Читать книгу Agter die skerms - Christo Gerlach - Страница 5

Оглавление

INLEIDING

In die hospitaal vat die dominee my hand vas en bid vir my. Dominee Andries is skaars klaar of ek raak diep aan die slaap. God, in die Naam van Jesus, gaan my red uit my eie, selfopgelegde hel.

Ek droom van my Judas met die Italiaanse naam. Alfredo.

Toe ek wakker word, kla die verpleegster dat ek al weer die bed be­vuil het. Sy vee my hardhandig skoon. Is daar enigiets van my boude oor?

Ek maak my oë toe en verbeel my ek weet nie van die skaam nie. Ek het nie ’n vuil agterent nie en die lakens is nie besmeer nie. Ek bewe van die koue. Dit help vir die skaamte. Die bewe vries die gevoel van ont­bloot en vernedering weg.

Ek probeer my boude wegdraai toe sy die laaste van die gemors weg­was.

“No!” Sy klap my liggies op die boud.

Ek vererg my en mik ’n hou na haar. Sy dreig dat sy sal terugklap.

“Don’t you dare!” skree ek.

Ek ruk die pype uit my lyf. Ek skop die kombers van my af. Ek het nie ’n broek aan nie, net ’n oorrokkie van stukkies linne.

Hulle maak my hande vas aan die bed.

Ek skaam my. Maar nie te lank nie, want die monitor bo my bed word ’n 24-uur TV-kanaal. ’n Nuusman berig oor ’n ongeluk. Twee polisiemanne is dood en die skuldige het ontvlug. Die voortvlugtige is Alfredo, ek weet dit. Ek huil my aan die slaap.

Ek word weer wakker met dieselfde prentjies wat raampie vir raam­pie oor en oor gespeel word. Stadig, om te wys hoe die karre inmekaar frommel. Hoe die skuldige bo-oor die dakke van die karre spring. Alles in slow motion. My keel trek toe.

Ek skree na Alfredo. Ek sien hom skuil buite my venster. Ek roep na hom, maar my stembande is lam en my skree stol. Moeder Courage se silent scream, soos in enige nagmerriedroom.

Ek neem die verpleegster in my vertroue. “Die skuldige,” fluister ek, “het kom skuiling soek by my venster.”

Sy kyk op na die skerm. Elke raampie vries eers en speel dan ver­der. Sy kyk na die venster en dan na my.

“Kalmeer,” sê sy. Dit lyk asof sy haar lag probeer bedwing. Dan draai sy om en loop weg.

Ek wil roep, maar my tong sit aan my verhemelte vas. Daar is nie klokkies in intensiewe sorg nie.

Woede brand in my. Dis die verkeerdste ding om vir ’n gespanne akteur “Ontspan” te sê net voor hy op die verhoog moet gaan.

Maar dan raak die verpleegster uit fokus. Sy beland op die redigeer­der se vloer en ek kies self die volgende toneel . . .

Ek maak vinnig my motor se deur toe. Kyk om my rond of iemand my nie dalk gesien het nie. Ek kan nie vinnig genoeg wegtrek nie. Ter­wyl ek die ratte verwissel, frommel ek die stukkie koerantpapier oop.

Houtskaafsels. Weer net donnerse houtskaafsels. Die bliksem het my weer gevang.

“Wat dink jy doen jy?” vra ek myself af. Ek weet mos die Wes-Afrikane lieg hulle almal as sangomas voor.

Ek kyk die psigiater reg in haar oë.

“Dit gaan goed,” sê ek. Ek lieg my in my eie vals dapperheid vas. “Dit gaan baie goed. Regtig.”

“Ek wil nie op lamppale van jou lees nie!” sê sy. “Jy is talentvol, slim. Ruk jou reg.”

“Ja,” sê ek.

Ek sal.

Ek het mos.

My hospitaalkamer is soos ’n stasie; mense kom en gaan.

Die internis klink kwaad. “Ek het jou lewe gered! Jy is ondankbaar!”

Die suster sê iets in Sesotho vir ’n kollega. Ek hoor die woord “lekgoa” (witmens).

Sy weet nie ek verstaan haar taal nie.

“You are a racist!” skree ek vir haar.

Die naalde suig my bloed. Elke sel word gefynkam. Tot vir sifilis – in die gevorderde stadium. Niks kan meer uitgesluit word nie, want selfs iemand wat as ernstig bipolêr gediagnoseer is, kan nie só mal wees nie.

Later as die suster met die naalde naderkom, koes ek soos ’n kleuter vir Ouma se bottel Borstol. Ek maak my oë toe as hulle my vingerpunte prik. Weer en weer en weer.

Ek weet ek gaan my bloed aan God moet skenk. Ek weet nie hoe lank ek dit nog kan vermy nie.

(Maande later sê ’n ander internis vir my die kliniek se internis was bloedtoets-happy. “Hy’t seker ’n aandeel in die laboratorium.”)

Deur skrefiesoë sien ek Daniel langs my bed staan. Verbeel ek my of sien ek sy lip bewe as hy afkyk na my? Of hoop ek net?

Hy kyk af na negentien jaar se sweersel wat nou oopgebars in ’n vrotterige gemors op ’n treurige hoop in die eksklusiewe kliniek in die noordelike voorstede lê. Dis die plek waar almal, veral die sogenaamde bekendes, kom wegkruip as hulle lewe so hopeloos soos myne geword het. Onder die dekmantel van wat-ook-al.

In my geval is daar nie ’n dekmantel nie. Daar was nie tyd vir keer toe hulle met my hospitaal toe gejaag het nie. Het ek gehensop? Het ek probeer uitskree om hulp?

Daar was lang tye in die put van donkerte dat ek nie geweet het wat ge­beur het nie. Toe ek later die stukkies probeer optel, het die gapings in my bewussyn net groter gate geword. Tonnels. Sonder enige lig aan die einde wat uitkoms beloof. Afgronde sonder landingsplekke.

“Can you hear me?” vra Daniel sag.

Daniel is my lewensmaat. Die lewensmaat wat ek ver­kul met Alfredo, die spreekwoordelike jonger man.

“That piece of white trash,” noem Daniel hom.

In die koma waarin en -uit ek beweeg, verdwyn my sin van die werk­likheid. Drome neem my genadiglik ver weg. Maar oor een ding het ek geen twyfel nie, ten spyte van my benewelde persepsie: Daniel het besluit om ons lewe saam te beëindig. Al is hy ondersteunend en ’n gereelde besoeker in my hospitaalkamer.

Hoekom voel dit asof hy heeltyd vir mense om my fluister?

Ek sink weer weg en ontvlug in ’n nuwe maldroomwêreld. Voor my speel Bollywood-skouspele af. Skoonheidskompetisies. Ek verkyk my aan ’n plafon versier met gekrulde vurke. Daniel maak groot oë en knik sy kop ’n paar keer toe ek dit aan hom uitwys.

Tussen wolke hoog bo die aarde koes ek vreesbevange vir Boeings wat teen ’n helse spoed oor en by my verbyvlieg.

Dan is ek in Spanje. Toeskouer by ’n stiergeveg. Die bul storm op my af. Ek skree vreesbevange.

Ek kry seer en smeek en bewe en word woedend niemand luister nie ek kry koud

Ek wil huis toe gaan. “My diere . . .”

“Jou suster het laat weet sy kom,” hoor ek ’n stem sê.

Ek raak tranerig. “Waar is Daniel?”

Ek stoei en probeer my hande loskry. “Waar is ek?”

Ek ry op trollies deur tonnels. Die trollies stamp teen hysbakdeure wat oop en toe gaan. Hulle maak my seer. As ek kla, fluister hulle. Laat my net lê. Los my. Ek word op en af gelig.

Skaduwees agtervolg my.

Eers net een, maar binne sekondes is daar soveel dat dit voel asof ek in ’n disko is. Die ligte verblind my.

Maak die gordyne oop, dis te wit. Maak die gordyne toe, die mense kyk.

Hoekom behandel die personeel ’n pasiënt so . . . ?

Hulle kla dat ek onwillig is. Ek werk nie saam nie.

Maar los my dan. Laat ek . . . teruggaan . . .

Na . . . my . . . huis . . . toe . . .

Asseblief.

Ek wil wegkom. Want ek sien oral mense wat konkel. Ek weet hulle gis en wonder. Oor my.

Het ek een van hulle agteraf sien giggel?

Ek ruk die pype uit my uit en spring van die bed af. Ek pis teen die venster. Die venster is toe. Almal lag. Hulle druk my terug en stik die pype met steke aan my vel vas. Dis seer as ek draai.

Ek is aan die bed vasgespalk. Gekruisig.

Ek is weer papnat. Hulle kom sit ’n kateter in. Ek skree van die pyn. Hoekom voel dit asof die verpleegster my ekstra seer wil maak? Hoe­kom het julle nie lankal een ingesit nie? Dan het ek nie heeltyd die bed bepis nie.

Dankie tog, dit gaan help. Nee, dis nog iets om my aan die bed vas te kluister.

Ek dring aan op ’n Imodium toe ek my weer bevuil. “No,” sê die groentjie-dokter, “you have to get rid of the poison in your system.”

Ek word wakker. Ek lê weer op ’n klam, gladde laken. Ek wil nog dink ek verbeel my, maar dis nat stront wat begin hard word teen my vel. Nie weer nie, asseblief nie, Vader.

Ek sukkel tot in ’n sitlêposisie en sê vir die alomteenwoordige verpleegster by my bed ek wil dadelik die saalsuster sien. Dis al ná tien, want die ligte in die res van die saal is dof.

“I believe it is possible for a patient to discharge himself?”

Sy knik stadig, en haar voorkop vorm ’n effense vraagtekenplooitjie.

“In that case I have to discharge myself.”

“Why would you want to do that?”

“I want to take a taxi to the Olivedale Clinic. They have a 24-hour pharmacy. I will buy my own Imodium and then come back.”

Sy kan sien ek is ernstig.

’n Rukkie later daag ’n verpleegster by my bed op met twee Imodiums, toegedraai in sneespapier. Ek kan dit nie vinnig genoeg in my keel afkry nie.

Dit was die einde van my vernedering van ’n bed vol slap stront en ’n vuil agterent. Dit was nie nodig om weer na ’n verpleegster se wil-kots-uitdrukking te kyk terwyl sy my oë probeer vermy nie.

Ek slaapdroom rustiger verder. As ek wakker word, is alles om my skielik so ver.

Ek sweef van die hitte. Die sweetdruppels laat my bewe tot in ’n nuwe sfeer. Dan kry ek koud. Ek soek na die kombers wat van die bed afgegly het.

Kuiergaste is ontydig. Ek word ontydig gepla deur susters. Ontydig wakker gemaak. Dan dokters, ontydig . . .

Ek onthou vaagweg Daniel het boodskappe van vriende en kennisse oorgedra. Gevra of ek sekere mense wou sien. Selfs deur al my hallu­si­nasies weet ek klokhelder watter mense ek nie naby my wil hê nie. Nie in hierdie toestand nie.

Ek glip van die een koma in ’n ander. Ek hoor iemand iets sê van touch and go. Ek weet ek is dodelik siek en die dokters veg vir my lewe.

“Daar is komplikasies,” sê Daniel vir ’n besoeker. “Ernstige kompli­kasies.”

’n Verpleegsuster sê “You can see he is very fit. It all adds up, you know.”

As ek toe maar geweet het van die maande wat voorlê, maande van krepeer van seer en verlange, van woede. En hulpeloosheid. Mag­teloosheid. Elke dag wat veraf en vaag sou volg op nog ’n dag met minder buitelyne as die vorige een. Loop, sit en staan. In die motor klim. Bestuur. Kantoor toe. Huis toe.

My enigste verwysingspunt deur eindelose ure sou ’n helder vrees wees. Voor ek gaan slaap en as ek wakker word. ’n Vakuum van vrees.

“Help my, God, ek is so bang . . .”

Godgebede sou godgesmeke word. Help my, Heer.

My God. My God. Waarom het U my verlaat?

“Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae in die land van die Here verleng sal word.”

Die dominee in die koue NG kerk op Ficksburg. Winter en somer, dit was altyd koud in die kerk. Die banke was altyd hard, Sondag op Sondag. Ek probeer om nie te kyk na die prentjies wat die gekleurde loodglasvensters uitmaak nie.

As ek ná die diens uitloop, voel dit asof ek my eie voetstappe kan hoor in die doodse stilte. Dan tref die skerp sonlig buite my saam met ’n skuldgevoel wat my ’n oomblik lank verblind. Dan weet ek my dae op aarde is getel.

Want ek haat my pa.

As my oë weer begin fokus in die elfuurson, kyk ek skelm anderpad. My oë vermy die figuur wat oor my troon. Hy dra ’n ouderlingstoga van suiwer wolstof. Ek kan hom nie in die gesig kyk nie. Hy het die skerpste blou oë, maar ons drie kinders het almal my ma – die Le Granges – se bruin oë geërf.

Dekades later soek ek die Tien Gebooie in Eksodus 20 op. Ek lees weer die gebod wat sedert my laerskooljare in my siel eggo en my ge­wete pynig. Die einste gebod wat my ná al die jare ingehaal het.

Agter die skerms

Подняться наверх