Читать книгу Agter die skerms - Christo Gerlach - Страница 9

Оглавление

BEZUIDENHOUDT

Jan Bezuidenhoudt se spook sal my seker bly volg tot die dag van my dood en dis sy spook wat my tot in die nuwe eeu laat wag het voordat ek die moed aan die dag kon lê om terug te keer Slabberts toe.

Dit was soos in enige spookstorie. Die gehoor kan homself nie keer om die storie enduit aan te hoor nie, al wil die benoudheid sy keel toetrek. Dit was nes die gevoel wat ek as kind gehad het as my Ouma Gerlach die aand op haar stukke was met ’n spookstorie – Ouma, ek en my niggie Magda saam in ouma se bed sonder enige lig wat brand.

Ek het Slabberts se naambord onverwags langs die pad raakgesien, en op die impuls van die oomblik, sonder om te dink, afgedraai. My hart het vinniger begin klop en ek het stadiger begin ry. Ek kon later nie omdraai nie.

Skielik was ek tussen die oorblyfsels van die beelde wat ek so­veel jare saamgedra het van die klein plekkie. Die beeld was helder en skerp ingeprent soos ’n rolprent wat ek oor en oor en oor gekyk het.

Die berg aan die sonopkant van die spoorlyn was nog daar. Maar die ry sinkhuise was weg.

In een van die sinkhuise op Slabberts se stasie het Jan Bezuidenhoudt, wat vir die spoorweg gewerk het, my in Sub B geleer van voortplanting. Die manlike orgaan en die vroulike orgaan en wat hulle doen – en dan het hy my gewys. In die bedompige skemerte van sy slaapkamer. Klere het oral rondgelê. Dun strepies lig het deur gaatjies in die sinkdak geskyn.

Die huis is nou afgebreek en die sinkplate iewers in ’n plakkers­kamp – en hoekom laat dit my verlate voel?

Miskien omdat hy my op sy skoot getel en vertel het van die eerste keer toe ek met die trein aangekom het en hy die mooi seuntjie op die platform sien staan het. (My pa was toe besig om ’n diaken te wees.) Waar ander kinders dieselfde spookstorie oor en oor wou hoor, wou ek oor en oor hoor van daardie dag toe hy my van die trein sien afklim het in my skoolklere. Ná die storie het hy altyd sy gesig met die stoppels teen my gesig gedruk en dan het ek skerpsoet aftershave geruik. Partykeer het die spoorwegpet in die pad gekom.

Toe hy eendag net uit ons lewe verdwyn, het ek my pa elke nou en dan gevra wat van hom geword het. Net weg, het my pa gesê. (My pa was toe lankal ’n ouderling.) Verdwyn. Soos mis voor die son. Ná als wat ons vir hom gedoen het. Sal nie eers ’n foon optel en laat weet waar hy is nie.

Miskien, het ek my later begin afvra, was hy bang ek begin verstaan?

Elke nou en dan, terwyl ek besig was met wat ook al, het ek gewonder waar hy was. Of hy my nog onthou. As my foto in die koerant was, het ek gehoop hy sien dit en bel miskien. Later het ek teësinnig begin weet dat ek op tien of elf te oud vir hom geraak het. Toe hy begin het om my hand weg te vat as ons saam op die enkelbed in my kamer ge­slaap het. Dieselfde bed waar hy my getroos het, my gesoen het as ek onder my pa se plathand deurgeloop het, voordat my pa op sy knieë langs die bed gaan kniel het om te bid. Hy het my stywer teen sy bors vas­gedruk terwyl sy oë weggekyk het van myne. Hy het my saggies stywer gedruk tot ek ophou huil het. Ek het my partykeer verbeel dis my pa wat my so vashou en troos.

Ek onthou die kamer was altyd doodstil tussen ons voordat ons aan die slaap geraak het. Nadat ek met hom gespeel het en hy klaar sy ding soos seep tussen my bene deur geskuur het.

Partykeer het ek in die nag wakker geword en dan was hy weg.

Ek het op die bad se rand gesit en opgekyk na hom as hy in die oggende geskeer en daarna sy hare gekam het. Hy het sy blonde kuif agteroor gekam met Brylcreem, nie heeltemal soos ’n ducktail nie, dat sy inkeep-haarlyn wys. Hy het sy aftershave met harde klapgeluide aan­gesit en die badkamer het lank daarna nog na hom geruik.

Sy swart Simca was sy trots en hy het na langspeelplate geluister op sy nuwe platespeler wat met batterye gewerk het. Jim Reeves. En hy was versot op Engelse sagteband-cowboyboeke.

Hy het graag denim-stovepipes gedra en hemde met rooi-en-wit blokkiespatrone. Dit was wanneer hy nie aan diens was in die stasie­kantoor met sy swart voormanuniform aan nie.

Soms het hy saam met ons die trek gevat Durban toe, waar baie Oos-Vrystaters die Julievakansie deurgebring het. Daar het hy rondgeloop in ’n wit hemp en ’n wit kortbroek. Sy blonde beenhare was lank en krullerig. Ek was jaloers as hy partykeer saans nie teruggekom het nie. My ma het my bot belet om uit te vra. Grootmensgoed.

Jare later sou ek my soms afvra of my ma nie dalk heimlik effens ver­lief was op die man wat so deel van die gesin was nie. Maar dan moet ek byvoeg dat my ma deur haar hele lewe afvlerkvoëltjies gekoester het. Bezuidenhoudt was nie juis wat ’n mens ’n gekweste dier sou noem nie, maar dat hy hom ten minste vyf jaar lank behoorlik in ons lewens ingewurm het, is ’n feit. Nadat hy my ouers ontmoet het, het hy ons gesin gevolg en hom kom vestig op ’n buurdorp naby ons. Hy het om­trent elke naweek by ons kom uitspan en daar is net aanvaar dat hy ingesluit was by al die gesin se aktiwiteite en selfs familiebyeenkomste. ’n Wildvreemde man.

“Dis maar omdat hy so sonder kind of kraai is. Ons het almal mense na aan ons nodig . . . ” was my ma se verduideliking. Hy was ’n kudde­­dier, maar self het hy nooit oor sy familie gepraat nie en niemand het eintlik geweet waar hy vandaan gekom het nie. En dis seker een van daardie vraagtekens wat my tot aan die einde van my lewe sal bybly. As dit belangrik genoeg is.

Baie dekades later het ek begin wonder of hy nog leef. Maar ek het myself altyd belet om te wonder of hy ’n vrou en kinders het. Omdat die blote gedagte my weer soos ’n kind van sewe of agt sou laat voel wat in die stofpad agter sy ma se kar aanhardloop terwyl sy wegry. Ek moes die trein vat na Slabberts, want ek moes by Oupa en Ouma op Gansfontein gaan bly om die skooljaar op Gumtree klaar te maak.

Ek dwing myself skielik om na Slabberts se spoorlyn te kyk. Dit weer­kaats nie meer die laatsonglig nie. Dis nou rooi en feitlik deur­geroes. Die treine ry lankal nie meer hier verby van Bloemfontein na Bethlehem of van Bethlehem na Bloemfontein nie. Jan Bezuidenhoudt het miskien lankal vergeet van die mooi seuntjie wat hy daai dag die eerste keer op die platform op Slabberts se stasie sien staan het. Jan Bezuidenhoudt is miskien lankal dood.

En hoekom laat dit my verlate voel?

Agter die skerms

Подняться наверх