Читать книгу Spoor - Деон Мейер - Страница 24
18
ОглавлениеTau Masilo steur hom nie baie aan datums wat in die verlede lê nie. Sy fokus is meestal vorentoe. Maar hy laat ’n spoor van 18 September in sy afspraakboek.
Sedert Janina Mentz hom die vorige dag onkant betrap het met die vraag oor Baadjies, lê die ding ongemaklik in hom. Vir die advokaat is dit in die eerste plek ’n saak van eer: Om voorbereid en ingelig te wees, om al die hoeke en kante te deurdink en te verstaan, om ’n ewewigtige, deurdagte mening te gee. Dit is immers waarom Mentz hom aangestel het.
Hy weet op dié Vrydag waarom hy kleigetrap het met die Baadjies-ding – daar was eenvoudig net te veel wat te skielik gebeur het. Maar hy glo nie aan verskonings en verontskuldigings nie. Hy kry eers in die middag regtig kans om oor dit alles te dink, ná die opwinding van die meeluistergesprekke en die onderskepping van die e-pos. Hy lees weer die Report Squad se dokument oor georganiseerde misdaad, hy gaan kyk na al die toepaslike transkripsies, hy laat homself toe om te spekuleer. Hy krap haastig, in sy byna onleesbare hand-skrif, sleutelwoorde neer op hierdie Vrydag se oop spasies in sy afspraakboek.
En in dié proses ontwikkel hy stadig en stelselmatig Die Vermoede.
Dat die Supreme Committee meer weet van die binnewerking van die Ravens as die Presidensiële Intelligensie-agentskap.
Dat dit nie Tweetybird de la Cruz se besluit was om Terror Baadjies vir onderhandeling met die Committee te stuur nie.
Dat dit alles van belang is, op die een of ander manier.
Dat hulle sal moet uitvind.
* * *
Janina Mentz en Rajhev Rajkumar sal die dag onthou omdat Raj se mense die e-pos onderskep het.
Masilo is besig om in haar kantoor vir Mentz in te lig oor die Shabangu-Hendricks-gesprek. Die Indiër stoom in met ’n vel papier in sy hand. “You won’t believe this, you just won’t believe this …”
Mentz is eers net gesteurd. “What, Raj?”
“One of these apes made a mistake. He forwarded an unencrypted mail with the date in it.”
“You’re not serious,” sê Masilo.
“Look at this.” Rajkumar plak die e-pos tussen die twee neer. “The original e-mail came from the Supreme Committee, all secure and encrypted. And then one of the recipients had a brain freeze …”
Mentz lees stadig deur die baie kort e-pos, kyk op na die opgewonde man voor haar lessenaar. “It’s a date?”
“23 Shawwal 1430 is the Muslim calender date for 12 October 2009.” En dan, asof sy dit nie vir haarself kan uitwerk nie, voeg hy by, “That’s less than a month away.”
“I know that, Raj. But what does it mean?”
“It’s when the thing is going to happen.”
“Which thing?”
“You know, the transaction. The weapons.”
“According to Ismail Mohammed that’s happening in September.”
“Maybe they’ve changed … Shit. You think it might be the day of the attack? The act of terrorism?”
“We had better find out, don’t you think?”
* * *
(19 September 2009. Saterdag.)
Tau Masilo is van nege-uur af op kantoor, waar dit stil is. Net die kernpersoneel is hier.
Hy lees eers die verslag van Reinhard Rohn, hul man in Namibië. Niks nuuts nie. Kommer kom lê in hom.
Dan kyk hy weer na sy notas van die vorige dag, oor die Restless Ravens. Ervaar dieselfde ongemak.
Hy kyk na Rajkumar se verslag. 23 Shawwal. 12 Oktober 2009.
Skuif alles eenkant, sit sy hande oor sy skootrekenaar se sleutelbord. Maak sy webleser oop, dan Google se webblad. Hy tik: 12 October 2009, Cape Town.
Sy oë loop af teen die moontlikhede. Die sesde inskrywing trek sy aandag. Hy klik daarop. Dit is ’n storie uit ’n plaaslike dagblad, en sy hart word koud.
Kaapstad. – Die Amerikaanse sokkerspan wat aan die Wêreldbeker-toernooi in 2010 sal deelneem, bring aanstaande maand ’n blitsbesoek aan die nuwe Kaapstad-stadion in Groenpunt.
Die kuiertjie val saam met Fifa se inspeksie van bouwerk op 12 Oktober, wanneer mnr. Sepp Blatter, grootbaas van Fifa, en ’n afvaardiging van sowat sestig ampsdraers ’n sooispit-seremonie sal waarneem.
“Jesus,” sê Masilo.
Hy staar lank na die skerm, druk dan die berig uit, en bel vir Janina Mentz.