Читать книгу Tannie Pompie se oorlog - Deon Lamprecht - Страница 6
Оглавление1 Winterspele 1982
Pompie van der Westhuizen was gewoond aan oorlog in haar ore.
Op die oog af was daar niks besonders aan dié boervrou van die plaas Koedoesvlei nie. Sy was ’n groot mens, so onopgesmuk en gestroop van tierlantyntjies soos die doringveld daar in die noordooste van Suidwes. Haar vormlose rokke het soos geblomde tente aan haar lyf gehang en haar donker haredos het selde die bederf van ’n haarkapster se vingers beleef.
Soos boervroue oral het sy baie tyd in die kombuis deurgebring. Maar haar hande was nie besig om deeg te knie vir ’n baksel vars beskuit of om wors te stop nie. Pompie was besig om ’n oorlog te baklei en haar plaaskombuis, sowat 80 km noordwes van die dorpie Tsumeb en naby Tsintsabis, was haar loopgraaf.
Wanneer die opkomende son die doringbos en makelanipalms van Boesmanland met onverwagse geweld rooi geverf het, het sy agter die militêre radio’s ingeskuif wat tussen die potte en panne en ander kombuisgoed staangemaak was. Sy het een van die dag se vele sigarette opgesteek en dan die oorfone opgesit waardeur sy na ’n wêreld van brullende dieselenjins en stof en geweerskote en landmyne en bloed ingesuig is.
Pompie van der Westhuizen se rustige stem was bekend en bemind onder die manne wat die Bosoorlog baklei het, of hulle nou in die noorde van Suidwes of in die suide van Angola was. Haar naam was Rina, maar vir almal was sy doodeenvoudig “tannie Pompie”. Hulle het hoog en laag gesweer niemand kon met ’n radio toor soos sý nie. As die weermag se eie seiners nie radioverbindings kon kry nie, was dit baiekeer háár stem wat na jou toe uitgereik het. As jy verdwaal het in die bos of in ’n skietgeveg nie jou makkers kon roep nie, het Pompie jou gehoor en gehelp.
Die oggend van 15 April 1982 was Pompie soos altyd vroeg op haar pos. Die werf was bedrywiger as gewoonlik. Olivia, Pompie se aantreklike dogter met die blonde krulhare, het met haar twee jong kinders van haar eie plaas in die kontrei na Koedoesvlei gekom. Twee jong dienspligtiges het die huismense oral op die werf agtervolg of net rondgesit of -gestaan.
Net die mans was nie daar nie. Daantjie, die baas van Koedoesvlei, en Olivia se man, Hendrik Potgieter, is na die Bravo-kaplyn net noord van Tsintsabis, waar die voetspore van ’n groep SWAPO-terroriste – lede van die South West Africa People’s Organisation – gewaar is. Saam met hulle was Daantjie se getroue plaaswerker en legendariese spoorsnyer, Jan “Kaka” Kouswab. Die drie mans en nog twee Boesman-spoorsnyers, almal van Tsumeb se kommando, het hulle by ’n peloton soldate van 61 Meg onder bevel van kaptein Jan Malan aangesluit vir die soekoperasie.
Die mense van Koedoesvlei was al goed bekend met die roetine van die SWAPO-infiltrasies. Daar was meer mense op die werf as gewoonlik, want die plaaswerkers en hul gesinne het ook binne die veiligheidsomheining om die plaashuis saamgetrek. Die vroue se gewere was altyd naby, maar dít was ook nie vreemd nie.
In die kombuis het Pompie se vingers die radioknoppies liefderyk gedraai en gestreel terwyl sy deur die frekwensies swerf, haar ore gespits vir taal of tyding van die jag, oorgehaal om enige opdragte of versoeke tussen eenhede te herlei of voorvalle aan te meld. Sulke tye het die huismense suutjies in die beknopte ruimte tussen die groot staaltafel in die middel van die kombuis en Pompie se radiopos teen die muur verbygeskuifel, anders het hulle onder haar tong deurgeloop.
Net noord van die Bravo-kaplyn het Jan Kaka op die gepantserde neus van die Ratel gesit, sy oë stip op die stewelspore in die sand terwyl die vegvoertuig ’n pad deur die bos breek. Die Boesman se geoefende veldoog het hom vertel die spoor was minstens twaalf uur oud; die vyand was ver voor hulle … Maar skielik het sy oë wyd gerek.
Dis mos ’n mens daar onder die bos … En saam met die brandpyn van die AK47-koeëls in sy borskas het die besef gekom hy is geflous; die vyand is hiér. Nog voor die sand sy laaste lewensbloed kon opsuig, het die vuurpyle en geweergranate deur die Ratel begin skeur waarin Daantjie en Hendrik, hul oorblywende spoorsnyers en die 61 Meg-troepies was.
Net Pompie se liggaamshouding – die manier waarop sy al hoe verder vorentoe geleun het asof sy met haar groot lyf in die radio wil inkruip – het die ander huismense gewaarsku iets is aan die gebeur êrens in daardie wêreld waarheen sy alleen gaan. Sy het pas daardie woorde gehoor wat telkens die hele operasionele gebied tot stilstand ruk, asof die bos self asem ophou: “Kontak, kontak!” En soos so dikwels tevore was dit Pompie wat in haar bekende, rustige radiostem geantwoord het met ’n eenvoudige: “Kan ek iets vir jou deurgee, Kaptein?”
Jan Malan was net ’n paar honderd meter weg toe die verskriklike ontploffings en bap-bap-bap van die AK’s sy hart laat tamboer het. Waar hy geweet het Daantjie-hulle se Ratel moes wees, het ’n swart rookwolk bo die digte bos gehang. Hy het oor sy voertuigradio na hulle geroep en geroep, maar niemand het geantwoord nie.
Deur die res van die bloed en chaos van daardie hinderlaag, die lang drama van helikopters wat ontbied is, die opvolg-skietgeveg met van die terroriste en die opruim van die toneel het Pompie op haar pos gebly en skynbaar onverstoord haar werk gedoen, rotsvas soos altyd. Alles gemonitor en boodskappe oor en weer herlei soos nodig. Net die sigarette wat sy die een ná die ander opgesteek het, het haar eie spanning verklap. Buite het Olivia die wasgoed opgehang, haar G3-aanvalsgeweer eenkant staangemaak en salig onbewus van die drama in haar ma se ore. Sy was soos altyd geïrriteerd met die troepie wat haar oral soos ’n persoonlike lyfwag gevolg het.
By die kaplyn, waar die ammunisie en diesel en rubber en olie binne-in die verwoeste Ratel steeds die vlamme gevoed het, het kaptein Jan Malan begin met die taak wat enige bevelvoerder vrees: om die name van die dooies en gewondes te rapporteer. Pompie het hulle die een ná die ander neergeskryf: nommer, rang, naam, eenheid …
Elke nou en dan wou sy weet of haar man en skoonseun veilig is, maar die antwoord het nie gekom nie. Net nog ’n nommer, rang, naam, eenheid, totdat daar vyf gesneuweldes op die vel papier voor haar was.
Naby die brandende Ratel het Jan hom gestaal en so kalm gesê as wat hy kon: “Pompie, en dis Daantjie en Hendrik en Jan Kaka …”
Sy was ’n ruk stil voordat sy hom in haar rustige stem geantwoord het. “Toemaar, Kaptein, ek het heeltyd geweet.” Toe, met agt name op haar voltooide lysie, het sy die ongevalleverslag aan 61 Meg se hoofkwartier deurgegee, insluitende die besonderhede van haar man en geliefde skoonseun en hul getroue spoorsnyer. Dit was eers toe die helikopter met die kapelaan aan boord buite die opstal land dat sy bereid was om haar radio’s te verlaat.
Buite by die wasgoeddraad het Olivia flou geword toe sy eindelik ook die nuus van haar pa en man se dood hoor.
Dit was die begin van die Winterspele van 1982, soos die inwoners van die Driehoek van die Dood – die plaasgemeenskappe om Tsumeb, Otavi en Grootfontein – met galgehumor na die jaarlikse SWAPO-infiltrasies vanuit Angola verwys het. Maar hierdie jaar sou dit anders wees. Die distrik Tsumeb sou die bloedigste klompie dae in sy lang geskiedenis van konflik beleef.