Читать книгу Spoor - Деон Мейер - Страница 29
22
ОглавлениеTo be able to recognise signs, trackers must know what to look for and where to look for them. Someone who is not familiar with spoor may not recognise it, even when looking straight at the sign.
– The Principles of Tracking: Recognition of Signs
Lotter lyk soos ’n middeljarige rockster – effens bles, poniestert agter, ronde brilletjie op ’n sigeunergesig. Hy kom groet met die hand en ’n gemoedelike glimlag, vat my swart sportsak, loop na die vliegtuigie toe. Dié is onmoontlik klein, ’n speelding in wit en blou en rooi, met ’n perspeksborrel-venster bo die kajuit, twee sitplekkies, dun stuurstokke waar jy iets meer substansieel verwag. Dit lyk na die soort waarna hulle in radio-nuusbulletins verwys as ’n “mikroligte vliegtuig”, met die woord “neergestort” gewoonlik in dieselfde sin.
Emma gaan kyk daarna, nuuskierig, opgevang in wat sy netnou geesdriftig as my “lekker avontuur” beskryf het.
Diederik Brand kom staan langs my. “Jy hoef nie te bekommer nie, Lotter is ’n nasionale kampioen.”
Dis nie hoe hy vlieg wat my pla nie, maar wat hy vlieg. Ek sê niks.
“Hierdie is net vir die wis en die onwis,” sê Brand en gee vir my ’n bondel, toegedraai in ’n vuilerige lap.
Ek ruik die geweerolie, begin dit oopmaak.
Hy lê ’n hand op die pakkie. “Miskien moet jy eers loer as julle in die lug is …” en hy kyk betekenisvol na Emma. “Ek wil haar nie ontstel nie.”
“Is daar iets wat ek moet weet?”
“Jy weet wat gebeur op ons paaie,” sê hy.
Ek huiwer. My Glock 37, tien .45 GAP-rondtes in die magasyn, is in my sportsak. Ek het niks meer nodig nie. Maar Diederik Brand het al omgedraai, loop na die doodstuig toe, klap op sy hande. “Kom, kom, julle moet roer.”
Ek kyk na my horlosie. Vyf voor twaalf.
Twee uur gelede was my lewe ’n lied.
* * *
Ek staan langs die vlerk, reg om in te klim. Emma kom na my toe aan met ’n eienaardige versnit van emosies op haar gesig – sorgsaamheid, trots, deernis …
Ek wil haar soengroet. Sy omhels my onverwags, haar lyf styf teen myne. Sy sê iets, verlore in die lawaai van die vliegtuig se enjin.
“Wat?” skree ek.
Emma skuif, sodat haar mond teen my oor is.
Sy roep: “Ek is lief vir jou, Lemmer.”
* * *
“Cape Town information, romeo victor sierra, good morning,” sê Lotter oor die radio as die Bokpoortpad onder ons verbyskuif en my maag in my keel sit.
“Romeo victor sierra, good morning, go ahead,” kraak ’n stem oor die eter.
“Cape Town, romeo victor sierra has taken off Loxton at ten zero four zulu, on flight plan reference zero two five, romeo victor sierra.”
“Romeo victor sierra, squawk four zero six six, no reported traffic and call me crossing the FIR boundry.”
’n Vreemde wêreld se taal. Lotter herhaal die spookstem se woorde in bevestiging, stel hier en vat daar en bestudeer die onpeilbare instrumente. Ek wonder watter een die eerste aanduiding sal gee dat ons in ’n vuurbol sal vergaan. Dan kyk ek teësinnig uit by die borrelvenster. Onder ons is die Karoo skielik wyd en oop, die hemelruim bo is diepblou en onmeetlik groot.
’n Naarheid groei in my buik.
Ek onthou die pakkie op my skoot, rol die lap om die vuurwapen af en ontbloot ’n eienaardigheid: Dis ’n MAG7, die plaaslik-vervaardigde kortloop-haelgeweer, lyk soos ’n Uzi op steroïede. 12-boor, vyf patrone in ’n lang boksmagasyn, ernstige stopkrag, die soort ding wat die polisie se taakmag vir binnewerk gebruik. Nog twintig rondtes in ’n plastieksakkie.
Lotter fluit in my kopstuk. “Ek sweer, ek’s aan jou kant,” sê hy met sy vae Boere-Engels-aksent.
“Maar wie’s aan Brand se kant?”
“Wat bedoel jy?”
“Dié wapens is net vir staatsgebruik. Burgerlikes kry nie lisensies daarvoor nie.”
Lotter lag. “Ja, dié Diederik,” sê hy en skud sy kop. Hy kyk vir my. “Jy’s bietjie bleek.” Hy trek ’n bruin papiersak onder sy sitplek uit en gee dit vir my aan. “Vir as jy air sick word.”
Wat net anderkant Hopetown gebeur.
* * *
“Groot brekfis gehad?” vra Lotter simpatiek.
Ek antwoord nie, te bang om te praat.
“Dis baie normaal,” sê hy met verwysing na my ongemak. “Jy sal nou beter voel.”
Twintig minute later skuif nog ’n dorp onder ons verby. Ek haal diep asem, vra hoopvol vir hom of ons nie moet land vir petrol nie.
Hy grinnik. “ Dié ding vlieg drieduisend kilometer op ’n tenk.”
“Dis ver vir ’n mikroligte vliegtuig,” sê ek skepties.
“Nee!” Verontwaardig. “Dis nie ’n microlight nie, dis ’n RV7.”
’n RV7 en ’n MAG7. Miskien het Nicola se wildlorrie ook ’n 7 in sy naam. Dan kan ek die boerpot wen.
Lotter sien my gebrek aan geesdrif. “Beste kit plane in die wêreld,” sê hy. “Dis een van Richard van Grinsven se designs, top speed van oor die 190 knope, that’s about three hundred and fourty kilo’s per hour, hy kan cruise, hy kan aerobatics doen, hell of a range …”
“Kon sweer dis ’n Van Braakel-design,” sê ek.
Lotter lag. “Dis die speed en die hoogte,” sê hy. “Jou balance system sê jy beweeg teen ’n moerse spoed, maar jou oë sien dit nie. Dis soos om in ’n kar te lees. Kyk net gereeld af. Jy sal nou beter voel.”
Beloftes.
Hy raak besig met sy radio, praat sy onverstaanbare lugvaart-taal. “Cape Town, romeo victor sierra is crossing FIR boundry.”
“Romeo victor sierra, call Johannesburg Central on one two zero decimal three, good day,” sê die radiostem.
Ek luister nie verder nie, kyk af na die Karoo wat stadig maar seker grasveld word. En Lotter is reg, want ná ’n paar minute begin my ingewande stabiliseer. Sodat my gedagtes dwaal. Stadig. Versigtig. Na Emma toe.
Ek is lief vir jou, Lemmer.
Die eerste keer.
* * *
Emma en ek.
Nege maande gelede was ons vreemdelinge, teenpole, verskillende wêrelde. Sy was klein, gesofistikeerd, vasberade, en mooi soos ’n nimf uit ’n kinderboek. En welgesteld in die oortreffende trap, danksy die erflating van haar industrialis-pa. Emma was desperaat op soek na haar verlore broer – en iemand om haar teen die beweerde onheile van sy verdwyning te beskerm. Ek was die lyfwag wat Jeanette aan haar toegeken het, agterdogtig, wantrouend, skepties, want Emma was alles waarteen my wette gewaarsku het.
En toe oorrompel sy my stadigaan, teen my sin, teen my verwagtinge in en, bowenal, teen my beter wete. Want sy was eerstens ’n kliënt. En daarby is ek Lemmer. Wit gemors uit Seepunt se agterstrate, met ernstige woedebestuur-probleme, ’n sterk affiniteit vir geweld en op parool, ná vier jaar se uitgediende tronkstraf vir manslag. Ek ken my plek, ek verstaan die lewe se werklikhede.
Ek het haar broer gekry. En ná afloop van dit alles is ek terug Loxton toe, seker dat ek haar nooit weer sou sien nie, en dat dit beter is só. Maar met Emma is niks voorspelbaar nie.
Sy het my kom opsoek. Net om dankie te sê, het ek aanvanklik vermoed, want sy is meestal pynlik korrek, foutloos ordentlik.
Ek was verkeerd.
Die groei van ons verhouding het ’n sekere surrealisme gehad, ’n droomkwaliteit, asof ek ’n toeskouer daarvan was. Dalk danksy my ongeloof in die blote moontlikheid dat ’n vrou soos sy in my belang kan stel. En verblind deur die magiese van my en Emma, deur my verligting en verstomming en behoefte. En die morbiede nuuskierigheid oor waar en hoe dit sal ontspoor.
Tot vanoggend, langs die RV7. Ek is lief vir jou, Lemmer.
Die probleem is dat Emma steeds nie weet nie.
Ek het my sondes vir haar verbloem. Sy dink ek bly op Loxton omdat dit ’n mooi dorp met goeie mense is. Sy weet nie ek het daar gaan wegkruip vir die stedelike snellers wat my slagpenne aftrek nie. Sy weet nie van my begeerte om deur die vrede, lankmoedigheid en integriteit van dié dorp se mense genees te word nie. Sy weet nie van my sinlose soeke na hul aanvaarding nie.
Sinloos, want ek is, in die terminologie van die Bo-Karoo, ’n kofferdraer – ’n inkommer, ’n onbekende entiteit wat my afstand hou, subtiel, beleefd, volgens my Eerste Wet. En my vreemde beroep het implikasies: Die vryskut-lyfwag wat elders gaan werk, wat weke lank weg is, soms met sigbare wonde terugkeer. Die skadufiguur wat weekliks ’n handwapen op Loxton se skietbaan laat knetter, wat in die aandskemer lang afstande op grondpaaie gaan draf.
Dorpenaars soos eksentrieke Antjie Barnard, joviale oom Joe van Wyk en my bruin huishoudster, Agatha le Fleur, was die enigste wat my, ten spyte van alles, sonder skroom aanvaar het. Maar hulle was die uitsondering. Tot Emma se verskyning.
Sy was ’n teken van normaliteit. Sy was, deur assosiasie, ’n bewys van aanvaarbaarheid, dié spontane, innemende, welgesproke jong vrou wat uit die niet verskyn en daarna een of twee keer per maand vir my kom kuier het. Wat haar Renault Megane vir ’n Land Rover Freelander verruil het om die grondpaaie te trotseer. Wat op ’n Vrydagmiddag in Augustus my ou Isuzu-diesel gevat het om in Beaufort-Wes kruideniersware te gaan koop en, op pad terug, die bakkie by Jakhalsdans se draai gerol en afgeskryf het.
Die volgende oggend, op soek na ’n “groen” teenmiddel vir my mierplaag, het sy in die koöperasie die grysbaard-boere laat skaterlag met haar vertelling van hoe sy “die draai ’n bietjie vinnig gevat het, want ek het na Lemmer verlang”.
“En toe?”
“Toe rol ek hom.”
“En toe?”
“Toe sien ek ek makeer niks. Toe loop ek maar die laaste sewe kilometer dorp toe.”
Kopskuddend, in bewondering: “En wat sê Lemmer toe?”
“Ek weet nie. Ek verstaan nie Frans nie.”
En hulle het, volgens oom Joe, uitbundig gelag en mekaar op die skouer geklop en groot moeite gedoen om vir Emma te verduidelik dat die Karoo se miere hulle nie eintlik steur aan groen gif nie.
Emma het my oorreed om Sondae saam met haar na Loxton se kerk toe te gaan. Sy was die rede waarom ons genooi is na ’n braai by die ski-dam, ’n rugbytoets-ete in die Blou Huis. Emma le Roux, my sosiale paspoort, my visum na asiel. En ek het dit alles, verlief en verlore, toegelaat, die aanklag-stem onderdruk wat soms wou vra: En as hulle almal uitvind wie jy regtig is?
Want soos Emma, weet Loxton nie.
Ek vermoed hulle is vaagweg bewus van sekere aspekte. Antjie het al subtiele vrae gevra. Emma het glimpse daarvan meegemaak terwyl sy ’n kliënt was. In die soektog na haar broer het ek my talente soms daadwerklik uitgestal. Moontlik het hy met die vertel daarvan sekere fasette aan sy suster geopenbaar. Dalk het dit haar geboei, was dit deel van die aantrekking, want sy het destyds gemaklik in die rol van beskermde ingevloei – vroue is oor die algemeen geneë daarmee.
Vanoggend, met die ridders, het sy my gesién. En my kom keer. Sonder verwyt. Miskien dink sy sy kan my beheer.
Maar sy ken my net ten dele.
Ek moet haar die volle waarheid vertel.
Ek wou al. Daar was oomblikke dat ek só naby gekom het, die smagting na belydenis so groot dat ek dit in my mond kon proe. Ek het ’n man in woede doodgeslaan, Emma. En daar was genoegdoening daarin. Behae. Want ek is die produk van geweld. Dit is in my. Dit is ek.
En voor ek dit alles soos ’n bose gees uit die olielamp kan loslaat, elke keer die verstikkende vrees dat ek haar sal verloor, en daarmee saam die moontlikheid van haar liefde. Meer nog, die kans om daardeur omvorm te word, na iemand wat dit waardig sal wees. Want sy is besig om dit te doen. Sy laat my lag, sy lok my om haar te laat lag, om lighartig en speels en spitsvondig te wees, om te vergeet van die donker stegies in my kop. Vir die eerste keer in my lewe begin ek van myself hou. So ’n bietjie. Omdat ek haar goedkeuring het. En nou haar liefde.
Ek is lief vir jou, Lemmer.
En ek het langs die vliegtuig in haar dringende omhelsing gestaan, haar mond teen my oor, en niks gesê nie. Want ek het geweet, voor ek haar kan antwoord, sal ek haar alles moet vertel.
Maar nou is dit te laat, die potensiaal vir pyn en skade heeltemal te groot. Vir my én vir haar.
Ek kyk uit oor die eindelose vlaktes van die Noord-Kaap en ek wonder wat my naargemaak het – dié klein vliegtuig, of my groot bedrog.