Читать книгу Anderkant die scrap - Dana Snyman - Страница 4
DUSKANT HOPETOWN
ОглавлениеDis moeilik om by iemand wat op daardie droewe vlakte duskant Hopetown gestrand is, verby te ry. Daarom besluit ek dié middag om maar stil te hou by die man, die vrou en die seuntjie wat by ’n ouerige Gypsey-woonwa langs die pad staan.
Ek het ook skaars van die pad af getrek, toe kom druk die man ’n hand met drie vingers by my venster in: “Middag, Meneer. Ek’s Louwtjie, Meneer.”
Hy het so ’n tuisgebreide, moulose truitjie aan, ’n Jet Stores-denim en ’n paar nerfaf wit Jordan-skoene – van daardies wat eens op ’n tyd deur die popgroep The Soft Shoes op TV geadverteer is.
Die seuntjie kom staan met skurwe kniekoppe by hom. Die vrou wag by die karavaan.
“Kan’k help, Louwtjie?” vra ek.
“Ons soek ’n geleentheid, Meneer. Ons is op pad PE toe.”
“Nou waar’s julle kar?” vra ek want dis net die Gypsey wat daar staan.
Louwtjie laat sak sy kop en kyk na daardie Jordans asof dit die bron van al sy probleme is. “Dis nou eintlik ’n ander ding. Meneer, sien, ons het nie ’n kar nie.”
“Nou hoe’t julle tot hier gekom, Louwtjie?”
“’n Ou het ons vanmôre van Warrenton af tot hier gesleep, Meneer.”
“En hoe’t julle op Warrenton gekom?”
Louwtjie wil nog antwoord maar die seuntjie spring hom voor. “’n Ander oom het ons teen ’n snotspoed van Orkney af met sy Camry getrek, Oom.”
“Devontjie, stil jy!” Louwtjie sit sy hand op die kind se kop en kyk na my met ’n breë frons tussen die oë. “Ek weet eintlik nie hoe om dit vir Meneer te sê nie, maar ons hike met hierdie karavaan, Meneer. Ek sien Meneer het ’n tow bar. Kan Meneer ons nie dalk ’n sleep gee nie?”
Dit moet ek van nader beskou, besluit ek, en maak my deur oop.
Louwtjie is een van daardie ouens, besef ek gou, wat al so baie in die lewe gesukkel het dat hy dit nie meer as sukkel herken nie. Vir hom is dit maar hoe dinge moet wees.
Sulke ouens spaar jou gewoonlik ook mos nie die feite nie. In die rukkie wat dit ons neem om van die Condor tot by die Gypsey te stap, vertel hy my sy hard luck-storie: Hoe hy ’n ketelmaker op Secunda was, met ’n huis, ’n Ford Cortina Interceptor, ’n motorboot, ’n swerm wedvlugduiwe en hierdie woonwa.
Toe verloor hy twee vingers in ’n werkongeluk. En toe, later, verloor hy die werk ook. Toe begin hy en ’n vriend ’n tuindienstebesigheid. Maar toe verdwyn die vriend met die geld en die grassnyers. En toe verloor hy die huis. En die kar. En die boot. Die swerm wedvlugduiwe het hy verruil vir twee visstokke.
En toe, bankrot en desperaat, stoot hulle maar een oggend die Gypsey tot langs die pad buite Secunda en wag daar vir genade. En genade het gekom in die vorm van ’n motor met ’n trekstang wat hulle tot anderkant Hammanskraal gesleep het, op pad Thabazimbi toe, waar glo die moontlikheid van werk was.
Dit het hulle drie dae geneem om op Thabazimbi te kom, maar Louwtjie het nie die werk gekry nie. Toe het hulle ’n draai op Rustenburg gaan maak, steeds afhanklik van motors met trekstange.
Op Rustenburg het Louwtjie wel werk gekry – as nag-wag by ’n hoenderplaas. Maar skaars ’n week nadat hy daar begin werk het, breek daar toe Newcastle-siekte onder die hoenders uit en omtrent al die hoenders vrek.
Nou gaan hulle maar Port Elizabeth toe.
“Ek’t ’n pel in PE,” sê Louwtjie en kyk verby die Gypsey in Hopetown se koers. “Hy gaan vir my ’n job by Goodyear organise.”
Ek loer deur een van die Gypsey se ruite. Binne is allerhande goed: koffers, ’n kartondoos waarby ’n teddiebeer uitsteek, ’n bottel Limousine-brandewyn, ’n Soda Stream, ’n Blou Bul-vlag, en daardie twee geruilde visstokke, nogal met Penn 49-katrolle aan.
Die vrou het intussen ’n mandjie te voorskyn gebring, twee breipenne uitgehaal en begin brei aan iets wat na ’n geel trui lyk.
“O, sorrie, dis Meisie, my vrou.”
Sy knik skamerig en brei voort.
Ons sleep die Gypsey nader aan die Condor, haak dit. Toe klim almal in: Louwtjie voor langs my, Meisie en die kind agter.
Ek verwonder my altyd aan die gelatenheid waarmee mense soos Louwtjie hulp aanvaar. Ons is skaars tien kilometer weg, toe sit hy lekker diep weggesak in die sitplek met daardie twee Jordans hier voor op die paneelbord, en hy “Meneer kan nie dalk ’n bietjie aanstoot nie? ’n Man wil nie in die donker langs die pad staan nie.”
Ek het aangebied om hulle te tou tot op Britstown waar die pad wegdraai na Port Elizabeth, via De Aar, Middelburg en Cradock. Maar dis moeilik om “aan te stoot”, die Gypsey is heeltemal uit balans.
Duskant Strydenburg leun Louwtjie vorentoe en help homself aan ’n pepermentjie uit die dosie in die holte by die rathefboom; en anderkant Strydenburg, toe haal hy ’n kasset uit sy broeksak en gee dit vir my aan. “Gee Meneer om om dié een vir ons in te sit? ’n Man is lus om weer ’n slag goeie musiek te hoor.”
Ek laat glip die kasset in die masjien, en toe sing Bles: “Ruiter van die windjie wil ek bly, vryer as die voëltjies rondom my ...” terwyl Devontjie agtertoe oor die sitplekke klouter, en skreeu: “Milo! Milo! Oom, kan Milo nie ook maar hier voor by ons kom ry nie?”
Toe vang my oog die truspieëltjie: In die Gypsey, op die slaapbank voor die venster, staan ’n groot bruin hond na ons in die Condor en kyk. Milo.
Dis nou een ding van die gesuis van ’n motor se bande op die teer: Dit maak jou bewus van allerhande nuwe moontlikhede. Toe ons by daardie windpomp en dammetjie reg teen die pad naby Gert-se-pan verby ry, neurie Louwtjie vrolik saam met Bles. In sy kop het hy klaar daardie werk by Goodyear.
“Ek dink ek gaan dié keer ’n Opel koop – ’n Astra, sixteen valve,” sê hy en help homself aan nog ’n peperment. “’n Man moet wiele hê, ’n man sonder wiele is niks. Ek meen, as ’n man sy vrou movies toe wil vat, of hy wil kerk toe gaan, of hy en sy laaitie wil gaan rugby kyk, wil ’n man nie stap nie.”
Die gesuis van bande op teer laat jou ook allerhande beloftes aan jouself maak.
“En dié keer koop ek vir my een van daardie Home Theatre Systems,” voeg Louwtjie by. “Ek’s klaar met rondloop saans. ’n Man moet by sy family wees.”
Agter hom op die sitplek sit Meisie steeds stil en brei aan daardie geel trui.
Naby Witput kan ek die kind se geneul oor Milo nie langer verduur nie. Ek trap rem, swaai van die pad af en hou stil. Louwtjie gaan maak die Gypsey se deur oop.
Milo is duidelik tuis op die langpad: Hy gaan lê op die Condor se agtersitplek en byna dadelik lig hy ons met ’n reukie van sy teenwoordigheid in.
“Die stomme dier,” sê Louwtjie en sak weer in die sitplek terug. “Dis nie maklik vir hom nie. Maar ek het net gesê not te hel los ek my hond op Secunda.”
Duskant Britstown, by die afdraaipad na De Aar, hou ek vir oulaas met hulle stil. Die son hang laag oor die vlakte.
Louwtjie gaan maak Milo weer in die Gypsey toe. Ons haak die Gypsey af. Iewers in die veld roep ’n korhaan. Ek groet Louwtjie en die kind met die hand. Meisie knik net stil in my rigting en laat sak haar oë. Toe ry ek verder.
Eers toe ek by die petrolpompe op Victoria-Wes uitklim, sien ek die geel trui op die agtersitplek lê. Klaar gebrei en netjies opgevou wag dit daar vir my.