Читать книгу Anderkant die scrap - Dana Snyman - Страница 11
KUBEROUMA
ОглавлениеBen het gevra of ek nie vir hom ’n foto van sy ma in die ouetehuis sal gaan neem en dit vir hom e-pos nie. Australië toe. Perth toe.
Hy wil dit vir sy twee kinders, Brett (4) en Samantha (2), wys sodat hulle darem kan sien hoe lyk hul ouma Tokkie deesdae. Ek vermoed Ben wil ook sien hoe sy lyk. Hulle het agtien maande gelede Perth toe geëmigreer, hy en Selma en die kinders. Sedertdien was hulle nie weer in Suid-Afrika nie – al sal jy dit nie sê wanneer jy Ben se gereelde e-posse aan my en sy knaende briewe aan Suid-Afrikaanse koerante lees nie. Hy het ’n mening oor min of meer als wat hier by ons aangaan: van die Zuma-hofsaak tot by Pretoria se Tshwane-word.
Ek en Ben was vir ’n ruk op dieselfde dorp op skool. Goed, het ek gesê, ek sal die foto gaan neem, in-scan op die rekenaar en vir hom e-pos.
Sondagmiddag ry ek toe na tant Tokkie toe.
Ouetehuise soos die een waarin sy is, maak my bang. Wat is dit wat ’n mens als in daardie gange ruik? Medisyne? Snuif? Piepie? Gekookte hoender? Talcum powder uit die 1960’s?
En oral op hortjiesbankies sit mos oues vir jou oor hulle kieries en looprame en staar, asof hulle vir jou wil sê: Wag maar, wag, jou dag kom.
Tant Tokkie, wat onlangs 78 geword het, se woonstelletjie is aan die onderpunt van die gang: ’n sitkamertjie, slaapkamer en badkamer, en ’n kombuisie.
Die deur staan oop toe ek daar kom en tant Tokkie met haar bollatjie sit op die bal-en-klou-stoel by die venster. By haar voete staan ’n mandjie met breiwerk en op die tafeltjie langs haar lê twee boeke: ’n Bybelgids van Maretha Maartens en Nan Henning se roman Eensame reisiger.
Ek hou haar koue hand ’n paar oomblikke in myne, sit toe my kamerasak by die stoel langs die showcase neer. Maar ek gaan sit nie. “Tannie het darem mooi goed hier.” Ek gaan staan voor die showcase.
In al die huise van my verlede was showcases nes tant Tokkie s’n, en in omtrent almal was teelepeltjies met dorpswapens op die steel, poedingbakkies met die Voortrekkermonument op, miniatuurkoppies en -pierings, Zoeloeskildvelletjies en -assegaaitjies wat in Durban gekoop is, en ’n porseleinbeeldjie van drie bobbejane, een met sy voorpote oor sy mond, een met sy pote oor sy oe, en een met sy pote oor sy ore: Ek praat nie, ek sien nie, ek hoor nie.
“Ja, ou kind,” sê tant Tokkie toe ek oorkant haar gaan sit. “So gaan dit maar.”
Skuins bokant haar hang ’n boemerang teen die muur – ’n Australiese boemerang. Ben-hulle moet dit Kersfees vir haar gestuur het want dit het ’n rooi strikkie en ’n kaartjie aan waarop staan Merry Christmas.
Maar ek vra tant Tokkie nie uit oor die boemerang nie. Ek vra of sy gehoor het Ben-hulle wil dalk in Oktober kom kuier. Sy sug en sê, ja, Ben sê die kinders word nou groot. Ja, sê ek, ek hoor Ben sê die kinders word nou groot. Toe vra sy of Ben my vertel het hulle sluit nie snags in Australië nie. Ja, sê ek, Ben het my ook vertel – al dikwels. Hy skryf dit ook gereeld in sy koerantbriewe.
Toe kom tant Tokkie regop, stadig, want die ou bene lol deesdae, en sukkel die kombuisie in. Ek stap saam. Teen die muur hang die gipsspreuk tussen ’n spul duiwe, takkies in die bek, wat eens op ’n tyd in soveel huise gehang het: Ek en my huis, ons sal die Here dien.
Tant Tokkie maak vir ons tee – rooibostee in Noritake-koppies – en ons gaan sit weer in die sitkamer.
’n Hele ruk sit ons in stilte daar. Toe, opeens, sê tant Tokkie: “Jy sal nooit verstaan wat in ’n moeder se hart aangaan nie, kind.”
Sy lig die koppie uit die piering maar sit dit omtrent dadelik weer neer en kyk na my. Toe begin sy geluidloos huil.
Dit is al laatmiddag. ’n Flou streep sonlig lê oor die mat tot teen die oorkantste muur waarteen ’n paar portrette hang: Ben op sy gradeplegtigheid, Ben op sy troudag, Ben se kinders met die Engelse name op ’n strand iewers.
Nie lank daarna nie is ek daar weg.
In my rekenaar se inbox lê drie e-posse van Ben, maar ek het dit nog nie gelees nie.