Читать книгу Spoor - Деон Мейер - Страница 26

19

Оглавление

Territorial boundaries may be scent-marked with urine, faeces or scent transferred to bushes from special scent organs.

– The Basics of Tracking: Classification of Signs

Ek gaan soek nie moeilikheid nie, dit kom na my toe aan.

Dis elfuur op ’n Saterdagoggend aan die stertkant van September. Ek en Emma le Roux is in die Rooi Granaat, my wêreld op hierdie oomblik heel, byna perfek: Loxton se lui dorpsgeluide, ’n kwikstert se groetfluit as hy knikkend by die restaurantdeur instap, die baan sonlig deur die noordervenster. Ek het my groot ontbyt met genoegdoening afgehandel, die filterkoffie proe ryk en sterk. Emma eet nog stadig en met sigbare genot aan die vars botterbroodjies, room en konfyt; ’n pot tee staan en wag. Haar vel gloei en daar is ’n blos op haar wange, want twee ure gelede was ons verstrengel op die spierwit lakens van my bed. Sy vertel my van die boek wat sy lees, haar stem altyd dieper as wat haar delikate lyf voorspel. Op die volmaakte boog van haar lip is daar ’n spatsel room, soos ’n sneeuvlokkie.

Dis alles te goed om waar te wees, want ek is Lemmer.

Asof die gode ontwaak, kom daar ’n vae lawaai, diep, meganies, toenemend hard, totdat Emma ophou praat en haar kop draai. Tannie Wilna, die Rooi Granaat se alles, kom van die kombuis af in en vee haar hande aan haar voorskoot af. “Hoor júlle dit ook?”

Ons luister hoe die rollende donder groei en rigting kry: ’n inval van Carnarvon se kant af.

Ons kyk saam uit na die wye verkeersirkel om die kerk. Asof die dorp tot verhaal kom, peul mense meteens by die algemene handelaar en die koöperasie uit. ’n Groepie bruin kinders kom van die kerksaal se kant af aangehardloop tot op die plein, hul uitroepe verlore in die kakofonie. Hulle wys skielik met opgewonde vingers straatop.

’n Dramatiese verskyning op die nege-uur-speek van die sirkel: bonkige wonderwerke van chroom en staal en lang swart leerslierte wat van handvatsels en saalsakke af wapper – vier Harley Davidsons en hul ridders met donkerbrille, verspotte valhelms, helder nekdoeke oor mond en neus getrek, bene en arms gestrek om pedale en stuurstange te kan bereik. Hulle verdwyn agter die kerk, verskyn weer, volg die boog tot hier voor die restaurant en hou stil, netjies in gelid, stoot die gatkante na ons toe, voorwiele straatkant toe. ’n Laaste opjaag van die enjins, die lawaai oorverdowend, en dan word staanders uitgeskop en die nekdoeke afgetrek.

Genadige stilte.

Klein nommerplate. Ek lees hulle in volgorde: NV ME. BOY’S TOY. LOUD, PROUD. En HELLRAZOR. Almal uit die Kaap uit.

NV ME klim van sy troon af, gespe sy valhelm los, trek die vingerlose leerhandskoene uit, dan die leerbaadjie met tossels daaraan. Staalgrys hare, duur en stylvol geknip, ’n seunsgesig, baie selfvertroue. Die T-hemp sit ’n bietjie styf.

Hy laat sy vorstelike blik oor Loxton gaan. “Fokken one-horse town,” is sy uitspraak, vir almal om te hoor.

Die kinders kom aangehardloop en arbeiders kom van die winkel af nader.

Al vier ryers is nou op vaste grond; leerbroeke, blinkswart stewels met silwer barok versier. Almal is aan die liegkant van veertig. Nommer twee is groot, seker twee meter; nommer drie is kort en klein met ’n rotgesig; nommer vier is gemiddeld maar sportief.

“Staan weg! Julle kan kyk, maar julle vat nie!” gebied Staalgrys die kinders.

Hulle kyk grootoog na hom, hou hul afstand.

Dan kom die ridders in. Staalgrys voor, gevolg deur Rot en Sportief, met Grote wat die agterhoede dek. ’n Rangorde.

“Môre,” sê tannie Wilna, “welkom op Loxton,” met die liefdevolle hartlikheid wat sy aan almal bied.

Hulle inspekteer haar en die restaurant. “Het jy bier?” vra Staalgrys onbeïndruk.

Emma draai terug na my toe, skud haar kop effens, eet haar botterbroodjie.

“Ons is ongelukkig nie gelisensieer nie, maar die drankwinkel is net daar oorkant. Ek stuur gou vir Mietjie.” Sy hou haar hand uit na die groot sessitplek-tafel. “Kom sit gerus …”

Staalgrys kyk vlugtig en takserend na my. Rot se oë rus spekulatief op Emma. Dan gaan sit hulle. Agterop Sportief se T-hemp staan die legende: If you can read this, the bitch fell off.

Tannie Wilna neem vir hulle spyskaarte. “Watse bier verkies julle?”

“Black Label,” sê Staalgrys. “Koud.”

“Gaan haal gou vir ons vier Black Labels daar by Zelda, asseblief,” sê tannie Wilna vir Mietjie. “Vra tog dat sy van die koues uithaal.”

“Antie,” sê Staalgrys, “maak dit twaalf.”

“Baie drinkwerk om te doen,” sê Grote.

“Dorslandtrek,” sê Rot, hofnar in die Huis van Staalgrys, want hulle lag. Hu-hu-hu. Kamerade.

Tannie Wilna huiwer net ’n oomblik voor sy knik. “Hoor by Zeldatjie of daar twaalf koues is, anders moet ons dit in die deep freeze kom sit.”

Mietjie loop. ’n Oomblik lank is daar stilte.

Buite ry vier bruin mense op ’n donkiekar verby, Beaufort se kant toe, die hoewe klip-klop op die teer. Sportief kyk hulle agterna en sê: “Agterpaaie.” Die ander lag weer, ’n binnekring-grap. Hulle begin met ’n gesprek, die stemme harder as wat nodig is, sodat ons – die gehoor – kan luister.

Emma gee my ’n klein nostalgiese glimlag wat sê ons magiese oomblik is verlore.

Spoor

Подняться наверх