak aan. “In die eerste plek het ek vir hom vertel ek gaan nie trou voor ek dertig is nie en teen daardie tyd is die kinders groot. Of groot genoeg. In die tweede plek kan ek nie Franse kos kook nie en ek drink ook nie. Wel, nie ernstig nie. Die terloopse glas wyn tel nie. In die derde plek weet ek net ek en die kinders gaan klaarkom, veral omdat dit die enigste werk is wat huisvesting insluit.”

Mart lag weer. “As jy my vra, is dit die belangrikste.”

“Dit is nogal.” Sy kyk na haar vriendin, skielik ernstig, haar oë pleitend. “Ek sal goed wees vir hulle, Mart. Jy weet dit.”

“O, ek weet dit,” beaam Mart dadelik. “Miskien nie goed in die sin wat hy verwag nie, maar … Aarde, jy kan met enigeen regkom. Ek wonder net hoe jy hom so vinnig oortuig het.”

“O, hy wou my nie hê nie,” erken Olivia. “Glo my, as ek hom ooit toegelaat het om ’n woord in te kry, het hy my baie beleef na die deur begelei. Dis waarom ek hom nie kans gegee het nie.”

“Jy sê dan hy’s ’n advokaat!”

“Ek weet, maar ek was voorbereid, jy sien. Hy nie. Hy het nie geweet wie ek is of hoe graag ek die werk wil hê nie. Hy het seker gedink ek is net nog ’n oujongnooi wat gaan sorg dat die kinders se naels skoon is. Ek het gesien hoe afkeurend hy lyk toe hy sien hoe jonk ek is en ek was reg vir hom.”

“Is hy darem ordentlik? Jy moet met hierdie man in ’n huis saamleef en jy weet hoe gegrief jy is met mans wat jou snags lastig val.”

“O nee, hy’s baie ordentlik. Wel, so op die oog af, natuurlik, en ek is nou al so gewoond om my kamerdeur te sluit dat ek dit sal aanhou doen. Nee, ek het ander planne vir hom.”

“O wee,” sug Mart. “Watse planne?”

“Hy moet weer trou,” sê Olivia ferm. “Dit sal die heel beste wees vir sy kinders. Hy sê hy het ’n meisie, maar ek het aangebied om al my ongetroude vriendinne aan hom voor te stel.”

“Olivia! Jy het nie!”

“Ja, ek het. Dis mos logies. Mens kan sommer sien die man is eensaam en gekweld. Wat hy en sy kinders nodig het, is ’n nuwe vrou en ma.” Sy vou haar hande vroom op haar skoot. “As ek nou eers die kinders ontmoet het en goed leer ken het, sal ek mooi weet watse soort vrou hy mee moet trou en dan kan ek my planne maak.”

“Nee, jy kan nie,” sê Mart beslis. “Los die arme man uit.”

Olivia kyk haar uit die hoogte aan. “Het jy vergeet van Pieter en Sandra? Van Eric en Janet? En wat van Soois en sy liefste Petronella? Julle het almal gesê sy is te vet en al is sy die dierbaarste ding, gaan geen man belangstel nie omdat hulle almal soek na iemand wat lyk soos Michelle Pfeiffer. Onthou jy dit? En is Soois mal oor haar? Is hulle so gelukkig getroud dat dit mens eintlik siek maak?”

Mart gooi haar hande in die lug. “Goed, goed, ek gee op. Jy het jou eintlike beroep gemis. Hoekom voel ek dan jammer vir die arme meneer Steytler? En wat gaan gebeur as hy met jou wil trou?”

Olivia lig haar kop. “As ek dertig is, Mart, as ek dertig is. Hoeveel keer moet ek dit nog sê? Die dag as ek dertig is en alles gedoen het wat ek nog wil doen, gaan ek aan julle deure kom klop en sê: ‘Ek is reg, bring die mans. Stel my voor.’”

“Ons praat weer,” sê Mart en staan op. “Wil jy ’n broodjie hê?”

Olivia spring op. “Ja dankie. En ek moet inpak, want ek wil by sy huis kom voor hy daar is. Ek wil die kinders op my eie ontmoet.”

“Hoekom?”

“Hy lyk na ’n kwaai man. Ek is seker die kinders gaan stom word as hy by is.”

“En gestel die kinders is klein monsters en jy haat hulle, wat dan? Jy het jou nou in die werk ingepraat, hoe gaan jy daar uitkom? Onthou, jy het nooit skoolgehou nie; nie alle kinders is engeltjies nie.”

“Ek weet, ek weet. As hulle onuitstaanbaar is, sal ek net vinniger moet soek na ’n vrou vir hom. Dis al hoe ek daaruit sal kan kom.”

“Jy’s gewetenloos.”

“Nee, ek is nie. Ek is vas van plan om van die kinders te hou. Goed, ek het die werk nodig en veral die verblyf, maar jy weet ek sal my bes doen.”

Mart glimlag vertroostend. “Ek weet. Ek terg jou net.”

Olivia staan ook op, sleep die tas wat teen die boekrak staan nader en begin in die kamer rondloop om al haar goed bymekaar te sit. Sy is nog hiermee besig toe Mart terugkom met hulle toebroodjies en hulle eet eers klaar voor Mart haar help om in te pak.

“Waar woon hy?” vra sy.

Olivia haal die stuk papier uit haar baadjiesak. “Hier. Fonteinelaan, Arendsdrif. Dis seker daar bo teen die rant.”

Mart kyk na die papiertjie en fluit tussen haar tande. “Jy weet wie bly teen Arendsrif, dis ryk mense.”

“Wel, hy is seker nie arm nie,” sê Olivia redelik. “Nie as hy oppassers vir sy kinders kan huur nie.”

“Is die salaris darem goed?”

Olivia begin lag. “Ek het nooit gevra nie! Hy was so besig om my te probeer verjaag en ek so vasbeslote om hom nie die geleentheid te gee nie, dat ons nooit eers oor geld gepraat het nie.”

“Jy’s darem dom,” sê Mart. “Ek ken ryk mense wat vreeslik suinig is. Gestel hy betaal ’n hongerloon?”

“Dan eet ek maar sy yskas leeg,” sê Olivia. “En hy lyk nie so suinig nie. Dit sal seker ’n billike salaris wees, dink jy nie?”

“Ek hoop so. Toe, moet ek jou help om alles na die kar te dra?”

“Asseblief, ja.”

Toe die arme ou karretjie tot teen sy dak gelaai is, staan Mart dit skepties en aankyk. “Ek hoop jy kry ’n groot kamer.”

Olivia proes meteens. “Nee, ek kry seker die ou donker solderkamertjie en sal saam met die ander huishulpe moet eet na die ryk mense klaar is. Sulke seningrige, opgekookte stukkies vleis. Droë brood. En moenie te veel suiker vat nie.”

Mart slaan haar arms om Olivia en druk die skraal figuurtjie teen haar vas. “Mooi loop, vriendin. Ek hoop nie jy het jou nou vir iets ingelaat wat jy sal berou nie. Jou neus vir avontuur en iets anders gaan jou nog eendag in die moeilikheid laat beland. Die res van ons volg maar ons vasgelegde ou paadjies.”

“Genade,” sê Olivia en soen haar op die wang, “jy laat dit klink asof ek regtig in Bloubaard se kasteel gaan verdwyn. Die man moet ’n telefoon hê en as ek mooi vra, mag ek dit seker gebruik. Ek sal jou bel en ons sal mekaar sien. Ek kan nie vier en twintig uur aan diens wees nie, kan ek?”

“Ek weet nie. Hoekom vra jy vir my? Dis jy wat jou in hierdie werk ingestoomroller het sonder om die belangrikste vrae te vra.”

“Baie dankie vir alles,” sê Olivia. “Dat ek hier kon kom afpak en jou lewe omvergooi. Jy’s ’n liewe ding.”

“Ja, ja,” sê Mart goedig. “En as jy jou vriendinne begin voorstel aan die man, dink aan my. Ek is moeg vir skoolhou.”

Olivia giggel en klim agter die stuurwiel in. “Ek sal so maak.” Sy draai die sleutel en die enjin begin krassend draai. “Ek bel jou, hoor!”

Mart leun vorentoe en moet hard praat om bo die gedreun van die enjin hoorbaar te wees. “Is hy darem aansienlik? Jy het nie eers gesê nie.”

“Nogal pragtig,” roep Olivia deur die venster. “Hoe het Petronella vir Soois beskryf na sy hom die eerste keer gesien het?”

“Wragtig pragtig,” lag Mart.

“Einste,” sê Olivia, steek haar hand uit om te waai en ry agteruit. ’n Motor wat agter haar verbyry, toet woedend en swaai uit, anders het sy teen hom vasgery.

“Olivia!” roep Mart. “Wees versigtig!”

“Is ek nie altyd nie?” Maar die keer kyk sy eers mooi links en regs voor sy versigtig draai. Sy waai vir oulaas, kyk in haar truspieëltjie en verdwyn in die straat af in ’n blou wolk wat uit die protesterende ou karretjie se uitlaatpyp dwarrel.

Christine le Roux Keur 4

Подняться наверх