Читать книгу Agter die skerms - Christo Gerlach - Страница 11

Оглавление

HOËRSKOOL, CLOCOLAN

Hoërskool het beteken skool en koshuis op Clocolan. My ma was in die­selfde skool. Ek was beslis nie die gelukkigste koshuisbrak nie en net soos ek Sondagaande gevrees het voor die week se koshuis, kon ek Vrydae skaars wag om huistoe te gaan.

Verder het ek my maar geskaar by die rowwer “menere” in die kos­huis- en skoolomgewing om te oorleef. As jy nie sterk is nie, moet jy slim wees. Maar net soos ek nie kon verstaan hoekom ons uit die kos­kuis moes slip om te gaan kersies steel nie, het ek ook gesukkel om te byt aan die gemeenskaplike masturbasiesessies wat gereeld uitgeroep is.

Die hoogtepunt van my hoërskoollewe was dat ons ’n nuwe drama­juffrou op die dorp gekry het. Juffrou Santie Velleman was die nuwe skoolhoof se vrou. Onder haar leiding het ek geblom. Wat ook al die ongelukkigheid in my jong lewe, dit sou nou meer as ooit soos mis voor die son verdwyn met die versugting: “As ek klaar is met skool . . .”

Eendag . . .

In kunswedstryde het ek die sertifikate en toekennings ingeryg. Die hoogtepunt was die André Huguenet-beurs wat ek in matriek van SUKOVS, die destydse streeksraad, gekry het. Die ander twee ontvangers het mettertyd ontwikkel tot verhoogheldinne in my oë: Annelize van der Ryst en Trudie du Plessis. Trudie het baie jare later bekeerd geraak, voordat sy die knie voor depressie gebuig het en toe haar eie lewe geneem het.

Annelize het ook bekeerd geraak en haar as ’n pastoor in die Presbiteriaanse Kerk bekwaam. Later het sy die bediening verlaat (ek dink sy het ’n kerkie in Yeoville bestuur) om ’n groot ster op die seepkassie te word.

Daar was intussen ’n storie (glo, na bewering) dat sy die ekstras op die einste seepstel met haar handsak bygekom het uit pure frustrasie. Dié wat weet, het (of wou) dit nooit bevestig nie. En ek kan nie dink dat Annelize ’n urban legend soos dié juis amusant sou vind nie.

Wat ook al of wie ook al Annelize geword het, niemand kan ooit haar briljante vertolking van die naamrol in Brecht se Die Goeie Vrou van Setzuan van haar wegneem nie. Ek het haar dit sien speel in Bloemfontein.

My skoolvakansies het daarom gedraai om die nagtrein na Bloemfontein te haal. Dis heerlik om te skryf oor die treinritte. Dis deesdae amper makliker om te skryf oor ’n treinrit met Rovos Rail van Dar es Salaam na Kaapstad as om te probeer onthou hoe lekker dit was om die trein van Kaapstad na Muizenberg te vat.

In elk geval. Ons praat van die Oos-Vrystaat, in die 1970’s, toe daar nog ’n melktrein tussen Bethlehem en Bloemfontein geloop het.

In Bloemfontein aangekom, het ek in die strate rondgedrentel tot ek ’n middaguurtoneel (Sondag kos vyf pesos) van die SUKOVS-geselskap kon sien. Soms was daar selfs ’n kindervertoning in die middag, en saans het ek dan die groot aanbieding wat op die planke was, gaan sien. Anna Neethling-Pohl in Moeder Courage.

Ek was altyd betyds om die laatnagtrein terug na Gumtree te haal. My ma moes my drie-uur in die oggend op die stasie kom haal. Sy het die wekker gestel en gelê en wag vir die veraf klanke van die stoomloko­motief voordat sy in haar nagrok, kamerjas en pantoffels die plaaspad gevat het stasie toe. Dit was ’n outydse drie myl ver, met ’n plaashek (bekslaner) of twee in die pad.

Ek dink nie ek het ooit vir enige van my skoolvriende vertel ek het een vakansie ’n besoek gebring aan die Hertzogpryswenner Ernst van Heerden nie. Ek het besonder goed gevaar met my vertolking van sy gedig “Die Hardloper”, en dit was vir my ’n groot oorwinning om op eie stoom van die Johannesburg-stasie die regte bus te haal Greenside toe. Ek wonder dikwels wat die effens stug man in sy rolstoel moes ge­dink het van die grootoog skoolseun van Clocolan wat ’n afspraak met hom gemaak het, en toe met ’n mond vol tande gesit het!

My hoërskooljare in die 1970’s was polities ’n streng onderdruk­kende tyd in Suid-Afrika. Hoewel ek baie later eers begin verstaan het hoe die land se wette inmekaarsteek, was ek wel bewus van ’n soort on­regverdigheid in die gemeenskap. As kind het ek probeer sin maak van die aandklok se gebeier wat ek elke aand in my donker koshuiskamer gehoor het. Nes dit slaaptyd vir kinders was, moes al die swartmense uit die dorp wees . . . hoekom? Sommer, want die regering sê so.

Ek het ’n renons in my pa se hardhandige manier met die werkers op die plaas gehad. Dit was asof hy sy eie ongelukkige lewe op hulle wou uithaal.

Daar was die keer toe twee van die plaaskinders ’n fiets gesteel het – iewers. Die polisie (twee swart konstabels) het opgedaag. Ná ’n lang ge­koukus het hulle ’n ooreenkoms met die pa getref: sewe houe met ’n rottang, vóór die pa, die kinders neem die fiets terug en dis die einde van die storie.

’n Week later het ander polisiemanne, dié keer wit, op die plaas aan­­gekom en die twee seuns in hegtenis geneem. Ek het hard gepro­tes­teer: “Dis nie regverdig nie!” Nie dat dit gehelp het nie.

Later die aand het my pa by die huis gekom en my ernstig laat verstaan dat hy moes mooipraat om te keer dat ek nie ook “agter in daai vangwa saam met die swartes gelaai word nie!”. Hy het afgesluit met die waarskuwing: “Jy praat nie só met die polisie nie!”

Omdat ek lank die enigste kind was, was die swart plaaskinders my enigste maats. Selfs nadat my suster (ses jaar ná my) en my broer (agt jaar ná my) gebore is, was ek so te sê ’n enigste kind. Laat ons eer­lik wees, ons was maats op my voorwaardes: Ek het die reëls gemaak, ek was die “kleinbaas”.

Met die verloop van jare het die term “kleinbaas” my kriewelrig gemaak. Ek sou van die koshuis af huis toe bel en die “bediende” sou antwoord.

“Dis Christo hier.”

“Ja, baas.”

Ek het dit probeer omseil. “Sê vir my ma ek het gebel.”

“Ja, baas.”

“Sê vir haar Christo het gebel.”

“Ja, baas. Ek sal vir die mies sê die kleinbaas het gebel.”

Wat ook al die dinamika, ek is vertroetel deur al die ander ma’s wat ek gehad het. As ek op ’n Vrydag by die huis gekom het ná ’n week in die koshuis, is my gunstelinggeregte voorgesit. Krakerige diep-in-olie-gebakte-plaasaartappels. Groenboontjies met stukkies weggesteekte lamsvleis. Aspersies in botter gebraai.

Angelina het wel soms spinasie probeer verdoesel as marôgo, ’n gunstelingbossiegroente van my wat soms net te veel moeite was om buite in die veld te gaan pluk! Sy het die spinasie op haar manier gemaak met aartappels en uie, maar dit was net nooit marôgo nie.

Ander kere sou sy my verras met ’n soetsuur hoenderkerriegereg à la Angelina. Sy kon nie lees of skryf nie, maar sy kon kook. Terwyl sy die koolstoof stook, kon sy enige gereg baasraak deur net één keer vir die “miesies” te kyk.

Ek het later geleer iemand wat kook, is ’n kunstenaar, ’n mens met ’n vry hand in ’n kombuis; en iemand wat bak is ’n wetenskaplike. Angelina was albei. Ons het eenkeer ’n insetsel vir TV gemaak oor die kok van die groot wynplaas Meerlust, en ai, terwyl ons besig was, kon ek net vir Angelina voor my sien. Voorskoot aan, met ’n vatlap en vadoek oor elke skouer, lepel in die hand.

Angelina sou vir my instaan wanneer ek my konyne, wat ek teen die bitter Vrystaatse winterkoue wou beskerm, in my slaapkamer inge­smokkel het. Ons het saam ’n laken gespan van die boonste na die on­derste katelrak. Dit was haar plig om na hulle om te sien terwyl ek in die koshuis was.

Ongelukkig het alle hel op haar – en nie op my nie – losgebars toe my ma uiteindelik die stank in die huis teruggesnuif het na my kamer toe. Sy het die deur oopgestoot, en die wit konyne het haar onskuldig met hulle rooi ogies aangestaar terwyl hulle heerlik aan vars slaaiblare ge­knibbel het (met komplimente van Angelina, via my ma se groentetuinier). Geen mens of dier kan so elegant peusel soos konyntjies nie, maar my ma het dit op daardie oomblik nie waardeer nie.

Angelina het jare later die hoofrol gespeel in ’n kortfilm wat ek ge­skryf het, Mapulani se nooi. Big deal. Sy is alleen aan kanker dood in ’n Bloemfonteinse hospitaal en my ma moes haar lyk gaan haal en agter­op ’n bakkie terugry plaas toe. My ma het my vertel hoe sy kort-kort moes stop. Sy het nie ruitveërs vir haar trane gehad nie.

Met my pa se begrafnis het ek Angelina se seun ná al die jare weer ontmoet. Hy was besig om my ma se graf oop te grawe om dit gereed te maak vir my pa se kis. Ek was ’n oomblik lank geskok, want ons is ge­leer om nooit op ’n graf te sit of te staan nie.

Angelina se seun het die spittery gestop en my gegroet asof hy my net gister gesien het.

“Ken die kleinbaas my dan nie meer nie?”

Deur my trane het ek flou verskoning gemaak omdat ek hom nie herken het nie. En dit met ’n grap probeer wegpraat: “Jy weet my ma het gesê ’n mens staan nooit op ’n graf nie! Nou staan jy op haar kis!”

“Die Oumies het my geken. Sy was mý Oumies. Sy sal mos verstaan!”

Op daardie oomblik was ek en hy saam net weer kinders. Angelina se kinders. En terwyl ek nou hier skryf, wonder ek of hy ooit aan my gedink het as ’n soort broer. Sekerlik nie, ek kon dan nie eens sy naam onthou nie. Al het ons dieselfde ma gedeel. En dieselfde Oumies.

Agter die skerms

Подняться наверх