Читать книгу Karoonag - Деон Мейер - Страница 8
DIE PERFEKTE MOORD
ОглавлениеDie twee dokumente lê langs mekaar op speurder-kaptein Bennie Griessel se lessenaar – die oorspronklike bekentenis, in Forensies se deursigtige plastiek, en die een wat hy nou moet bestudeer, die fotostaatkopie. Hy steek ’n sigaret aan, kyk daarna.
Ses bladsye wit Sappi-A4-papier. Vasgekram in die boonste, linkerkantste hoek. Netjiese rye letters en woorde en sinne, volgens die rekenaarkenner by die laboratorium, in Times New Roman 12-punt, waarskynlik gedruk op die oorledene se HP-LaserJet 1020, bes moontlik geskep in Microsoft Word.
Heil die leser, sê die aanhef. Die formele blymoedigheid daarvan irriteer Griessel vaagweg.
Hy weet wat in die eerste paragraaf staan – dit het hy haastig op die toneel gelees voor hy gefluit het en dit versigtig in die bewysstuksak geplaas het.
Hy trek aan die sigaret en lees.
My naam is Quartus Lombaard. Ek het moord gepleeg.
Net dit, in die eerste paragraaf.
Dit is moeilik om te sê presies wanneer ek besluit het om my vrou dood te maak – nog moeiliker om te verduidelik waarom. Daar was sekerlik kranksinnigheid aan my kant. Nie die soort met wilde oë en skuim om die mond nie, maar die ander een, stil en stadig sluipend.
“Stadig sluipend.” Griessel sug. Melodrama op ’n Maandagmiddag, met die dranklus wat ontluik soos ’n skaam minnares. Vier-en-dertig dae sonder alkohol.
Die smagting na risiko was groot, dit moet ek beken. Die afhanklikheid aan adrenalien, aan die berekende bang, die fyn vrees van die buik wanneer jy na aan die afgrond beweeg. Ek het dit geken. Ek is Quartus Lombaard …
“Berekende bang”. “Fyn vrees”. Wat noem hulle dit? As jy woorde so met dieselfde letters of klanke begin? Hy kan nie dadelik onthou nie, maar Griessel se irritasie groei. ’n Ryke wat selfmoord pleeg. Omdat hy sy vrou vermoor het. En dan ’n vreeslik literêre bekentenis nalaat. Hy was in Quartus Lombaard se huis, met die uitsig oor die see, die skilderye, die moerse TV, sportmotors.
Hoe gooi jy dit alles net so weg?
Omdat jy ’n doos is. Kan nie anders nie.
Ek is Quartus Lombaard, wat eers Prime Technologies en drie jaar later DigiCard van hart-in-die-keel kleinsake met karige kontantvloei opgebou het tot sappige appels wat vir ’n totale bedrag van drie-en-twintig miljoen rand verkoop is. En floreer het op die druk en stres, die vinnig praat, vinnig groei, vinnig leef.
En toe genoeg gehad het, terwyl Louwna haar verdomde kantoorbeplanningsmaatskappytjie aanhou bestuur het met soveel geesdrif en toewyding, asof dit al is wat sy met haar lewe wou doen.
Afguns. Sy was so ooglopend gelukkig en tevrede. Elke oggend, sonder uitsondering, het sy om 06:00 opgestaan en gewas en aangetrek en met ’n lied in die hart en ’n glimlag gegroet en gaan werk. En ek het alleen in die huis agtergebly met net die vae reuk van haar parfuum wat stadigaan verdwyn.
Haar genot in die sinnelose roetine. Maandag en Dinsdag in die Kaap, Woensdagoggende Johannesburg toe. Donderdagmiddae terug, Vrydag ’n speeldag, inkopies, tee met vriendinne, ’n kunsfliek . .
Afguns het verander in irritasie, irritasie het oorgegaan, iewers, in sterk afkeer, wat stadigaan haat geword het. Verpesting. Aangeblaas deur die lugleegte van verveling en die afwesigheid van opwinding.
Laat ek nie rasionaliseer nie. Laat ek volstaan by my teorie van waansin – dit is die eenvoudigste. Laat ek beken – ek het by my lessenaar gesit met ’n oefeningboek en ek het die opskrif geskryf, teen tienuur een winteroggend: Doelwit: In ’n volgende reël: Vermoor Louwna, in vloeiende letters, my handskrif klein en presies en pynlik netjies, die kras van die penpunt hoorbaar in die groot vertrek.
Die volgende opskrif: Waarom sal dit slaag? Gevolg deur: Geen motief. En die feit dat Louwna ’n gewoontedier was. Roetine was haar toevlugsoord, haar kompas.
“Fok,” sê Griessel sag en druk sy sigaret dood. Hierdie ou dink hy’s Wilbur Smith.
In Johannesburg het sy altyd in die Sandton Comfort Inn geslaap, altyd in kamer 114, was sonder uitsondering om 21:30 in die hotelkamer sodat sy klaar gebad kan wees wanneer ek om 22:00 bel.
Dit was vir my bekende terrein, dié skriftelike, noukeurige beplanning. Ek het my twee sakeondernemings ook só begin, met dieselfde opskrifte, dieselfde vrae, gevolg deur my weergawe van die SWOT-analise (Strengths, Weaknesses, Opportunities, Threats), dan die strategiese plan, sleutel-suksesfaktore, sperdatummylpale, fyn, persoonlike variasies op die sakeskool-MBA-voorskrifte.
Geen motief. Die sleutel. Dit is waar die sotte gevang word, volgens die motief, maar ek en Louwna was altyd getrou aan mekaar, ons het hoflik geargumenteer, daar was geen lewenspolis waaruit ek kon munt slaan nie. Jy word nie ’n moordverdagte omdat die intensiteit van jou verhouding en latere huwelik stelselmatig en onherroeplik afneem nie. Hulle arresteer jou nie omdat jou vrou en jou lewe jou doodverveel nie.
En soos my plan stukkie vir stukkie, dag na dag, vorm aangeneem het, kon ek die ander kritieke suksesfaktore identifiseer: Alibi. Moordwapen. Hoteldeur.
Want só moes dit werk, op die gekose datum, die deurvoer van die plan:
10:00: Ek stel die video om Woensdagaand se televisieprogramme op te neem. (Alibi.)
10:10: Ek stel die instrument wat my selfoon se skakelknoppie om 22:00 sal druk om die oproep na Louwna se selfoon te maak. (Instrument vroeër gebou met Lego Robotics se Dark Side Development Kit.) (Alibi.)
10:20: Trek aan, wend grimering aan, sit pruik op, neem drasak, glip uit by die hekkie heel agter in die tuin, stap af tot by bushalte in Kampsbaai.
10:45: Neem bus tot by Kaapstad-stasie.
11:45: Verwissel baadjies en pruike (uit drasak) in stasietoilet. Sit swaarraambril op. Neem huurmotor na lughawe.
14:00: Neem vlug BA 605 na Johannesburg. (Kontant betaal onder vals naam. Gebruik vals rybewys.)
16:00: Arriveer by O.R. Tambo Internasionaal. Verwissel baadjie, pruik en bril in toilet. Neem huurmotor na die Sandton City Lodge.
17:00: Ontvang verseëlde pakket met 9 mm Ruger P94-pistool en knaldemper wat ek ’n week vroeër aan myself gestuur het. Handwapen op swartmark gekoop deur geklassifiseerde kleinadvertensie op te volg.
17:20: Hang “Moenie steur nie, asseblief”-etiket aan deurknop, stort, was grimering af, haal kospakkie uit drasak, eet, ruim op, strek uit op bed, probeer ontspan.
21:00: Begin opnuut met grimering, sit weer eerste pruik op, trek eerste baadjie aan, maak seker pistool is gelaai.
21:30: Verlaat hotel deur diensingang agter, stap die 2,4 km na die Comfort Inn. Tempo net vinnig genoeg om tydsberekening reg te kry.
21:55: Hartbeklemmende oomblik nommer een: Daar is net een pad tot by haar kamer – verby die ontvangstoonbank. Stap met doelgerigtheid en selfversekerdheid, asof jy daar hoort. Gebruik trappe tot op eerste verdieping.
22:00: Wag buite haar deur tot die selfoon begin lui. Albei hande nodig vir kaart en deur. (Het magnetiese meestergleufkaart twee weke gelede van Comfort Inn-skoonmaker gekoop vir R1 000, natuurlik swaar vermom.)
Hartbeklemmende oomblik nommer twee: Soos deur oopgaan, moet die pistool in my regterhand wees. Ek moet die deur agter my toedruk, vir Louwna skiet, wag tot minstens vyf minute verloop het, dan haar selfoon se verbinding met myne verbreek.
22:06: Verlaat kamer 114, in gang af, trappe, verby die ontvangstoonbank, terug na my hotelkamer, kry drasak, stap na Sandton City, kry huurmotor na lughawe. Plaas daar pistool in asblik.
23:55: Neem vlug SA 505 na Kaapstad.
02:00: Neem huurmotor na Kaapstad-stasie.
02:40: Vervang baadjie en pruik en bril in stasietoilet. Neem huurmotor na Kampsbaai.
03:10: Stap van hoofstrand na ons huis (nou my huis).
03:25: Glip deur agterste hekkie, sluit deur oop, druk pruik, baadjie en bril by ander in drasak, plaas drasak in swart plastiekvullissak, plaas vullissak by ander in oprit. Haal Robotics se Dark Side Development Kit uitmekaar en stoor in studeerkamerkas. Stort. Draai video terug. Kyk na al die programme. Draai video weer terug. Kyk weer na programme. Draai video weer terug. Stel video om onmiddellik fliek op DStv op dieselfde band op te neem. Gaan slaap. Wag vir oproep uit Johannesburg: “Meneer Lombaard, ek het ongelukkig vir u slegte nuus …”
Maar moord is nie ’n saketransaksie nie. En die Besigheidsplan van Die Dood het sy eie, unieke eise: Spertye word in minute gemeet, selfs sekondes. Jy kan nie oortrokke geriewe reël om jou deur die benoude tye te dra nie.
Griessel skud sy kop, steek nog ’n sigaret aan. Sy mond, sy tong, soek die smaak van brandewyn, sy brein en senu-eindpunte soek die alkohol daarin, die helende kragte. Vier-en-dertig dae. Wanneer sal dit bedaar?
Hy weet wat die antwoord is. Miskien nooit.
Laat hy lees.
My deeglike voorbereiding, die grimeerstudie en vermommingskuns uit boeke en op die internet was nuttig, dit is waar. My presiese beplanning het alles feitlik foutloos laat verloop. Maar niks kon my voorberei vir die oomblik toe ek die sneller moes trek nie. Miskien is sommige mense meer geskik vir die brutaliteit van moord.
Ek het die hotelkamer se deur ontsluit, my bewegings, herhaaldelik geoefen, foutloos en behendig en vloeiend, sy het met haar rug na my toe gesit in die gemakstoel, ek het nie op daardie oomblik gewonder waarom sy nie die luiende selfoon beantwoord nie, ek was te dankbaar dat ek haar nie in die oë hoef te kyk nie, ek het die sneller getrek, twee keer, gedempte “ffffut-ffffut”-geluide en haar agterkop wat oopbars terwyl sy vooroor val, bloed en been en brein oor die stoel en ek wou braak, skielik en haas onbeheerbaar, ek het op daardie oomblik baie amper die kluts kwytgeraak, byna vergeet om die selfoon se antwoordknoppie te druk, ek kon nie vir haar kyk nie, ek wou nie die vyf minute bly om die “oproep” legitimiteit te gee nie, paniek en walging en naarheid en engtevrees, alles in een.
Maar ek het genoeg beheer teruggekry, suiwer oorlewingsdrang, en toe is ek uit, verby die ontvangstoonbank, die nag in.
Griessel maak ’n nota in die kantlyn. Hy sal moet opvolg met die Sandton-stasie se speurders.
My grootste vrees in die huurmotor en op die vliegtuig was dat iemand die sweet sou sien, die walging, die trauma, dalk bloed- en breinweefsel iewers op ’n kledingstuk.
Onnodige vrees.
Het ek maar geweet wat by die huis sou wag.
Haar brief was op die videomasjien geplak. Ek het dit gelees en in die badkamer gaan opgooi. Weer gelees. Weer opgegooi, vliegtuigkos, tot ek leeg was. En toe die video teruggespeel, weer gekyk, net soos ek beplan het, want ek moes my deel van die plan volvoer, vir selfbeskerming, vir oorlewing.
Die oproep het eers die volgende middag uit Johannesburg gekom. Ek het opgevlieg, die speurder na die lykshuis vergesel, twee dae lank vrae beantwoord, tot hulle my laat gaan het. Ek het nie nodig gehad om die skok en ontsteltenis na te boots nie.
Dit het twee maande geneem om tot die besluit te kom dat ek nie meer wil leef nie. Nie net oor Louwna se brief (hierby aangeheg) nie. Daar is die beeld van die kopskote. En die vernedering.
Dit is onderteken deur Quartus Lombaard, in ’n klein, pynlik netjiese handskrif.
Griessel neem die ander fotostaat, die oorspronklike op dun, blou skryfblokpapier, blou ink, vloeiende skrif met flambojante krulle en draaie. Die bewing van sy hande nou sterker.
Liewe Quartus
Ek wens ek kan jou gesig sien wanneer jy hierdie woorde lees.
Ek is seker dit sal jou uit die dwaal skok waarin jy die afgelope twee jaar of wat verval het. Ek was in ’n stadium kwaad vir jou daaroor, ek kon nie verstaan waarom jy so belang in my en in die lewe verloor het nie, maar hierdie brief is nie bedoel om ’n saniksessie te wees nie. Jy weet ek het nog nooit gekerm nie – nie toe jy so hard gewerk het nie en ook nie toe jy, na al jou sukses, stelselmatig in jou kamerjas ingekruip het nie.
Laat ek jou vertel wat alles met my gebeur het: Agtien maande gelede het ek vir Jenny ontmoet, toevallig, soos al die goeie dinge in die lewe gebeur. Een van die mense in my Johannesburg-kantoor was in ’n privaat hospitaal opgeneem en ek het vir haar gaan kuier terwyl ek in Johannesburg was. Jenny was die matrone van die saal by wie ek gaan hoor het hoe ernstig my personeellid se toestand was.
Daardie eerste gesels was byna niksseggend – ek kon skaars onthou dat sy ’n atletiese, natuurlike rooikop was (met groot borste, moet ek om jou onthalwe byvoeg – jy was, toe jy nog gelééf het, ’n uitgesproke borste-man) toe sy my twee dae later bel. Sy wou gaan koffie drink. Ek het gedink sy wou oor my werknemer se siekte gesels, maar toe ek haar aan die einde van die heerlike gesprek daaroor vra, het sy net gelag en gesê: “Oh, no, it’s just because you are a delightful creature.”
Sy het my, haar delightful creature, met meer behendigheid verlei as wat ’n man ooit sou kon. Teen die tyd dat ek haar seksuele voorkeur gesnap het, was dit amper te laat. Ons vriendskap was toe al vir my ’n oase. Nee, meer, ’n helder lig wat die skemerte van my huwelik met jou verdryf het. Tog het ek op die grens geweifel, meer as ’n maand, want ek is ’n goeie Afrikanermeisie en ons kerk se mense doen dit nie.
Nuuskierigheid en Jenny se meesterlike geduld en deernis het eindelik die deurslag gegee. (Die meeste aande wat jy Johannesburg toe gebel het, was sy in my kamer, was ons al besig met die voorspel tot die goddelike seks wat deur die nag sou volg.)
“Fok,” sê Bennie Griessel.
En toe kry ek jou gedetailleerde moordplan in die immer geslote laai van jou lessenaar.
“Jissis,” sê hy en sit die papiere voor hom neer, staan op, loop halfpad deur toe, steek vas, kom terug, sit weer, lees verder.
Ek weet nie hoe toevallig dit was nie. Ek het jou ’n paar keer die laai sorgvuldig sien sluit, kort nadat ek by die huis gekom het. Dit was asof jy enersyds daarop gefokus het, andersyds asof jy die aandag daarvan wou weglei. Ek was nou en dan daarvan bewus dat iets met jou aan die gebeur was, jy het weer ’n sekere intensiteit gehad, maar dit was so anders as in die ou dae, dit was inwaarts gerig. Miskien was dit iets in my onderbewussyn wat die stukke van die legkaart bymekaar gesit het, maar toe ek een Vrydagoggend by die huis aankom en jy is nie daar nie (seker iewers navorsing gedoen vir jou perfekte moord), het ek die sleutel gaan soek. Dit eindelik in jou kamerjas se sak gekry.
Jou dokument was vir my ’n openbaring. Ek wou jou te lyf gaan, ek wou die polisie bel, ’n prokureur gaan sien, jou konfronteer, maar terselfdertyd was daar die moontlikhede wat dié kennis oopgemaak het.
Die res, danksy jou deeglikheid om selfs datums vas te pen, was Jenny se idee.
Wanneer jy môreoggend gebel word om “my” lyk te gaan uitken, sou ek jou sterk aanraai om presies dit te doen. Dit sal natuurlik nie ek wees nie. Jenny het my “dubbelganger” bekom, ’n armsalige, dwelmdeurdrenkte vrou wat in en uit die hospitaal is, sonder naasbestaandes. Ons het groot moeite gehad om haar hare soos myne te sny en haar in die hotelkamer te kry, maar daar is niks wat sy nie vir ’n bietjie heroïen sal doen nie. Daarom, as die polisie jou vra of ek ’n “gewoonte” gehad het, sal dit help as jy positief antwoord – die outopsie behoort dit aan die lig te bring.
Ek hoef seker nie vir jou te sê dat jy nie ’n keuse het nie. Ek het steeds die afskrif en ons het die pistool uit die asblik gehaal minute nadat jy dit daarin geplaas het.
Al wat ek vra, Quartus, is ’n vreedsame afsterwe. “Jenny” is nie my minnares se regte naam nie. En miskien is sy nie ’n rooikop nie (maar die borste is die waarheid, ek noem dit net om jou lewe te versuur – ek verstaan nou waarom jy so erg is oor borste). Leef jou sieklike lewe en gun my dit om ’n vreugdevolle een te hê.
Berus daarby dat jy die perfekte moord gepleeg het.
Vriendelike groete
Louwna
Bennie Griessel leun terug in sy stoel, die dranklus vergete, hy lag kortaf, sy kop werk, dan snap hy ’n klomp dinge, staan op, loop na senior superintendent Mat Joubert se kantoor.
Die bevelvoerder van die SAPD se Provinsiale Taakspan sit agter sy lessenaar, besig met administrasie, soos gewoonlik.
“Die fokker het nie selfmoord gepleeg nie,” sê Griessel. Joubert kyk op, gesteurd, maar Griessel ignoreer dit, sy geesdrif groot.
“Dit het my die hele tyd gepla. Wie pleeg selfmoord deur die see in te stap en jou klere en twee dokumente op die strand te los? Wie? Iemand wat weet ons kan deesdae ’n lyk uitken, al kry ons net ’n velletjie. Lombaard is iewers, springlewendig en gesond.”
Joubert reageer stadig, nadenkend. “Hoekom, Bennie? Hoekom al die moeite doen?”
“Want hy wil sy tweede perfekte moord pleeg. Moorde, dink ek, want daar is twee vroue wat hy vrek om weg te blaas.”