Читать книгу Spoor - Деон Мейер - Страница 22

16

Оглавление

(15 September 2009. Dinsdag.)

In die laatmiddag nooi Mentz hulle in met ’n glimlag en ’n lighartige: “Kom sit gerus, kollegas.” Sy sê die minister het ná middagete gebel. Hy was gretig om te hoor of daar nuwe verwikkelinge is. Sy kon vir hom vertel van Walvisbaai. En toe sê hy, Janina, ek en die president het groot waardering vir jou werk, maar veral die manier waarop jy hierdie ding hanteer het. Kyk na jou begroting. As jy meer nodig het, moet jy praat, want dit is vir ons hoë prioriteit. Daar is ook ’n ander ding wat ek moet noem: Jy het dalk al gerugte gehoor van ’n nuwe intelligensiestruktuur, ek hoor dit lê die gange vol. Nou, Janina, ek wil nou vir jou sê, jou agentskap is voorlopig nie deel van die president se planne nie.

En Janina Mentz sit terug in haar stoel en kyk met groot tevredenheid na die twee mans.

Masilo druk sy duime onder sy kruisbande in en glimlag, stadig en breed.

Rajkumar, getrou aan sy natuur, sak toe op die woord “voorlopig”.

Mentz bemoedig hom, maar vandag sonder die tradisionele frons en onderdrukte irritasie. “That was exactly what we wanted, Raj, it was our primary goal, and we achieved it. Let’s enjoy the moment. And let me thank you both for excellent work.” En dan voeg sy by: “I want you to convey my congratulations to the Report Squad. I thought their work yesterday was excellent. And let Mrs Killian take them to lunch somewhere nice. On my account.”

Die twee mans steek hulle verbasing weg. Hulle kan nie onthou dat hulle vir Janina Mentz al só gesien het nie.

Mentz rig haar glimlag op Masilo. “En hoe gaan dit met ons man in Walvisbaai?”

Die advokaat rapporteer dat Osman, volgens operateur Reinhard Rohn, die nag in die Protea Hotel oorgebly het en die volgende middag om 12:55 teruggevlieg het na Kaapstad. ’n Span het hom hier ingewag, en versigtig agtervolg na die Supreme Committee se vergaderhuis by Chamberlainstraat 15, waar hy vermoedelik gaan verslag doen het. Intussen het Quinn vir Rohn opdrag gegee om in Walvisbaai agter te bly en te kyk wat hy kan uitrig om die raaisel op te los.

“And what do we know about Consolidated Fisheries, Raj?”

Hy gee vir haar Jessica se bondige verslag aan, en sê die Report Squad kon hoegenaamd geen bewyse vind dat die maatskappy by enige vorm van onwettige bedrywighede betrokke is nie. “They are part of the Erongo Group of companies, which is listed on their Stock Exchange. They own a fishing fleet of nine stern trawler vessels, a fish and tinning factory, and they exploit the Benguela region. There’s nothing there.”

“Maar,” sê Tau Masilo, immer die regsgeleerde wat sy huiswerk doen, “luister net ’n oomblik hierna.” Hy skuif ’n dokument voor hom reg en lees vir hulle voor: “All vessels wishing to enter Walvis Bay Harbour require the following information to be submitted 72 hours prior vessel’s arrival by e-mail or fax: International Ship Security Certificate Number, Security Status of the vessel, Date of Departure from last Port, etcetera …”

Masilo kyk op na Mentz. “All vessels …” sê hy en laat dit vir ’n oomblik daar hang voor hy die sin voltooi, “with the exception of fishing vessels …”

“Damn,” sê Rajkumar.

“Ek stel voor, mevrou, dat ons drie spanne in Walvisbaai ontplooi. Want dit is waar hulle die wapens gaan inbring. Sonder enige twyfel.”

* * *

(17 September 2009. Donderdag.)

Die elektries-akoestiese mikrofoon in die muur van Chamberlainstraat 15 lewer vir die eerste keer dividende.

Net ná elf in die oggend kom Shahied Latief Osman aan, en gaan in, terwyl die vroulike operateur van oorkant die straat dit op video en stilfoto vaslê. Sy het haar kopstuk op, maar verwag nie dat sy veel deur die betonmikrofoon gaan hoor nie, want gewoonlik praat die mans min in die voorkamer bo.

Maar tot haar verbasing hoor sy Osman se stem: “Alles stil?”

* * *

Transkripsie: Meeluistering, S.L. Osman en B. Rayan, Chamberlainstraat 15, Woodstock.

Datum en tyd:17 September 2009. 11:04

SLO: Alles stil?

BR: Doodstil, Uncle.

SLO: Jy’s baie seker, Baboo?

BR: Ek is.

SLO: Garage skoongemaak?

BR: Ja, uncle. Die kar sal maklik in.

SLO: Nou goed. Jy wag in die garage. As ek vir jou sê, maak jy die deure oop. En as die kar in is, maak jy hulle weer toe. Baadjies het ’n sak oor sy kop, ma’ hy verstaan dit moet só gebeur. Jy gaan hom lei, hier deur, en af onder toe. Dan kom jy weer uit, hoe minder gesigte hy sien, hoe beter. Verstaan jy, Baboo?

BR: Ek verstaan, uncle.

* * *

Die operateur maak seker die gesprek is op die skootrekenaar opgeneem voor sy vir Quinn bel.

Quinn haas hom na die moniteringskamer, waar hy inderhaas die TV-monitors aanskakel en die lewende video- en klankvoer kanaliseer. Hy is net betyds om te sien hoe Baboo Rayan die tweede bruin houtdeur van nommer 15 se motorhuis oopstoot, vinnig loer om te sien of iemand kyk, en dan terugloop in die diep skaduwee binne die motorhuis.

Dan draai ’n wit Chrysler Neon in by die oprit en ry tot binne die motorhuis. Baboo Rayan trek die deure haastig toe.

Quinn sit en luister na die oudiovoer.

Dit is vir amper 20 sekondes stil. Dan hoor hy Osman se stem. “Stadig, Terry, jy gaan nou af met die trappe.”

’n Vreemde stem sê: “O.K.” Skuifelgeluide volg, en dan is dit stil.

* * *

Hulle staan op die dak van Wale Street Chambers sodat Masilo ’n sigaar kan rook, “in celebration”.

Rajkumar is nie in ’n feestelike stemming nie. “The Supreme Committee consorting with a Cape Flats crime gang … Doesn’t make sense.”

“Of course it does,” sê Masilo.

“What do you mean?” vra Rajkumar.

Masilo verduidelik: Die Supreme Committee het vir Inkunzi Shabangu aan die een kant, wat gaan probeer om die diamante te onderskep, en nou praat hulle met Terror Baadjies van die Ravens, die uiteindelike kopers van die diamante. “Because they want to cover all their bases. If Bull Shabangu does manage to hijack the stones, they buy it from him. If he doesn’t, they do a deal with the Ravens.”

Rajkumar is steeds nie oortuig nie. “But at what price?”

“You have to understand the nature of the game. Diamond smugglers all have the same problem: how do they get the most bang for their buck, because international agreements and law enforcement are making it very difficult to sell the stuff these days. The big money is now in India, where more stones are being processed than in Holland. But to sell to the Indians, you need to work through three or four middle men, each taking a cut. The Ravens will probably get forty cents on the Rand if they sell through their channels. But the Supreme Committee has a trump card: Sayyid Khalid bin Alawi Macki. Remember, he is a money launderer, and he probably has a direct line to the Indians. So they can offer the Ravens fifty or sixty cents on the Rand, and still get in excess of eighty cents in India. Keep in mind that we are talking about a shipment in the region of a R100 million. The Committee is looking at a worst-case scenario of at least R20 million clear profit. More, if Bull Shabangu intercepts, which still makes that first prize.”

“I did not mean the actual monetary cost,” sê Rajkumar gelate. “What about the cost of doing business with a crime syndicate, a drug organisation? I mean, Pagad will shit their pants. The whole extremist community will be up in arms.” Hy vat sy twee hande, vee sy hare terug oor sy skouers. “What I’m trying to say: The stakes are very high. Which means the ultimate goal is very, very important. Big. Bigger than the terms we’ve been thinking. So big that they will be able to say the end justifies the means. If this is going to be an act of terrorism, it’s going to be ugly. Which makes this really bad news.”

“Bad?” sê Masilo. “We’ll stop this thing. And you have to think like the Director, Raj. In terms of our future, I think it’s great news.”

* * *

Jessica kom haal vir Milla by haar lessenaar. “Walk with me,” fluister sy.

Milla volg haar, tot in die vrouekleedkamer. Die Godin haal lipstiffie uit haar handsak, gaan staan voor die spieël, doen restourasiewerk. “A friend of a friend is coming down from Jo’burg this weekend. He’s an article clerk at this big law firm in Jo’burg, beautiful guy, would love to have company.”

“Oh?”

“He’s twenty-four and …”

“Twenty-four?”

Die Godin lag vir haar, bêre die lipstiffie. “The perfect age. So much energy. Anyway, he’s an article clerk at this big law firm in Jo’burg – he’s down here for the weekend. And he’s beautiful …”

“Jess, I don’t know …”

“Just let him take you to a club, have a few drinks, dance a little, have some fun. If he’s not your type, you’ve had a great night. If he is, you fuck him blind.”

Milla bloos. “I …”

“Oh, live a little, Milla.”

Sy onderdruk die groot ongemak. “I’ll think about it.”

* * *

Mentz vra die een vraag wat hulle nie voorsien het nie. “Hoekom Terrence Baadjies, die enforcer?”

“Mevrou?” vra Tau Masilo, om tyd te wen.

“Waarom het Tweetybird de la Cruz sy generaal na die Supreme Committee gestuur? Waarom nie vir Moegamat Perkins, die geldman, nie?”

Hy moes geweet het sy sou die verslae noukeurig bestudeer het. Hy is vies vir homself, vir Quinn en Rajkumar, dat nie een van hulle dié vraag oorweeg het nie.

“Meer nog,” sê Mentz, “waarom sou die Committee ingestem het om met Baadjies te onderhandel? Hy is alles wat hulle verag, en volgens wat ek verstaan is hy ’n uiters gevaarlike man.”

Masilo weet hy kan haar nie om die bos lei nie. “Ek weet nie,” sê hy.

“Dan sal ons moet uitvind, Tau,” sê sy.

Hy sien die frons is terug.

* * *

Sy bel vir Jessica, halftien in die aand.

“I can’t,” sê sy. “He’s just a little older than my son.”

“That’s exactly why I never want children,” sê Die Godin.

En toe Milla afgelui het en teruglê op die bank, vermoed sy Jessica weet die waarheid: dis onsekerheid, oor haarself.

Spoor

Подняться наверх