Читать книгу Tannie Pompie se oorlog - Deon Lamprecht - Страница 5

Оглавление

Inleiding

Een dag in Desember 1982 het ’n groot ystervoël my in ’n vreemde, nuwe wêreld uitgespoeg.

Soldate is vir min dinge so lief soos slaap, enige tyd, enige plek. Maak jou oë toe en kosbare minute of ure lank ontvlug jy uit die meedoënlose roetine van dril, opleiding om dood te maak, onderhoudswerk en inspeksies. Dié dag se drie uur lange vlug vanaf Pretoria na Suidwes-Afrika se operasionele gebied was ’n geskenk soos min. In die skemerdonker maag van die Hercules-vragvliegtuig, gesus deur die eentonige dreunsang van die motore, was dit soos om jou terug in die baarmoeder te bevind. Selfs die vliegtuig se bynaam, Flossie, het moederlik en gerusstellend geklink. Boetie gaan Border toe, al snorkende …

Maar die drome van koue biere en warm meisies is alte gou onderbreek deur die harde stamp van die vliegtuig se wiele op die aanloopbaan. Die ystervoël se stert het oopgeknak om die verblindende lig van ’n woedende son binne te laat. Half aan die slaap en gebuk onder die gewig van gewere en rugsakke en webbing swaar gelaai met die bykomstighede van oorlog het ons ’n warm, wit landskap binnegesteier. Ons was hier: Grootfontein, die Suid-Afrikaanse Weermag se deurgangskamp vir vars troepe – “rowe” in die voertaal – onderweg na die arena van die Bosoorlog. En ook die vertrekpunt vir die oumanne op pad terug States toe ná ’n staatsvakansie in die bos, met komplimente van PW, Magnus en kie.

Daardie eerste nag nog, in ons bruin slaapsakke onder die blinkvet sterre van Suidwes, het ons met die waansin van die Grens kennis gemaak. ’n Kompanie oumanne, vol goedkoop army-bier en euforie omdat hulle huis toe gaan, het besluit die nuwelinge moet gedonner word om hulle behoorlik welkom te laat voel. ’n Gedruis van aanstormende stewels in die donker, krete en vloeke en vuiste wat klap teen vlees. Wie de hel is vriend en wie’s vyand in hierdie plek? Maar ons was die seuns van Vrystaatse mynwerkers en Wes-Transvaalse boere en het uitgedeel so goed ons kry totdat die Militêre Polisie – meat pies in ons taal – die pret kom bederf het.

Die volgende oggend was daar seer koppe en blou kolle en ná roll call is pleisters en pille aan albei kante uitgedeel. Ons nou bedeesde aanvallers word deur die Flossie ingesluk vir die vlug suidwaarts en ons klouter agterop die oop metaalbakke van vragmotors vir die lang rit verder noord na Ovamboland.

Dié nuwe landskap was g’n tjoklitboksprentjie nie. Die reguit, skynbaar eindelose pad het soos ’n geweerloop na Angola se kwesbare buik gemik, omsoom met digte, vaalgroen doringbos reg om repe uit onverskillige arms te skeur. Dik, wit sand het die hitte van die son soos foelie opgesuig en weerkaats. Die metaalbak van die vragmotor was skroeiwarm gebak en die gewone grapmakers onder die negentienjarige seuns was stil. Styf teen mekaar gepak, met elmboë en geweerlope en die skerp kante van toerusting wat in ons sye en rûe grawe, is ons al hoe nader na die oorlog toe waarvoor ons die afgelope jaar gebrei is.

Die rit was ’n wakkerdroom van wiegende, swetende lywe en dobberende koppe. Ons is aan die oostekant van die Etosha-wildreservaat verby en nie baie verder nie het ons skielik links gedraai van die teer af, met ’n grondpad langs en deur ’n hek bewaak deur soldate. Daar was glimpe van wagtorings en bruin tente onder die bome en rye bonkige Ratel-vegvoertuie onder afdakke. Bevele is geskree en soldaatsakke is van die vragmotors afgegooi en troepe het afgespring en ’n wolk spierwit sand so fyn soos Johnson se babapoeier opgeskop wat op alles neergesif en dit moeilik gemaak het om te sien.

Ons was in Omuthiya, die operasionele basis van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep, alombekend as 61 Meg. Tuiste van die Suid-Afrikaanse Weermag se belangrikste konvensionele ystervuis, geroem om sy aandeel aan talle operasies in Angola.

Dít sou die volgende nege maande my tuiste wees, weg van die stadsliggies en gerief van lugverkoelde winkelsentrums en kuierplekke en die reuk van parfuum en die sagte rondings van jong meisies in kleurvolle rokke. ’n Plek oorheers deur die hoekige, harde lyne van wapens en pantserstaal en die growwe tekstuur van seil, ’n afgeslote wêreld skynbaar gestroop van alle kleur behalwe die bruin van uniforms en tente en militêre voertuie en die groen van die bos. Waar die reuk van geweerolie en diesel en stof aan alles kleef.

Ek het daardie eerste dag op pad na die basis nie eens geweet ek is naby ’n dorpie met die naam Tsumeb verby nie.

As jong dienspligtiges was alles wat ons gedoen het – die nimmereindigende gevegsopleiding en gesprekke saans in die donker tente – gerig op die dag wat ons in Ratels deur die Angolese bos sou breek om die vyand in hul vestings aan te val. Noord, altyd verder noord, was die oorlog in ons koppe.

Maar daar was ’n ander oorlog aan die gang, veel nader aan ons as die een in Angola. Dit was die oorlog van die plaasboere en dorpenaars van Suidwes se sogenaamde Driehoek van die Dood, waar gewone burgerlikes gereeld moes veg om hul huise en gesinne te verdedig teen SWAPO-guerrillas wat die streek binnegesypel het om dood en verskrikking te saai.

In hierdie oorlog was die helde nie net die dienspligtiges en staandemaglede uit Suid-Afrika nie. Soms was hulle plaaslike kommandovrywilligers, manne en vroue soos tannie Pompie van der Westhuizen en haar man, Daantjie, hul skoonseun Hendrik Potgieter, en hul Boesman-plaaswerkers soos Jan Kaka. Boere soos oom Lukas Nel en Dave Keyser en Reinhard Friederich, om maar ’n net paar te noem, moes tydens die SWAPO-infiltrasies hul gewone dagtake los om jagters van mense te word.

Hierdie boek is ’n nederige poging om hul storie te vertel. Dis ook die verhaal van die besonderse band tussen hierdie geharde Suidwesters en die Suid-Afrikaanse soldate van 61 Meg wat saam met hulle gelag en geveg en gesterf en gerou het.

En dis die verhaal van hul tuiste, die kopermyndorp en landbousentrum Tsumeb, wat deur die eeue heen so dikwels op die rand van ’n konflik geweifel het en soms met bloedige gevolge daarby ingesleep is: Ovambo teen San; Ovambo teen Duitser; Suid-Afrikaner teen Duitser … en eindelik ook die Bosoorlog.


Tannie Pompie se oorlog

Подняться наверх