Читать книгу Karoonag - Деон Мейер - Страница 6
3
ОглавлениеNet ná vier in die môre, vyftien kilometer van Loxton af, sien ek die ligte aankom. Ek kyk na Jürgen. Hy rus sy kop teen die kussing, sy oë toe, sy gesig doodsbleek. Sy regterhand bewe effens waar dit my haastige drukverband op die bloeiende beenwond hou.
Ek flits die Ranger se ligte vir die aankomende voertuig, hou stil langs die pad.
Hulle trek langs my in. Oom Joe van Wyk agter die stuur, langs hom sit oom Ben Bruwer, haelgeweer tussen die voete.
“Haai, ou Lemmer, jong, vir wat lyk jy so verbaas om ons te sien?” vra oom Joe terwyl hy haastig uitklim.
“Seker gedink ons is te oud,” sê oom Ben. “Ewenwel, roer jou, daai man lyk sleg.”
Ek kom tot verhaal, spring uit, hardloop om, maak die deur oop en vat Jürgen, dra hom met moeite na waar oom Joe die Isuzu Frontier se agterdeur oophou.
“Skietwond,” sê oom Ben.
“Groot kaliber,” sê oom Joe.
Kenners. Van alles.
“Druganov SVD,” sê ek en laai vir Jurgen in. “Sewe-komma-ses-twee.”
“Nogal, nè?” sê oom Joe.
“Ken hom nie,” sê oom Ben. “Verkies die Duitse skietgoed.”
Jürgen maak sy oë oop. “Jy moet hulle stop,” ’n pleidooi, in Engels.
“Ek sal,” sê ek, klim uit.
“Nou vir wat wil jy nou agter daardie gemors gaan staan en aanjaag?” vra oom Ben.
Ek wys na my Ford. Daar’s ’n gat in die voorruit, die wielpaneel links voor het ’n diep duik, lelike skrape. “Dis hoekom,” sê ek vir die twee gryskoppe.
“Jinnetjie, Lemmer, en dis jou nuwe bakkie,” sê oom Joe.
“Nog nie eens tweeduisend op die klok nie, oom.”
“Kry hulle, broer,” sê oom Ben. “Watse soort mense neuk met ’n man se ryding?” Dan spring hulle in die Isuzu, oom Joe se “Versigtig, jong, Lemmer” amper verlore in die wiele se tol op die grondpad.
Ek draai terug na my geskende Ranger toe met die skielike besef dat ek nie die vaagste benul het wat om volgende te doen nie. Die Hummer kan enige plek wees in die uitgestrektheid van die Bo-Karoo.
En dan hoor ek die radio se frenetiese gekwetter …
* * *
Chaos op die eter, stemme wat opgewonde roep, antwoord. Die storie kom broksgewys deur wanneer ek noord jaag, op pad na die aksie toe.
Jan Wiese en Bob Meintjes het by Gansfontein op die R308-grondpad gestaan toe die Hummer sonder ligte uit die nag opdoem. Hulle het geskiet, die Russe het die vuur beantwoord met outomatiese gewere – en toe breek hulle deur, Carnarvon se kant toe. “Kan sweer ek het iets getref,” sê Wiese.
“Is julle O.K.?” vra Lucien, sy stem nou kalmer vandat sy skoonpa teruggevind is.
“Ons is reg, maar daar’s ’n klomp gate in my Toyota,” sê die groot boer.
“Jan, dis Lemmer,” val ek hulle in die rede. “Kan jy my hoor?”
“Ek hoor jou.”
“Ek is op pad van die Loxton-kant af, jy behoort my ligte te kan sien.
“Ek sien jou.”
“Hoe groot is hulle voorsprong?”
“Vier minute, dalk vyf … Maar ek sê jou, ek het daai ding raakgeskiet. Daar was rook toe hy verbykom …”
“Dan sal ek hulle vang,” sê ek.
’n Koor van stemme op die radio, almal met een boodskap: “Kry hulle.”
* * *
Die breë grondpad lê oop voor my, vyftig kilometer van pylvakke met skelm draaie tussenin voor jy die teer net duskant Carnarvon tref. Hulle sal nou wil wegkom, hulle het gekry wat hulle wil hê, ’n wedren tussen hulle en my. Maar ek sal hulle moet inhaal voor die volgende groot afdraai, anders is hulle weg, ingesluk deur dié wye wêreld.
Maar waarom noord? Hoekom nie af N1 toe nie? Het hulle gedink Lucien sal die lang arm van die gereg inroep? Padblokkades op die hoofroetes, helikopters, ’n grootskaalse soektog? Die slimmer opsie sou wees om nog ’n voertuig iewers te versteek, iets wat na ’n plaas-ryding lyk, los die Hummer in ’n klofie …
Nee. Die slimste opsie is om nie padlangs te reis nie. Jy skud jou agtervolgers af wanneer jy ’n onvolgbare roete vat. En hier is net een: Jy vlieg uit. Maar van waar af? Dan snap ek: Carnarvon se vliegveld. Die grootste in die omgewing, hulle hou ’n jaarlikse lugskou daar. Dit lê duskant die dorp, skaars vyf kilo’s nadat jy die teerpad tref.
En dan sien ek die Hummer se rooi truligte, ver en vaag. Ek versnel met die wete dat daar net een opsie is: Ek sal hulle moet keer voor hulle by die vliegveld kom.
* * *
Stof.
Die groot bande van die haastige Hummer maak ’n haanstert daarvan, dig, verstikkend. Maar daar is nog iets: ’n Blou damp wat hang, die vae reuk van oorverhitte olie – en die feit dat ek hulle maklik ingehaal het. Jan Wiese was reg. Hy het iets getref. Maar dit help my niks, want hulle ry kruis en dwars oor die pad, sorg dat die sluier van stof en rook my sig van die pad byna heeltemal versper.
Die teerpad is nog twintig kilometer ver, maar ek sal moet wag daarvoor, sorg dat ek baie naby is wanneer ons daar kom.
En dan skiet hulle, wild, met ’n outomatiese wapen. Ek sien die vurige blitse by die Hummer se agtervenster, blinde swaaie van die loop, mog-het-troffe, maar hulle tref, dowwe slae teen my Ford, twee gate in die enjinkap, nog een by die voorruit in, by die Supercab se agterste ruit uit.
Ek rem instinktief. Fok. Hulle wil die enjin tref, die verkoeler, wil van my ontslae raak.
Ek kan nie bekostig om agter te raak nie.
Ek val terug, draai die venster oop, haal die Glock uit my baadjiesak. Ysige wind, die reuk van stof en olie, ek druk die pistool by die venster uit, trek drie, vier skote af in die hoop dat dit hulle sal ontmoedig om op my te skiet.
Dit werk nie.
Nog ’n sarsie klap oor my Ranger, my nuwe silwer bakkie, ek skree op hulle, skiet nog skote, my hand reeds dood van die koue. Die wind fluit hard deur die gate in die voorruit, ek draai die verwarmer oop om die koue te beveg, val verder terug. Dit is wat hulle wil hê. Ruimte, sodat hulle genoeg tyd het om die teerpad se paar kilo’s sonder stryd te kan aflê.
Tien kilometer voor die teerpad sien ek die Ford-enjin se termometer begin klim.
Hulle het die verkoeler getref. Of ’n waterpyp. Of ’n pomp.
Ek hou die meter dop. Die tempo waarteen die temperatuur styg, gaan bepaal of ek dit tot by Carnarvon gaan maak. Hoe lank sal ek nog teen dié spoed kan jaag?
Ek hou my afstand, ’n geskatte veilige een kilometer agter hulle, onderdruk die impuls om die radio nader te trek en te vra dat iemand bystaan om hulle by die vliegveld te keer. Ek kan nie siviele lewens in gevaar stel nie.
Vyf kilometer van die teerpad af gee die Ranger ’n ruk, ’n enkele stottering, en dan trek die groot enjin weer kragtig. Ek kyk na die instrumente. Die oliedruk is aan die daal, die temperatuur klim steeds. Ek sal moet stadiger. Ek kan nie. Nog net ’n entjie, dan sal ek hulle probeer afdwing.
* * *
Die teer kom vroeër as wat ek verwag het, te skielik deur die stof, sodat ek te laat rem, te vinnig na links moet draai, die linkerwiele lig, bande skree. Die bakkie hel oor, ek gaan die ding rol, pluk aan die stuurwiel, trap die versneller. Die enjin huiwer weer, ’n siddering deur die voertuig, ek neuk aan die ander kant van die teerpad af, stoei en dan kry die rubber ’n greep en die gat ruk nog twee, drie keer heen en weer en dan lê die swart lint voor die kopligte en net hier voor, die twee rooi oë van die Hummer se agterstewe. Veglus, adrenalien, skrik, ’n impuls om van agter af in die bliksems vas te jaag en die Glock se hele magasyn in hulle te pomp.
Blou rook by die Hummer se uitlaat, ek haal hulle vinnig in, wag vir my kans om verby te skiet, hulle van die pad af te druk. My enjin sny uit, kom weer aan.
En dan doen hulle die een ding wat ek nie voorsien het nie: Hulle rem. Hard, volle gewig op die pedaal, hier reg voor my. Ek is te naby, pluk die stuurwiel, maar te laat. Ek tref die Hummer se agterkant, ’n dowwe slag, metaal, brekende glas, die linkerwiel vou in, die Ford kantel, rol, een, twee keer, die veiligheidsgordel ruk pynlik oor my lyf.
En dan skuur my bakkie, op sy dak, in die teerpad af. Vonke in die nag; ek hang in die harnas, magteloos, luister na die oorverdowende skreeu van blik teen teer, my Ranger se doodsgil.
Eindelik kom ek tot stilstand, lig my kop. Disoriëntasie, skok. Draai my kop, soekend, sukkel om te fokus, die tik en tak van metaal wat afkoel, die reuk van petrol. Ek moet uit. Hande soek na die gordel se knip, kry dit, val skielik op die onderstebo bakkie se dak. Probeer die deur oopmaak. Kan nie. ’n Vlam, klein, onskuldig, hier voor, by die enjin. Die ander deur, ek gly oor, trek die handvatsel. Dit bly toe. Klim uit by die voorruit, dis wat ek moet doen. Vlamme nou, hoër, gulsig.
Ek’s uit.
Kyk pad-af. Sien niks. Draai om. Daar’s hulle, die Hummer het net een agterlig wat nog werk.
Moet hulle stop. Gewere in die wrak, pistool ook. Ek buk af, kruip in, vlamme brand hoër, sien in die flikkerende lig die Druganov, die jaggeweer, kan nie die Glock kry nie. Gryp die twee gewere, kruip uit, hardloop. Pyn in my nek, my linkerbeen. Dan ontplof die bakkie agter my, ’n rukwind tel my op, sit my vier tree verder neer, die jaggeweer uit my hand uit, die teleskoop se lens gebreek.
Ek staan op, los dit daar, net die Russiese sluipskutwapen in my hand, hinkend in die teerpad af, dit kan nie veel meer as twee kilometer vliegveld toe wees nie.
* * *
Ek hoor die enjins voor ek hulle sien, die diep dreun van twee motore en ek weet ek gaan te laat wees. Dan sien ek die ligte van die vliegtuig, regs van my, ’n kilometer van die teerpad af, een wit, een rooi. Ek gaan staan stil. As die wind verkeerd waai … Maar daar’s niks, net die perfekte windstilte van ’n yskoue Karoonag, al sweet ek van die hardloop, die adrenalien. Watter kant toe gaan hulle vlieg?
Hierdie kant toe.
Ek kniel, lig die groot geweer, semi-outomaties, kyk deur die nagskoop, sien die vliegtuig. Piper Seneca V, goeie keuse. Wag vir hom. Net een kans – skiet die vlieënier, enigiets anders is ’n dobbelspel. Skuif die kruisdraad, besef die loods kan enige kant sit, links of regs. Hier kom hy, motore vol oop, beweeg te vinnig, wiele lig van die grond af. Trek die sneller, diep knal. “Dis vir my Ford,” prewel ek.
Geen effek nie. Ek skuif die skoop, links, as die vlieënier anderkant sit, skiet, te haastig, laaste kans, dan is hulle oor my kop, ek staan op, draai om, volg hulle in die teleskoop, skiet nog drie, vier, vyf, ses skote in woede en magteloosheid, hulle is weg, ek het misluk.
En dan val die Piper, skielik, duik na links, ’n honderd meter, en tref die klipharde Karoo met ’n oorverdowende slag.
* * *
Halfsewe in die oggend, seer, moeg, bloedskaaf aan die been, bakkieloos, staan ek in my slaapkamer se deur. Emma le Roux roer onder die dik duvet, maak haar oë oop, glimlag stadig. “Haai,” sê sy, “jy’s vroeg op …”