Читать книгу Anderkant die scrap - Dana Snyman - Страница 5
UNCLE CHARLIE’S
ОглавлениеVir ons was dit nie sommer net vir in die Valiant klim en Pretoria of Johannesburg toe ry nie. Pa het omtrent ’n maand voor die tyd al oom Ys, sy broer wat in Germiston woon, gebel om te hoor of hy ons op daai dag en daai tyd by Uncle Charlie’s sal kom ontmoet met sy Anglia.
Byna almal het in daardie jare – die 1960’s en 70’s – geweet van Uncle Charlie’s, ’n padkafee en garage net duskant Johannesburg. Die hoofpaaie uit die suide, ooste en weste het daar bymekaar gekom en vir ons rou plattelanders was dit min of meer die einde van die bekende wêreld. Nooit sou ons op ons eie verder as Uncle Charlie’s ry nie. Iemand moes ons altyd daarvandaan die grysland in begelei.
In ons koppe was Johannesburg en Pretoria een plek: Die Stad – die groot onbekende. Amper soos daardie gebiede wat op ou wêreldkaarte met drake aangedui is.
Pa-hulle het soms ook van Johannesburg en Pretoria as “die Rand” gepraat, asof dit ’n plek is waar jy kan aftuimel as jy te ver gaan. “Jy weet, daar word elke dag driehonderd en vyftig nuwe huise op die Rand gebou,” sou hulle sê. Of: “Op die Rand is daar elke drie minute ’n motorongeluk en elke ses en ’n half minute ’n moord.”
Ons het allerhande nare dinge oor die Rand geglo: Dat dit ’n goddelose plek is waar vroue minirokke dra, Jehovagetuies jou op straat probeer werf, ’n ducktail maklik ’n skerpgemaakte fietsspeek tussen jou ribbe laat inglip, en Griekse kafee-eienaars dwelmmiddels in hulle lekkergoed spuit, wat maak dat jy altyd teruggaan om weer by hulle te koop.
Ons het ook geglo die hele Rand is uitgehol oor al die gegoudmynery daar.
Maar ondanks al die gevare het ons minstens een keer ’n jaar soontoe gegaan, gewoonlik in April wanneer die Randse Paasskou aan die gang was.
Die aand voor ons ry, het Ouma omtrent die hele dorp gebel en afskeid geneem. “Nee, nee, ou suster, ons sal nooit alleen in daai Gomorra ingaan nie,” hoor ek haar nog oor die telefoon sê. “Ys kry ons by Uncle Charlie’s.”
Een jaar het Pa die dag voor ons sou vertrek ’n skaapveloortreksel gekoop en dit oor die Valiant se stuurwiel getrek. Dit was, vermoed ek, om te verhinder dat sy hande op die stuurwiel gly wanneer hy op sy senuwees raak en begin sweet.
Ons het donkervroegoggend gery. Wanneer dit die vroegmôre-oordenking oor Radio Suid-Afrika was, het Pa langs die pad stilgehou. Oupa het sy tiervelhoed afgehaal en die Valiant se enjin het kwaai onder die predikant se gebed gekraak.
Anderkant die Westonaria-afdraai, naby die Danie Theron-monument, het jy die Rand se geboue al in die verte sien lê. Dit is ook waar Oupa, wat altyd voor langs Pa in die Valiant gesit het, Psalms begin fluit het, eers sag, dan al harder, hoe nader ons aan Uncle Charlie’s gekom het.
Pa en Oupa was veldmense. Jy kon hulle in die middel van die nag in die Kalahari aflaai, sonder kos, en kalm sou hulle in die veld oorleef en hul weg terugvind na waar hulp is. Maar hulle het hierdie byna irrasionele vrees gehad om in die stad, omring deur derduisende mense en met genoeg kos en water, te verdwaal. En omdat Pa en Oupa daarvoor bang was, het ek en Ma en Ouma dit ook gevrees. Was dit bloot vrees vir die onbekende? Of was dit iets anders?
Nie dat ons besoeke aan die Rand slegs met vrees gepaardgegaan het nie. Oom Ys moes Ma en Ouma altyd na die Oriental Plaza in Fordsburg neem sodat hulle rokmateriaal kan gaan koop, en ons het nie sommer teruggegaan huis toe voordat ons by Wemmerspan se waterorrel was nie.
Ons het uit die droë Noord-Kaap gekom, onthou. Ons het nie eens genoeg water gehad om ’n grasperk te hê nie, en die vorige jaar het Oupa een en dertig skape weens die droogte verloor.
Ek sien nog hoe staan Oupa met sy hand in verwondering voor sy mond en staar na daardie spuitende waterpluime, rooies en geles en bloues, terwyl ’n swakkerige weergawe van Orff se Carmina Burana iewers uit ’n luidspreker rammel.
Van die waterorrel af is ons gewoonlik na Tiny Town toe: ’n miniatuurweergawe van Johannesburg se middestad. Ek vermoed Tiny Town is gebou om dorpsjapies soos ons gemakliker te laat voel in die stad. Pa en Oupa het soos vrolike reuse tussen die geboutjies rondgestap en beduie, en een jaar het oom Ys – ek dink hy het ’n bier of twee te veel in gehad – sy sigaret op die Carlton-sentrum se dak doodgedruk.
Dis vreemd: Aan die een kant het ons hierdie vrees vir die stad gehad, aan die ander kant hierdie verwondering vir die stad se dinge. Of is “vrees” ’n te sterk woord? Was dit meer iets soos wantroue? Of agterdog? Agterdog teenoor iets wat ons op ’n manier aangetrek het?
Die skouterrein was toe nog naby die Johannesburgse middestad, in Braamfontein. Op pad soontoe, terwyl Oupa ’n benoude Psalm fluit, het Ma my seker honderd keer daaraan herinner dat ek dadelik na die Total-toring toe moet gaan as ek dalk wegraak.
Die Total-toring by die skou was soos ’n reddingsboei op die oop see vir ons plattelanders. In ’n hokkie onder die toring het ’n man in ’n blou-en-rooi Total-hemp gesit. As jy verlore of tydelik van jou geliefdes geskei was, het jy soontoe gegaan – of iemand het jou soontoe geneem – en dan het die man ’n aankondiging oor die luidsprekerstelsel gemaak: “Hier’s die mooiste ou seuntjie by my. Hy sê vir my sy naam is Wynandjie. Wynandjie is in trane. Hy soek sy pappie en mammie. Kan Wynandjie se pappie en mammie hom asseblief kom haal? Hy wag vir julle hier by die Total-toring.” Of: “Tant Pop Visagie van Vrede is hier by my. Sy sê sy is verdwaal. Kan haar dogter Makkie haar asseblief hier by die Total-toring kom haal?”
Ek onthou allerhande dinge van die skou: By die Suid-Afrikaanse Lugdiens se stalletjie het ons lapelwapentjies present gekry: sulke goue springbokkies met vlerke. Ek en Pa en Oupa het ons s’n aan ons pakke se lapelle vasgesteek en só kerk toe gegaan.
In een van die uitstalsale, by ’n stalletjie van die Departement van Gesondheid, het twee mense se longe in versterkwater in twee glastenkies gehang: Een paar longe was ’n nieroker s’n, die ander dié van ’n roker.
“Sien, dis waarom jy nie moet rook nie,” het oom Ys gesê, aan sy Gold Dollar gesuig, en beduie na die paar longe wat soos gebraaide marshmallows gelyk het.
Die Paasskou was die naaste wat ons aan ’n besoek aan die buiteland sou kom. Dit was immers ’n internasionale skou, al het Suid-Afrika toe maar min vriende gehad. Portugal, Taiwan, Paraguay, Lesotho en die Transkei, elk van dié lande het ’n uitstalsaal gehad, tradisioneel gedekoreer.
Ons het deur daardie sale gestap asof dit die lande self was. Die Taiwannese het ’n Taiwannese restaurant gehad, en een middag het ons daar geëet. Ek onthou nie wat ons bestel het nie, maar dit was maar ’n gesukkel om dit met daardie stokkies in ons monde te kry.
Ná die ete het Ouma een van die Taiwannese kelnerinne nader geroep en in Afrikaans vir haar gevra: “Kan jy nie asseblief vir die oubaas ’n nat lappie bring om sy hande mee af te vee nie?”
Die vrou het nie mooi verstaan nie.
“Ek sê: Bring asseblief vir die oubaas ’n nat lappie.”
Die Taiwannese vrou het steeds nie verstaan nie, toe tjip Oupa ook sommer in: “Kan jy nie hoor wat die miesies sê nie? Bring. Vir. My. ’n. Nat. Lappie.”
Ek dink dit was die jaar toe oom Ys te lank in die biertuin gekuier het. Of nee, oom Ys het te lank in die biertuin gekuier die jaar toe Pa vir Ma die Lowrey-orrel gekoop het.
Huisorrels was toe die in-ding. Almal wou soos John Massey speel. Hy het altyd uitvoerings by die Lowrey-stalletjie op die skou gegee en liedjies soos “Groen koringlande” en “Spanish Eyes” op die orrel gespeel.
Ons het die nuwe orrel sommer boks en al op die Valiant se dakrak gelaai, maar toe ons oom Ys soek, was hy weg. Pa het laat die man in die Total-toring afkondig, maar op die ou end het hulle hom in die biertuin opgespoor, lekker aan die kuier.
“Vat ons net terug Uncle Charlie’s toe.” Oupa het sy vuis kwaai in oom Ys se rigting geskud.
“Nou maar fyn pikkewyn,” het oom Ys gesê toe hy ’n rukkie later agter die Anglia se stuurwiel inwip. “Follow the leader.” En toe laat waai oom Ys, met tollende bande.
Ek sal nie vertel hoe Pa daardie dag terug Uncle Charlie’s toe deur die verkeer by oom Ys probeer bly het nie. Dit sal ons net na groter bekvelders laat klink.
Oupa het die Psalms later nie meer gefluit nie. Hy het dit hardop gesing: ‘Al dreig die vyand met die dood, al storm sy leërbendes aan ...” Oor ’n rooi verkeerslig, al agter oom Ys aan. “Al word ons hier omgeef, ons sal nie beef of rugwaarts gaan ...”
Terwyl Pa se kneukels wit aan daardie skaapveloortreksel om die Valiant se stuurwiel klou en die Lowrey heen en weer op die dakrak skuif en Ma aanhoudend sê: “My orrel, my orrel.”
Daardie dag het die Rand werklik vir my gevoel soos ’n rand waaroor ons enige oomblik kon tuimel.
Onlangs, op pad terug van Potchefstroom af Pretoria toe, het ek op die ingewing van die oomblik weer by Uncle Charlie’s afgedraai. Dit was ook nie so maklik nie. Ek moes ’n hele ruk soek voor ek Uncle Charlie’s gekry het.
Die wêreld daar is nou die ene snelweë en verleggings en nuwe geboue. Die ou padkafee bestaan nie meer nie. Daar is wel nog ’n garage, maar niks daar is meer dieselfde nie.
Ek het teruggery snelweg toe, sonder om stil te hou, terug in die drie bane verkeer, terug na Pretoria waar ek nou al meer as twintig jaar woon.