Читать книгу Christine le Roux Keur 4 - Christine le Roux - Страница 11

Hoofstuk agt

Оглавление

Olivia slaap tot twaalfuur en sou heel waarskynlik langer bly lê het as sy nie so warm gekry het nie. Sy kyk verbaas na die flenniepajamabaadjie en kan nie glo dat dit die vorige nag koud genoeg was vir so ’n kledingstuk nie. Sy stort, trek haar gewone kortbroek, hempie en sandale aan en begin net wonder wat sy met haar vry dag gaan doen toe Emma by die deur inloer.

“Pappa vra of jy nog slaap,” sê sy.

“Nee, ek is op. Hoekom?”

“Ons braai vleisie.”

Olivia voel eers outomaties aan Emma se voorkop, bekyk die nog geswolle gesiggie en lyk tevrede. “Wie’s almal daar?”

“Ons,” sê Emma en loop gou ’n draai om vir Leo en Boggom te karnuffel.

“Is Vonnie daar?”

“Nee.”

Olivia vat Emma se hand en stap saam met haar ondertoe en uit in die agtertuin waar die ingeboude braaivleisplek onder ’n grasdaklapa is. Rook trek uit die kole en Nicolas staan met ’n vurk in sy hand.

“Môre,” sê hy. “Wel, middag.”

“Ek het totaal verslaap.” Sy kyk na Nicky wat langs sy pa staan en bly opkyk toe hy haar sien. “Hoe voel jy vanoggend?”

“Livja,” sê Nicky en omhels haar bene.

Sy voel aan sy voorkop en kyk af na die hamster-gesiggie. “Ek hoop nie jy hardloop rond nie, want eintlik moet jy nog in die bed wees.”

Hy skud sy koppie heftig en draai terug na die vuur toe, waar hy kole met ’n stokkie rondstoot.

“Gaan jy uit?” vra Nicolas vir haar.

“Nee.”

“Wil jy saam met ons braaivleis eet?”

“Ja dankie.”

“Ons het alles klaargemaak,” lig Emma haar in. “Slaai en aartappels en broodjies.”

“Julle is baie slim.” Sy gaan sit in ’n tuinstoel en Nicky, wat moeg is vir die vuur, kom klim op haar skoot. Sy kyk oor sy kop na Nicolas. “Ons het gisteraand op die bank aan die slaap geraak.”

“Ek het so gesien, ja.”

“Maar ek het in my eie bed wakker geword.”

“Dis reg.” Hy begin die vleis op die rooster pak.

“Hoe het ek daar gekom?” vra sy streng.

“Ek het jou soontoe gedra.”

“Gedra?” herhaal sy oorstelp.

“Dis reg.”

Sy staar na hom. “Dis nie deel van jou pligte nie.”

Hy lyk geamuseerd. “Ek het nie geweet ’n werkgewer het ook pligte nie.” Hy vang haar oog en vervolg haastig: “Nie dat dit ter sake is nie, natuurlik. Jy doen veel meer as wat amptelik jou pligte is.”

“Dis so,” erken sy.

“Om die waarheid te sê, verbaas ek my elke dag oor hoe goed jy met die kinders is. Vir iemand wat geen ondervinding van kinders het nie, is dit verstommend.”

Sy antwoord nie, leun net oor en haal ’n stuk rou wortel uit die slaaibak en begin dit eet.

Hy sit die rooster oor die kole, bekyk dit ’n oomblik lank en kom sit langs haar. “Vertel my van jouself,” sê hy en skink vir hulle koeldrank.

“Daar’s niks om te vertel nie. Ek het vantevore op ’n wildplaas gewerk.”

“Jy kan dus ’n witrenoster van ’n swartrenoster onderskei,” gee hy toe. “Wat nog? Wat het jy voor dit gedoen?”

“Studeer.”

Hy bekyk haar krities en wil net verder praat toe Emma opkyk. Sy is besig met een van haar poppe, tans die gunsteling, ’n babapop met ’n slap lyf. Om haar lê kombersies en ’n bababedjie en sy is besig om die pop aan die slaap te sus.

“Pappa,” sê sy. “Hoekom kry jy nie vir ons ’n regte baba nie? Een nes tannie Linda s’n. Een wat kan huil en alles.”

“Moenie vir my vra nie,” sê hy beslis. “Pa’s kry nie babas nie.”

Emma wend haar tot Olivia. “Sal jy vir ons een kry, Olivia?”

Olivia lag. “Dit kan nie, liefie. Waar sal ek nou een vandaan kry?”

Emma kyk na haar asof sy dom is. “Jy groei een in jou maag. Tannie Linda was baie vet.” Sy maak ’n wye boog voor haar eie maag. “En toe ons vra wat daarbinne is, het sy gesê dis ’n baba wat daar groei. Sy het ons laat voel.”

“Is dit so?” vra Olivia belangstellend.

Emma knik. “En hy was daar binne-in. Ek het hom voel skop.”

“Dis wonderlik.”

“Nou ja,” sê Emma redelik. “Hoekom laat jy nie ook een in jou maag groei nie?” Sy kyk na haar pa. “Kan Olivia ’n baba kry?”

“O ja,” antwoord hy onverstoord. “Sy is ten minste ’n vrou.”

Emma los haar pop en kom leun teen Olivia, op haar gesig die uitdrukking wat sy opsit as sy graag ’n roomys wil hê. “Toe Livja,” sê sy. “Ek en Nicky wil baie graag een hê.”

Olivia voel verleë. “Dis nie so maklik nie. ’n Mens –”

“Ons sal help,” sê Emma dadelik. “Ek het vir tannie Linda gehelp om die kombersies op te vou en die borslappie aan te sit. Ek en Nicky sal help.” Sy stamp aan Nicky se voet om te wys hy moet sy bydrae lewer.

“Help,” sê hy gewillig.

Olivia kyk kwaai na Nicolas. Dis sy kinders, beduie sy met haar oë, dis hy wat moet help.

Hy lyk dik van die lag, maar kom tot haar hulp. “As mens ’n baba wil hê,” sê hy, “moet daar ’n pa én ’n ma wees. Hulle trou met mekaar en dan, as hulle wil, kry hulle ’n baba.”

Emma kyk haar pa fronsend aan. “Jy is klaar hier,” sê sy. “En jy’s ’n pappa. Olivia kan mos Mamma wees.”

“Die vleis brand,” sê Olivia vinnig en Nicolas spring op. Hy draai die vleis om en stuur Emma om die slaai en broodjies te gaan haal. Olivia staan ook op om te help en sorg dat die onderwerp nie weer aangeroer word nie. Sy besluit ook opnuut dat sy haar taak moet voortsit: Nicolas moet ’n vrou kry.

Dit word vir haar maklik gemaak deurdat Alet bel en sê sy kom die volgende naweek stad toe en sal Saterdagmiddag by Olivia kom inloer. ’n Halfuur voor Alet kom, gaan sê Olivia vir Nicolas dat sy ’n ondraaglike tandpyn het en dat haar tandarts gesê het sy kan sommer nou kom, hy sal spreekkamer toe kom.

“Dis baie skielik,” sê Nicolas vir haar.

“Ek weet, ek moes op iets hards gebyt het.”

Hy kyk haar uitdrukkingloos aan. “Dan moet jy vir Alet bel en sê jy kan nie hier wees nie.”

“Ek kan nie,” jok sy gemaklik. “Ek weet nie waar sy is of by wie sy bly nie. Jy kan haar mos solank geselskap hou, ek sal hopelik nie lank wees nie.

“Dis geen probleem nie,” sê hy.

Sy klim in haar motor en ry. Om die middag om te kry, gaan fliek sy eers, wip dan by Mart in en drink daar koffie en ry eers huis toe toe dit al begin donker word. Sy moet in haar doel geslaag het, want Alet se motor staan in die rylaan, maar van haar, Nicolas en die kinders is daar geen teken nie.

Olivia weet sy behoort baie gelukkig te voel, maar sy sit bedruk in die kombuis met ’n gebakte eier en broodjie terwyl sy vir hulle wag en toe hulle kort voor nege ingewaai kom, is sy suur.

“Hallo,” sê Nicolas vir haar. “Foei tog, ek kan sien die tand is nog seer. Kon hy niks doen nie?”

Sy gluur na hom en kyk na die kinders wat tamatiesous op hulle kenne het en moeg en neulerig is. “Waar was julle so lank?”

“Vir ’n wonder het hulle my nie laat kook nie,” sê Alet opgewek. “Ons het almal gaan hamburgers eet.” Sy kyk op haar horlosie. “Nou het ek my kuier met jou misgeloop,” sê sy vir Olivia. “Ek moet ry.” Sy waai vir die kinders en Nicolas stap galant saam met haar na haar motor toe.

Olivia neem die kinders boontoe en tap badwater in. Al is hulle moeg, babbel hulle aanmekaar. Dis net tannie Alet voor en agter. Sy het hulle stories van leeus en seekoeie en renosters vertel, sy kan voëls se geluide namaak, sy het selfs ’n mak apie buite haar rondawel en hy eet uit haar hand uit. Olivia luister na alles en kan glad nie verstaan waarom sy nie blyer is nie. Die kinders hou van Alet, Nicolas vind haar geselskap plesierig anders het hy nie so vrolik gelyk nie en sy self keur Alet goed. Waarom voel sy dan asof sy iemand wil slaan?

Sy lees net ’n kort storie omdat die kinders so moeg is en na sy hulle in die bed gesit het, gaan sy kombuis toe om vir haar koffie te maak. Nicolas sit by die kombuistafel en lees die aandkoerant, maar hy kyk op toe sy inkom.

“Foei tog,” sê hy simpatiek. “Ek kan sien die tand pla nog. Kon die tandarts niks –”

“Jy hét dit al gesê,” val sy hom bitsig in die rede. “My tand makeer niks nie, dankie.”

“Niks nie? Jy bedoel dit was …”

Sy ruk die ketel rond en mors op die toonbank. “Die kinders sê hulle het baie lekker gekuier.”

“O ja,” verseker hy haar. “Alet is regtig ’n sprankelende entjie mens. Die kinders het aan haar lippe gehang. Hulle is mal oor haar stories van die wilde diere.”

“Dis gaaf,” sê sy en leun teen die toonbank, haar arms oor haar bors gevou. “Dan hoef ek nie langer skuldig te voel nie.”

Sy wenkbroue skiet op. “Het jy skuldig gevoel? Ag nee, dit was glad nie nodig nie. Ek het vir Alet verduidelik hoe skielik die tandpyn ontwikkel het en sy het baie begrip gehad. Ons het ’n baie aangename middag en aand gehad.”

Sy gluur net na hom en toe na die ketel wat nie wil begin kook nie.

“Om die waarheid te sê,” gaan hy voort, “sy het my en die kinders genooi om een naweek na die wildplaas toe te kom. Sy sê daar is soms stil naweke en ek moet haar net laat weet wanneer dit ons pas. Ek voel ook dis niks minder as reg nie,” gaan hy vroom voort. “Jy kry byna nooit ’n hele naweek af nie, maar as ons nou weggaan, kan jy ’n ordentlike –”

“Ek het meer as genoeg vrye tyd,” sê sy kortaf. “Het ek miskien gekla?”

“Nee, maar dit is nie ’n maatstaf nie. Jy is so ’n gewillige werker en kla nooit nie. Goeiste, ek wens my personeel by die kantoor was so onselfsugtig bereid om –”

Sy pluk ’n kassie oop en haal koffiebekers uit. “Wil jy koffie hê?” val sy hom stuurs in die rede.

“Ja dankie.” Hy lyk steeds simpatiek. “Kan ek nie vir jou ’n pilletjie kry nie? Dis duidelik dat jou tand –”

“My tand makeer niks nie.”

Hy klik sy tong. “Maar weet jy wat het my vanmiddag vir die eerste keer getref? Ek het nie vir jou voorsiening gemaak vir ’n mediese fonds nie. Dis regtig baie nalatig van my. Ek kan net dink wat ’n tandarts sal vra vir so ’n besoek oor ’n naweek. As jy vir my sy naam en telefoonnommer kan gee, sal ek hom bel en sê hy moet die rekening vir my stuur.”

“Die rekening is nie ’n probleem nie. Dis my saak.”

“Nie ’n probleem nie?” herhaal hy. “Het hy dit vir jou as ’n guns gedoen?” Hy knik sy kop wys. “O, ek sien. ’n Persoonlike vriend, seker. Dis lekker om ’n tandarts as vriend te hê.”

“Nicolas,” sê sy dreigend. “Skei asseblief uit. Ek is moeg vir die onderwerp.” Sy gaan sit by die verste punt van die tafel en drink ’n sluk koffie. Dis hopeloos te warm en sy trek ’n gesig en sit die beker vinnig neer.

“Oppas,” waarsku hy. “Dis warm.”

Sy druk haar lippe opmekaar. “Wat het jy met Yvonne gedoen?” vra sy na ’n ruk. “Of gee sy nie om dat jy so met ander meisies rondrits nie?”

“Sy het vanaand iets aan,” antwoord hy kalm. “En ek het verlede week vir haar verduidelik wat jou plan is.”

“My plan?” vra sy oorstelp. “Watse plan?”

“Dat ek weer moet trou. Ek dink sy vind dit billik. Sy hou ook nie van die oppassers wat ek in diens moet neem nie.”

“Vir wat trou jy dan nie met haar nie?” vra sy vies.

“Olivia,” sê hy betigtend. “Jy is dan die een wat gesê het ek mag nie.”

“Dis ter wille van die kinders.”

“Presies. En ek moet erken ek dink jy is reg. Yvonne sal nie ’n goeie stiefma uitmaak nie.”

“Alet sal,” sê sy somber. “Die kinders hou baie van haar.”

“Dis waar,” stem hy saam.

Dis ’n hele ruk stil. Olivia sit en afkyk na haar koffie, haar gedagtes deurmekaar.

“Ek sal my tog daardeur laat afsit,” sê sy skielik.

“Waardeur?”

“Deur wat iemand anders sê. As ek met iemand wil trou, sal ek dit doen al is die hele wêreld daarteen.”

“Mits jy dertig is,” voeg hy by.

Sy skiet ’n giftige blik in sy rigting. “Vanselfsprekend. Ek meen, hoe lank gaan jy en Yvonne al uit?”

Hy kyk op na die plafon asof hy diep dink. “Dis nou omtrent twee jaar.”

“Nou ja? Dis mos lank genoeg om te weet.”

“Wat te weet?”

Sy lyk ongemaklik. “Of jy vir haar … e … lief is of nie.”

“Ek het gedink ek weet,” gee hy toe. “Maar toe kom jy hier aan.”

Sy sluk aan die snaakse gevoel in haar keel. “En wat … ek bedoel, wat het dit aan die saak verander?”

“Jy het so onomwonde verklaar dat sy die verkeerde vrou is,” sê hy gesellig.

“Dis wat ek bedoel,” sê sy ontstoke. “Ek sal my tog laat afsit deur wat iemand anders sê. Liewe aarde, ek sal –”

“Maar jy’s ’n vrou,” sê hy redelik. “Jy weet tog, vroulike intuïsie en daardie soort van ding. Ons mans is nie so goed daarmee nie. Ons laat ons maklik verblind deur voorkoms, ’n paar mooi oë, ’n bos rooi hare.”

Sy voel asof sy enige oomblik gaan begin huil en hou haar oë op die tafelblad.

Hy bestudeer haar, sy gesig skielik heeltemal anders, die tergliggies uit sy oë. “Sê my,” sê hy in sy normale stemtoon. “Wat presies is dit wat jy alles nog wil doen voor jy dertig is?”

“Ek wil oorsee gaan,” sê sy sonder om op te kyk.

“Seker tog nie ses jaar lank nie.”

“Natuurlik nie. Ek wil ander goed ook doen.”

“Soos wat?”

Sy kyk op, weer kwaad. “Hoe moet ek weet? Daar’s ’n wye wêreld daar buite. Baie goed om te doen en te sien en te ervaar voor ’n mens trou en doodgaan.”

Hy frons. “Dis ’n vreemde kombinasie. Trou en doodgaan.”

Sy kyk onstuimig op. “As mens begin kinders kry, kan jy doodgaan. Herder, jy behoort te weet! Jou eie vrou …” Sy byt haar lip. “Ek is jammer.”

“Dit was ’n uitsondering,” sê hy. “In ons moderne tye en met goeie mediese sorg is dit werklik die uitsondering.”

Sy haal haar skouers op, drink haar koffie klaar en staan op. “Wat ook al,” sê sy. “Ek is nie van plan om gou te trou nie.” Sy vat hulle leë koffiebekers en spoel dit onder die kraan uit. Sy voel so oorstuur dat sy byna die een laat val toe sy dit afdroog en terugsit in die kassie. Toe sy die teelepels terugsit in die laai, kyk sy nie wat sy doen nie en druk die laai hard toe voordat haar vingers uit die pad is.

“Eina!” roep sy en bars in trane uit.

Hy spring op en vat haar hand in syne. “Wat het jy nou gedoen?”

“My vingers,” sê sy en snik asof haar hart wil breek.

“Olivia,” sê hy teer en draai die koue kraan oop. Met sy hand stewig om hare hou hy die vingers onder die water. “Dis regtig nie vandag jou dag nie. Eers tandpyn en nou dit.”

Sy probeer die snikke onderdruk en vee haar ander arm oor haar oë. “Ja, ek dink ek moet gaan slaap.” Sy probeer haar hand uit syne trek. “Dis nie so erg nie. Ek kan …”

Hy lig die hand onder die lopende water uit en ondersoek die vingers. “Nee, ek dink nie dis gebreek nie.” Hy vat die vadoek en droog haar hand versigtig af. Toe druk hy die vingers een vir een teen sy lippe. “Veral nie as ek dit beter gesoen het nie.”

Sy kyk hom wild aan, gee ’n radelose snik en storm uit die kombuis uit.

Christine le Roux Keur 4

Подняться наверх