Читать книгу Christine le Roux Keur 4 - Christine le Roux - Страница 9

Hoofstuk ses

Оглавление

Alet is die volgende hubare vriendin wat by Olivia kom kuier. Sy was nie net die baie talentvolle kok op die wildplaas nie, sy is ook mooi. Klein en fyn soos Olivia, maar met rooibruin hare. Hoeveel van die rooi natuurlik is, kan Olivia nie sê nie, al wat sy weet, is dat dit aansienlik natuurliker is as Yvonne se haardos. Sy kom een Vrydagmiddag by Olivia aan en vra of sy kan oorbly, want dis haar vry naweek en sy het nie ander blyplek in die stad nie.

“En ek kom nie met leë hande nie,” kondig sy aan en begin uitpak. Maroelajellie, rooibokfilette en droëwors.

Die kinders hou van haar en Nicolas lyk ook nogal beïndruk met die vrolike meisiekind. Sy vind die boomhuis oulik, klim saam met die kinders daarin en identifiseer sommer vir hulle ’n paar nuwe voëlsoorte.

“Mag nie uitval nie,” sê Nicky ernstig vir haar.

“Watwou uitval,” lag sy.

Olivia trek ’n gesig. “Dit word my nie vergewe nie. Ek het uitgeval. Wel, nie regtig nie, dit was alles Nicolas se skuld omdat hy my uitgeboender het voor die leer op sy plek was.”

“Dit was eina,” voeg Nicky by.

“Meer my selfbeeld as my been,” korrigeer Olivia. Sy onthou hoe Nicolas ongekend vroeg vir hom die volgende oggend aan haar deur geklop het.

“Jy raak nie weer vandag aan daardie boomhuis nie,” het hy aangekondig.

“Hoekom nie? Dis amper klaar en ek weet wat ek doen.”

“Is dit so?” Hy het betekenisvol na haar been gekyk en daardie middag was hy baie vroeg by die huis.

“Uitgeskop?” het sy met geligte wenkbroue gevra. “Of het jy jou saak verloor?”

“Ek verloor nie sake nie,” het hy haar ingelig. “En ek is my eie baas, wie sal my uitskop?”

“Wat maak jy dan so vroeg by die huis?”

“Ek kan huis toe kom wanneer ek wil.”

Hy is bo na sy kamer toe en toe hy terugkom, was hy in ou klere. Sy het hom verbaas aangekyk. Hy het die kinders gekry en afgesit na die skuurtjie toe waar Josef feitlik klaar was met die leer. Van toe af is die projek uit hulle hande geneem. Nicolas het alles ondersoek of verbeter, self die leer vasgespyker, die platform en omringende relings ondersoek en versterk, gehelp om ’n ou houtbankie en kassie boontoe te dra en toe vir Nicky geleer hoe om op en af te klim.

“Jinne,” het Olivia sarkasties gesê. “Dat jy nou so prakties is. Ek het nie geweet jy weet watter kant van ’n spyker in die hout moet kom nie.”

“Olivia,” het hy gesê. “Jy wil maar dink jy ken my en jy bly verkeerd.”

Sy het haar ken gelig, maar niks gesê nie, hoofsaaklik omdat die kinders so in hulle skik was met hulle pa se samewerking en betrokkenheid. Sy het half gewonder of hy nou ook heeltyd in die boomhuis sou wou klim, maar na dit klaar was en hy dit veilig verklaar het, het hulle hom nie weer daarin gesien nie.

“Is daar iets tussen julle?” vra Alet nou toe sy Olivia se peinsende uitdrukking sien.

“Nee, hoegenaamd nie.” Vir die hoeveelste keer herhaal sy: “Ek trou nie voor ek dertig is nie.”

“Maar hy is verskriklik oulik!”

“Ek is baie bly jy dink so.”

Die Saterdagoggend gaan Nicolas vir ’n wonder nie uit nie en Alet beset die kombuis om haar filette in rooiwynsous gaar te maak. Olivia het eers gekeer. “Ek dink Katie het vir ons ’n bobotie gemaak wat ek net moet warm maak.”

“Bêre dit,” sê Alet. “Vanaand kook ek.”

Olivia sit by haar in die kombuis en kan nie help om beïndruk te wees met haar vriendin se vaardigheid nie. Nicolas kry hulle daar, maak ’n bottel wyn oop en kuier saam in die kombuis. Dis vir Olivia dadelik duidelik dat hy nie net van Alet hou nie, maar dat hy groot bewondering het vir haar talente. Hy hang oor die stoof om te kyk wat sy doen, proe die sous wat sy in ’n lepel vir hom hou en vra uit na elke stap van die proses.

Vir die eerste keer in haar lewe wonder Olivia of daar nie meer in kosmaak steek as wat sy vermoed het nie en sy neem haar voor om Katie te vra om haar bietjie te leer. Miskien moet sy ’n kookboek vir beginners koop en begin oefen. Sy verstaan haar reaksies glad nie; toe die kinders hulle neuse optrek vir die ryk sous, voel sy onheilig tevrede.

Toe Alet Sondag net na middagete vertrek, staan Nicolas langs Olivia om haar af te sien.

“Hoe dikwels kom sy stad toe?” vra hy toe hulle die motor agternakyk.

“Ek weet nie,” sê Olivia bot.

Hy kyk haar goedkeurend aan. “Van al jou vriendinne is sy die oulikste. Wel, van al dié wat ek nou al ontmoet het.”

“Ek is baie bly jy dink so. Sy vind jou ook oulik.”

Hy glimlag breed. “Is dit so?”

“Ek kan vir jou haar telefoonnommer gee,” bied sy aan. “As jy bedags wil bel, sal jy haar seker in die hoofgebou kry. Ons het nie telefone in die rondawels nie.”

“Ek wed die mans trap die paadjie uit na háár rondawel toe.”

“Nie meer as na myne toe nie,” sê sy suur. “Dis nie of hulle kieskeurig was nie, onthou. Ek en Alet was die enigste twee jong meisies. Mevrou Bezuidenhout wat by die ontvangs gewerk het, was getroud.”

Hy sug. “Dit sal ook nie help om haar te bel nie, sy is so ver. Dis nie of ek haar kan uitnooi vir ete nie.” Hy kyk af na haar toe. “Hou sy van teater of van fliek?”

“Ek weet nie.”

“Nou ja,” sê hy en draai weg na die huis toe. “Miskien kom sy gou weer. Nooi haar asseblief weer om hier te bly as sy in die stad is.”

Sy ruk haar op en loop weg en ’n hele paar dae lank broei sy. Alet het nie goed klaargekom met die kinders nie, vertel sy haarself. Sy was vriendelik genoeg, maar sy is nou net een van daardie soort meisies wat kinders nie raaksien nie. Sy kon nie met hulle praat nie. Toe Olivia haar gevra het of sy vir die kinders hulle slaaptydstorie wil lees, het sy laggend bedank en liewers onder in die sitkamer met Nicolas gesit en gesels tot Olivia die kinders in die bed gesit het.

Maar Olivia kan nie lank oor iets ongelukkig bly nie en nadat sy haarself streng aangespreek het oor haar onlogiese getob, vergeet sy daarvan. Die lewe is eintlik die rustigste as dit sy en Nicolas en die kinders is, besluit sy.

Een middag het sy net haar hare gewas toe hy huis toe kom, en die kinders storm oudergewoonte af om hom te groet. Sy kam eers haar hare en besluit dis nog warm genoeg, sy kan dit in die son gaan droogskud. Toe sy bo-aan die trap staan, kyk sy na die reling en die drang om daar af te gly, word te sterk. Sy hang haar een been oor en gly.

Nicolas, wat in die portaal uitgekom het, staan haar verstom en aankyk toe sy tot onder gly en ligweg afspring.

“Liewe land, Olivia,” sê hy. “Nie eers die kinders doen dit nie.”

“Ek normaalweg ook nie,” verweer sy haar. “Ek wou net voel hoe dit voel.”

“As Nicky dit sou probeer nadoen, kan hy sy nek breek.”

“Hy sal nie,” sê sy koel. “Ek het hulle verbied.”

“Al doen jy dit self?”

“Hulle’t my mos nie gesien nie!”

Hy skud net sy kop en kyk af na ’n brief in sy hand. “Ek wou jou net vertel dat my suster môre kom. Sy kan ongelukkig net een aand oorslaap, maar sy wil natuurlik graag die kinders sien en hulle nuwe nefie vir hulle wys.”

“Haai, het sy ’n baba?”

“Ja.”

“En jy wil hê ek moet my gedra?”

Hy kyk haar stadig op en af. Sy is kaalvoet en van al die speel in die tuin is haar kaal bene ’n goudbruin kleur. Sy dra ’n denimkortbroekie wat moontlik vir Emma sal pas en hieroor ’n wit hempie wat met ’n stomp skêr afgesny is sodat haar midrif uitsteek wanneer sy beweeg. “Wel …” begin hy taktvol. “Sy is, soos jy kan verstaan, nogal besitlik teenoor die kinders. Besorg. Dit sal help as sy dink hulle is in …” Hy swyg terwyl hy soek na die regte woorde. “In volwasse hande.”

“Ek moet dus volwasse aantrek,” sê sy. “Nie met die trapreling afgly nie.”

“Presies.”

Toe hy die volgende middag met sy suster van die lughawe af kom, wag Olivia hulle in. Sy dra ’n moulose somerrok – die blou van haar oë – sy is gegrimeer, haar hare is opgekam en sy voel tevrede toe sy ’n geamuseerde flikkering in Nicolas se oë sien.

Sy suster lyk glad nie soos hy nie behalwe miskien vir die donker oë. Sy is korter, effens geset, maar aantreklik en baie vriendelik. Olivia kry nie eintlik kans om met haar te praat nie, want die kinders loop haar omtrent onderstebo en is totaal betower deur die klein babatjie.

Hulle gaan sit op die sonstoep, waar Katie vir hulle tee bring. Linda lê die kleintjie op die bank langs haar neer sodat die kinders hom van kop tot tone kan bekyk. Emma maak vertederende geluidjies oor die voetjies en vingertjies. Nicky staan net in stomme verbasing en staar.

Omdat die geselskap hoofsaaklik oor familie gaan, sit Olivia net en luister. Dit doen haar goed om die kinders so ontspanne en gelukkig te sien en sy geniet hulle verwondering oor die baba. Hulle wil hom nie ’n oomblik onder hulle oë laat uitgaan nie en toe Linda boontoe gaan om hom te bad, gaan albei saam. Olivia moet sukkel om hulle self in die bad te kry en slaag net daarin toe Nicolas sê Linda moet nou die baba voed, maar na die tyd gaan almal saam in die eetkamer eet en sal hulle weer hulle tante sien.

Maar selfs aan tafel is dit of hulle steeds droomverlore is oor hierdie nuwe verwikkeling in hulle lewe.

“Sal ons met hom kan speel?” vra Emma.

“Nog nie nou nie,” sê Linda goedig. “Hy is nog heeltemal te klein, maar hy sal groter word. As julle weer op die plaas kom, sal julle sien.”

“Waar ’t jy hom gekry?” vra Nicky ernstig.

Olivia gee ’n laggie en kyk na Nicolas, wat effens ongemaklik lyk.

“Ek is mos met oom Jaco getroud,” verduidelik Linda. “Julle onthou mos, julle was dan daar.”

“Natuurlik,” sê Emma beterweterig. “Ek was blommemeisie.”

“Nou ja,” sê Linda rustig. “As ’n mens getroud is en daar is ’n mamma en pappa, kan jy ’n baba kry.”

Die kinders absorbeer hierdie inligting en vra nie verder uit nie. Olivia sukkel om hulle in die bed te kry omdat hulle te opgewonde is. Sy moet hulle verseker dat die baba nou slaap en eers die volgende oggend weer sal wakker wees en dat dit dus ’n goeie idee sal wees as hulle ook nou slaap.

Toe sy uit hulle kamer kom, wag Linda vir haar. “Gaan jy ook nou ondertoe?” vra sy.

“Nee.” Olivia skud haar kop. “Julle het baie om oor te gesels. Ek gaan julle alleen laat.”

“Nicolas praat nou oor die telefoon,” sê Linda. “Ek kan bietjie by jou kom gesels.”

In Olivia se kamer maak sy haar tuis in een van die leunstoele en begin uitvra. Sy is ’n baie gemaklike soort mens en dis nie lank nie voor Olivia haar alles vertel van die wildplaas, die lewe saam met Nicolas en die kinders, die boomhuis, alles. Linda luister aandagtig, vra net nou en dan ’n vraag, veral toe Olivia vertel hoe angstig Nicky aan die begin was wanneer sy hom by die kleuterskool gaan haal het.

“Ja,” sug sy toe Olivia klaar is. “Die arme goedjies is deur baie trauma.” Haar oë verskerp. “Maar baie lief vir jou, kan ek sien. Nicky hou altyd aan jou vas.”

Olivia frons. “En dis verkeerd. Soos ek die saak sien en wat ek ook vir Nicolas gesê het, is dat hy moet trou. Die kinders het ’n vaste, permanente ma nodig.”

Daar is ’n glinstering in Linda se oë. “Het jy dit vir hom gesê?”

“O ja. En Yvonne is nie die regte een nie.” Sy kyk Linda ongelowig aan. “Weet jy wat noem sy die kinders? Vonnie se poppies. Ek jok nie vir jou nie.”

Linda skaterlag. “Ja, ek moet erken ek kon nog nooit vat kry aan die vrou nie. Het jy vir Nicolas gesê sy is nie die regte vrou vir hom nie?”

“O ja. Maar ek het baie ongetroude vriendinne en ek stel hulle een vir een aan hom voor. Die laaste een het nogal sy oog gevang.”

“Is dit so?” vra Linda, ’n onheilige skynsel in haar oë.

“Ja. Sy is baie mooi en lewendig en ’n wonderlike kok. Jy kan alles rustig in my hande laat, ek dood voor ek toelaat dat hy met Yvonne trou.”

“Ek is seker die saak is veilig in jou bekwame hande,” sê Linda ernstig. “En jy het seker ’n vaste kêrel?”

“Nee, ek wil net nie trou voor ek dertig is nie. Dis my afsnypunt en ek is nou eers vier en twintig.”

“Ek sien.” Linda staan op. “En ek moet sê ek is baie bly dat jy hier is. Ek voel nou gerus. Die hele gesin is veilig in jou hande.” Sy gee ’n skielike proeslaggie. “Jy sê jy het uit die boom geval en Nicolas het jou op die kombuistafel neergesit en jou been met merkurochroom geverf?”

“Ja,” sê Olivia. “Maar dit was sy skuld van die begin af. Hy’t my uit die boom verskree, anders sou ek nie geval het nie.”

“Inderdaad, ja.” Linda groet en loop kopskuddend ondertoe na sy eers weer by die baba ingeloer het.

“Oulike meisiekind, die Olivia,” sê sy vir haar broer toe hulle in die sitkamer sit.

“Sy’s goed met die kinders,” erken hy neutraal.

“Ja, dit kan ’n mens onmiddellik sien. Die verskil tussen hoe hulle nou lyk en hoe hulle twee jaar gelede gelyk het, is enorm. Veral Nicky. Hy het ontdooi. Waar het jy haar gekry?”

“Olivia? Ek het haar hoegenaamd nie gekry nie. Van sy ingestap het daardie dag het ek nie ’n woord ingekry nie. Sy het gepraat. Ek het nooit eens kans gekry om te sê sy is glad nie waarna ek soek nie, sy is te jonk en sy het absoluut geen ervaring van kinders gehad nie.”

“En is dit nie ’n goeie ding nie?” sê sy guitig. “Want dis duidelik dat sy intuïtief weet hoe om hulle te hanteer.”

“Ja,” erken hy.

“Sy sê vir my sy soek vrou vir jou.”

Hy kan dit nie help nie, hy begin kopskuddend lag. “Sy werk nogal hard daaraan, ja.”

“Want sy hou nie van Yvonne nie,” gaan sy voort.

Sy gesig verstyf. “Dis nie vir haar om ’n oordeel te vel nie.” Hy staan vinnig op en stap na die drankkabinet toe. “Wil jy ’n likeur hê?”

“Nee dankie. Hoekom hou sy nie van Yvonne nie?”

Hy beweeg sy skouers asof hy ’n jeuk tussen sy skouerblaaie het. “Dis maar ’n … Hulle is net baie verskillend.”

“Hoe voel Yvonne oor haar?”

Hy gaan sit met sy glas konjak. “Sy hou nie van Olivia nie,” sê hy kortaf en draai die glas tussen sy handpalms. “Dis iets waaroor ons verskil. Ons praat liewer nie daaroor nie.”

“Gaan jy met haar trou, Nico?” vra sy reguit.

“Met wie? Yvonne?” Hy lyk onthuts. “Ons het nog nie … ek bedoel, sy begin nou in daardie rigting praat, want ons … dis darem al ’n paar jaar wat ons uitgaan en …”

Linda geniet dit om haar gewoonlik selfversekerde broer so te sien rondval. “Olivia sal dit nie toelaat nie.”

“Wat het sy met die saak te maak?” vra hy vies. “Sy het geen sê nie! Sy is aangestel om na die kinders om te sien, dis al.”

“Dis juis oor die kinders dat sy so voel. Sy wil hê hulle moet ’n goeie ma kry. Die regte een.”

“Dis nie vir haar om daaroor te besluit nie,” herhaal hy.

Sy gaap en druk haar hand voor haar mond. “Ekskuus tog. Mens kry maar min slaap met ’n baba.” Sy staan op. “Ek dink ek moet gaan lê, maar as ek jy is, boet, trou ek met Olivia.”

Hy staar na haar. “Trou met Olivia! Weet jy wat jy sê? Sy is nog ’n kind, jong! Weet jy dat sy op eie houtjie ’n boomhuis begin bou het en toe uit die boom geval het?”

“Sy’t my vertel, ja,” sê sy kalm. “Maar dit was glo jou skuld, jy het haar verskree sodat sy –”

“Ek het haar nié verskree nie,” sê hy kwaad. “En sy seil met die trapreling af en jy moet haar sien as sy die middag besluit om modderkoekies saam met die kinders te bak. Van kop tot tone besmeer van die grond. Ek kom by die huis en hier staan die drie van hulle op die grasperk, besig om hulle met die tuinslang skoon te spuit. Jy sou sweer sy is ook ses jaar oud, staan daar druipnat op die grasperk en die drie lag dat jy hulle wie weet waar kan hoor.”

Sy lig haar wenkbroue. “En jy beskou dit as iets wat téén haar tel?” vra sy.

Hy lyk ongemaklik. “Wel nee, nie noodwendig nie, maar sy is so ’n rabbedoe, ’n mens weet net nooit wat sy gaan aanvang nie.”

Sy glimlag. “Lekker slaap. Soos ek vir haar ook gesê het, ek gaan met ’n geruste hart weg. Jy en jou kinders is in goeie hande.”

“Gmf,” snork hy en drink sy konjak klaar.

Christine le Roux Keur 4

Подняться наверх