Читать книгу Spoor - Деон Мейер - Страница 31
24
ОглавлениеMost animals prefer to remain hidden when feeding, and may take their food to a special feeding place where they can be safe while feeding.
– The Basics of Tracking: Classification of Signs
Om kwart voor vier sit ek op die grond, die dun stam tussen my en die genadelose son. My selfoon lui. Ek staan op, haal dit uit my broeksak, hoop dit is Diederik Brand, want ek het baie om vir hom te sê.
Dit is oom Joe van Wyk. Van Loxton. “Ou Lemmer, jong, ek hoor Diederik het jou in ’n ding in.”
“Ja, oom.”
“Het hy jou vooraf betaal?”
“Ek weet nie, oom Joe, hy doen dit deur my werkgewer.”
“O. Nee, dan’s dit reg. En wat moet jy vir hom doen?”
“Ek mag nie sê nie.”
“Ai, dié Diederik,” sê hy en lag sy vrolike lag. “Nou ja, sterkte, Lemmer, jong. Tante Anna stuur ook groete.”
Tien oor vier lui my selfoon weer. Oom Ben Bruwer, Loxton se bouer, die man wat my oor my huis se vrot dak adviseer: “Nou werk jy vir Diederik Brand,” kom dit verwytend.
“Net vir ’n dag of twee, oom.”
Hy herkou aan die inligting. “Ewenwel, as ek jy was, het ek vir ’n deposit gevra. Vyftig persent vooraf.”
“Hy onderhandel met my werkgewer, oom Ben.”
“Ewenwel, ek sal vyftig persent vooraf vra. Mooi dag.” En dan’s hy weg.
Loxton wat ontwaak ná die middagrus. Nuus wat soos ’n virus versprei.
Halfvyf bel eksentrieke Antjie Barnard, sewentig jaar oud, afgetrede internasionale tjellis wat rook en drink asof sy twintig is. “Emma sit hier by my op die stoep, ons drink gin en tonic en ons mis vir jou,” sê die diep, altyd-sensuele stem.
En ek staan hier in die Limpopo-son en sweet en wag, my geduld op. Ek sluk dit af. “Ek mis vir julle ook.”
“En sy sê jy werk vir Diederik. Maar sy’s baie geheimsinnig.”
“Dis my Emma. Altyd ’n enigma.”
Antjie giggel. Dit beteken sy is op haar derde jenewer. “Jy weet hoe werk ’n mens met Diederik?”
“Jy vat jou betaling vooraf.”
“Aaa, Joe het jou al gebel.”
“En oom Ben.”
“Die dorp is besorg oor jou.”
“En ek waardeer dit baie.”
“Wil jy gou met Emma praat?” Sodat Antjie kan luister en leidrade kry van wat ek vir Diederik doen.
Dit is nie nou die regte tyd om met Emma te praat nie.
“Ek is so bietjie besig, Antjie, sê vir Emma ek bel haar later.”
Tien oor vyf kom die vragmotor met die teerpad aan, Nicola se Karoo Wilddienste-logo op die wit kajuit se deur, massiewe bulstaaf vooraan. Ek loop tot by die soom van die pad, swaai my arms, want as hy verbyry, gaan ek die haelgeweer uithaal en ’n wiel stukkend skiet.
Hy hou stil.
Toe ek die deur oopmaak, die sak opswaai en inklim, sê Lourens le Riche: “Ek dog oom gaan by die vliegveld wees.”
Ek sê niks. Klap net die deur toe, harder as wat nodig is.
“Ek’s Lourens, oom.” Hy steek sy hand uit. “Wag oom al lank?”
* * *
Die gesin Le Riche is ’n Loxton-legende.
My kennis is gebrekkig, stukkies storie wat ek hier en daar gehoor het: Hulle boer uit op die Pampoenpoortpad, sesduisend hektaar, merino’s, geen arbeiders op die plaas nie. Die gesin doen alles self – pa, ma, twee seuns en ’n dogter. Die kinders is, soos hul ouers, seningrig en taai.
Lourens, die oudste, is nou finalejaar-landboustudent op Stellenbosch, betaal steeds sy eie studies, gryp elke moontlike kans om ’n paar rand te verdien. Soos hierdie een. Ek wonder of hy sy geld vooraf gekry het. Maar ek vra nie, want ek is taai van die sweet, warm en gatvol.
“Oom Diederik het gesê julle sal so vyfuur se kant hier wees,” verduidelik hy sy tyd van aankoms toe hy wegtrek. “Toe’t ek ’n uiltjie gaan knip, want dis deurnag vannag.” Sy gesig is hoekig, die voorkop hoog, ’n vasbeslote kaak, maklike glimlag. “Het oom lekker gevlieg?”
Dit is die onskuld in sy stem wat my daarvan weerhou om my frustrasie op hom uit te haal. Ek voel die lugversorger se lafenis, draai die lugpoort in die instrumentpaneel op my, soek die waaierknoppie, stel dit hoër en sê: “Nie regtig nie, dankie. En jy hoef nie vir my oom te sê nie.”
“O.K., oom.”
Ek skuif die sportsak na die ruimte agter die sitplekke, sit die veiligheidsgordel aan, skuif my reg.
“Diederik was ’n bietjie vaag oor ons skedule.”
“Ons gaan nou eers iets eet hier op die dorp, oom, want ons laai vanaand, ná donker. Agtuur se kant. En dan ry ons.”
Toe die Mercedes-diesel in Musina se hoofstraat opsnork, sê Lourens le Riche: “Oom is seker lekker honger – sal ons ’n steak gaan soek?”
* * *
Lourens is, tot my verligting, nie ’n chroniese prater nie.
Ons parkeer in Grenfellstraat. Hy haal twee groot koffieflesse agter sy sitplek uit en sluit die vragmotor noukeurig. Hy dra die jong Karooboer-uniform: blou denim, bruin hemp met blou skouerinsetsels, koöperasiestewels. Ons loop woordeloos na die Buffalo Ridge Spur Steak Ranch op die hoek. Die restaurant is stil in die laatmiddag, die lugversorging genadiglik koel.
Lourens bestel ’n T-been en Coke, en vra dat hulle die flesse vol swart, bitter koffie moet maak. Ek ontdek my maag het herstel van die RV7-ervaring en vra vir ’n kruisskyf en ’n rooi Grapetiser. Toe die koeldranke kom, vra Lourens met meer hoflikheid as nuuskierigheid: “Watter beroemdes het oom al opgepas?”
“Ons teken ’n swygklousule …” Dit is my standaardantwoord, maar op Loxton word dit geïnterpreteer as ’n ontwykende bevestiging dat ek meestal saam met Amerikaanse rolprent- en musieksterre rondrits. Die waarheid is dat ek beroemdes as kliënte probeer vermy. Te veel aapstreke. Daarom voeg ek by: “Ek werk meestal met buitelandse sakemense.”
“O,” sê hy met vae teleurstelling.
Terwyl ons wag vir die kos, sit hy ’n rukkie by die venster en uitstaar, na die straat buite. Kioskhandelaars wat oppak, honderde voetgangers, haastig op pad iewers heen. ’n Konstante stroom minibustaxi’s skeer verby, dakke hoog gestapel, baie uit Zimbabwe. Mense in transito. ’n Grensdorp.
“Dis ’n ander wêreld hierdie,” sê hy nadenkend.
“Dit is,” sê ek.
Somtotaal van ons gesprek.
* * *
Die vragmotor is ’n Mercedes 1528, ’n sessilinder-diesel. Geen sewe in sig nie, die boerpot is verbeur.
Agter op die bak is ’n toegeboude staalstruktuur, grys geverf, hoër as die kajuit, met ’n verskeidenheid toegangspanele, groot deure agter. Heel bo loop drie gleufopeninge die lengte van die bak. Dubbelwiele agter, enkelwiele voor.
Binne is dit luuks, soos ’n motor. Die instrumentpaneel is van swart kunsleer en grys plastiek, daar’s ’n rakkie vir twee bekers of blikkies bo-op, ’n CD-speler in die middel. Tussen die twee sitplekke is ’n halfmeter van sithoogte-boggel oor die enjintonnel, waarop Lourens se selfoon en herlaaier lê, en ’n paar CD’s. Ek herken net Metallica en Judas Priest, van die res het ek nog nooit gehoor nie: Ihsahn, Enslaved, Arsis.
Grafika op die rathefboom wys ’n rooster van agt ratte.
Ons ry uit op die geteerde R572, die sakkende son reg in ons oë. Lourens le Riche is ’n bedrewe bestuurder. Sy oë roteer tussen die pad, die spieëls, die instrumente, hy ry vloeiend, egalig, bewus.
Ek haal die Glock uit my sportsak en soek na ’n plek waar dit versteek kan lê, maar binne maklike grypafstand.
Lourens kyk na die wapen, sê niks, tot ek begin eksperimenteer met die ruimte tussen my sitplek en die enjintonnel-boggel.
“Oom kan hom daar bo insit.” Hy wys na die panele bo die voorruit. Daar is ’n verskeidenheid pakruimtes. Reg voor my is ’n oop holte, met ’n groot genoeg lip om die wapen binne te hou as ons skerp moet rem. Goeie keuse.
“Dankie.”
“Wat is dit, oom?”
“Glock 37.”
Hy knik net.
Ek haal die MAG7 uit.
“Jissie,” sê Lourens.
“Dit was Diederik se idee,” sê ek selfbewus.
Lourens lag. “Ai, dié oom Diederik,” sê hy kopskuddend.
“Hoekom sê almal ‘ai, dié Diederik’?”
“Hy’s ’n karakter, oom.”
“ ’n Karakter?”
“ ’n Ou vabond.”
“Wat beteken dit?”
“Ken oom nie die stories nie?”
“Nee.”
Hy glimlag in antisipasie. Ek het dieselfde uitdrukking al by Antjie gesien, en oom Joe, die genoegdoening wat die vertel van ’n goeie storie voorafgaan. Want stories is die Karoo se sosiale valuta. Almal het een. Hartseer, geluk, triomf en mislukking, maar dit is stories wat definieer, karakteriseer, wat insig gee. So anders as stedelinge se stories, nou op Facebook en Twitter, opgedollie, sodat almal goed lyk, vals en skeef, rookskerms en maskers.
“Oom Diederik het baie kante. Vat nou maar die bewaring. Hy doen vreeslik baie, ek weet nie van iemand wat meer lief is vir die Karoo nie … En hy’s baie slim,” sê Lourens le Riche. En dan eerbiedig: “… soos die houtjie van die galg …”