Читать книгу Anderkant die scrap - Dana Snyman - Страница 6
16 DESEMBER
ОглавлениеElke jaar op 16 Desember het ons die Geloftefees-byeenkoms op die Vaalbos-feesterrein buite ons dorp bygewoon.
’n Week voor die tyd het oom Swart, voorsitter van die Geloftefees-komitee, en ’n span werkers die terrein gereed gemaak: die kweek en bossies uitgeskoffel, die wieletjie bo-op die vlagpaal geolie, en die rooibye uit hulle neste onder die saal se dak gerook.
Eintlik was dit nie regtig ’n saal nie. Dit was ’n tamaaie afdak en ’n sementvloer met ’n kombuis aan die agterkant. Almal het hulle eie stoele saamgebring – almal behalwe oom Jassie wat altyd eenkant gestaan het, skuins gestut teen ’n sitkierie.
Die mans het pakklere gedra en die vroue hoede, en elke jaar is die baie bejaarde tant Breggie Stols, uitgevat in ’n Voortrekkerrok en -kappie, deur ’n verpleegster nader gelei en op ’n riempiestoel heel voor in die saal geïnstalleer. Tant Breggie was as kind in die konsentrasiekamp by Norvalspont en elke jaar moes sy vertel hoe die Engelse soldate glasstukke in die mieliemeel gegooi het.
Oom Jassie het die Steinway-klavier uit die kerksaal soontoe gebring met sy Chev-bakkie en voor die tyd het ons afgerolde programme ontvang waarop die verloop van die verrigtinge uitgestippel is: Verwelkoming. Vlaghysing. Diens. Rede.
Daardie jare was daar nie toesprake op Geloftefees nie: ’n Rede is gelewer.
Op dorpe soos ons s’n was dit dikwels ’n adjunkminister wat die rede kom lewer het. Hy het in ’n swart Mercedes daar aangekom, vergesel van ’n borselkoplyfwag. Mevrou Dokter Nel het ’n angelier aan sy lapel vasgesteek terwyl oom Jassie goed sê soos: “As ons als moet weet wat daai man weet, slaap ons nie snags nie.” Of: “Hy’s ’n baie plat op die aarde mens, die minister.”
Oom Swart het min of meer almal behalwe die tortelduiwe in die bome verwelkom, dan het oom Badie nader marsjeer in sy Voortrekkeruniform, sy Hou Koers-gordel styf om sy maag gespan, met twee verkenners, ’n seun en ’n meisie, agterna. “Liek-ja. Liek-ja. Halt. Stuit. Een, twee.” Dan het oom Badie beveel: “Maak gereed om die vlag te hys!” Dan het die seun en meisie nader aan die vlagpaal getree en die tou losgemaak, waarna oom Badie gebulder het: “Hys die vlag! Ontplooi die vlag!”
Daarna het Willempie, wat jare later ’n verhouding met ’n bekende manlike Kaapse modeontwerper sou hê, sy trompet gelig. Dan het ons die vlaglied gesing: “Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra: ‘Wat beteken jou vlag dan, Suid-Afrika’?”
Daarna het Oudominee orent gekom en gepreek van die wonderwerk wat daardie dag by Bloedrivier gebeur het:
43 000 Zoeloes deur voorlaaiers gedood; een Trekker lig deur ’n assegaai gewond. (Die getalle kan verkeerd wees, maar dis hoe ek dit onthou.)
Daarna was dit ’n bie-sondere voorreg vir oom Swart om die minister aan die woord te stel. Dit het ’n goeie adjunkminister meer as ’n uur geneem om die rede te lewer, en natuurlik is die woord “kommunis” geil gebruik en natuurlik is verwys na die Afrikaner se roeping in Afrika, terwyl die dakplate kraak in die hitte en oom Lieb in vervoering luister en aantekeninge in ’n boekie maak, tant Hester haar koel waai met haar program, ’n geitjie teen die muur uitskarrel, oom Jorrie in sy strandstoel sit en slaap, vae kampherinneringe in tant Breggie se brein roer, oom Seef ’n vlieg doodklap, ’n baba in die derde ry van agter begin huil, die meisies hoopvol na die minister se lyfwag staar en die koffiewater begin kook in die groot, silwer urn in die kombuis.
Nadat die minister gaan sit en sy natgeswete gesig met ’n sakdoek afgevee het, het tant Sophie, wat eens op ’n tyd kortstondig lid van André Huguenot se toneelgeselskap was, die gelofte voorgedra: “Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ’n gelofte aan Hom te doen, dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ’n dankdag soos ’n Sabbat sal deurbring, en dat ons ’n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Want die eer van sy Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.”
Word daar steeds op 16 Desember Geloftefees by die Vaalbosfees-terrein gehou? Ek wonder. Ek was jare laas daar of by enige ander Geloftefees.
Wat het van toe tot nou met my gebeur?