Читать книгу Karoonag - Деон Мейер - Страница 11

1

Оглавление

Hulle skiet haar uit speurder-sersant Fransman Dekker se arms uit.

Natalie Fortuin staan langs haar deurmekaar lessenaar, ’n mooi bruin vrou tussen hoë staalrakke wat tot barstens toe volgepak is met tweedehandse motoronderdele. Sy knoop haar bloes stadig en doelbewus oop. Haar skewe glimlag is ’n uitnodiging en ’n uitdaging. Haar vel blink, ’n fyn sweet op haar borste, geen onderklere nie. Sy gee ’n tree vorentoe en leun teen hom aan en sê in haar heuningstem: “Jy’s mooi groot, Dekker … Het jy ’n groot geweer ook?”

Hy sit sy hand op haar kaal skouer, sy mond droog, hy weet nie of hy haar wil keer of nader trek nie en dan skiet hulle haar. Hy sien die klein ronde gaatjie bo haar linkeroogbank, hy sien hoe sy van hom af wegval, hy hoor die skoot iewers regs agter hom, buite, dalk vyftig, sestig meter weg. Hy weet sy is dood nog voor sy teen die lessenaar val en dan op die betonvloer neersyg. Hy staan net daar, versteen, verstom, hy weet nie hoe lank nie, en dan hardloop hy en hy trek sy dienspistool uit die leerskede aan sy gordel en sy kop probeer die ding verstaan.

As hy by die kantoorgeboutjie se deur uitkom, slaan ’n koeël teen die kosyn vas en hy duik en rol, en skiet in die rigting waarvandaan die skote kom. Hy kry skuiling onder ’n kaalgestroopte Toyota Corolla, sy oë soek na hulle, die wrakwerf bied ’n duisend skuilplekke tussen die opgestapelde motorkarkasse.

Hy lê, luister, kyk, maar nou is alles stil. Hy trek sy selfoon uit sy sak uit, hy wil Bellville-stasie bel vir rugsteun. Hy hoor al hoe dit lui as hy onthou Natalie Fortuin is halfkaal. Hoe gaan hy dit verduidelik? Hy beëindig die oproep, besef vir die eerste keer dié ding is ’n bietjie van ’n gemors. Hy hoor motordeure klap, ’n kragtige enjin, dáár, van waar hulle geskiet het. Hy spring op, hardloop gebukkend, pistool in die hand, tussen die stapels staal deur. ’n Grys BMW X5 ry daar anderkant, deur ’n nou gang van wrakke, die agterwiele skiet klippe teen die leë kardoppe.

Hulle gaan wegkom. Hy steek vas, draai om, hardloop na sy eie motor toe. Dit staan by die kantoorgeboutjie, langs Natalie Fortuin se rooi Chevvy Corvette. Hy sal hulle nie kan voorkeer nie, maar hy sal hulle kan agtervolg, as hy gou maak. Hy kyk hek se kant toe, sien hoe hulle uitjaag. Hulle draai regs, in Stikland se rigting en dan is hy by sy polisiemotor, ’n wit Opel. Hy druk die pistool in sy drasak, grawe met sy linkerhand vir sy motorsleutels, steek sy regter uit na die deurhandvatsel en dan sien hy die foto, teen die deur se ruit met ’n strepie kleefband vasgeplak. Hy steek vas.

Dis hy en Natalie Fortuin.

Hy trek die foto los van die venster, staar met ongeloof daarna. Dit is nóú geneem, daar binne. Dit wys hoe hy staan, met ’n hand op die skouer van ’n uitlokkende, semi-ontklede Natalie Fortuin en uit hierdie kamerahoek lyk die uitdrukking op sy gesig na suiwer wellus. Geen twyfel dat dit hy is nie: Die profiel daarop is onmiskenbaar Fransman Dekker, sy wit pa se Galliese neus en breë skouers, sy bruin ma se wye mond en swart krulhare.

Hy hoor die BMW se enjin vervaag, hy leun teen die Corvette, hoor hoe sy hart teen sy borskas hamer, blaas sy asem stadig en lank uit, want dit is die oomblik dat hy weet dié ding is ’n fokop.

* * *

Hy staan op die plek van waar hulle die foto geneem het – ’n smal ruimte tussen rakke met vergassers en karligte en klosse en aansitters, die opening na die lessenaar se kant toe net groot genoeg vir die lens om hom en die vrou te vind. Dit neem hom ’n rukkie om al die implikasies te verreken: Hulle het hier vir hom gestaan en wag, kamera in die hand. Wat beteken hulle het tien teen een geweet Natalie Fortuin gaan die Bellville-stasie bel en spesifiek vra om met sersant Dekker te praat. En met daardie diep stem vir hom sê: “Ek’s die owner van Fortuin 500 Auto Spares and Scrap Yard en hier’s ’n syndicate wat hulle gesteelde karre wil kom smous. Ek hoor jy’s ’n straight cop.”

“Ek is,” het hy gesê.

“Nou kom alleen, dan gee ek jou wat ek het.”

Hy moes nie. Die regte ding was om vir sy baas, superintendent Cliffie Mketsu, te gaan sê. Prosedure is om saam met sy skofvennoot te kom, maar hy het nie. Hy wou die saak self oplos, hy wou die krediet kry. Want hy’s “té gedrewe”. Dit is wat Crystal vanoggend gesê het. “Jy’s té gedrewe, Frans. Ék is jou vrou. Ek het ook reg op jou tyd. Maar ek sien jou nie meer nie.” In twee jaar se getroude lewe was dit die ergste wat hulle nog baklei het en dit was hoekom hy hom nie dadelik teëgesit het toe Natalie Fortuin met haar “Jy’s mooi groot, Dekker”-dinge begin het nie.

Hy het ingekom en nie eens gewonder hoekom hier niemand anders is nie, net die vol vrou in haar wrakwerf-kantoortjie wat van die begin of met hom gespeel het. Terwyl iemand hier gestaan het met ’n kamera, na alles geluister het en net op die regte tyd die foto geneem het, en toe skiet hulle haar. En terwyl hy buite onder die Corolla-wrak lê, het hulle die foto uitgedruk en teen sy kar loop plak en dit maak nie sin nie.

Hoekom? Al dié moeite, al dié beplanning? Vir wat?

Dis ’n fokop, en dit maak nie sin nie.

Hy sien die foto in sy hand bewe. Hy sal homself moet regruk. Hy’s Fransman Dekker, hy kan dié ding uitsorteer.

* * *

Hy ry na die SAPD-kantore in Voortrekkerstraat en hy het ’n oorweldigende begeerte om Crystal se stem te hoor. Hy bel haar op die selfoon.

“Ek kan nie nou praat nie, Frans,” sê sy, vanoggend se baklei nog in haar stemtoon. Sy is seker in ’n vergadering. Dit is al wat hulle by Sanlam se reklame-afdeling doen. Vergader van agt tot vyf.

“Ek wou net sê ek is jammer.”

Hy weet sy het nie ’n verskoning verwag nie. Sy bly ’n oomblik stil en dan sê sy: “Ek is ook jammer. Jy weet hoe lief ek vir jou is.” Fluisterend, vergewend.

“Ek sal vroeg by die huis wees, ek belowe.”

“Dit sal lekker wees. Dankie, Fransman, dankie dat jy gebel het.” En dan: “Ek moet nou by ’n vergadering in. Ek bel jou. Bye.”

“Bye,” sê hy en hou voor die polisiestasie stil. Hy neem die ferm besluit om vanmiddag vyfuur huis toe te ry, maak nie saak wat gebeur nie. Hy het nodig om vir Crystal teen hom vas te druk.

Iemand hamer aan die passasiersvenster. Dekker ruk van die skrik. Hy sien die ruim figuur van sy skofvennoot, vet inspekteur Mbali Kaleni. Hy leun oor en sluit die deur vir haar oop. Sy klim met ’n steungeluid in.

“Jy bel en bestuur,” sê sy afkeurend. “Ek het jou gesien.” Hy bly stil. Nog net twee weke, dan werk hy saam met iemand anders.

“Kom, ons moet ry. Naamlose oproep, iemand het ’n vrou by ’n scrap yard hier in La Bellestraat geskiet,” sê sy en kyk na hom asof dit sy skuld is.

* * *

Die probleem met Mbali Kaleni is dat sy die lewende hel uit almal irriteer. Sy het die gewoonte om skielik te verskyn , soos ’n voorbode, gewoonlik wanneer dit ongeleë is. Sy’s ’n uitgesproke feminis, immer beterwetend en oordadig wetsgehoorsaam. Sy’s ’n snobistiese Zoeloe en die reuk van KFC hang permanent om haar lessenaar, ondanks die feit dat niemand haar dit ooit sien eet nie. Maar sy’s ’n goeie speurder, dit moet Dekker toegee. Nie ’n instinktiewe een soos hy nie. Sy’s metodies en stadig, streng volgens die boek, maar sy mis niks. Soos die motorbandspore langs die Corvette. Dekker se spore.

“Hier,” wys sy met ’n plompe vinger vir die twee mense van Forensies. “Ek soek ’n afdruk van dié spore.

Sy waggel in die rigting van die kantoorgeboutjie, haar oë soekend op die grond.

Het hy al die doppies opgetel toe hy van onder die Corollawrak geskiet het?

Dekker besef hy het nog nie sy pistool herlaai nie en sy buik trek saam. Wat het hy nóg vergeet?

Voor hy hier weg is, het hy vingerafdrukke in Natalie Fortuin se kantoor gaan afvee. Maar hy weet sy DNS lê hier, hare en vlokkies vel en mikroskopiese poele vloeistof wat elke mens soos ’n onsigbare spoor nalaat.

“Kom, Fronsman,” blaf Mbali Kaleni vir hom en dan lag sy haar kekkellag, want sy weet hy hou nie daarvan nie. Dit is sy bynaam in die Mag, ’n verwysing na sy toewyding en erns, sy ambisie. Nie almal het die moed om dit voor hom te gebruik nie, want hy’s ’n groot, sterk man. Hy skud sy kop en loop agter haar by die kantoorgebou in.

Die polisiefotograaf is besig om foto’s van Natalie Fortuin te neem.

“Toe, toe, maak klaar,” sê Mbali vir hom. Sy loop versigtig om die lyk, trek die slagoffer se stoel uit en gaan sit. Sy bepaal haar by die deurmekaar lessenaar: lyste en registers van onderdele, kasboeke, notas, papiere.

Dan sien Dekker dit. ’n Vel A4-papier waarop, in groot blokletters, sy voorletters staan. “F.D.” En ’n telefoonnommer. Hy probeer dit onderstebo lees, paniek wat in hom opstyg, hoe het hy dit gemis, by watter nommer het sy hom gebel, as dit sy selnommer is, is hy in sy moer in …

Sy het hom by die stasie se nommer gebel, dit onthou hy, die foon op sy lessenaar het gelui en …

“Kom kyk hier,” sê Jimmy van Forensies.

“Wat?” vra Mbali, ergerlik.

“Koeëlgat.”

Mbali staan stadig en steunend op. Sy trap versigtig op pad deur toe. Dekker lees die nommer, onderstebo. Dit is die kantoornommer. Hy moet die A4-vel vat. Hy moet dit laat verdwyn. Maar het sy dit gesien? Sal sy dit mis?

Sy gaan staan by die venster en kyk waar Forensies wys. Dit is sy kans. Hy draai só dat sy lyf tussen die papier en Mbali is. “Ek dink sy is van buite af geskiet,” sê Mbali.

Dekker vat die vel en druk dit onder sy baadjie in. Hy gaan staan langs Mbali, kyk ook na die gaatjie in die venster.

“Nie noodwendig nie,” sê hy. “Dit kan ’n ou gat wees.”

Mbali snork verontwaardig. “Kyk hier,” sê sy en loop na die lessenaar toe. Dekker hou die papier ongemaklik onder sy baadjiepant vas. Hy sal moet uit, hy sal daarvan ontslae moet raak.

Mbali gaan staan langs die lessenaar en draai na Dekker toe. Sy staan soos Natalie Fortuin gestaan het toe sy geskiet is. “As sy hier gestaan het, dan is daardie gat in lyn met haar wond.”

“Maar ons weet nie waar sy gestaan het nie,” sê hy en sy selfoon begin lui en hy sê “Verskoon my” en hy loop uit, een hand teen sy baadjie gedruk, die ander een haal sy foon uit sy sak uit. Hy kyk na die skerm. Geen nommer nie, net die woord UNKNOWN. Hy antwoord.

“Dekker.”

“Het jy van die foto gehou?” ’n Man se stem. Joviaal, soos ’n ou vriend.

“Watter foto?” Hees.

“Ek kan nog een daar by julle laat aflewer om jou geheue te verfris. Sê nou maar vir inspekteur Mbali Kaleni se aandag.”

“O. Daardie foto.” Hy probeer kalm klink, maar dit werk nie heeltemal nie. Dan besef hy die druk op sy baadjiepant is nie genoeg nie, die vel papier het uitgeglip en sy oë soek daarna en hy kry dit nie en dan draai hy om en daar buk Mbali af om die papier op te tel en die stem oor die foon sê: “Daar is iets wat ek wil hê jy moet vir my doen. Tensy jy jou mooi vrou én jou job wil verloor.”

Karoonag

Подняться наверх