Читать книгу Tannie Pompie se oorlog - Deon Lamprecht - Страница 7

Оглавление

2 Die Van der Westhuizens van Koedoesvlei

Sy kon dit kleintyd nooit verduur om weg te wees van haar pa nie. Baie jare later sou sy glo dis omdat sy heimlik geweet het hy sou eendag veld toe gaan en nie weer terugkom nie. Trauma kap mos sy eie onthoupaaie oop.

Riana van der Westhuizen se obsessie om altyd te weet waar haar pa is, het begin toe sy van die terroriste-ding bewus geraak het. Sy was seker sowat vyf, ses jaar oud toe die bekende wêreld van Koedoesvlei stadig maar seker begin anders lyk het. Die stekelrige soom van die doringbos is teruggekap om plek te maak vir ’n hoë veiligheidsheining rondom die opstal. ’n Groot nommer is op die dak van die huis geverf sodat dit vanuit die weermag se kletterende groen naaldekokers as die Van der Westhuizens se plek uitgeken kon word. Mans in bruin uniforms het begin kom en gaan.

Die plaas was nie meer net ’n plek van tamatielande en beeste so wild soos koedoes nie.

Sy het gaandeweg begin besef al die veranderinge op die plaas het iets met gevaar te make – ’n vormlose, gesiglose bedreiging wat uit die omringende bos kon opdoem. En daar was die stories oor ’n nag lank voor haar geboorte toe daar skote geklap het naby haar ouers se huis in die Oshikango-distrik, verder noord en nader aan die Angolese grens.

Maar vir eers was als vir haar ’n speletjie en Daantjie en Pompie het geglimlag wanneer hul jongste van vier kinders “toeriste” in plaas van “terroriste” gesê het.

Met haar donker hare kortgeknip soos ’n helm, was Riana haar ma se ewebeeld, maar haar pa se kind. Die lenige Daantjie het kop en skouers bo die meeste mans uitgetroon en in Riana se jong lewe was hy groter as lewensgroot. Hy was reguit in sy voorkeure en afkeure, het die humor in als raakgesien en kon jou slegsê op ’n manier wat jou laat glimlag. Pompie was die ernstige een van die twee. Maar sy kon ’n skurwe grappie vertel as sy die dag lus gehad het – soms tot die verleentheid van haar kind – omdat die radiowerk haar deel van ’n manswêreld gemaak het.

Daantjie en Pompie was ’n hegte eenheid, al het hulle uiteenlopende persoonlikhede gehad. Hulle het ontmoet en getrou in Grootfontein, waar Daantjie in die lugmag was. Toe hy die lugmag verlaat het vir ’n pos by SWANLA – die agentskap wat arbeiders gewerf het vir onder meer die diamantmyne in die suide van Suidwes – het sy werk vereis dat hy die noorde van die land deurkruis, van die Kaokoveld in die weste tot by Ovamboland in die middel en die Caprivi in die ooste. Hy is ook verskeie kere na afgeleë plekke verplaas, maar altyd het Pompie hom getrou bygestaan en ook die administratiewe sy van die werk vir SWANLA behartig. (Pompie het haar bynaam al op skool gekry. Haar ouboet is deur die ander kinders “Stompie” genoem, omdat hy kort was en toe word sy “Stompie se sussie, Pompie”.)

Daantjie het gevorder tot SWANLA se interne inspekteur en ouditeur vir die ganse noordelike streek voordat hy teen 1967 blykbaar moeg geraak het om soveel te reis. Hul keuse vir ’n voetholte was Tsumeb, die welvarendste dorp in die noorde. Dáár het die twee saam ’n supermark bestuur.

Riana was die spreekwoordelike laatlam. Die oudste was Retha, in wie se kindergemoed die skietery daardie nag by haar ouerhuis naby Oshikango ’n durende angs gelaat het. Retha was ’n goeie sestien jaar ouer as Riana en het as jong bruid reeds die noorde van Suidwes met sy sluimerende terreurgevaar verlaat. Die tweede oudste was Olivia, sowat dertien jaar ouer as Riana, en dan boet Danie, ’n stuk of sewe jaar ouer as sy.

Dit was vroeg in die 1970’s toe Daantjie besluit het hy is moeg vir die lewe van ’n salaristrekker en die plaas gekoop het, daar in die hoek gesny deur die paaie na Tsintsabis en Oshivelo. Die nuwe begin was nie maklik nie. Die beeste was wild en die veld ru. Die lang dae van bloedsweet om die beeskampe se draadheinings hoër en sterker te maak het hul spore op Daantjie se hande gelaat.

En dan was daar die berg skuld wat hy moes aangaan om die grond en beeste te koop, die draad wat gespan moes word. Daantjie se uiterlike rustigheid en humorsin het gewoonlik enige innerlike spanning oor die skuld en ’n bestaan sonder salaris verbloem. Maar soms het dit tog tot uitbarsting gekom, soos die slag toe hy hom vir Pompie vererg het omdat sy ’n stofsuier op skuld gekoop het.

Die twee van hulle het nooit op mekaar geskree wanneer hulle baklei het nie. Hulle het gepráát. Dan het Daantjie by die tafel in die middel van die kombuisvloer gesit en met die lepel in die suikerpot gekarring terwyl Pompie om en om die tafel loop. En soms het Pompie haar tas gepak en ook in die motor geklim wanneer dit tyd was om die twee jongste kinders terug te neem na die koshuis op Tsumeb, vasbeslote om by haar suster op dié kopermyndorp te gaan bly. Maar sy is altyd weer saam met Daantjie terug plaas toe nadat die kinders afgelaai is.

Daantjie was ’n gebore dorpsjapie van Kuruman in die Republiek, soos Suidwes se Afrikaners na Suid-Afrika verwys het. Maar sy skoonseun Hendrik Potgieter was ’n plaaskind van Boesmanland, so taai soos die doringbos in die Tsumeb-omgewing waar hy grootgeword het. Hy was ’n sterke derduiwel, met die oë en snor van ’n fotoboekieheld, wat onder die frangipaniboom op die werf ’n lang sny in sy eie voet met ’n naald en vislyn toegewerk het. Olivia met haar sterk wil het geluister as Hendrik die dag sy stem dik maak.

Vir Daantjie was hy soos ’n eie seun, altyd gereed om met raad en daad te help. Hulle kon lank oor die telefoon gesels oor die boerdery en ander dinge, al was Hendrik en Olivia se huis net ’n paar kilometer weg op die buurplaas, Rentia. En die twee mans sou ’n ander, sterker band ontwikkel – die soort wat in die hitte van die stryd gesmee word. Hulle sou saam die geweer opneem om hul gesinne en hul bure te beskerm wanneer die guerrillavegters van PLAN – die People’s Liberation Army of Namibia, SWAPO se militêre vleuel – honderde kilometers ver geloop het om ’n bajonet in die ribbes van die boeregemeenskap te kom druk.

Die boere van die Tsumeb-omgewing was ’n hegte gemeenskap en kuiers met vriende en familie was daar baie in Koedoesvlei se kombuis, of tydens die oondwarm somerdae in die ronde sementdam net buite die huis. Die dam is binne ’n week deur Daantjie en Hendrik gebou. Háár swembad, het die jonge Riana aan almal verkondig.

Gedurende daardie luilekker dae van familiekuiers was Riana nog salig onbewus van die storm wat uit die noorde sou kom. Vir eers was daar tyd om saans die dubbelbedmatras uit die kamer tot in die sitkamer te sleep, sodat almal ingeryg kon lê en kyk na ’n video wat op Tsumeb gehuur is. Op sulke aande het Pompie brood gebak en die reuk daarvan het die huis gevul.

Vandag is dit vir Riana moeilik om die presiese oomblik of gebeurtenis vas te pen toe sy opgehou het om aan die terroriste-ding as net ’n speletjie te dink.

Miskien was dit toe haar ma saam met die ander vroue van die gebied opleiding begin kry het in dinge wat niks met die plaaslewe uit te waai gehad het nie. Of toe die radiomaste en antennas op Koedoesvlei se werf begin opskiet. Toe Pompie haar militêre radio’s in die kombuis begin opstapel het en daarmee ’n deur oopgemaak het vir die vyand om die hart van hul gesinslewe te infiltreer.

Dit was later doodgewoon om haar ousus Olivia met die G3-aanvalsgeweer op die werf te sien rondloop. Ook Riana, in die geblomde dogtertjierokke wat deur Pompie gestik is, het geleer hoe om die knip van haar ma se Uzi-masjienpistool met sy stomp neus van veilig na enkelskoot of outomaties te skuif, teen haar skouer of blad vas te druk en na ’n denkbeeldige mens te korrel.

Riana het ook bewus begin raak van iets anders: Wanneer Pa die veld in is, was dit nie meer altyd net om veepos toe te gaan nie. Dan is Hendrik en die Boesman-spoorsnyers saam, in hul eenvormige bruin uniforms. Om ménse te gaan jag, nie koedoes nie. Mense wat oorgehaalde AK47-gewere in hul hande en landmyne op hul rug gedra het.

Op die vooraand van haar negende verjaarsdag was haar pa en swaer Hendrik weer in die bos, want die terrs was “in” en volgens die radioberigte sommer baie naby. In die hoek van die kombuis was daar ’n groot, swaar metaaltafel – die blad dik genoeg om ’n koeël te keer – wat Hendrik spesiaal gesweis het. As die huis aangeval word, moes die vroue die tafel op sy kant keer en met die kinders daaragter skuil. Die aand voor haar negende verjaarsdag het Riana en Olivia se klein Louis onder die tafel geslaap.

Die volgende dag het ’n helikopter op die plaas geland en haar pa het uitgeklim. Die terroriste se spore, het sy later gehoor, is by die beeskrip gekry, sowat 500 m van die huis af waar hulle water geskep het.

Dan was daar haar ma en dié se “groen monsters”, die radio’s. Die oorlog het Pompie geneem na ’n wêreld waarheen die ander huismense haar nie kon volg nie. Hoe meer sy haarself aan die radio’s vasgeketting het, gehul in ’n waas van sigaretrook, hoe meer het sy haar aan die dinge van ma-wees onttrek. Selfs die stoof en kospotte het sy later meestal aan haar Boesman-huishulp, Haia, oorgegee terwyl sy dagin en daguit haar kommandosalaris verdien het.

Olivia, toe al ’n getroude vrou van in die twintig, met twee klein kinders, het haar eie manier gehad om dinge te hanteer wanneer sy op Koedoesvlei was. Sy het rustig en onverstoord haar gang gegaan. Vir die bloedjong Riana was dit nie so maklik nie. Sy wou ’n ma hê wat aan háár aandag gee, nie aan ’n troepie op die Bravo-kaplyn of ’n mortierseksie êrens in Angola nie. Maar dikwels was al wat sy van haar ma gekry het ’n uitgerekte “Sjjjt!” terwyl Pompie haar ore gespits het om die geknetter te vertaal en roepseine, ruitverwysings, logistieke aanvrae en vuurleidingsbevele neer te skryf.

As volwasse vrou sou Riana verstaan dat haar ma se toewyding aan haar radio’s gedryf is deur die wete dat dit die verskil tussen lewe en dood vir soldate in die uitgestrekte operasionele gebied kon beteken – ook vir Daantjie en Hendrik. Maar as kind was haar reaksie daarop woede. Wanneer die oorfone afgehaal is, het ma en dogter soms soos kat en hond baklei. In hierdie bres in hul gesinslewe het Daantjie ingetree wanneer hy nie self op ’n operasie uit was nie. Hy was nie net boer, deeltydse soldaat en pa nie, maar soms ook ma.

Hierdie veelvuldige rolle wat hy gespeel het – en nie net die gevaar wanneer hy met militêre dinge doenig was nie – het veroorsaak dat Riana van haar kop af wou raak as sy nie geweet het waar haar pa is en wat hy doen nie. Naweke op die plaas móés sy hom sien, anders is sy te voet die veld in agter hom aan en moes Pompie een van die Boesmans stuur om op haar spore te loop en haar terug te bring.

Wanneer dit Sondagmiddae tyd was vir haar om terug te gaan koshuis toe op Tsumeb, moes haar pa haar terugvat. Was hy nie daar nie, het sy haar in die klein gaping tussen die vrieskas en die kombuiskas ingewurm en soos ’n tierkat baklei as iemand haar daar wou uithaal. Dan moes Pompie soms vir Daantjie oor die radio roep om te kom van waar hy ook al is. Op Tsumeb gekom, het Pompie in die kar bly sit terwyl Daantjie sy dogter se tas na haar kamer gedra en haar klere netjies in haar kas uitgepak het.

Weeksaande in die koshuis het Riana elke aand plaas toe gebel om met haar pa te praat. Sê Pompie vir haar Daantjie is net gou beeste toe, het sy geglo haar ma lieg, dat haar pa weer besig was om terroriste te jag en dat hulle nie wou hê sy moet weet nie.

En dit was in die koshuis, weg van die plaas en haar pa, waar sy die nuus sou kry wat haar jong lewe vir altyd sou verander.

Tannie Pompie se oorlog

Подняться наверх