Читать книгу Agter die skerms - Christo Gerlach - Страница 8

Оглавление

KLEINTYD

Ek het nie juis van kinderspeletjies gehou nie, veral nie as dit nie deur myself uitgedink en uitgespeel is nie. Maar ek was van jongs af bewus van onderlinge verhoudings en gevoelens tussen mense. Dit was seker ’n soort magsposisie, want ek het vroeg al besef as ’n mens nie sterk is nie, moet jy slim wees. So was ek maar altyd bewus van die “verbode terreine” in families. Dis natuurlik daardie soort geheime wat “nooit gebeur” in goeie Afrikaanse families nie.

En dit het my eindeloos gefrustreer dat ek heeltyd my woorde moes tel. Ek moes onthou ek is ’n kind en almal om my is grootmense. ’n Kind wat die grootmense se rympies uit sy kop ken. ’n Kind wat agter ’n grootmens se rug sy oë rol en voor die grootmens hom dom hou wanneer daar gepraat word oor “grootmensgoed”.

Soos: “Jy loop nie en gaan krap in die doktersboeke nie! Dis grootmensgoed!”

“Hoe kan ek, Ma?” wil ek vra, maar ek keer myself. Die boeke met die manlike en vroulike geslagsdele en hoofstukke oor voortplanting is weggepak tussen haar kraaknuwe spaarlinne in haar bal-en-klou-trousseaukis. Sy sluit dit toe met ’n groot geelkoperslot – “Weg van die nuuskierige agie se ogies!” – en ek weet régtig nie waar die sleutel weggesteek word nie.

Ek kon nooit vir haar of enigiemand anders sê dat ’n familievriend wat vir die spoorweg gewerk het, my lankal gewys het hoe dit werk om babas te kry nie. Dit was mý verbode terrein, al was ek skaars sewe jaar oud. Dit was veral verbode terrein om vir enigiemand te sê dat Jan Bezuidenhoudt my selfs gewys het hoe om babas te máák.

Ek moes gereeld hoor: “Jong, die kind is darem baie voor op die wa.”

“Ouma se klein japsnoet!”

Een ouma sou my so noem terwyl sy effens na my kant toe knip­oog met ’n skewe glimlaggie. Die ander ouma sou my dieselfde noem, maar háár toon was afkeurend. Dit was ’n toon wat sê: “Hierie kind is heeltemal te groot vir sy skoene. Julle gaan nog die vrugte pluk van sy voor-op-die-wa-geit.”

Ek weet Ouma is slim. Ek weet sy hoor nie hoe ek haar namaak nie, maar sy weet ek koggel haar.

Ek gaan nie sê watter ouma is watter ouma nie, want beide my oumas het baie vir my beteken as jong kind en ook later as tienerseun. Die een ouma het my warmte en sekuriteit gegee, die ander ouma het voor ek vyf was al voorspel: “En hier volg die nuus gelees deur Christo Gerlach.”

My oupa aan moederskant, oupa Lou le Grange, was ’n groot figuur in my kinderjare – letterlik, wat hy was ’n lang, forse man. Godvresend. Ek was nog baie klein, toe het Oupa my al laat verstaan die Jode is “God se Uitverkore Volk”.

“En daarom groet jy hulle só.”

Die Jode was dokter Schulenberg op Clocolan, oom Max Feinberg van die meubelwinkel in Ficksburg en die Russies-Ortodokse Kurr-gesin wat op Gumtree gebly het. Ek is geleer om hulle met ekstra respek te behandel, op dieselfde manier wat ’n kind vir Dominee aangespreek het. Of waarop ’n vraag vir Juffrou gevra word: “Juffrou, sal Juffrou my asseblief toelaat om asseblief kamer te verlaat, asseblief, Juffrou?”

Ek het ook baie vroeg geleer om dieselfde soort “heiligheid” te betoon teenoor die swaeltjies wat elke winter van ver oor die see teruggevlieg het na Oupa se plaas, Gansfontein. Die swaeltjies was, soos die Jode, uit die Bybel en van God. Hieroor was Oupa net so uitdruklik.

Oupa was nooit amptelik ’n bloed-Sap nie, maar hy was seker die enigste Afrikaner in die omgewing wat nooit ’n vergadering van sir De Villiers Graaff misgeloop het nie. Ek het baiekeer saam met hom gegaan, en ek het probeer sin maak van die groot ou man wat altyd agterlangs, kiertsregop, hande agter die rug en met ’n effense glimlag, aandagtig na die sir geluister het.

My oupa het soms vreemde idees gehad vir ’n man van sy jare en sy herkoms.

So, anders as met die meeste jong seuns saam met wie ek grootgeword het, het Oupa nie ’n windbuks op sy grond geduld nie. “Dis nie ’n speelding vir kinders nie. Netnou skiet julle die swaeltjies raak!”

Ek het nooit enige sin in gewere en ’n skietery gehad nie, maar my neefs sou altyd onderlangs brom: “Dink Oupa rêrig ons weet nie hoe lyk ’n blêrrie swaeltjie nie?”

Maar tot die vinke wat die vrugte verniel het, was veilig op Gansfontein. En in seisoentyd het komieklike voëlverskrikkers (wat na deesdae se fopdossers gelyk het) die mossies laat bloos en giggel onder mekaar.

Ook anders as al die plaaskinders in die distrik is Gansfontein se kleinkinders nooit toegelaat om hase te jag nie. Ook nie jakkalse nie. Al kon hulle ’n pes wees onder die skape.

Daar is net een keer ’n jaar op die plaas geskiet. Een skoot. Vroegwinter, amper klokslag dieselfde tyd elke jaar, tot op dag en datum.

Op dié dag staan Oupa vroeër as gewoonlik op en gaan sit stil by die kombuistafel. Ouma kyk anderpad terwyl sy vir hom koffie skink. Hy vat langer as gewoonlik om sy koffie klaar te drink. Dan staan hy op om sy haelgeweer te gaan haal. Hy loop met die geweer oor sy skouer by die sifdeur uit, laat dit ongeskik klap.

Hy loop oor die werf, verby die melkstalle, tot by een van die beeskampe waar ’n spekvet os al heeloggend onrustig snork.

“‘Die dier, hy weet mos wanneer dit by sy tyd kom,” sê die werksmense jaar na jaar.

Dis melktyd soos enige ander oggend. Maar op hierdie vroeë winter­oggend is die hele plaas stiller as gewoonlik. Die koeie is stil. Die melk­manne praat nie met mekaar soos op ander oggende wanneer hulle algaande wakker word en die stemme al hoe harder opklink nie. Die emmers word gedemp neergesit op die stal se koue sementvloer.

Die sekondes net voor die skoot klap, vries alles doodstil.

Net een skoot.

Dit trek oor die hele plaas. Dan hou dit skielik op soos ’n sweep wat klap. Die werfhonde begin blaf.

Oupa het lankal omgedraai en teruggestap huis toe. Sonder om skuins, op of af te kyk.

Ons kinders is nooit toegelaat om dié bloederige ritueel van die win­ter­slag te aanskou nie. Ook nie later as die vark en twee skape deur Tolbooi, die voorman, keelaf gesny word nie. Maar nes daardie geweer­skoot word niemand die vark se laaste skel krete gespaar nie. ’n Saaglem deur murg en been.

Eers toe ek veel ouer was, nadat baie dinge deur my kinder- en tiener­jare in ons huis gebeur het, het ek my eie teorieë oor ons familie ontwikkel. Dié teorieë is aangevul deur my eie droombeelde, sowel as inligting wat ek op ’n slinkse manier uit my ma se suster kon trek. Ek kon só die stukkies saamlas om die hekke van die familie se verbode terreine oop te maak.

My tannie Elisabeth het ’n affiniteit vir die bottel gehad. Sy het soms op die plaas kom uitvars, al het niemand dit ooit in soveel woorde uit­gespel nie. Dit was hier in die laat sestigs, as ek reg onthou. As ek en sy laatnag alleen in Gansfontein se kombuis gesit het, het ek maar altyd so terloops uitgevra oor die familie aan my ma se kant. Tannie Elisabeth het sit en naaldwerk doen, en soos dit later word, het haar tong losser, of eerder meer mededeelsaam, geraak. Ek het uitgevra voor­dat sy te ver heen was, en ek het antwoorde gekry. Japsnoet het sy sin gekry.

Daar was nie drank op die plaas nie. Nee, ek jok nou, daar was soetwyn vir spesiale Sondae, maar dit was toegesluit in Oupa se kantoor op die boonste verdieping. Sy stêddie, het ons dit genoem, Afrikaans vir “study”. (My ouma het van die Oos-Kaap gekom, waar Engelse woorde in haar tyd verafrikaans is.) Maar die medisynekas was nie toe­gesluit nie, en dit was vol van elke liewe botteltjie in Lennon se medisynereeks, tot die vorige winter se Borstol.

Tannie Elisabeth het elke aand klokslag na ete ’n ou kwaaltjie ont­wikkel en in Ouma se kassie gaan rondkrap. Die hoesmedisyne het seker maar gehelp met die lusgeit vir ’n glasie sterker medisyne. En dan kon ek oop en gemaklik uitvra oor die Le Granges se besigheid. Die verbode terreine wat net die grootmense beskore was en waar­oor daar net nie gepraat is nie. Dit het net nóóit gebeur nie – die ou Afrikaanse familiekwaal.

Tannie Elisabeth is toe ek alreeds op universiteit was, so twaalf jaar later, dood aan ’n ongeneeslike lewerkwaal.

Ons het vir baie jare nog oor haar gepraat – haar sagsinnigheid, haar skerp humorsin en haar nog skerper slag met die naald. Sy was ’n streng ma vir haar kinders, maar ’n goeie ma. Niemand het ooit oor haar siekte gepraat nie. Ook nie oor haar slim maar oorgewig dogter wat net ná matriek met ’n man weggeloop het omdat sy “in die ander tyd” was nie. Die man was boonop baie ouer as sy. Erger nog: Hy het gekom van die verkeerde kant van die treinspoor. Só ver van die trein­spoor, hy het gesukkel om ’n geleentheid te kry stasie toe.

Toe stories in die familie die rondte begin doen dat hy haar boonop die plathand gee, was daar nog minder simpatie vir haar. Sy het haar eie bed opgemaak, en sy moes maar sien en kom klaar. Sy het self haar lewe weggegooi.

Ek en Mazawatta – my pa se bynaam vir my niggie – was as kinders onafskeidbaar. Ons het saam gedroom oor ’n toekoms op die verhoog. Ons het selfs konserte gehou waarvoor ons deurgeld gevra het. Ons fantasieë het geen perke geken nie, en dat sy later net sou verdwyn en alle kontak met my verbreek, was amper ondenkbaar.

Sy was altyd in my gedagtes en ek het – as ’n verdraaide huldeblyk seker – gereeld vir mense die storie vertel van ’n streep sissende ganse wat my niggie gejaag het. My niggie wat gillend spruit toe hardloop, vinniger as wat haar dik beentjies haar kon dra . . . Tot teen ’n toe hek met gespande doringdraad aan weerskante. Klokslag het die lagtrane gerol. Die beeld van ’n baie vet, gillende dogtertjie wat vlug voor twin­tig woedende ganse was elke keer ’n partytjietreffer.

Maar ek was nooit lus om die res van haar storie met my gehore te deel nie. Ek het altyd nagelaat om by te voeg dat my slim niggie later stilletjies die pad gevat het aan die sy van ’n man met ’n tatoeëermerk op sy arm (die buitelyne van ’n wulpse, welbedeelde vrou wat gelyk het soos die arm man se Raquel Welch).

In ons familie – seker maar in enige ordentlike Afrikaanse familie – het mense destyds nie sulke merke gehad nie. Die vet niggie met die hoogste IK van al die kleinkinders het weggeloop met ’n kort, klein mannetjie wat altyd afgekyk het grond toe as hy met jou praat . . .

Selektiewe geheue. Weer daardie goed gekose herinneringe wat soos ornamente voor in die glaskas uitgestal word sodat die spieël dit mooi kan reflekteer. Herinneringe wat nie van jóú wil vergeet nie. Herinne­ringe waarvan jy jou nie kan losmaak nie.

Of jy wil of nie . . .

Herinneringe wat mettertyd spoke word.

Een van my spoke was Jan Bezuidenhoudt.

Agter die skerms

Подняться наверх