Читать книгу Karoonag - Деон Мейер - Страница 5
2
ОглавлениеEk staan voor die bakkie in die ysige koue, alleen, die hoofligte wat die tweespoorpaadjie tussen Kalkbult en Dawidskolk helder verlig. Bo gooi die Melkweg ’n skitterende draai, en hier onder in die stof lê die Hummer se kenmerkende, breë spore.
Surrealisties.
Want ek jag die ontvoerders van ’n bejaarde, voormalige Stasi-offisier in die donker uitgestrektheid van die Bo-Karoo, met ’n geleende .270-jaggeweer en ’n Glock-pistool.
Dit is nie die onwerklikheid wat my pla nie, maar die blootstelling – ek is ’n vuurtoring in die veld-see, ’n perfekte teiken voor die kopligte. Hulle kan ’n honderd meter van die paadjie af staan, die kruisdraadjies van ’n teleskoop oor my rug trek …
Ek loop om, maak die Ranger se deur oop, klim in. Die kajuit is warm, die V6 luier. Ek vat die tweerigtingradio se mikrofoon. “Lucien, dis Lemmer, kom in.”
Die jong skaapboer antwoord haastig, spanning in sy stem. “Ek hoor jou.”
“Die Hummer is hier deur,” sê ek.
“O.K.,” sê hy, “hou aan …”
Ek vermoed hy kyk nou op die kaart, oorweeg die moontlikhede. Maar dink hy aan die implikasies? Moet ek vir hom sê? As hulle dié obskure paadjie ry, het hulle ’n GPS, met detail-kaartprogrammatuur. Of ’n gids, wat hierdie wêreld ken. Dalk ’n radio wat op ons golflengte ingestel is en iemand wat Die Taal verstaan. Want alles wat hulle tot nou toe gedoen het, was presies, professioneel.
“Lemmer, is jy daar?”
“Ek’s hier.”
“Ons blokkeer nou al die groot padaansluitings. Hulle kan nie uit nie. Volg net die spoor …”
Volg net die spoor. Hy laat dit so eenvoudig klink. Lemmer se Eerste Algemene Werkswet is “Doen dit alleen”. Met ’n subklousule wat sê dat as “alleen” onmoontlik is, sorg dat jy met professionele mense werk. Al twee in hul maai in. Omdat ek vir die eerste keer aanvaar wil word, insluiting soek by die Loxton-stam.
“Ek maak so,” antwoord ek, en ry. Daar is een troos: Die Hummer-manne sal konfrontasie en geweervuur wil vermy. Want hulle wil Grethe se pa lewend hê, anders sou hulle hom in sy bed geskiet het.
Deur ’n oop veehek, die spoor duidelik in die stof. Ek skakel die ligte af, kyk die donkerte in, op soek na ’n voertuig se ligte, sien niks. Ligte weer aan, kry ’n idee, vat die radio. “Lucien, is die hekke gewoonlik toe?”
“Positief, Lemmer, dis ’n servituutpad, die hekke is altyd toe.”
Nie vanaand nie. Wat beteken Hummer en kie maak oop, maar mors nie tyd met die toemaak nie. Hulle is haastig. En hulle laat bakens van hul vordering agter.
“Dankie,” sê ek oor die radio, my hartklop vinniger. Ek trap die Ranger se versneller. Ek kan hulle inhaal. Ek gaan hulle kry.
* * *
Die eerste teken dat die afstand verklein, is stof – eers amper onsigbaar, fyn slierte wat hier en daar soos skimme hang. Dan raak dit duideliker, sodat ek nie twyfel nie, nog vinniger ry, ondanks die slingerende tweespoor-plaaspad, die onsekere oppervlakte.
Skielik, ’n remlig wat knipoog in die donker, net een keer, sodat ek twyfel of ek dit gesien het.
Ek ry nog vinniger, die jagkoors in my.
Ek sien dit weer, vir ’n sekonde of twee. Ek trap rem, hou stil, sit ligte en enjin af en draai die venster oop. Ek kyk stip die duisternis in, druk my kop by die ruit uit om te luister.
Dit red my lewe.
Die koeël klap agter my in die kajuit vas, ’n ster in die voorruit waar my kop ’n oomblik gelede was. Dan donder die skoot deur die nag. Ek koes, gryp die geweer, wil die deur oopmaak, onthou die liggie gaan aankom. Ek strek ’n hand dak toe, knip die skakelaar af, druk die deur oop en hardloop ’n paar treë, gaan lê.
My nuwe bakkie het ’n gat in.
Hy skiet weer, die lood wat ’n klip langs my tref, wegkerm.
Hy kan my sien in die donker, hy’t infrarooi, of dalk ’n NVDnagskoop. Ek moet skuiling kry. Ek spring op, hardloop, sigsag, my nagvisie sleg na die bakkie se helder kolligte. Ek sien die swart skadu van ’n rotsstapel, hoor nog ’n bulderende skoot, duik agter die klippe in, my asemhaling die enigste geluid in die perfekte Karoo-stilte. Maar ek het die fyn flits van sy geweersnoet gesien, regs van die paadjie, tweehonderd meter ver, min of meer.
Hulle kan my vaspen, hier.
’n Stem, in die verte, ’n bevel.
My enigste kans is as ek aanhou beweeg. Ek spring op, hardloop, skielike rigtingveranderings, soek die diep skadu’s waar ek ’n oomblik talm, weer opspring, my lyf gespanne, gestaal. Ek vorder twintig meter voor ek besef hy skiet nie meer nie. Wil hy my mak maak?
My oë is al meer gewoond aan die donker; ek sien ’n laagtetjie regs van my, ’n rivierlopie, doringbosse. Ek draai daarnatoe, hardloop tussen die takke deur, vorder vinniger. Steeds skiet hy nie. Het hy my verloor in die donker? Ek raak bewus van ’n hoogtetjie links, swenk daarheen, hardloop gebukkend tot bo.
Dan sien ek hulle. Dalk 250 meter ver, die Hummer staan in die paadjie, sy ligte aan. ’n Donker figuur hardloop weg van my, na die voertuig toe, ’n silhoeët met ’n groot skerpskutterswapen oor die skouer. Ek syg neer, werk die .270 se slot, kry hom in die teleskoop, maak vinnige berekenings – geen wind, landskap wat tien meter daal tussen my en die teiken, afstand 200 meter. Ek mik vir die onderkant van sy nek, trek die skoot.
Hy ruk vorentoe, val. Ek skuif die skoop na die Hummer. Die voorwiel is die veiligste, ek kan nie bekostig om ’n kans te vat nie.
Hulle trek skielik weg, ek skiet mis, volg die Hummer in die skoop, maar hy ry te vinnig – die risiko om Grethe se pa raak te skiet is te groot.
Ek spring op, hardloop terug na die bakkie.
Een neer. Twee oor.
* * *
Lucien roep angstig wanneer ek by die Ford kom. “Lemmer, is jy daar? Lemmer!”
Ek gryp die mikrofoon. “Ek’s hier …”
“Is jou radio nog reg?”
“Ek was in die veld.”
Ek skakel die bakkie met koorsagtige haas aan, dan die ligte, trek weg.
“Is alles reg?”
“Alles reg, ek’s naby, Lucien, praat weer later,” sê ek, want ek het nou al twee hande op die stuur nodig. Ek ry so vinnig as wat die tweespoor toelaat; die Ranger bokspring, my nuwe Ford met die gat in, maar hulle sal betaal. Ek beklou die stuurwiel, tuur die nag in, tot ek my aanvaller sien lê. Ek hou stil, twintig meter van hom af, die ligte op hom. Haal die Glock uit my baadjiesak, spring uit, hardloop na hom toe met die pistool gereed, al vermoed ek hy leef nie meer nie.
Blonde kop, swart klere. Die skoot het hom drie sentimeter teen sy rug af getref, in die middel. In my kop maak ek ’n nota oor die .270 se instellings, rol die man om. Hy’s iewers in sy dertigs, skoon geskeer, oë oop en leweloos. Voor sy bors hang ’n masjienpistool, die Tsjeggiese Scorpion SAVz61. Dit verduidelik die Luger-doppies. Langs hom lê die sluipskutgeweer, lank en swart, ligte polimeer-kolf, groot nagskoop. Ek gryp dit, kyk vinnig. Druganov SVD. Russies. Dan hardloop ek bakkie toe.
* * *
In my malle gejaag ry ek amper oor die fetusfiguur.
Om ’n skerp draai, en hy lê reg, voor my, in die middelmannetjie. Ek skop rem, voel die Ranger se gat gly, sien ek gaan hom tref, pluk die stuurwiel, links, van die paadjie af. Die Ranger neuk in iets vas, ’n dowwe slag, vonke wat spat in die nag en dan hou ek stil, ligte af. Ek gryp die pistool, spring uit, gaan lê, rig die visier op die bonkige figuur wat opgekrul lê.
Doodse stilte.
Dan hoor ek hom kreun, iets onverstaanbaars sê.
“Staan op,” sê ek.
“Ich bin Jürgen.”
Grethe se pa? Ek glo hom nie. Dis ’n lokval.
“Do you speak English?”
“Yes.”
Ek vra hom hoe Grethe en Lucien ontmoet het. Hy sê: “Bitte. I am shot. They have gone.”
“Nee,” sê ek in Engels. “Sê my. Hoe het hulle ontmoet?”
“Sy het kom kuier vir haar vriendin, Eva. Van die haasprojek.”
Dis naby genoeg. Ek kruip vorentoe, die Glock gereed. Tot by hom. Ek sien die blink van sy bles in die sterlig. Dis hy. “Waar het hulle jou geskiet?”
“In die bobeen. Ek bloei.”
Ek kom orent, druk die pistool in my gordel, agter, vat sy skouers. “Kan jy opstaan?”
Hy probeer, met groot moeite. Ek trek hom op, sien sy bejaarde gesig vertrek in pyn. Ek druk my skouer in sy buik, tel hom op, draf moeisaam bakkie toe. Verby die passasierskant sien ek die diep duik, die lang skraap in die silwer verf. Ek wil vloek. Daar’s nog nie eens tweeduisend kilo’s op die klok nie. Ek maak die deur oop, druk hom in, sien vir die eerste keer die bloed. Baie.
“I am going to die,” sê hy.
“Nee,” sê ek, klap die deur toe, hardloop om, voel agter die bestuurdersitplek vir die noodhulpsakkie, pluk dit uit. Ek klim in, sit die paneelliggie aan.
Sy been lyk sleg. Hy het nie baie tyd nie. Ek rits die sakkie oop, haal watte en rekverband uit, probeer die bloeding stop, met gemengde sukses. Ek kyk na sy gesig. Hy’s wasbleek. “Jürgen, dis die beste wat ek kan doen. Hou jou hand daar, hou die drukking. Ek moet jou by ’n hospitaal kry.”
“Nein, bitte,” sê hy terwyl ek oorleun, die veiligheidsgordel nadertrek en hom vasknip.
“Dis ’n slagaar wat só bloei, ons het nie ’n keuse nie …”
“Jy moet hulle stop,” sê hy, sy stem vaag.
“Daar is nie tyd nie,” sê ek, skakel die enjin aan en ry.
“Asseblief,” sê hy, pleitend. “Jy moet hulle stop. Driehonderd mense …”
Ek ry met koorsagtige haas, vat die mikrofoon, Lucien moet vir my die kortste roete Victoria-Wes toe gee, hospitaal toe. Jürgen lê ’n hand op my arm. “Driehonderd mense gaan sterf.”
Ek kyk na hom, wonder of hy yl.
“Hulle is SVR,” sê hy. Dit kry my aandag. Die SVR is wat die Eerste Hoofdirektoraat van die destydse KGB hulleself deesdae noem. Moeilike mense.
“Russies? Is jy seker?” vra ek.
“Hulle het … die Georgië-lys … dis wat hulle wou hê. Ek moes dit gee. My kleinkinders …”
’n Kruispad voor, ’n groter grondpad, ’n plaasnaambord wat sê Visgat.
Ek rem, hou stil, kyk na hom. “Die Georgië-lys?” vra ek, reeds met ’n vermoede wat hy bedoel.
“Die Russe … Hulle het verlede week Georgië binnegeval …”
“Ek weet.”
“Die lys … Dit was die … dissidenten .”
“Die andersdenkendes?”
“Ja, in die ou dae. ’n Netwerk, ’n weerstandsbeweging, driehonderd-en-twaalf, die leiers …”
“En die SVR wil hulle uithaal?”
Hy knik. “Ek het dokumente … gebêre. Nou weet hulle waar om dit te kry. Anders maak hulle Grethe, Lucien, die kinders dood …” Hy sweet, elke woord nou ’n inspanning. Hy gaan nie lank hou nie.
Ek gryp die mikrofoon. “Lucien, kom in, Lucien.”
Hy antwoord onmiddellik. “Ek’s hier.”
“Ek het vir Jürgen, hy’s veilig, maar hy is gewond. Ons moet hom by ’n hospitaal kry, dadelik. Ek het iemand nodig …”
“Waar is jy?”
“Visgat, by die groot grondpad.”
“Ry oos, dis net dertig kilo’s Loxton toe, dan vat jy die …”
“Nee, Lucien, luister, stuur iemand om hom te kom haal.”
“Hoe bedoel jy?”
“Ek moet die Hummer keer, Lucien.”
“Nee, vergeet hulle, Lemmer …”
Jürgen gryp die mikrofoon met ’n bewende, bebloede hand. Hy praat Duits, kort, kragtig, ’n Stasi-offisier se bevele.
Stilte oor die eter. Dan praat Lucien. “Ry solank Loxton se kant toe, ek stuur iemand om vir Pa te kom haal.”