Читать книгу Anderkant die scrap - Dana Snyman - Страница 12
HALF-LONDON
ОглавлениеAlphonse Hope Nsanze is in November uit Ngozi, ’n dorpie in die noorde van Burundi, weg nadat hy die soveelste keer vir sy ma verduidelik het hy moet suid gaan want dis waar die geld is.
Hy het ’n seilsak by hom gehad en binne-in was nie veel nie: twee langbroeke en drie hemde, ’n tandeborsel toegerol in ’n waslap en ’n trui met die gesig van die Brasiliaanse sokkerster, Ronaldo, op. In die sysakkie was sy paspoort, ’n paar ander vuilgevatte dokumente, en die geld wat hy so lank gespaar het deur met piesangs te smous: altesame 700 000 Burundiese Frank (sowat R450).
Buite Ngozi het ’n Coke-lorrie hom opgelaai en dit het hulle ses ure tot in Bujumbura, die hoofstad by die Tanganyika-meer geneem, skommel-skommel deur die slaggate in die pad.
Daardie aand het hy langs die meer onder ’n boom geslaap. Die volgende dag sou ’n boot na die suide vertrek, ’n afgeleefde Eerste Wêreldoorlog-steamer wat eers na Kigoma in Tanzanië vaar, daarvandaan na Mpulungu in Zambië, ’n afstand van 730 kilometer, met 1 000 mense aan boord, al is daar eintlik slegs vir 500 plek.
Alphonse Hope Nsanze het op die dek geslaap en drinkwater met ’n leë bottel aan ’n tou uit die meer gehys.
Vier dae lank het hulle suid gevaar. Of was dit nou vyf? Êrens op sy tog suid het die onderskeid tussen een dag en ’n ander vir hom betekenis verloor. Al wat saak gemaak het, was om suid te gaan, al hoe verder suid, na die plek toe wat die mense Half-London genoem het. Halfpad soos Londen, maar nog nie heeltemal Londen nie.
By die Zambiese grenspos op Mpulungu het hy ure in die son in ’n ry gewag, en toe hy eindelik voor by die hek was, het ’n soldaat hom hard met sy AK47 se kolf in die maag gestamp. Wat kom maak hy hier? Is hy ’n Hutu? Wil hy kom moeilikheid maak?
Hy kom koop net gedroogde kapentavissies, het hy volgehou, dieselfde dag nog op ’n bus geklim en verder suid gegaan, tot op Mpika, waar hy die hele middag in die koelte langs die Roomse kerk gelê en slaap het.
Die aand laat het hy op die trein geklim, derdeklas, tot op Kapiri Mposhi. Toe het hy 70 000 kwacha uitgehaal vir ’n bus tot op Livingstone by die Botswana-grens. Daar het hy snags in ’n stegie geslaap en later ’n man gekry wat hom saam met twee ander wat ook suid wou gaan, ’n paar nagte in ’n buitekamer laat slaap het.
Hy het die man 100 000 kwacha betaal en een nag het die man hulle kom wakker maak en vir hulle beduie om agter die sakke vol meel op ’n lorrie in te skuif.
Hulle het gery en later stilgehou, toe was daar stemme, toe het hulle weer gery. Toe was hulle op Kasane in Botswana, van waar hy ’n lift agter op ’n beeslorrie gekry het, meer as 800 kilometer ver, tot op Sherwood. Daar het hy twee koeldrankbottels vol water gemaak en in die bos gewag tot dit donker word. Toe het hy begin stap en gestap en gestap, oor die grens, tot in Suid-Afrika.
Toe was daar nog ’n lorrie. En nog dae en nagte. En ’n bakkie. En ’n bus. Net toe dit vir hom begin voel asof daar nie regtig ’n suid is nie, het hy een middag deur die ruit van ’n vol taxi ’n klomp geboue in die verte gesien.
Pretoria. Half-London.
Nou staan Alphonse Hope Nsanze elke dag by ’n verkeerslig in Schoemanstraat en probeer swart, rooi en geel plastiekhangers aan my verkoop wanneer ek daar stilhou.