Читать книгу Karoonag - Деон Мейер - Страница 9
Nawoord
ОглавлениеSommige storie-idees is geskik vir romans, ander weer vir kortverhale – terwyl sommige in geen vorm wil inpas nie, dikwels tot ’n skrywer se groot frustrasie.
Maar omdat die langer vorm my brood en botter is, bemoei ek my meestal met die verhaalkonsepte wat in ’n roman kan werk. Daarom dat ek geen werkbare idee gehad het nie toe my vriend en mede-spanningskrywer François Bloemhof in 2001 ’n e-pos aanstuur waarin hy vra vir ’n bydrae tot ’n bundel kortverhale (wat in 2002 onder sy redakteurskap as Donker veld verskyn het).
Ek was boonop in daardie stadium druk besig om Proteus te skryf, en moes eers lank en diep dink voor ek by iets met potensiaal kon uitkom. En die een ding wat in my kop bly vassteek het, was ’n titel – “Die perfekte moord”. Van daar het ek met groot moeite die verhaalgegewe ontwikkel. Hierdie oorsprong is vir my redelik uniek, want die naam van ’n boek of verhaal kom gewoonlik eers wanneer ek verby die halfpadmerk geskryf het.
Die ander belangrike aspek (vir my) van hierdie verhaal was die terugkeer van Bennie Griessel. Dit was nie om dowe neute nie.
Die skep van karakters is een van die lekkerste en interessantste aspekte van skryf, en ek volg gewoonlik ’n spesifieke ritueel daarmee wat onderskei tussen hoof- en newekarakters. Hoofkarakters sluit die protagonis(te) en ander belangrike mense in wat ’n groot invloed op die storie sal hê, terwyl newekarakters dié is wat dikwels net vir ’n paar bladsye hul verskyning maak.
Aan hoofkarakters bestee ek baie dinktyd, want elke aspek is fiktief, van hul voorkoms tot hul name en agtergrond. Ek kan byvoorbeeld hoegenaamd nie begin skryf voor ek tevrede is met hul naam en van nie, en sal dikwels ure met ’n telefoongids deurbring om moontlikhede te soek.
Karakters se agtergrond is net so belangrik. Al gebruik ek niks daarvan in die verhaal self nie, wil ek presies weet waar ’n karakter vandaan kom en sal weke lank daaroor nadink, tot ek seker is ek weet wat die genetiese en omgewingsfaktore was wat hulle gevorm het.
Newekarakters word aansienlik anders gehanteer. Omdat die meeste van hulle tydens die skryfproses self opduik, sal ek dikwels ’n eienskap van iemand wat ek ken, gebruik om die skeppingsproses te bespoedig – die voorkoms, naam, maniërismes, beroep of gewoontes, enigiets wat kan help dat ek die karakter vinniger in my geestesoog kan “sien”.
Bennie Griessel was só ’n karakter.
Sy voorkoms is losweg gebaseer op een van die slimste (en mees omstrede) speurders wat my in my navorsing vir Feniks gehelp het, die destydse speurder-sersant Jeff Benzien van Moord en Roof in Kaapstad. Bennie se naam het ek geleen by wyle mnr. Ben Griessel, my waardige, wonderlike aardrykskunde-onderwyser aan die Hoërskool Schoonspruit op Klerksdorp. Waarom? Want die naam het eenvoudig perfek by Bennie gepas.
Die probleem was dat my nuutgeskepte Bennie Griessel eenvoudig geweier het om ’n newekarakter te bly. Deur die loop van Feniks het hy al hoe meer ’n katalisator geword, ’n figuur wat dinge om hom laat gebeur, totdat hy stelselmatig daarop aangedring het dat ek hom as hoofkarakter moet sien.
Toe Feniks klaar geskryf is, het ek reeds geweet dit is nie die laaste van Bennie nie. Die een of ander tyd sou hy sy eie boek moes kry.
“Die perfekte moord” was ’n soort oefenlopie, om net weer my verhouding met Bennie te hernu, voor ek hom ’n jaar later een van die protagoniste van Infanta gemaak het.