Читать книгу Tannie Pompie se oorlog - Deon Lamprecht - Страница 8

Оглавление

3 Die Groen Heuwel

Die eerste groot ontploffing wat die aarde tussen die hedendaagse Grootfontein en Tsumeb geskud het, is nie deur ’n artillerieplofkop of landmyn veroorsaak nie. Dit is steeds nie mooi seker hoe dit gebeur het nie, want daar is geen menslike rekord van die dag of nag 80 000 jaar gelede toe ’n knoets yster en nikkel van 60 ton deur die atmosfeer bo Afrika gevlam en die grond met ’n Armageddonagtige impak getref het nie.

Soos baie ander dinge omtrent dié geharde en betowerende deel van die land wat ons vandag as Namibië ken, is die Hobas-meteoriet ietwat ongewoon. Met sy omvang van sowat 3 m lank, 3 m breed en 2 m hoog is dit die grootste stuk hemelrots wat nog op die Aarde gevind is. Die ouens met die dik brille krap nog kop oor hoekom dié bonkige knaap geen krater veroorsaak het nie. Een teorie is dat die meteoriet die Aarde se atmosfeer met ’n lae en platterige trajek binnegekom het, die grond getref en toe amper soos ’n klippie oor die water gehop het tot waar Jacobus Brits dit in 1920 op sy plaas Hobas ontdek het.

Hoe dit ook al sy, die meteoriet-impak sou nie die laaste gewelddadige botsing in die omgewing van Grootfontein en Tsumeb wees nie. Maar daar is ’n heel toevallige verband tussen dié ou grote uit die ruimte en een van die vroegste oorsake van konflik in die Driehoek van die Dood: koper. Die meteoriet bevat dalk ’n onbenullige klein hoeveelheid van dié metaal, maar die Otaviberge daar naby bevat veel, veel meer.

Ironies was die oudste bewoners van die streek, die San-mense wat deur heelparty Europese inkomelinge as byna net so primitief as die diere van die veld beskou is, eeue lank die alleenbewaarders van dié groot rykdom op die plek wat later as Tsumeb bekend sou staan.

Dis nie seker hoe hierdie Steentydperk-jagters aanvanklik die waarde van die groen ertsneerslae besef het nie. En dis natuurlik waar dat die San – of Boesmans, soos hulle meer algemeen bekend is – destyds nie die kuns geken het om erts te verwerk en metale te smee nie. Maar hulle het nie net die waarde van die koper besef nie, hulle was ook slim genoeg om die oorsprong daarvan geheim te hou en só die waarde daarvan as ruilmiddel te verhoog.

Die Ovambo’s, aan die ander kant, het geweet hoe om die erts uit die rots se greep los te maak en in versierings en gebruiksvoorwerpe om te tower – maar hulle het nie geweet waar die Boesmans dit gekry het nie. In sy boek Tsumeb, wat handel oor die geskiedenis van dié dorp en sy wêreldbekende neerslae koper en ander minerale, skets Georg Gebhard ’n romantiese prentjie van hoe die ruilhandel tussen die Boesmans en die Ovambo’s by die Otjikotomeer deur die eeue heen verloop het.

Dié meer, sowat 20 km noordwes van Tsumeb, is nog een van die eienaardighede van hierdie deel van die wêreld – ’n geologiese frats wat vanuit die lug soos ’n maankrater vol groen water lyk. Daar is geen oewer nie, net loodregte rotswande. In die digte bos kan ’n mens baie naby daaraan verbystap sonder om eens te weet dis daar.

Otjikoto se ietwat onheilspellende voorkoms het mites laat ontstaan: Dis bodemloos; dit word gevoed deur ’n reuse- ondergrondse rivier; waag dit in die water en jy sal vir ewig in die donker dieptes af gesuig word …

Volgens Gebhard se gedramatiseerde vertelling het die Ovambo’s, wat hoofsaaklik noord van die huidige Etosha-wildtuin gewoon het, ver suid na die meer gestap met vragte sout, tabak, glaskrale en metaalgereedskap om te ruil. Naby die meer het hulle eers gewag, want hulle het die Boesmans se gifpyle gevrees. “A cloud of smoke rises slowly over the Otjikoto Lake. That is the sign!”

Dan gaan die Ovambo’s nader aan die meer, waar die Boesmans hulle onder die bome inwag met hul eie kosbare aanbod van volstruiseiers, velle … en hopies groen-en-blou rotse. Kopererts.

Nadat daar geruil is, het die Ovambo’s die naaste miershope in primitiewe smeltoonde omskep en met houtskool, vervaardig van die omliggende bome, gestook totdat die koper geel uit die gesmelte hart van die erts begin vloei het in groewe wat in die harde grond gegrawe is. Daar het dit afgekoel en soliede koperdraad geword.

Die rukoper is in mandjies van palmblare gepak en met drastokke weggevoer na die land van die Ovambo’s, wat noord van die hedendaagse Etosha-wildtuin begin en tot in Angola se kwesbare buik gestrek het. Daar het hulle gereedskap en arm- en beenversierings uit die koper gesmee.

Maar, skryf Gebhard, die Ovambo’s was nie lank tevrede met die vreedsame ruilproses nie. Hulle wou weet waar die erts vandaan kom, sodat hulle self kon ontgin soveel as wat hulle wou hê. Daarom het hulle probeer om die Boesmans te agtervolg vanaf hul tuiste naby die meer tot by die bron van hul rykdom.

“The journey took much longer than expected and passed through a waterless region, in which a thick growth of tamboti trees, like an oasis, suddenly appeared. The Ovambo’s journey of discovery was cut short at that point by Bushmen attacking them with poisoned arrows. The Ovambo quickly fled. The legendary copper had to be somewhere behind those trees.”

As ’n mens hierdie romantiese vertelling kan glo, was dit maar ’n voorspel tot die bloedvergieting wat veel later sou volg tydens die Grensoorlog van die 1980’s, toe die Boesmans en die Ovambo’s bittere vyande was. Ook die meer sou aanhou om ’n rol in die komende konflikte te speel.

Nie almal glo natuurlik dat die Boesmans, die jagters en versamelaars van veldkos, destyds so ver sou gaan om bome in die bos te plant om hul kopererts vir gierige oë te versteek nie. Maar een ding is seker: Koper wás daar, en baie daarvan. Op die plek waar Tsumeb later sou ontstaan, het ’n massiewe rotsknoets opwaarts deur die aardkors gebeur. Dit was 12 m hoog, 180 m lank en 40 m breed, en só verkleur deur die koper dat dit wêreldwyd as die Groen Heuwel bekend sou word.

In 1851 het die Sweed Charles John Andersson en die Brit sir Francis Galton die eerste Europeërs op rekord geword wat die meer gesien het. Tot groot konsternasie van die bygelowige plaaslike inwoners het hulle doodluiters in die groen water geduik om te bad. Dit was koud, het die twee avonturiers later vertel, maar geen monstervis of ander boosheid het in die dieptes geskuil nie.

Die Grootfontein-Otavi-Tsumeb-driehoek bestaan uit dolomietrots wat ongeveer 700 miljoen jaar oud is. Deur die millennia heen het grondwater die rots binnegesyfer en weggekalwe om ’n ondergrondse grot vol water, oftewel ’n karst, te vorm. Die “dak” van die grot het eindelik ingeval en siedaar – die Otjikotomeer. Die sigbare deel van die meer is maar net 100 m in omtrek, maar ondergronds is dit veel groter. Op plekke is dit tot 100 m diep.

Terwyl Andersson en Galton by die meer was, het hulle opgemerk dat die Boesmans wat daar woon kopererts uit die omliggende heuwels bring om met die Ovambo’s te ruil. En in 1866 skryf die Duitse sendeling Hugo Hahn dat hy op ’n groepie Ovambo-mans afgekom het wat koper in mandjies vanuit die rigting van Otjikoto noordwaarts karwei.

Die Ovambo’s het ook hul eie koperneerslae gehad in die Otaviberge sowat 50 km suidwes van die latere Tsumeb af. En dis na die Ovambo’s se koper wat die begerige oë van Europese prospekteerders en mynbase en empire-bouers eerste gedraai het. Die Groen Heuwel was steeds net die Boesmans se goed bewaarde geheim.

Die eerste wit “eienaars” van die Ovambo’s se koper – en sonder dat hulle dit geweet het, ook die Boesmans s’n – sou egter die Afrikaners bekend as die Dorslandtrekkers, of Angola-Boere, wees. Oor die ontberings van dié groep swerwers is daar al breedvoerig geskryf. In hul ywer om weg te kom van die Britte het hulle in 1875 uit die Transvaal padgegee en dwarsoor die dorre Kalahari en Kaokoveld getrek tot by Humpata in Angola. Een onlangse en interessante historiese vertolking is dié deur dr. Louis Bothma in sy boek Vang ’n Boer: Die stryd tussen Boer en Ovambo.

Kom ons sluit by die Boere se storie aan in Humpata in die suidooste van Angola, waar hulle ná hul uitmergelende trek noordwaarts besluit het om hulle te vestig ingevolge ’n ooreenkoms met die Portugese koloniale owerheid van daardie land. Die sowat 60 gesinne (300 siele) het op 4 Januarie 1881 in Humpata aangekom, waar die Portugese aan elke gesin 200 hektaar gegee het om op te boer. Teen die tyd dat hulle daar aangekom het, het hulle reeds hul eerste suksesvolle strafekspedisie teen ’n Angolese stam agter die blad gehad, maar dís ’n verhaal wat Bothma beter in sy boek vertel.

Bothma skryf die sporadiese konflik wat tussen die Dorslandtrekkers en swart stamme in Angola en die destydse Suidwes-Afrika uitgebreek het, was as ’t ware die eerste skote van die Grensoorlog wat meer as 80 jaar later in al sy felheid sou uitbreek en 23 jaar sou duur. Die Angolese landkaart wys Humpata vorm min of meer ’n reguit lyn met twee plekke verder oos, Cassinga en Cuito Cuanavale, wat albei spilpunte in die latere Grensoorlog sou wees.

Dit was nie lank nie of die Boere, wat sedert hul aankoms genaturaliseerde Portugese onderdane geword het, was weer ongelukkig. Die grond was te min en malaria was ’n probleem. Op 28 September 1883 word daar op ’n openbare vergadering by Humpata besluit om die moontlikheid te ondersoek om terug te keer na die Transvaal, waar die Britse vlag vir eers laat sak is. Maar daar word ook besluit om ’n afvaardiging verder noord in Angola op te stuur, na Caconda en Bié, om te kyk of die vooruitsigte daar nie beter is nie.

Die volgende jaar, in 1884, gebeur twee dinge: Duitsland verklaar Suidwes-Afrika tot ’n protektoraat, hoewel sy invloed in die noorde van die land nog maar beperk was. En die Boere-feitesending keer terug na Humpata met die nuus dat Caconda en Bié inderdaad na ’n nuwe beloofde land lyk. Die meeste van die Boere by Humpata besluit om hulle eerder daar te gaan hervestig, steeds onder die Portugese koloniale bewind.

Dis nou almal behalwe sowat 25 gesinne wat vasbeslote was om terug te gaan Transvaal toe. Min het dié tweede groepie besef hulle sou eers suidoos van Ovamboland gaan uitspan – in die gebied wat weens die latere SWAPO-insurgensies berug sou word as die Driehoek van die Dood. En dieselfde man wat opgetree het as hul gids na Humpata sou hulle weer op die pad terug na die suide plaas: die jagter en handelaar Bill Worthington Jordan, seun van ’n wit pa en ’n bruin ma, en oorspronklik van die Kaap.

Jordan koop op 12 April 1885 – met die groep van 25 Angola-Boere reeds weer op die wapad en toe al in Suidwes – grond van Kambonde kaMpingana, koning van die Ondongas. Hy betaal 300 pond, 25 gewere, een gesoute perd en ’n vat brandewyn vir ’n reusestuk aarde van sowat 50 000 km² aan die suidelike soom van Ovamboland. Die grond is goedkoop, want dit behoort nie amptelik aan die Ovambo’s nie en word hoofsaaklik deur die Boesmans bewoon.

Maar soos so dikwels in die geskiedenis vra niemand die Boesmans wat húlle van die saak dink nie.

Jordan gee toe die grond aan die Angola-Boere as ’n nuwe tuiste en hulle stig summier hul eie staat, wat hulle die Republiek Upingtonia noem. Die nuwe Boerestaat strek van Grootfontein tot Otavi en sluit die Ovambo’s se koperneerslae in die Otaviberge – wat reeds aan die Europeërs bekend is – in.

Dit sluit ook die plek in waar die dorp Tsumeb later sou verrys, skryf Gebhard. Die plek van die Groen Heuwel, bron van die Boesmans se kopererts. Maar dít weet niemand nie, want anders as die Ovambo’s hou die Boesmans die oorsprong van hul rykdom steeds geheim …

Die Boere stel amptenare aan, verdeel die grond in plase en skryf ’n grondwet. Maar die Herero-leier bekend as Maharero kom hiervan te hore en is glad nie te vinde daarvoor nie. Volgens hom is die Grootfontein-omgewing deel van Hereroland, onder sý beheer, en mag Kambonde dit nie verkoop het nie. Kambonde verskil met hom.

Maharero, wat volgens Bothma g’n vriend van die Boere of die Duitse koloniale bewind was nie, stuur sy Engelse bondgenoot, die handelaar Robert Lewis, om druk op die Ovambo’s uit te oefen om van die Boere ontslae te raak, en gou is die ganse kontrei ’n kruitvat.

Jordan die ewige avonturier is intussen terug na Angola vir sy eie sake, maar hoor toe van die moles en reis in Junie 1885 terug na Ondonga met die akte vir die grond. Maar die oggend van 30 Junie, steeds op reis, word hy by Grootfontein vermoor deur Kambonde se broer, Nehale, en van al sy besittings beroof. Dis nie seker of Lewis self iets te doen gehad het met Jordan se dood en die daaropvolgende vyandelikheid teen die Boere nie. Maar net maande later is hy deur Maharero vir sy “dienste” beloon met ’n 20 jaar lange mineralekonsessie vir die Otavi-Tsumeb-gebied, wat hy later stuk-stuk sou verkoop.

Dit was die einde van die Republiek Upingtonia, wat skaars ’n jaar geduur het. Teen September 1888 was die trekkerboere weer terug op Humpata in Angola, nadat hulle op hul terugtog herhaaldelik deur Nehale se Ovambo’s aangeval is.

En steeds was die rykdom van die Boesmans se Groen Heuwel net húl geheim …

In Augustus 1892 het dié toedrag van sake egter onomkeerbaar verander. In dié jaar het die Duitse kanselier, Otto von Bismarck, die sogenaamde Damaraland-konsessie – ’n gebied van sowat 57 000 km² wat die toe reeds bekende Otavi-koperneerslae ingesluit het – toegeken aan twee Duitse vennote, J. Scharlach en C. Wichman. Die mineraleregte vir die Damaraland-konsessie, asook grond vir die bou van spoorlyne, is vinnig bekom deur die South West Africa Company, wat kort tevore in Londen gestig is. Maar daar was ’n voorwaarde aan verbonde: Die maatskappy moes binne 12 jaar aktief begin myn in die gebied, of die mineraleregte verbeur.

’n Ekspedisie onder leiding van die hoogs ervare prospekteerder Matthew Rogers is vanaf Londen gestuur en het op 20 Oktober 1892 in Walvisbaai geland, waarna hulle met ossewaens die binneland ingetrek het – ’n moeisame en gevaarlike tog van sowat 644 km.

Gebhard skryf dis nie seker presies hoe en wanneer die Boesmans se geheim uitgelek het nie, maar Rogers het op 12 Januarie 1893 die eerste skriftelike verslag oor die Groen Heuwel die wêreld ingestuur. Hy het die sigbare rykdom aan kopererts in dié rotsknoets bo die grond só beskryf: “In the whole of my experience, I have never seen such a sight as was presented before my view at Soomep (Tsumeb) and I very much doubt if I will ever see such another at any locality.”

Hy sou ’n jaar lank daar bly en twee skagte sink om ook die potensiaal van die koperneerslae onder die grond te ontleed. Sy aanvanklike bevindings oor die rykdom van die erts is elke keer gestaaf in die verslae wat hy Londen toe gestuur het.

Maar soos die Angola-Boere voor hom, sou Rogers gou besef die koper is ’n bron van alewige konflik. Sy werk om die prospekteerskagte te sink is gedurig onderbreek deur die gesante – en soms vyandige krygers – van die verskillende hoofmanne van die kontrei. Herero’s, Damaras – almal het volgehou die koper behoort aan hulle alleen en hulle wou betaal word voordat hy sy werk kon voortsit.

Een van dié hoofmanne was Maharero, wat byna ’n dekade vantevore op eensydige wyse die mineraleregte vir die gebied aan die Engelsman Lewis gegee het nadat laasgenoemde hom “gehelp” het om van die Angola-Boere ontslae te raak. Maharero was salig onbewus daarvan dat Lewis intussen die regte aan die South West Africa Company verkoop het.

Dit was die Duitse koloniale regering wat ’n einde gemaak het aan die bakleiery oor die koper. Op 1 Augustus 1895 het ’n mag van 70 Duitse berede soldate, oftewel Schutztruppe, en 50 Herero’s onder bevel van die administrateur Theodor Leutwein by Grootfontein opgedaag om “beheer te neem” van die “onderhandelinge” oor waar die Britse maatskappy mag myn en waar nié.

Dit was die einde van die Boesmans se eeueoue ruilhandel. Die rykdom van die Groen Heuwel sou nooit weer hulle s’n wees nie. Die uitdagings om die koper na die verre Europese markte te laat vloei was legio, maar die wiele van verandering het al hoe vinniger begin draai.

Teen April 1900 het die Britse South West Africa Company ’n Duitse koloniale baadjie aangetrek om die Otavi Minen- und Eisenbahngesellschaft te word, en só ontwikkelingsgeld van Duitse banke gekry. Teen 1901 is daar in alle erns begin om ’n myndorp uit die doringbos te kap. In 1903 is begin met die bou van ’n spoorlyn van byna 965 km na die kusdorpie Swakopmund, wat teen 1906 voltooi sou wees om kundige mynwerkers vanaf Duitsland te bring en die kopererts kuswaarts na wagtende skepe te stuur.

Die geheimsinnige Otjikotomeer, van waar die avonturiers Andersson en Galton die eerste Europeërs geword het om oor die “handelsoorlog” tussen die Boesmans en die Ovambo’s te berig, sou ’n sleutelrol bly speel. Myne het baie water nodig vir mens en masjien, en dit sou 20 kilometer ver van die meer na die myn en nedersetting gepomp moes word.

Volgens oorlewering het die Boesmans hul plek van rykdom Tsombtsou genoem, wat letterlik beteken “om ’n gat te grawe wat weer toeval”. Hulle het glo naby die koperheuwel gate gegrawe om water te soek, maar die gate het bly toeval – weens dieselfde seldsame geologiese verskynsel wat die Otjikotomeer veroorsaak het. Vir die Westerse oor en tongval het Tsombtsou glo “Tsumeb” geword.

Die onteiende Boesmans het nou soos struikrowers begin optree. Dit het min of meer só gewerk: Die Ovambo-mynwerkers het hul loongeld in die klein winkel in Tsumeb bestee en soveel verbruikersgoedere gekoop as wat hulle met tweeman-drapale op hul skouers kon karwei. Dan het hulle dit noordwaarts deur die bos na hul krale gedra.

Maar onderweg is hulle deur die Boesmans ingewag, wat gifpyle na hulle geskiet het totdat die Ovambo’s hul vrag neergegooi en weggehardloop het. Daarna het die Boesmans gevat wat hulle wou hê – meestal net kos en tabak.

Terwyl Tsumeb se tipies Duitse geboue en kloktorings in die bos begin verrys het en die prospekteerskagte al hoe dieper gesink is, het die inheemse volkere van die land gereeld teen die Duitse koloniale regering in opstand gekom. Die Herero’s, Damaras, Basters, Namas en Ovambo’s in die suide, weste en verre noorde van die land het taamlik suksesvolle guerrillaoorloë gevoer, nie net teen die Duitse koloniale troepe nie, maar ook teen die Portugese in die suidelike deel van Angola.

Maharero, die Herero-hoofman agter die ondergang van die kortstondige Boererepubliek Upingtonia, was een van die inheemse leiers wat in opstand teen die Duitsers gekom het. Op 12 Januarie 1904 gee hy sy volgelinge opdrag om “alle wittes” behalwe “Engelse, Boere en sendelinge” dood te maak. Let op dat hy nie Duitsers uitgesluit het nie – binne dae was sowat 120 van hulle dood en talle nedersettings en dorpe beleër.

En hoewel die Herero’s se gebied suid van die Otavi-Grootfontein-Tsumeb-driehoek gelê het, het Maharero oudergewoonte die Ovambo’s van Etosha en verder noord probeer oorreed om saam met hom te veg. Die Ovambo’s het geweier – almal behalwe sy ou bondgenoot, hoofman Nehale, wat die Angola-Boere in 1885-’86 op aandrang van Maharero aangeval en verdryf het.

Die oggend van 28 Januarie 1905 val Nehale en honderde van sy Ovambo-krygers die Duitse fort by Namutoni (112 km noordwes van Tsumeb) aan. Daar was net sewe Duitse soldate in die fort, maar hulle het daarin geslaag om die aanval ure lank af te weer totdat die Ovambo’s in die laatmiddag onttrek het om hul wonde te lek. Sowat 68 krygers het dood in die stof buite die fort bly lê en nog 20 is beseer.

Die soldate, wie se ammunisievoorraad byna uitgeput was, het die kans waargeneem om uit die fort te glip en spore te maak na die plaas Sandhup, sowat 40 km daarvandaan. Hulle was ongedeerd afgesien van een soldaat wat malaria onder lede gehad het. Dáár is hulle op 1 Februarie aangetref deur berede soldate wat alreeds vier dae tevore vanaf Grootfontein gestuur is om die fort se garnisoen te versterk.

Intussen het Nehale die oggend van 29 Januarie teruggekeer, die verlate fort geplunder en so te sê tot op die grond afgebreek.1

Maharero se oorlog teen die Duitsers sou van 1904 tot 1907 duur. Eers het hy en sy Herero’s die oorhand oor die setlaars en die Schutztruppe gehad, en die oorlog het ook die mynbou in Tsumeb en die bou van die allerbelangrike spoorlyn vanaf die weskus ontwrig. Maar hulle sou ’n verskriklike prys daarvoor betaal.

In die verre Berlyn is daar besluit om ’n kragdadige Pruisiese militaris na Duits-Suidwes te stuur om die Herero’s – en enige ander stam wat die koloniale gesag tart – te wys hoe lyk die hel. Daardie man was generaal Lothar von Trotha, wat alreeds opstande in Duits-Oos-Afrika en China (die sogenaamde Bokseropstand) onderdruk het.

Von Trotha het op 11 Julie 1904 die bevel oor die Duitse magte in Suidwes oorgeneem en die Herero’s het hom die eerste ruk laat klippe kou. Honderde Schutztruppe is gedood of het weens siektes omgekom. Maar in Oktober daardie jaar het hy begin met ’n strategie wat die Herero’s tot op die rand van uitwissing sou dryf, en waarvoor sy geboorteland en familie meer as ’n eeu later die mense van die hedendaagse Namibië om verskoning sou vra.

Tydens die Slag van Waterberg het sy versterkte troepemag – nou byna 10 000 goed bewapende soldate – die Herero’s van drie kante af aangeval. Hulle kon net in een rigting vlug – ooswaarts die waterlose Kalahari-woestyn in. Agter die vlugtende stamlede het Von Trotha alle watergate laat toegooi en skildwagte in ’n lyn 240 km lank ontplooi. Sy opdrag aan die soldate was om te skiet op enige Herero-man, -vrou of -kind wat uit die woestyn probeer terugkeer.

Sy taktiek het hy saaklik in ’n brief aan die Herero’s uitgestippel en bygevoeg dat hy hulle nie meer as onderdane van Duitsland beskou nie. Die stam moes die Duitse koloniale grondgebied verlaat en ooswaarts na Brits-Betsjoeanaland (Botswana) gaan – en daar bly. Doen hulle dit nie, sou daar met kanonne op hulle geskiet word.

In ’n neutedop: Kies tussen ballingskap en uitwissing.

Die generaal se taktiek het konsternasie in Berlyn veroorsaak en in November 1905 is hy deur die Duitse keiser, Wilhelm II, herroep. Maar dit was te laat vir die Herero’s, want Von Trotha het seker gemaak sy plan word uitgevoer voordat hy Duits-Suidwes-Afrika verlaat.

Voor die 1904-opstand was daar sowat 80 000 Herero’s in Duitswes. Ongeveer die helfte van daardie getal is deur Von Trotha die woestyn ingedryf, skryf die historikus Thomas Pakenham in The Scramble for Africa. Net 5 000 het die moordende tog deur die woestyn na die veiligheid van Betsjoeanaland oorleef. Die ander het in die woestyn van dors en honger omgekom, of is maande daarna drupsgewys deur Duitse koeëls en bajonette gedood terwyl hulle Von Trotha se waarskuwing verontagsaam en na hul Herero-stamgrond probeer terugkeer het.

Nog 12 000 het hulle oorgegee aan die Duitsers en is in konsentrasiekampe aangehou as dwangarbeiders vir Duitse besighede. Meer as die helfte van hulle sou sterf weens wanvoeding en siektes.

Tydens ’n sensus in 1911 sou net 15 000 Herero’s getel word – al wat die oorlog oorleef het. Maharero was onder dié wat Betsjoeanaland bereik het. Hy is in 1922 aan natuurlike oorsake oorlede.

Ook die Herero’s se bondgenote, die Nama-stam van Hendrik Witbooi, is wreed onderdruk. Die sensus van 1911 het gewys net sowat 9 800 Namas het die oorlog en die strafkampe oorleef. Witbooi self is in Oktober 1905 noodlottig gewond in ’n geveg met die Duitsers.

Met die Herero’s en Namas onderdruk, kon die bou van die spoorlyn tussen Swakopmund en Tsumeb in 1906 voltooi word. Gekontrakteerde Duitse mynwerkers het 13 dae lank per skip na Swakopmund gereis en is van daar met die smalspoortrein na Tsumeb geneem. Onderweg deur die woestyn, bosveld en eindelik die heuwelryke Otavi-distrik het hulle vir die eerste keer wilde diere soos leeus en olifante gesien.

Op die myndorp, waar die lewe herinner het aan dié in Barberton tydens die willewragtag-dae van die Transvaalse goudstormloop, was hul woongeriewe spartaans en vroue so skaars soos hoendertande. In die statige Minen Hotel was kroeggevegte aan die orde van die dag. Die hitte was uitmergelend en dit het gewemel van die slange.

Ondergronds het Ovambo’s, net in velle geklee, onder toesig van Duitse mynwerkers met swierige snorre geswoeg om die aarde se rykdom te ontgin. Tsumeb was nie vir sissies nie – maar in 1907 is die eerste ertstrein na Swakopmund, van waar die koper oor die Atlantiese Oseaan na Antwerpen verskeep is.

In die volgende jare sou dié afgeleë Duitse gemeenskap in die Afrika-doringbos ’n bloeitydperk beleef. Maar ver weg in Europa het die gierige empire-bouers stry begin kry. En op 28 Junie 1914 is hertog Franz Ferdinand van Oostenryk en sy vrou, Sophie, in Sarajevo deur sluipmoordenaars om die lewe gebring. Die oorverdowende eggo’s van daardie skote sou binnekort nie net op die modderige slagvelde van Frankryk, België en Vlaandere gehoor word nie, maar ook in Tsumeb. Die Eerste Wêreldoorlog was op pad na die Groen Heuwel – maar vanuit die suide, nie van Europa af nie.

In die Unie van Suid-Afrika was die reste van vernietigde plaashuise nog sigbare tekens van die pyn van die Anglo-Boereoorlog twaalf jaar tevore. Maar dieper nog as die letsels op die landskap was die wonde in die siel van die Afrikanervolk. Die land was bitter verdeeld tussen ondersteuners van die Unieregering, lojaal aan die Britse troon, en voormalige Boerekrygers vir wie die gedagte om aan die kant van die Engelse veroweraars te veg ondenkbaar was. Toe die eerste minister, Louis Botha, in September 1914 in die Parlement in Kaapstad aankondig dat Suid-Afrika deur Londen versoek is om Duits-Suidwes-Afrika te verower, was die gort behoorlik gaar.

Die uiteinde van die saak was dat Botha en die jong Suid-Afrikaanse Leër twee veldtogte tegelyk moes voer. Een teen die Schutztruppe in die buurland Suidwes, as deel van die Britse Ryk se oorlog teen die Kaiser. En een om die gewapende opstand op eie bodem te onderdruk.

In die 1914-rebellie sou voormalige Boeregeneraals soos Botha en Jan Smuts te staan kom teen hul eertydse kamerade soos generaals Christiaan de Wet en Koos de la Rey. Die Rebellie sou die verowering van Suidwes aanvanklik vertraag, maar nie verhoed nie.

Botha se militêre veldtog in Suidwes is deeglik nagevors en opgeskryf. Die Suid-Afrikaanse ekspedisiemag was ’n vreemde mengelmoes van konvensionele infanterie, artillerie en pantsermotors, maar ook berede Boere­kommando’s soos dié wat die Engelse vier jaar lank geteister het. Die bande van die Boereoorlog het nog diep geloop: Die meeste Afrikaners het vrywillig gaan veg uit lojaliteit teenoor hul ou generaals, of omdat hulle 12 jaar tevore ingevolge die Vrede van Vereeniging ’n eed van lojaliteit aan die Britse troon gesweer het.

Ander het net lus gehad vir ’n lekker skietgeveg of drie …

Dit was ’n veldtog aan verskeie fronte waarin geweldige uitdagings oorkom moes word: lang afstande wat logistiek byna onmoontlik gemaak het, uitmergelende hitte en dors, woestynsand wat aan perdehoewe en stewels en wiele suig, venynige doringbos en ’n ervare en goed opgeleide vyand. Maar nes die Kakies voor hulle is die Duitsers met hul onbuigsame, voorspelbare gevegsmetodes dikwels onkant betrap deur die vinnige, onortodokse taktiek van die Boerekommando’s.

Die eerste veldslag, op 26 September 1914 by Sandfontein, waar daar niks was om oor te baklei behalwe water nie, was ’n nederlaag vir Botha se manne, skryf David Williams in Springboks, Troepies and Cadres: Stories of the South African Army 1912-2012. Baie van hulle sou die res van die veldtog in ’n Duitse krygsgevangenekamp in Suidwes deurbring. Maar in die gevegte wat sou volg, het die Suid-Afrikaners gaandeweg die oorhand begin kry. Die Duitsers moes keer op keer terugval. In die doodsnikke van 1914 is die koloniale hoofstad, Windhoek, beset deur ’n mag wat in Walvisbaai aan wal gegaan en toe deur die woestyn opgeruk het na die kwesbare hart van die land – ’n onderneming wat die Duitsers as haas onmoontlik vir mens en dier beskou het.

Met die suide van die land onderwerp, het Botha – wat as eerste minister self aan die gevegsfront was, dikwels op die rug van ’n wit perd – al sy aandag aan die noorde gegee. Die Suid-Afrikaners is in vier gevegsgroepe verdeel, met verskillende doelwitte. Een groep, onder generaal-majoor Henry Lukin, het van Swakopmund af al langs die spoorlyn na Tsumeb opgeruk – dieselfde roete waarlangs mynwerkers van Duitsland na Tsumeb vervoer is, en koper van die myn af na die wagtende vragskepe in Swakopmund se hawe.

Die slothoofstuk van Suid-Afrika se verowering van Duits-Suidwes-Afrika sou in die Grootfontein-Otavi-Tsumeb-distrik, die latere Driehoek van die Dood, geskryf word.

Teen die einde van Junie 1915 was die Duitse hoofmag ingegrawe in die Otavi-Otavifontein-omgewing en Elefantenberg, sowat 62 km suidwes van Tsumeb. Daar was ook Duitse garnisoene in Tsumeb en by Namutoni.

Botha het hom reggemaak vir ’n verwoede geveg, want die heuwelagtige omgewing tussen Otavi en Tsumeb was ideaal vir verdedigingstellings. Die oggend van 1 Julie het Suid-Afrikaanse perdekommando’s ’n verrassingsaanval geloods – en tot Botha se verbasing het die Duitsers ná net ’n kort geveg hul goeie stellings ontruim en verder noordwaarts begin terugval. Net vier Suid-Afrikaners en drie Duitsers is dood. Die volgende dag was die Duitsers by Khorab ingegrawe. Die Duitsers se nuwe stellings was ewe geskik vir verdediging … maar hul veglus was geblus.

Die Duitse militêre bevelvoerder, kolonel Victor Franke, het geen sin daarin gesien om sy soldate se lewens weg te smyt nie. Hy het net sowat 3 400 man gehad teenoor Botha se 13 000. Die Duitsers se perde was in ’n swak toestand weens min weiding, hulle het nie meer baie ammunisie gehad nie en daar was ontoereikende mediese geriewe vir hul gewondes. En bowenal was hulle omsingel in ’n afgesonderde hoekie van Afrika waar hulle geen hulp van hul vaderland kon verwag nie.

Die einde het daarna vinnig gekom.

Die goewerneur van Duits-Suidwes-Afrika, Theodor Seitz, het op 3 Julie reeds ’n afgevaardigde na Botha gestuur om te begin onderhandel oor die Duitse oorgawe. Op 5 Julie is ’n skietstilstand tussen die twee magte verklaar.

Die dag van 6 Julie het aangebreek met die belangrike nuus dat ook die laaste twee Duitse garnisoene – dié op Tsumeb en Namutoni – oorgegee het. In Tsumeb is verheugde Suid-Afrikaanse krygsgevangenes, van wie die meeste aan die begin van die veldtog in 1914 gevange geneem is, deur hul makkers bevry en hul plekke agter die doringdraad is deur Duitse gevangenes ingeneem. En dieselfde dag het Seitz en Botha mekaar die eerste keer van aangesig tot aangesig ontmoet by Kilometer 500, ’n baken langs die spoorlyn net noord van Otavi, om oor vrede te praat.

Botha was premier van Suid-Afrika én aanvoerder aan die gevegsfront en kon dus op die plek besluite neem. Maar Seitz moes terugvoer gee aan Berlyn en wag vir die keiser se bevele. Dit was dus 9 Julie voordat Seitz, vergesel van Franke, weer per trein by Kilometer 500 aangekom het om Suidwes amptelik in Botha se hande oor te gee, in ’n tent by ’n groot ou omupararaboom.

Die Otjikotomeer sou oudergewoonte ’n rol in hierdie hoofstuk van Tsumeb se geskiedenis speel. Hier, net voordat die oorgawe onderteken is, het ’n afdeling Schutztruppe 30 kanonne en 4 500 kiste ammunisie in die groen dieptes van die meer gegooi om te verhoed dat dit in die Suid-Afrikaners se hande beland.

Hoewel Duits-Suidwes geval het, was die Eerste Wêreldoorlog natuurlik nog lank nie verby nie. Derduisende sou in die volgende paar jaar nog in die loopgrawe van Europa sterf. Daarom is die voltydse Schutztruppe afkomstig van Duitsland per trein van Tsumeb na Aus geneem om as krygsgevangenes aangehou te word totdat die oorlog in Europa eindig. Duitse burgers van Suidwes wat as tydelike soldate teen die Suid-Afrikaners geveg het, is egter toegelaat om na hul plase en dorpshuise terug te keer. Die Unie van Suid-Afrika sou die land beset en vanaf 1919 ingevolge ’n mandaat van die Gemenebes van Nasies administreer.

Botha en sy Springbokke – soos die Unie se verdedigingsmag bekend gestaan het – het ’n einde gemaak aan die Duitse koloniale era in Suidwes … en daarmee ’n volgende hoofstuk begin wat nogmaals oorlog na die Groen Heuwel sou bring.

1 Dit sou later deur die Duitsers herbou word en vandag bied dit blyplek vir besoekers aan die Etosha-wildtuin.

Tannie Pompie se oorlog

Подняться наверх